“Oor ek vir hom koffie wou gee.”
“Is hy allergies vir koffie?”
“Blykbaar vir die manier waarop ek dit maak.”
“Dan kon hy mos gesê het hy verkies tee.”
Botter kan nie in Aralie se mond smelt nie. “Ek glo nie tee sou die probleem opgelos het nie.”
Phillip haal sy skouers op. “Dan moet die dude maar bier of water drink …” Nadat ’n derde beskuit sy beker leeggesuig het, staan hy op.
“Dankie vir die brekfis. Nou moet ek gaan soek waar om blommetjies te plant.”
“En ek gaan pasiënte gesond maak.”
Toe Aralie buite kom, lê Sef beteuterd voor die tent.
“En jy? Steeds aan die waghou?” vra sy en vryf sy ore. “Waaroor het jy vanoggend raas gekry? Omdat jy eerder saam met jou baas wou gaan as om my op te pas?”
Die skaaphond kyk haar verwytend aan. Maar toe sy na haar spreekkamer stap, volg hy ewe gehoorsaam.
Koosjan wag haar by die hokke in, trots op die vlakvark wat regop-kop staan, dik gevreet aan ’n bos wortels. Hy wei teen die draad en laat selfs toe dat Aralie sy rug krap.
“Is dit ’n bietjie brandsiek wat jeuk of herken jy my?” vra sy en bederf hom met ’n hand vol van die soetgras wat Koosjan met ’n kruiwa vir die duiker aangery het.
Ghuff, klink dit agter haar toe sy langsaan by die meerkat hurk.
“Is dit ’n snork of ’n dankie?” wil sy weet.
Die vark wys sy tande vir haar.
“En dit? ’n Glimlag?” Sy gee hom die voordeel van die twyfel en ’n laaste kousel gras.
Die meerkat se klein, sagte lyfie herinner haar aan die worshonde en maltesies wat sy so dikwels in die praktyk behandel het. Dit was lonend en bevredigend. Maar die werk hier in die veld, met diere wie se oorlewing van haar vaardigheid en kennis afhang, raak haar diep in haar wese, daar waar dit saak maak. Hier kan sy vasgroei, haar hart aan ’n kameeldoring vasknoop en nooit weer weggaan nie.
“Dink jy dié passie het te make met daardie groot blonde man wat jou uit die slagyster gered het?” vra sy saggies toe sy by die beseerde duiker hurk.
Hy weet nie, lê net met stom bokkie-oë na haar en kyk terwyl sy die seerplek aan sy agterbeen ontsmet.
“Jy is gelukkiger as julle regte veearts,” gesels sy met hom. “Die ander dokter Van Dyk. Jy kan al loop, maar hy lê nog been in die lug. En ek kan nie eens bel om hom te troos nie.”
Ghuff, gesels die vlakvark saam.
“Noudat ek hom weer gesien het, kan ek hom nie uit my gedagtes kry nie,” erken Aralie. “Ek begin dink ek was te gou om hom te veroordeel. My kop haak uit as ek kwaad is. Noudat ek afgekoel het, moet ek miskien meer vergewensgesind wees. Ek was baie lief vir hom, al het hy ’n oog vir ander vrouens gehad. Dis maar hoe party mans is. Nooit grootgeword nie. Dalk het hy nou sy les geleer. Hierdie Franco-man is fassinerend en hy het my voete onder my uitgeslaan. Hy is soos ’n koors in my bloed. Maar dis net tydelik, net omdat ek eensaam is. Sodra ek aan hom gewoond is, sal dit oorwaai. Sal ek besef dit was heldeverering omdat ek hom bewonder vir wie hy is en die werk wat hy doen.”
Die duiker raak rustig onder haar strelende stem, maar skarrel mank weg toe sy die kniehalterriem losmaak, en gaan skuil in die verste hoek.
“Spreekure verstreke,” sê Aralie toe sy by Koosjan kom. “Tyd vir die mobiele kliniek om by die buffelkamp uit te kom. Ek wil gaan bloedmonsters trek.”
Laatmiddag, op pad terug, kry hulle die donkergroen Land Rover by die brug. Dit staan dwars geswaai by ’n bok wat teen ’n miershoop lê. Dit lyk na ’n koedoe wat sleg seergekry het.
Die Cruiser sleep tot stilstand en Aralie spring uit. “Wat het gebeur?”
Franco is vol bloed waar hy langs die bok hurk. “Geskiet,” kry hy dit deur saamgeperste kake uit. “Wilddiewe. Ek het teruggeskiet, maar die vuilgoed het weggekom. Anneries is agterna.”
Dis ’n nekwond, ’n koeël wat blykbaar die slagaar getref het en daarna in een van die werwels vasgeslaan het. Sonder om op bevele te wag hardloop Koosjan om die mediese trommel te kry.
Franco weet wat hy doen, maar hy het nie genoeg hande nie. Aralie druk hare bo-oor syne waar die dikrooi bloed met elke hartslag uit die nek pomp. “Klamp!” skree sy vir Koosjan. Hy druk dit in haar grypende vingers.
“Nog een! Die grote!”
Die bok roggel en skop paniekbevange, sodat al drie van hulle met brute krag die glibberige, bebloede lyf vaspen, desperaat om te keer dat die klampe loskom. Aralie improviseer ’n toerniket met ’n rubberband om die druk op die klampe te verlig. Bykomend ruk sy ’n stuk crêpeverband af en vou dit halsoorkop in ’n drukkussing teen die aar. Nog een, en nog ’n hele pak …
Gaandeweg lyk dit of hulle besig is om die stryd te wen. Die bloed word taai en dik, ’n teken dat die vloei gestelp is en die bloed begin stol.
“Spuitnaald,” vra Aralie met een hand steeds op die toerniket.
Dis Franco wat die spuit aangee, saam met ’n ampule doofmiddel. Hy kniel langs haar en pen die horings vas om te keer dat sy seerkry as die bok sou wegruk.
Die uitwerking van die doofmiddel is byna onmiddellik. Aralie wag tot die groot lyf verstil en lig ’n ooglid om die wydte van die pupil te toets.
“Hy slaap.” Sy vee met ’n moeë hand ’n haarsliert uit haar gesig en kyk op na Franco. “Wil jy hê ons moet hom inlaai en kamp toe neem?”
Hy knik en kom stram orent, steek ’n hand uit om haar op te help.
Sy keer. “My hande is besmeer van die bloed …”
“Myne ook.”
Sy sterk vingers sluit om hare en hy trek haar op haar voete. Met sy wysvinger vee hy die haarsliert wat losgekom het weer agter haar oor in. “Dankie, Dok … Alleen sou ek hom nie kon red nie.”
Sy is skielik selfbewus en maak haar hand los. “Sal ons drie hom opgetel kry? Hy weeg seker digby driehonderd kilogram.”
“Ons drie mans, nie jy nie. Jy het genoeg gedoen.”
Sy let nou eers op dat Anneries bygekom het. “Het hy die stropers gekry?”
Franco skud sy kop. “Stoot solank die Cruiser tru en maak die rugluik oop.”
Die drie mans sleep die bok tot op ’n grondseil, wat ’n stewiger greep bied. Met die agterste bank wat verwyder is en die oop luik pas die koedoe agter in. Sef kry sy hartsbegeerte: hy moet na die Land Rover oorskuif om vir Koosjan en Anneries plek te maak.
Franco ry voor om die pad te wys – ’n kortpad oor die rivier, wat vir Aralie nuut is. Hy het Tian blykbaar geradio, want hy wag hulle in vir die aflaaislag. Van die konstruksiewerkers het na die drama kom kyk en selfs Phillip daag op met sy kamera.
“Het die diewe weer deur die rivier gevlug?” vra Tian. “Slim, want dan verloor ons die spoor.”
“Hierdie keer was óns slimmer. Anneries het kortpad gevat en die bende voorgelê, hulle ver genoeg gevolg om te sien na watter stat hulle vlug – die mense wat hulle skuilplek gee en waarskynlik in die buit deel. Ek het klaar die polisiepos geradio. Die patrollies sal die res doen, hopelik voor hulle oor die Angolese grens kan ontsnap.”
Franco vee moeg oor sy gesig. “Verlede maand ’n renoster, toe ’n rooibok en nou ’n koedoe … Kort-kort slagysters en strikke. Hierdie stropery moet end kry. As die polisie die vuilgoed nie kan vastrek nie, kry ek ’n kommando op die been en neem die wet in eie hande. Só kan dit nie aangaan nie. My bloed pomp swart en as ons nie resultate kry