“Is dit ’n uitnodiging?”
“ ’n Waarskuwing. Waag dit en jy sal jammer wees.”
“O ja?” lag hy honend. “Kyk hoe bewe my broek … Wat sal jy maak? My met jou hoëhakskoen gooi? Of met ’n naelvyltjie steek?”
“Nee.” Aralie kyk hom vas in die gesig, sonder om ’n oog te knip. Haar stem daal ’n paar desibels, sodat dit bedaard klink, amper gesellig. “ ’n Gaboenadder se gif met ’n lepel suiker meng sodat jy dit nie sal proe nie, en dit in jou koffie roer. Dan agteroor sit en wag tot jou oë omdop, jy rukkings kry en skuim by jou mond uitloop. En dan sal ek wegstap en ’n graaf gaan haal om ’n gat mee te grawe.”
Tian gaap haar oopmond aan. Hy kan dit nie glo nie – so ’n mooi dingetjie, en so moorddadig! G’n wonder haar man het haar gelos nie. Seker bang gewees vir haar. Want dit klink of sy elke woord bedoel. Dit dalk al voorheen uitgetoets het …
“Oppas, jou kakebeen gaan uithaak,” maan Aralie met ’n soet glimlaggie.
Tian klap sy mond toe. Hy gluur haar aan, draai op sy hak om en verkas.
Aralie tel die bottel Dettol op en wag tot hy buite sig is voor sy toegee aan ’n lagbui. Hopelik sal hy in die vervolg draaie om haar loop en ophou om haar te teister.
Toe sy by die woonwa kom, is Franco klaar. Die sytent is ingerig en die woonwa se kaste leeg. Nou eers besef sy hoe die opset seker vir ander mense moet lyk. Mense wat nie weet van die skuif aan die binnedeur nie, en dat sy mans uit haar lewe verban het nie.
Sy was moeg en op haar senuwees, en Tian Harmse was die enigste ander opsie wat blyplek betref. Nogtans kan sy nie glo dat sy Franco soveel vertrou nie – genoeg om ses weke lank by hom te loseer, met slegs ’n dun splinterhoutafskorting en ’n klein skuifslotjie tussen hulle. As dit Tian Harmse was, het sy ’n dubbelloophaelgeweer gaan koop.
Is dit omdat sy intuïtief weet dat al daardie dinge van ordentlikheid en integriteit waar is? Omdat Franco eerbaar is en sy hom vertrou? Of omdat haar hart onbedaarlik versnel wanneer hy naby is en aan haar verstand voorskryf wat om te doen?
Sy is verstom dat haar verstand ewe gedwee toegee. Wat dan van sy arrogante houding op die vliegtuig en al die lelike goed wat hy kwytgeraak het? Alles vergewe en vergete, net omdat hy ’n mooi mond het wat lyk of dit lekker soen?
Franco sit met sy skootrekenaar by ’n tafel en kyk vraend op. Hy merk die verontwaardiging wat steeds op haar gesig leesbaar is. “Jy was lank weg. Probleme gehad?”
Sy glimlag onskuldig. “Niks wat ek nie kon hanteer nie.”
Onder die tentflap deur het hy Aralie by die hokke gesien, en in gesprek met Tian Harmse. Aan hulle lyftaal kon hy aflei dis nie ’n aangename geselsie nie, en hy was reg om te gaan help as dit lyk of sy hulp nodig het. Hy was verbaas toe sy hardebaard-veldwagter skielik die aftog blaas; verras om te sien dat die brose rooikoppie haar kan laat geld. Blykbaar is sy werklik nie die hulpelose, huilerige soort nie. Nietemin bly sy sy verantwoordelikheid en sal hy ’n oog hou. Ongemerk, anders is sy weer op haar agtervoete en takel hóm ook.
Aralie sien die laatmiddagson in sy oë weerkaats, sodat hulle half deurskynend lyk. Soos ou wyn of droë sjerrie teen ’n kersvlam. Die sonstrale deur die tentflap gooi dele van sy gesig in die skadu, wat die lyn van sy sterk ken en kakebeen beklemtoon. G’n man het die reg om só te lyk nie, mymer sy. Dis ’n onbillike voorsprong. Die dekselse man is onweerstaanbaar. Geen wonder die meisie by die hotel op Otjikavi het soos ’n neet aan sy arm geklou nie. Sy sou dieselfde gedoen het.
Sy merk skielik dat daardie paar ougoud-oë haar dophou, terwyl ’n lui glimlag om sy mondhoeke speel. Sy skrik. Wat as hy gedagtes kan lees? Sy sal die vlaktes in vlug. Staan hier soos ’n verliefde tiener en dweep, asof sy vir die eerste keer uitgevind het daar bestaan iets soos die Adamsgeslag.
Hy het ’n meisie, en jy is ’n ontnugterde, hardgebakte, geskeide vrou, herinner sy haarself. Staak hierdie bakvissiehouding en konsentreer op jou werk. Dis hoekom jy hier is. Nie om vir die baas flikkers te gooi nie.
Haar preek het die gewenste uitwerking. Toe sy praat, is haar stem saaklik en professioneel. “Die beseerde duiker se wond heg goed, en die jakkals toon nie negatiewe simptome nie. Waarvoor is hy in kwarantyn? Hondsdolheid?”
Franco knik bevestigend. “Hy kom uit ’n dieretuin in een van die buurstate en ek wil nie kanse waag nie.”
“Daar is geen tekens van koors of spierspasmas nie,” bevestig sy haar diagnose. “Maar ek sal hom monitor. Watter veldpasiënte het ek?”
Hy verduidelik van die witkruisarend wat in kragdrade vasgevlieg het, ’n gedehidreerde vlakvark wat by ’n watergat in diep modder vasgesit het, en ’n trop buffels met vermoedelik bek-en-klouseer wat in ’n aparte kamp afgesper is.
“Maar dis vir môre,” keer hy. “Koosjan hou ’n oog. Vandag is jy nog nie aan diens nie. Pak uit en raak tuis. Gaan stort, was hare of verf jou toonnaels – wat ook al vroumense doen om te ontspan.”
Verf haar toonnaels? Sy wat nie eens met haar víngernaels moeite doen nie. Was dit ’n skimp dat sy onversorg is? Aralie ruk haar op, dadelik op die verdediging.
“Hokaai! Dit was sommer ’n grap,” keer Franco en hou sy hande omhoog. “Moenie skiet nie, ek kom in vrede.”
Sy is te liggeraak, besef Aralie. Niel het haar vertroue geskok, maar sy moenie altyd die slegste van mans verwag nie. Dit was nie kritiek van Franco nie, sommer net ’n grap.
“Jammer, dis ek wat nie ’n sin vir humor het nie,” erken sy.
Sy lyk rustiger, en hy gebruik die kans om vir haar ’n stoel nader te trek. Hy stoot die rekenaar opsy en sit agteroor.
“Ek wou die kwessie al vroeër geopper het, om misverstande uit die weg te ruim. Maar daar was nog nie ’n geskikte geleentheid nie.”
Hier kom dit, dink Aralie. Hael en blitse. Net toe sy haar valhelm afgehaal het.
Hy merk hoe sy verstyf. “Ontspan, Aralie. Ek gaan jou nie op die treinspoor vasbind nie. Ek praat van tydens die vlug …”
Toe sy nie verstaan nie, verduidelik hy ietwat verleë: “Ek kon sien jy was lugsiek.”
En sy dag sy het daarin geslaag om haar skandes te verbloem …
“Ek was nie, ek was piekfyn,” skerm sy.
Sy gaan dit nie vir hom makliker maak nie, besef hy en pak die bul by die horings. Hy moet dit verbykry en die lug suiwer, voor hy ook soos die vlakvark in die modder vasval.
“Dis nie ’n skande nie. Ek was al ’n keer op ’n skip naar, só siek dat ek naderhand bang was ek gaan nié dood nie. Ek weet hoe dit voel en wou jou help deur jou aandag af te lei. Simpatie sou dit vererger het, en al waaraan ek kon dink, was om jou kwaad te maak. Só kwaad dat jy vergeet jy’s lugsiek.”
Aralie maak soos Tian Harmse: gaap hom stomgeslaan aan.
Franco is baie verskonend. “Ek kan nie onthou wat ek alles gesê het nie, maar niks daarvan was waar nie –regtig. Moet niks kop toe vat nie. Dit was noodmaatreëls tydens ’n krisis, dis al.”
“Dat ek my kant moet bring en dat jy nie baba-oppasser gaan speel nie?”
“Drastiese noodmaatreëls,” herhaal hy.
“En dat jy nie passasiers op Balelapa duld nie?”
Hy sidder. Dit was ’n bietjie onder die belt …
“Die beste wat ek op kort kennisgewing kon uitdink. Gehoop die doel heilig die middel.”
Dié dat sy aangevoel het sulke kleinlikheid is nie in Franco se aard nie … Sy moes dit geraai het. As sy nie so siek was nie, het sy geraai hoekom hy so aaklig was en wat hy probeer bereik het. Die klip wat in haar binneste gaan lê het, word ’n veertjie wat lig en baldadig tussen die wolke in verdwyn.