Die ontwaking. Chris Karsten. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chris Karsten
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Триллеры
Год издания: 0
isbn: 9780798169158
Скачать книгу
en hare goed versorg (al kort dié nuwe Root Touch-Up). Iemand moet al oor haar bekommerd begin raak het. Só ’n vrou verdwyn nie net sonder dat mense na haar begin soek nie; ’n minnaar, ’n werkgewer, kollegas, vriende, familie.

      Op haar rekenaar begin sy nou ná die besoek aan die outopsietafel met ’n rekonstruksie van die moord, probeer sy begryp wat gebeur het. Die FBI se nasionale sentrum vir die analise van geweldsmisdade het ’n omvattende databasis, gegrond op duisende gevallestudies van Amerikaanse moordenaars, oor die denkprosesse, motiverings en gedrag van oortreders. Met riglyne oor vernuwende tegnieke aan speurders en ondersoekers om ’n moordenaar te identifiseer en vas te trek. Ella Neser glo sy is van dié nuwe skool en generasie speurders; hoef nie noodwendig ’n diep stem en ’n dik bos baard te hê nie, hoef nie haar vleis rou te eet en al staande by ’n krip van bier ontslae te raak nie.

      Haar aanvaller het die rooikop nie gepynig of gemartel nie; sy is nie die slagoffer van verwoede aggressie nie. Geen dolle steekwonde nie, al moet hy ’n mes gehad het, ’n mes met ’n skerp lem, soos ’n skalpel. Sy verstaan dat hy haar lewe op ’n byna genadige manier geneem het, sonder ’n wapen. Met sy hande. Deur sy hande te gebruik, was haar dood vir die moordenaar ’n baie persoonlike proses, dit verstaan sy ook. Hy wou voel hoe sy sterf; hy wou die sensasie ervaar wanneer haar hartklop en haar asemhaling ophou. Maar hoekom die verskriklike wond aan haar blad? Hoekom die vel?

      Afgetrokke, skrik vir die groot figuur ineens langs haar lessenaar.

      “Het sy iets vir jou vertel, daar op die outopsietafel?” vra kolonel Silas Sauls.

      “Sy, of haar moordenaar, het ’n hond,” sê Ella.

      “Dis nie háár hond nie, sy’s nie troeteldiersoort nie,” sê hy.

      Sy vra nie uit nie. Sy weet hy het nie ’n antwoord nie. Dit is bloot net iets wat hy weet. Net kennis oor mense wat hy in byna vier dekades van omgang met moordenaars en hulle slagoffers versamel het. Sy eie ingeboude gedragsanalise-eenheid.

      “Hoekom ’n deel van haar rug uitkerf? Asof hy haar gevil het.”

      “’n Trofee, iets persoonliks.”

      “Hy kon ’n ring gevat het, ’n kledingstuk.”

      “Nie persoonlik genoeg nie. Hy wou ’n lewende deel van haar hê.”

      “’n Verworpe minnaar?” vra Ella.

      “Miskien. Maar dié’s gewoonlik meer gewelddadig, diep wrokkig. Raak besete van hulle emosies ontslae.”

      “Nie altyd nie.”

      “Gewoonlik. Daar’s ’n patroon. Hy sou haar geslaan het, haar laat verstaan het dat hy nie genoeë neem met die toedrag van sake nie. Sy verwerping sou vir hom ’n vernedering gewees het en hy sou haar nie sagkens laat wegkom nie. Veral verkrag het. Dis die patroon van hoe sulke mans hulle eie mag, en onmag, uitleef. Nee, dié een is nie ’n minnaar of gewese minnaar nie.”

      “’n Kennis van haar?”

      “Die meeste moorde, tagtig persent en meer, word gepleeg deur iemand wat die slagoffer ken. ’n Moordtoneel sal help. Miskien haar blyplek. Om te sien of hy genooi of ongenooi was.”

      “Sy’t haar nie teengesit nie. As sy onverwags oorval is, sou sy teruggeveg het. Dis die eerste refleks. Ten minste een of twee gebreekte naels, velweefsel onder die naels; ’n vrou krap, dis instinktief, haar eerste verweer,” sê Ella.

      “En hy sou haar wou bedwing, miskien met ’n vuishou in die gesig, aan die polse vasgryp.”

      “In so ’n worsteling sou haar bloes geskeur het. Daarvan is geen teken nie, geen kneusings aan enige deel van haar vel nie, net die keel en nek waar sy vingers haar suurstof en bloedvloei afgesny het.”

      Haar selfoon onderbreek hulle.

      “Dokter Koster sê toe hy haar hare skeer om die skedel oop te maak, het hy ’n prikwond in die vel gekry, agter haar regteroor onder die basis van haar skedel. Sy’s ingespuit. Dit verklaar haar koma terwyl die aanvaller haar rug gekerf het. Hy stuur monsters na toksikologie. Vermoed ’n sterk susmiddel van die sentrale senuweestelsel soos van die bensodiazepien-klas.”

      Haar lessenaar kla met ’n sagte gekraak, Silas Sauls sit op die hoek van die blad sonder om eers die dossiere uit die pad van sy groot sitvlak weg te skuif.

      “Sy’t haar aanvaller herken,” sê hy.

      “Sy was gerus in sy teenwoordigheid. Sy’t die spuitnaald nie verwag nie. Hy’t haar bedwelm voor hy haar rug gesny, en haar verwurg het. Sy’t nie gely nie.”

      “’n Kliniese proses.”

      “Maar sy motief? Hoekom haar doodmaak, so … byna sagkens, en dan ’n trofee van haar vat? Waarom moes sy sterf, as sy motief nie verkragting of wraak was nie?”

      “Motiewe?” sê Silas Sauls, krap met ’n nael agter aan sy nek waar sy hare netjies geskeer en versorg is. “Motiewe is outyds, adjudant.”

      “Motiewe, so sê ons handboeke, is die eerste ding waarna ons soek, kolonel.”

      “Motiewe se moer, en verskoon my taal. Dink jy misdadigers, vandag in hierdie land, steur hulle aan sulke platvloerse verskonings soos motiéwe om te gaan moor? Dit gebeur net.”

      “Geleentheid, plek, motief, só word ons tog geleer.” Sy trek aan ’n bruin dossier, hy gee skiet. “’n Motief verklein die poel van moontlike verdagtes.”

      “Wat’s ’n rugbyspeler se motief om ’n teenstander se oë in ’n losskrum te probeer uitkrap? Wat motiveer inbrekers om ’n slapende ou man op ’n Saterdagmiddag op sy bed met pangas te gaan doodkap? Het dronkies diep motiewe as hulle mekaar op ’n Saterdagaand om ’n papsak wyn met messe steek? Dis alles net ontspanning, adjudant. Misdaad het in hierdie land ’n tydverdryf geword, ’n stokperdjie. Motiewe? Watse motiewe?”

      Hy glimlag, nie ’n innige glimlag nie. Sy ken die kromming van sy lippe, daardie somber trek aan sy mond, ’n trek wat mense laat huiwer om toenadering tot hom te soek. Hy is niemand se broer nie, niemand is sý broer nie. Hy konformeer nie, verbind hom tot geen reëls en regulasies nie. Daarvan getuig sy demoverings. Ietwat van ’n vrat op die beeld van sy organisasie, maar ’n oorlewer.

      Hy staan van haar lessenaar se blad op. “Laat kom daardie verslaggewer van die Post,” sê hy. “Die misdaadjoernalis.”

      “Andy Collipepper.”

      “Bel vir Andy Collipepper, sê hy moet ’n fotograaf saambring. En gaan kam jou hare vir ’n foto.”

      “Is dit wys? Sal ons die aanvaller nie op sy hoede stel nie?”

      “Hy’s lankal op sy hoede. Ons kan nie langer wag nie. Moet haar naam kry en woonplek, die moordtoneel. Sy spoor word elke dag al hoe vaer. Wat sê jou geleerde boeke, adjudant, oor die eerste agt en veertig uur? En waar trek ons nou al?”

      “Ons is met haar foto’s uit na spreekkamers en boetieks toe.”

      “Dit kan nog twee, drie dae duur. Daar’s honderde kwakke wat sny en stryk en met borste maai en pagaai. Ons kan nie wag nie. Laat Andy Collipepper jou by Alberts Farm op die toneel afneem, gee hom ’n foto van die rooikop se gesig, voer hom met ’n paar sappige brokkies. Iemand sal haar wel in die koerant herken, dalk selfs ’n ooggetuie.”

      “Ons’t ál die bosslapers ondervra. Niemand het iets gesien nie.” Sy kyk na sy rug toe hy wegstap. “Watse sappige brokkies?”

      “Enigiets. Los die spuitnaald en vermiste vel eers uit. Moenie dit vir Andy Collipepper voer nie,” sê hy.

      “Dis al wat sappig is,” sê sy. “Behalwe die maai en pagaai met die borste.”

      Maar hy is reeds uit.

      Sy buk onder die geel polisielint deur, gaan staan by die plek onder die wilgers waar die vrou se liggaam gelê het. Merkers