“Hy, as ons aanneem dis ’n man, het geweet wat hy doen, sy duime op die nekslagare. Kneusings weerskante van haar tragea. Vier, vyf minute, op die langste, toe was sy dood.”
Dokter Koster draai die kop links, ondersoek die nek, dan regs.
“My raaiskoot is dat sy op haar rug gelê het. Hier. Sien jy hierdie kneusings? Terwyl hy met sy duime gedruk het, het sy vingers om haar nek geklem vir houvas en sterker drukking op haar keel.”
“Sal ons afdrukke van sy vingers op die vel kan kry?”
Hy tuur deur die ligvergrootglas, skud sy kop. “Handskoene aangehad. Die vel is nie beskadig deur vingernaels nie. In die inwendige outopsie, as jy wil bystaan, sal daar bloeding aan die nekspiere wees en frakture aan die horing van die tiroïed, dis die kraakbeen van die adamsappel, en aan die klein hidoïed, die tongbeentjie.”
“Sy’t haar nie teengesit nie. Sy’t nie gekrap en geveg nie.”
“Lyk nie so nie. Die vel van haar polse en enkels is verkleur. Sy was vasgebind. Nie tou nie, maskeerband. Hier’s die gom nog aan haar armhare. Miskien sal die skrapings van die naels iets oplewer. Maar geen naels gebreek nie. Oorsaak van dood: serebrale hipoksie. Daaroor het ek geen twyfel nie.”
“Sou sy by haar bewussyn gewees het toe hy haar rug sny?” vra Ella. “Sou sy die pyn kon voel?”
“Miskien onder sedasie, daarmee sal toksikologie kan help. Sy’t aan haar borste laat werk.”
“Kan mens die ouderdom van die littekenweefsel bepaal? ’n Idee kry wánneer sy aan haar borste laat werk het?”
“Alle wonde volg dieselfde patroon van heling, of dit in ’n mesgeveg of op ’n operasietafel opgedoen is. Haar mastopeksie nie ouer as ses maande nie.”
“Gemolesteer? Is daar tekens van verkragting?”
Haar lang bobene verrassend tenger, die vel in die lieste byna deurskynend, die pubes sekuur gesnoei.
“Haar jeans en onderklere was nie versteur nie. Geen kneusings of skaafmerke nie. Om seker te maak, sal ek vir semen dep, vir die suurfosfatase-ensiem en glikoproteïen.”
“’n Bietjie laat daarvoor, sou al gedegradeer het as sy so lank dood is?”
“Sperm bly langer in ’n dooie liggaam bewaar as in ’n lewende vrou. Jou vagina is ’n wonderlike ding, adjudant. Ons het al sperm tot twee weke ná dood nog in ’n kadawer opgespoor. As sy verkrag is, sál ons die tekens vind.”
Nadat dokter Koster volgens voorgeskrewe prosedure al die SAECK-monsters vir die Sexual Assault Evidence Collection Kit gedep en verseël het, help sy assistent om die liggaam op haar maag om te draai.
Hy verskuif die groot ligvergrootglas oor die wond op haar blad.
Van sy opmerkings, besef Ella, is vir háár ore bedoel, nie net vir die mikrofoon na die digitale opnemer wat later vir die regsgeneeskundige verslag getranskribeer sal word nie.
“Wanneer bloed stol, vind ’n skeiding plaas tussen die soliede donkerrooi plasma en die geel serum. Aan dié wond op haar rug is dit duidelik dat sy erg gebloei het toe hy aan haar gesny het. Die plasma stol gou, die serum kan tot vier en twintig uur later nog uit so ’n wond uitsyfer. Ná ses ure begin die eerste tekens van roofvorming. Nie by haar nie. Sy was dood voordat haar witbloedselle met hulle proses van heling kon begin het. Sy’s dood kort nadat hy die snywerk aan haar rug gedoen het.”
“Sy was bedwelm.”
“En vasgebind.”
“As sy nie bedwelm of vas was nie, sou sy teruggeveg het.”
Dit is wat sý, Ella Neser, sal doen. Sal tot haar laaste asem veg. Krap, slaan, byt, skop, met haar volle twee en vyftig kilo’s. Pocket rocket, noem die bier-en-braaivleis-tjomme haar, het Stallie in ’n onbewaakte oomblik uitgelap. Jong konstabel Ricardo Stalmeester van die radiokamer het óók nie baie hare op die bors nie.
“Ons sal toksikologiese toetse laat doen,” sê dokter Koster. “My teorie: hy het haar vasgebind en bedwelm, daarna losgemaak en op haar maag omgedraai om by haar rug uit te kom. Hy het die vel verwyder, kompleet met onderliggende vetweefsel. Die erge bloeding het ontstaan toe hy deur die dermis gesny het.”
Dokter Koster draai sy gesig van die wond af na Ella Neser toe.
“Jy’t nie ’n baba nie, adjudant?”
“Ongetroud,” sê sy. “En nie haastig nie.”
“Die dag as jy swanger word, kan jy onthou: dis in die retikulêre gebied van die dermis waar jou rekmerke gevorm word. Het jy ’n tatoe?”
“Uh … ’n kleintjie.”
“Hoop jou tatoeëerder het geweet wat hy doen. Dis in dieselfde gebied van die dermis waar ’n goeie tatoeëerder sy ink wil vestig, nie vlakker nie, en veral nie dieper nie. Nie infeksie gekry nie?”
“Nee.”
Die patoloog blyk tevrede te wees, sy aandag terug op die wond.
“Nadat hy die vel aan haar rug verwyder het, kompleet met hipodermis, het hy haar op haar rug teruggedraai en haar toe verwurg. Dis my teorie.”
“Waarom ’n stuk vel uitsny?”
Dokter Koster swaai die arm van die vergrootglas terug oor die wond, buk nader, verstel die fokus, pik met ’n pinset tussen gras en grond in die rou wond, lig iets uit, bestudeer dit onder die vergrootglas.
“Hare,” sê hy.
“Hare in haar wond?”
“Vreemd. Harde hare, stekelig soos van ’n hond. Het sy dalk ’n steekhaarbrak?”
“Wanneer ons haar naam en adres het, sal ons weet.”
“Miskien haar aanvaller se hond. Dalk kry die lab aan haar klere soortgelyke hare.”
“Sal die soort hond bepaal kan word uit ’n ontleding van die hare?”
“Twyfelagtig, langhaar of korthaar dalk, maar nie tussen worsie en Jack Russell nie.”
Dokter Koster druk die vergrootglas opsy en beduie vir die forensiese fotograaf wat die gedetailleerde foto’s van die liggaam en wonde neem.
“Vat ’n mooi kiekie van die gesig vir die adjudant. Sy’t een nodig vir identifisering.” En aan Ella Neser: “Julle soek nog haar naam, nè? Vingerafdrukke niks opgelewer nie?”
Skud haar kop.
“Haar vingers is nie op AFIS nie. Soek nog by binnelandse sake. Miskien het sy aansoek gedoen vir ’n nuwe ID of paspoort. ’n Hele paar afdrukke van die gesigfoto’s, asseblief. Ons sal by die spreekkamers van kosmetiese chirurge gaan navraag doen. Die fabrikaat van haar naellak naspoor, en ’n boetiek wat Gucci-bloese verkoop.”
Dokter Koster soek ’n gepaste skalpel uit die skinkbord met instrumente om met die Y-insnydings onder die borste te begin vir die inwendige ondersoek.
“In haar dunderm en maag kan ons vasstel wanneer sy laas geëet het, en wát sy geëet het. Kos vat vier tot ses ure om te verteer. Miskien is sy dood kort nadat sy geëet het, dalk kry ons kos wat haar iewers voor haar dood plaas. Dalk het sy en haar moordenaar eers saam gaan uiteet. Jy’t tog gesê sy’s nie ’n toevallige slagoffer nie. Miskien ken hulle mekaar. Dalk kry ons hirami of tako of varswaterpaling in haar maag. Dan kan jy ná die spreekkamers en boetieks ook met haar foto in soesji-plekke gaan uitvis.”
Met die skerp lem sny hy deur vel en weefsel, van die litteken onder elke bors tot by haar sternum, dan een insnyding oor haar buik tot haar mons pubis.
Adjudant Ella Neser stap uit die lykhuis van die patologiese laboratorium uit, ry terug na die speurkantoor by moord-en-roof.