Die respektabele meneer Hartslief. Chris Karsten. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chris Karsten
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Триллеры
Год издания: 0
isbn: 9780798167857
Скачать книгу
mos gearriveer. Ons is eintlik trots op jou met jou windgat-werk en jou windgat-kar en jou windgat-woonstel en jou posh meisie wat langs haar neus op ons afkyk.

      Sy sê dit asof hy homself, met sy nuwe mantel van respektabiliteit, ’n trappie hoër ag as hulle, asof hy sy herkoms verraai het.

      Hy skram nie weg van sy pligte nie, maar Antie is hierdie laslapfamilie se filiale gom, nie hy nie. Hy besef goed die feit dat hy ’n bietjie van die genepoel se room afgeskep het, verg iets; dit vra van hom om sy goeie geluk en talente te gebruik om ook die res van die familie op te trek. En verbeter hy die welstand van sy familie, verbeter hy in die proses ook die welstand van die onmiddellike gemeenskap, soos die daaglikse gebruikers van Antie se sopkombuis. Want danksy haar welsynsdiens is Antie al so lank hy kan onthou onder die armes, hongeres, ellendiges en ander hulpbehoewendes bekend as die goeie engel van die Dip. Maar sonder hulp kan selfs die vroomste engel nie vlieg nie.

      Antie het ’n feesmaal op tafel gesit. Langs Elie aan die Hartslief-kant sit Poppie, die enigste sportiewe lid van die familie. Poppie is ook (en hy erken sy partydigheid) die mooiste meisiekind in die hele Johannesburg, Sandton ingesluit, indien nie die hele Gauteng of die hele Suid-Afrika nie, dalk selfs die hele Suidelike Halfrond. Maar die belangrikste is dat Poppie op sestien bestempel word as een van die land se mees belowende gimnaste – en dis nie partydigheid nie, die kenners en sportkommentators sê so. Hulle voorspel vir Poppie Hartslief ’n hand vol medaljes, meestal goud, by die volgende Olimpiese Spele. En daarom moet sy ordentlik lyk; hy’t vir Antie en Poppie winkels toe gestuur en gesê hulle moet vir haar die beste gimnastiekklere gaan kry – hip leotards, gimnastiekskoene, sweetpakke, handdoeke, sportsakke, alles wat sy nodig het, hy betaal.

      Rasmus het na Basie se vakante stoel langs Poppie opgeskuif. Hy is die onverstoorbare een, die stil een, die een wat nooit kwaad word nie. Wat blykbaar ook nooit bly word nie. Elie ken sy broer, hy kan wel agterkom wanneer Rasmus bly of kwaad is, maar sulke emosies sien jy nie aan sy uiterlike nie. Hy wek die indruk dat hy karre bo mense verkies, selfs flenterkarre. ’n Jaar terug het Elie vir hom gesê: Stel ’n lys op, die beste gereedskap wat jy en Basie in julle werkswinkel nodig het. Hier’s die tjek, klaar geteken, gaan koop wat julle soek, vul die bedrag in. Ek’s moeg om te sien hoe julle sukkel.

      Met Basie as sy vakleerling het Rasmus miskien die beste geweet wat in hulle jonger broer se lewe aangaan. Twee pole: Rasmus die stille, Basie die prater. Dis hoekom Elie reguit na die werkswinkel gery het nadat hy die inligting oor die hare en vesels (en Basie se outopsiefoto) uit luitenant Kosile getrek het.

      “Jy en Basie was elke dag in mekaar se geselskap, het hy iets gesê oor ’n nuwe meisie?” het hy vir Rasmus gevra.

      “Hy’t baie girlfriends gehad, jy weet mos, al van skool af. Ek kan nie al die name onthou nie. Net Pauline.”

      “Ja, die blondie, nè? Ek praat van iemand wat hy miskien kort voor sy ongeluk ontmoet het, een met lang swart hare. Het hy ooit van so iemand gepraat?”

      Rasmus het sy kop geskud. “Nee, kan nie onthou nie.”

      “Wat van die Ruff Riders? Het hy ooit gepraat van ’n Ruff Rider-meisie wat Sondae op die brekfisrit saamry?”

      “Nee. Ek kan onthou hy was opgetrek omdat hy lid kon word, het my die sticker op sy fiets gewys. Niks gesê oor meisies nie.”

      Terwyl hulle eet, vertel Elie wat hy weet van die polisie-ondersoek. Almal luister in stilte na hom, net sy stem en die geklater van messegoed op borde.

      “Wat gaan ons doen?” vra Antie toe hy stilbly. “As die speurders so sukkel met leidrade, los ons dit ook maar net? Ons kan dit mos nie doen nie. Dis nie reg nie, ons kan nie die dood van ’n goeie kind net so los nie.”

      “Ons los dit nie, Antie!” sê Boela. “As daai grootbek Kosile niks kan doen nie, sal óns iets doen. Óns sal Basie se moordenaars gaan soek, en ons sal hulle kry ook.”

      Elie verkyk hom opnuut aan die tatoes op Boela se dik biseps wat in sy moulose frokkie bult. Hy het self ook ’n tatoe, maar erg beskeie en versteek. Basie het hom nog destyds na dieselfde ou gevat wat sy voël gedoen het, erg in sy skik dat sy oudste en bleeksiel-broer ingestem het om ’n tjappie te kry. Elie is bietjie teensinnig saam, nie oor die tjappie self nie, maar oor die pyn van die tatoeëernaald in sy vel in. Hy erken dit reguit (teenoor homself): Hy is en was nog nooit ’n dapper man nie. Maar die tjappie het hom beter laat voel, soos ’n man, minder uncool. Al is dit net ’n drieletterwoord bokant sy linkernippel (was eintlik bedoel om bokant sy hart te wees).

      “Ons het genoeg kontakte,” stem Rasmus saam. “Ons sal uitvind wie sit agter die ding.”

      “Dan gaan vat ons hulle uit,” sê Boela.

      Elie skud sy kop. “Niemand vat iemand uit nie. Ons is nie ’n klomp vigilantes nie. Ons hou ons ore oop en gee die wenke vir die polisie.”

      Boela is die oudste van die Lerm-sibbe en as Elie die brein van die familie is, is Boela die spiere. Wat Elie nie reggedink kry nie, kry Boela reggemoer, is so min of meer die nie-amptelike slagkreet. Bult daagliks sy spiere as blokman in sy slaghuis en is ’n worsmaker van formaat.

      “Wat van Leo?” vra Lottie. “Ek het vir Basie aan Leo voorgestel. Nou’t Leo verdwyn, het nog nie weer ná die ongeluk by die McTavern kom kuier nie. Voor die tyd het hy ’n oorlas van hom gemaak, wou my net uitvat vir ete, saamvat op sy motorfiets … nou’s hy net weg. Is dit nie bietjie snaaks nie?”

      Nig Lottie is pragtig, dink Elie. Die verskil tussen haar en Poppie is dat sy bewus is daarvan dat sy die koppe laat draai. Hy hou dit nie teen haar nie, want soos Boela sê: Lottie vat nie kak nie. Elie het gehelp dat sy haar vir ’n modelkursus inskryf. Saans is sy ’n kelner by die McTavern, loop regop met ’n stywe rug asof sy ’n boek op haar kop balanseer, borsie uit, magie in, en wag vir haar Groot Kans. Hy reken sekere skeptici sal dink: Wat, daai Lottie Lerm wil haar dun gatjie op ’n loopplank gaan swaai? Van Brixton na Milaan? Mooi of te not, nie maklik nie. Maar as Lottie eers haar kop op iets sit, sal hyself nie té veel geld teen haar waag nie.

      “Luitenant Kosile was by die Ruff Riders in Fourways,” sê hy. “Niemand daar weet kastig waar Leo is nie, hulle het hom glo ook nog nie weer gesien ná die ongeluk nie. Die polisie is landwyd op die uitkyk vir hom en …”

      “Maar askies tog, as ek ook ’n straaltjie kan pie,” val Moks hom in die rede.

      “Jis, Moks, pie maar saam,” sê Elie en kyk na dié neef van hom, maer en gay, bling in die oor, manjifieke mohican gemanikuur en gekleur, vandag viooltjiepers.

      Hy betaal vir Moks se kookkursus, want Moks het net sulke hoë ambisies as sy sus Lottie: selebriteitsjef, sy eie restaurant, miskien selfs sy eie TV-reeks, Kook met Kruie, sê hy. Vir Moks se kruie het hy ’n kweekhuisie agter in Antie se erf laat opslaan en Moks het sommer gou Antie se sop vir die armes met sy vars kruie tot gourmetsoep verhef. Moks glo sekere kruie is ook goed vir salwing en genesing, die soort wat hy mediwiet noem, op die Hollandse naam – medi, vir medisinaal, wiet vir die Engelse weed, het hy aan Elie verduidelik, en bygevoeg sodat Elie verstaan dat sy mediwiet nie net ’n gier is nie: Dis dieselfde kruid wat ook in Ayurvediese tekste van 3 000 jaar oud aangeprys is as verligting vir slaaploosheid, hoofpyn, koors, maagloop en dermkwale. Maar sýne is nie vir medisyne nie, wel vir koekies: amandel, grondboontjie, hawermout, karamel, klapper, sjokolade, selfs hertzoggies.

      “Wat van Basie se selfoonrekords?” vra Moks.

      “Luitenant Kosile het sy selfoonrekening nagegaan, veral in die dae net voor sy dood – wie hy gebel en ge-sms het, wie hom gebel en ge-sms het. Die meeste oproepe was oor die werkswinkel se besigheid, Rasmus het dit bevestig. Basie het daardie Vrydag en Saterdag ook ’n paar persoonlike oproepe gemaak: na die Ruff Riders se klubhuis in Fourways, drie oproepe na Leo en twee oproepe van Leo gekry. Saterdagaand en deur die loop van Sondag het hy ook twee oproepe en vier sms’e van Pauline gekry.” Elie peins ’n oomblik. “Wat ek nie verstaan nie, is sy oproep laterig daardie Saterdagaand na ’n plek met die naam Sultans, ’n deftige restaurant in Morningside. Luitenant Kosile was daar, hy’t Basie se foto en die selfoonrekening met Sultans se nommer vir die maître d’ gaan