Die slang het as argetipe dierlike én menslike eienskappe; dit kom op land en in die water voor, en so word die slang simbolies van boodskappers tussen die wêrelde van die onbewuste en bewuste ervaring, simbole wat oorgange tussen die twee domeine kan bewerkstellig. Wat aanvanklik as bonatuurlik beskou is, word byvoorbeeld in Marais se verhaal wel wetenskaplik verklaar, maar juis om die enorme omvang van die rasverwerpte se pyn te belig.
In ander verhale in Lombard se versameling word verdere ooreenkomste tussen byvoorbeeld waterslange en verwante kreature soos die reënbul en watervroue getref. Carl Jung se beskouing van die “kollektiewe onbewuste” en “argetipes”, oftewel die veronderstelling dat alle mense se bewussyn dieselfde oerpatrone het, help ’n mens om verskeie argetipes in die verhale te onderskei, soos byvoorbeeld die wyse ou vrou (“Kinders van die waterslang” deur Pieter W. Grobbelaar, die gedeeltes uit Thomas Deacon se Maagmeisie, die verhale van Minnie Postma, die uittreksels uit M.I. Murray se Witwater se mense en die verhale van Maria Dermoût) asook die manlike element in die vroulike psige, en die vroulike element in die manlike psige.
Van hierdie argetipes is ook te vinde in die wonderlike Xhosa-geskrewe boek van A.C. Jordan, vertaal as Die toorn van die voorvaders. Hierin kom ’n jong prins in opstand teen die tradisie deur met ’n vrou uit ’n ander stam te trou. Wanneer ’n bruin kobra (ander bronne noem dit ’n molslang) die hut binneseil waar haar baba slaap, slaan sy dit sonder omhaal dood. Van die ontstelde omstanders verneem sy dat die slang ’n totemdier is van die Mpondomise-clan en as inkwakhwa ’n voorvader verteenwoordig uit die huis van die Majolas. Die slang word glo dikwels gesien waar dit langs die jongste manlike erfgenaam slaap, en as vriend en beskermheer doen dit die baba geen leed aan nie, maar berei hom voor op ’n suksesvolle volwasse lewe. Die vriendelike manier om die slang te verjaag is ’n straaltjie borsmelk. Hierdie siening van die slang as vriend is ’n ondermyning van die konvensionele beskouing van die slang as bloot giftig en boos, en die breër vertolking maak die slang deel van ’n dinamiese ekologie.
Dis veral belangrik dat in die teks genoem word dat die prins baie geheg aan die vrou was, omdat sy “die brein van ’n man” gehad het. Desondanks eindig die verhaal met die uitwissing van die hele gesin, MAAR so gestruktureer dat ’n mens, soos in Marais se geval, bewus word daarvan dat die slang gebruik word om in gesprek te tree met onversetlikhede.
Ten slotte: Die woorde van die Suid-Afrikaanse Engelse digter Roy Cambell aan sy mak kobra vat die essensie saam van die literêre gebruik van die slang:
I wish my life, O suave and silent sphinx,
Might flow like yours in some such strenuous line,
My days the scales, the years the bony links
That chain the length of its resilient spine:
And when at last the moment comes to strike,
Such venom give my hilted fangs the power,
Like drilling roots the dirty soil that spike,
To sting these rotted wastes into a flower.
Die verleiding
GENESIS 3:1–24
1Die slang was listiger as al die wilde diere wat deur die Here God gemaak is en het vir die vrou gevra: “Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie?”
2Die vrou het die slang geantwoord: “Ons mag eet van die vrugte van die bome in die tuin. 3God het net gesê ons mag nie eet van die vrugte van die boom in die middel van die tuin nie en ons mag dit nie aanraak nie, want dan sterf ons.”
4Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, 5maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”
6Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. 7Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere.
8Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. 9Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?”
10En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”
11Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?”
12Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.”
13Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.”
14En die Here God sê vir die slang:
“Omdat jy dit gedoen het,
is jy vervloek onder al die diere.
Op jou pens sal jy seil
en stof sal jy eet, jou lewe lank.
15Ek stel vyandskap tussen jou
en die vrou,
tussen jou nageslag en haar nageslag.
Haar nageslag sal jou kop vermorsel
en jy sal hom in die hakskeen byt.”
16Vir die vrou het die Here God gesê:
“Ek sal jou baie swaar laat kry
met jou swangerskappe:
met pyn sal jy kinders
in die wêreld bring.
Na jou man sal jy hunker,
en hy sal oor jou heers.”
17Vir die mens het die Here God gesê:
“Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet,
is die aarde deur jou toedoen
vervloek;
met swaarkry sal jy daaruit
’n bestaan maak,
jou lewe lank;
18die aarde sal vir jou dorings
en dissels laat uitspruit,
en jy sal veldplante eet;
19net deur harde werk sal jy kan eet,
totdat jy terugkeer na die aarde toe,
want daaruit is jy geneem.
Stof is jy, en jy sal weer stof word.”
20Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense. 21Daarna het die Here God vir die mens en sy vrou velklere gemaak, en hulle dit aangetrek.
22Toe het die Here God gesê: “Die mens het nou soos een van Ons geword deurdat hy alles kan ken. As hy nou maar net nie sy hand uitsteek en die vrug van die boom van die lewe vat en daarvan eet en altyd bly lewe nie!”
23Daarom het die Here God die mens weggestuur uit die tuin van Eden uit om die aarde te gaan bewerk,