Die ding in die riete. Jean Lombard. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jean Lombard
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Публицистика: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780624070870
Скачать книгу
p>

      Die ding in die riete

      verhale byeengebring

      deur

      Jean Lombard

      Tafelberg

      Ter nagedagtenis aan

      Hennie Aucamp en George Weideman

      Inleiding

      O, sjarmante stil sfinks

      ANTJIE KROG

      Die wonderlike ding van ’n bundel soos dié is dat dit soos ’n string liggies skielik ander fasette van die literêre boom belig en in ’n nuwe geheel betrek. Nuwe skrywers kom na vore, asook nuwe kante van bekende skrywers, maar veral in ’n mens self steek die byeengebringde verhale ’n eie stel slangstories aan die brand.

      Natuurlik het die meeste van ons grootgeword met die paradysslang, en as jy ’n vrou is, ook met die wete dat dit juis vir jou is dat die slang in die hakskeen gaan byt en dat jy en die slang vir altyd deel van mekaar se lewe gaan wees. Maar die Bybel se slang is vir jou aanvanklik ’n versinde slang, hoofsaaklik visueel saamgestel uit Bybelprente en beroemde skilderye – ’n soort goties-krullende komposisie wat dreigend uit ’n boom langs Eva stort.

      Maar dan sien ’n mens op ’n dag jou eerste rinkhals langs ’n trappie in die sitkamer, of ’n pofadder wat jou pa met die geweer skiet, en ’n mens raak bewus van die loutere wilde vrees wat oral opwel sodra die woord “slang” deur iemand geskreeu word.

      In my jeug het almal slangervarings gehad, maar dit was spesifiek met ’n kuier op ’n Bosveldplaas dat ’n oom my puber-ore laat tuit het met “mamba-statistieke” wat geleidelik mambastories geword het, stories wat ek jare later in Eugène Marais se Paradys van weleer herken het hoewel die feite soms heftig deur wetenskaplikes ontken is:

      ’n Mambavel van “agtien voet” wat teen die muur van ’n kantien in Barberton hang; dat ’n mamba blind is as hy vervel, want die vel kry jy altyd met ’n ooglaag; dat ’n slang net een long het waarlangs die gifkliere strek; dat ’n drie meter lange mambaslang ’n koppie vol gif in sy slagoffer kan spuit, en dat geen ongevleuelde dier sneller as ’n swart “makoppa” oor die toppe van struikgewas of die takke van bome of op die grond beweeg nie – dit skep die indruk van ’n pyl uit ’n boog. Die mamba seil nie kronkelend soos ander slange nie, maar reguit en is dan “weerskynend” in die sonlig met glanse van purper en metaalgroen. Teen die agtergrond van ’n blêrende wyfiemamba wat besig is om te paar vind die onvergeetlikste aanvalle plaas: Twee seuntjies speel by ’n miershoop, ’n mamba peul uit en agtervolg die histeriese kinders. Dan lig die slang homself ’n meter of meer op agter die kleinste seuntjie en byt hom in die skouer waarna hy neerval asof ’n “koeël sy hart getref het”.

      G’n wonder nie dat Marais se verhaal “Diep Rivier” vir my oor die jare die onvergeetlikste slangstorie gebly het. Dié verhaal kon weens die lengte daarvan en die fokus op werklike slange nie by hierdie bundel oor wonderslange ingesluit word nie, maar dit is met plesier dat ek daarin al die eienskappe herken het wat Jean Lombard bespreek in haar verhandeling oor slangstories. Wat onder meer ter sprake is, is die “mitisiteit” van verhale, oftewel die verwerking van ’n bestaande mitologiese motief, soos die oeroue slang, op vernuwende wyses deur skrywers om sodoende iets diepers aan te roer. Die slang word méér as slang, dit word ’n sleutel wat iets onsêbaars ontsluit.

      Mitisiteit, sê Lombard, is nou verwant aan die konsepte “numineus”, die “spirituele” of die “goddelike”, dit wat misterieus en onpeilbaar is: die begeerte en soeke na die geheel en al Onbegryplike, die Gans Andere. Mitologiese stories van gehalte is altyd ’n poging om nader te kom aan die begrip en verwoording van bestaansvrae oor byvoorbeeld lyding en geweld, oor die misterie van seksualiteit en die verklaring van die skepping van die heelal, met ander woorde kwessies waaroor die rede en sintuiglike waarneming geen bevredigende uitsluitsel bied nie. Daar is dikwels in so ’n verhaal ’n intense verlange na die sin van die lewe, maar nóg die verlange, nóg die sin kan eintlik voldoende onder woorde gebring word.

      Marais maak in sy storie gebruik van ’n fiktiewe skrywer, Paul de Roubaix, wat saam met sy ou skoolmaat Sois de Ville, ’n gewese polisiekommandant, genooi word deur ’n jonger vriend, Boy van Niekerk, na sy afgeleë erfplaas, Avonduur. Hulle moet gaan vasstel waarom dit lyk asof reusemambas Boy se vrou “skade” wil aandoen. Dis glad nie mambawêreld nie, en die mambas kom honderde kilometer ver met onbehoorlike haas op sy vrou afgepyl. Die jong boer vermoed, erken hy met skaamte, “toordery”. Hy word gerusgestel: “Geleerde reisigers” beweer dikwels “dat daar in die toorkuns van Afrika meer skuil as wat die meeste mense glo of van weet”.

      Verskeie klassieke, gerespekteerde Afrikaner-elemente open hierdie slangverhaal: die Hugenoot-vanne, kreatiwiteit (skrywer) en wet en orde (polisie) asook die erfplaas wat aan ’n voormalige roemryke rugbyspeler behoort. Die drie vriende onderneem om tot die geheim van die slangteenwoordigheid op hierdie paradyslike plaas deur te dring.

      Dit blyk gou dat daar ’n vreemde driehoeksverhouding op die plaas bestaan tussen die baas, sy vrou en die kinderoppasser, laasgenoemde ’n beeldskone “halfbloed” wat eers deur Portugese nonne in ’n klooster Westers grootgemaak is en later deur haar swart ma en sangoma-oupa in die tradisionele swart kultuur opgevoed is.

      Die skrywer erken dat hy selde tevore “’n mooier meisie gesien het as Juanita Perreira. … Sy had die eienaardige geelbruin vel met ’n onderlaag van pienk wat so dikwels in die Portugese halfbloed voorkom. Haar gelaatstrekke had niks van die inboorling nie. Die mond en lippe was fyn en die neus hoog en reguit soos by ’n egte Griekse tipe. … Haar trotse laggie terwyl sy trag om die baba behoorlik ten toon te stel, was iets so aanvallig as ’n mens ooit in ’n meisie kon verlang. Ek kon merk dat die verhouding tussen haar en ons gasheer en -vrou veel meer intiem en, van haar kant, minder onderdanig was as wat ’n mens gewoonlik tussen bediende en heer verwag.”

      Kort hierna beleef die geselskap, terwyl hulle almal buite langs ’n grenadellaheining sit, die eerste “aanval”. Op briljante wyse ontgin Marais die mitiese aspekte van die slang deur nie net die slang op sigself te beskryf nie, maar ook die donker en komplekse argetipe wat dit soms in die onbewuste verteenwoordig:

      In die digte blare van die grenadella, waar Boy wys, sien ek ’n stadige, aaklige, senuskokkende beweging. Wat dit was, kon ek nie uitmaak nie. Die voorwerp wat die beweging veroorsaak het, was self donker, en dit was so in die duister van die grenadella gehul dat dit onmoontlik was om die vorm of gestalte uit te maak. Ek het my verbeel dat ek ’n swart gesig sien wat deur sluwe bewegings trag om ’n loergat deur die blare van die grenadella oop te skuiwe. Dit was die eerste en laaste indruk wat ek gehad het. En toe was daar ’n geweldige uitbarsting – ’n oorverdowende ontploffing wat my byna van my voete ruk. Boy had altwee lope van die geweer gelyk afgetrek en ’n rokende gat deur die grenadella geblaas, ongeveer vier duim bo die plek waar die bewegende voorwerp verskyn had.

      Pas nadat dit blyk dat een van die wasvroue deur ’n mamba doodgebyt is terwyl sy die gasvrou se klere gewas het, word verneem dat die boer een oggend gesien het hoe sy vrou uit die veld terugkeer nadat sy na ’n sekere blom gaan kyk het.

      Die gras was nat van die dou, en ek kon duidelik haar spore vanaf die rantjie agter soos ’n donker streep sien. En toe skielik merk ek iets blink agter op haar spoor wat haar klaarblyklik vinnig agtervolg. Net toe ek dit opmerk, lig die slang skielik sy lyf orent, en toe sien ek dat dit ’n swart mamba is.

      Gelukkig was die geweer naby.

      ’n Buurman daag tydens die vriende se besoek op. Hy is ietwat van ’n kluisenaar, maar het baie kennis van die natuur. Op ’n uitstappie kom hulle af op ’n reuse-bergskilpad wat doelgerig maar met onbehoorlike haas voortstommel. Die gas verduidelik dat die wyfie van die meeste werweldiere ’n sekere klier het wat ’n reukstof afskei wat gedurende paartyd in werking tree en vanweë hierdie “afwerpsel” is die mannetjie in staat om die wyfie oor ongelooflike afstande te volg en uiteindelik te vind. Die leser verstaan dus dat slange deur hierdie reukstof na die plaas aangelok kan word.

      Daardie aand kom die vriende van aangesig tot aangesig te staan voor die slang in sy volle kragtige dodelikheid, en dis boeiend hoe Marais die verskillende reaksies en intense emosies uitbeeld. Tydens aandete hoor almal skielik die klap van kaal voete in die