“Dankie,” sê sy met ’n verleë glimlaggie. “Dis gaaf van jou.”
“Dis ’n plesier,” sê hy hoflik terwyl sy blik oor haar gaan. Hy aarsel ’n oomblik en vervolg sagter: “Ek sien jy wag vir die Seepunt-bus. Dis seker nie baie lekker om hier in die wind te staan nie. My motor is hier naby en ek ry ook in daardie rigting. Kan ek jou nie huis toe neem nie?”
Dadelik verstyf sy.
“Nee, dankie,” sê sy koel en beslis en draai om en stap terug om weer haar plek in die tou in te neem.
Die man lig ewe beleef sy hoed vir haar en stap weg. Vanuit die veiligheid van die bustou kyk sy hom verontwaardig agterna en sy is bewus van die harde bonsing van haar hart. Dis nie die eerste keer dat ’n man probeer om so met haar kennis te maak nie – inteendeel, dis ’n ervaring wat ’n alleenlopende meisie dikwels te beurt val – maar dit ontstel haar nog elke keer.
Tersluiks kyk sy na haarself in die helder verligte winkelvenster. Sy sien ’n aantreklike jong vrou, slank en mooi gebou, met roesbruin hare en oë en ’n sagte, goudgetinte vel. Sy het ’n nousluitende geel linnerok met ’n wye wit kantkraag aan en in die winkelvenster lyk sy onverwags jonk en onskuldig.
Het die man regtig gedink sy sal saam met hom in sy motor klim?
Gelukkig kom die bus net toe om die draai en ’n paar minute later is sy op pad huis toe – as ’n mens die tweekamerwoonstel waarin sy die afgelope ses maande alleen woon ’n huis kan noem.
Hier in die bus voel sy warm en veilig. Veilig teen die aanslae van die suidooster wat vanaand in ’n besonder geniepsige bui is, en teen die aanslae van middeljarige mans wat beter behoort te weet as om meisies wat hulle dogters kan wees te probeer verlei met blink, gerieflike motors en alles wat daarmee saamgaan.
Maar ander, belangriker gedagtes verdring ná ’n rukkie die herinneringe aan die vrypostige vreemdeling.
Ná vyf jaar het sy weer vir Emile gesien en met hom gepraat.
Sy sien weer sy skraal gesig, die donker oë wat so koel en spottend in hare gekyk het. Het die ontmoeting vir hom ook weer ou, halfvergete herinneringe wakker gemaak?
Sy het Emile aan die einde van haar eerste jaar op universiteit ontmoet. Oorspronklik wou sy Stellenbosch toe gaan, maar op die laaste nippertjie het haar pa besluit dat Stellenbosch te ver is en dat sy na die Universiteit van Pretoria toe moet gaan. Haar ouers het destyds in Johannesburg gewoon en sy kon maklik naweke en met kort vakansies huis toe gaan.
’n Week of twee voor die eindeksamen sou begin, het ’n vriendin van haar verjaar en sy het ’n klomp van hulle genooi om een aand by die Fonteine te gaan vleisbraai en dans. Emile was ook daar, en sommer uit die staanspoor het sy van die stil, skraal jong man met die mooi oë gehou. Sy was die aand saam met ’n ander kêrel daar en Emile het ’n ander meisie na die partytjie toe gebring, maar hulle het tog ’n hele paar keer met mekaar gedans.
Sy het B.A. geloop, maar haar eintlike belangstelling was skilder, waarin sy privaat les geneem het. Emile was ’n vierdejaar wat ook in kuns belanggestel het en hulle het baie vir mekaar te sê gehad. Voor hulle die aand huis toe is, het hy gevra of hy een aand kan kom kuier.
’n Paar dae later het hy dan ook gekom en dit was die begin van ’n verhouding wat vir haar eers die diepste geluk, maar later ook ongeluk, bitterheid en eensaamheid gebring het.
As haar pa haar tog maar net Stellenbosch toe gestuur het, soos hy al die jare beplan het, hoe anders sou die lewe nie gewees het nie!
Sy dink daaraan dat sy vergeet het om Emile te vra hoe lank hy in die Kaap sal wees. As hy vir besigheid gekom het, sal dit seker net vir ’n dag of twee wees en dan is daar maar min kans dat sy hom weer toevallig êrens sal raakloop. Hy het natuurlik gesê hy wil met haar gesels voor hy teruggaan, maar toe sy nee sê vir sy uitnodiging om saam met hom te gaan eet, het hy nie verder aangedring nie.
Maar dis seker beter so. Wat kan hy nou, ná vyf jaar, vir haar sê wat haar beter of gelukkiger sal laat voel? Nee, daardie episode van haar lewe is finaal afgesluit en sy het geen begeerte om weer aan die ou wonde te krap net om seker te maak hulle het genees nie.
Sy loer deur die venster na buite om te sien waar hulle is en druk haastig die klokkie toe sy sien dat die bus reeds die halte nader waar sy moet afklim.
’n Paar oomblikke later staan sy alleen op die sypaadjie. Hier in Seepunt weet ’n mens nie van die suidooster nie, maar die koel aandluggie herinner haar daaraan dat die somer verby is. Haastig begin sy aanstryk in die rigting van die groot blok woonstelle waar sy woon. Herberg van die Eensames, noem Adèle dit spottend, omdat daar so baie alleenlopendes woon: oujongnooiens, eensame weduwees, vrouens wat van hulle mans geskei is, oues van dae wat reeds die grootste gedeelte van hulle lewe agter die rug het en met vrees uitsien na ’n nog eensamer oudag wanneer hulle van vreemdes afhanklik sal wees.
Herberg van die Eensames! Onsin! Sy is gelukkig om so ’n woonstel te kan bekostig en haar eie plek te hê.
Sy wonder of Adèle tuis is. Die ontmoeting met Emile het haar ontstel en om die res van die aand alleen met haar gedagtes en herinneringe in die woonstel te sit, is nie ’n aanloklike vooruitsig nie.
Hoofstuk 2
Veronica stap reguit na Adèle se woonstel op die tweede verdieping aan die suidekant van die gebou. Haar eie woonstel is twee verdiepings hoër op en kyk noord. Daar is lig in die woonstel en sy hoop maar Adèle het nie ’n besoeker nie.
Sy druk die voordeurklokkie en byna onmiddellik maak Adèle die deur vir haar oop. Adèle is lank en skraal, met klassieke gelaatstrekke, groenblou oë en gladde, donker hare wat sy in ’n eenvoudige bolla laag in haar nek dra. Sy is nog ’n hele paar jaar duskant veertig, maar haar swaar grimering en die effens harde uitdrukking op haar gesig laat haar ouer lyk. Sy hou van dramatiese klere en het nou ’n lang ferweelbroek met ’n rooi bloes aan, met ’n voorskoot daaroor. Die heerlike geur van die een of ander gebak vul die woonstel.
“H’mmmm, dit ruik lekker,” sê Veronica toe sy op haar vriendin se uitnodiging instap. “’n Partytjie?”
“Dadelkoekies. Elma kom die naweek kuier.”
“Wonderlik! Ek bedoel dat Elma kom kuier.” Elma is Adèle se twaalfjarige dogter wat in die Paarl op skool is en in die koshuis bly.
“Jy lyk spoggerig,” sê Adèle. “Kom jy terug of is jy op pad?”
“Ek kom nou net terug van die opening van Jacques du Pré se uitstalling. Dis briljant, Adèle. Een van die beste uitstallings wat ek in ’n lang tyd bygewoon het. Jy moet regtig ’n plan maak om daarna te gaan kyk.”
Adèle haal haar skouers op.
“Dit sal net tydmors wees. Ek het nie geld om te koop nie en ek verstaan ook nie moderne kuns nie. Al daardie strepies en winkelhakies beteken vir my niks nie.”
“Jy sal hierdie man se werk verstaan en geniet.”
“Net ’n oomblik,” maak Adèle haastig verskoning. “Ek dink die pan moet uit die oond kom.”
Veronica stap saam met haar kombuis toe. Op die rak staan ’n bak vol goudbruin koekies wat reeds klaar gebak is. Veronica soek vir haar ’n mooi vette uit, vol dadels en neute, en begin daaraan peusel.
“Heerlik,” sê sy waarderend. “Jy moet vir my die resep gee. Maar ek het nie kom kuier nie – ek het jou net kom nooi om by my te kom eet. Nie dat ek sulke wafferse kos het nie, hoor,” vervolg sy haastig. “Om die waarheid te sê, ek weet nog nie eers wat ek gaan maak nie. Maar ek is nie vanaand lus vir my eie geselskap nie.”
Adèle kyk haar ’n oomblik ondersoekend aan. Dan knik sy.
“Dankie. Maar ek moet eers die koekies klaar bak – ek is amper klaar – en ek kan nie lank bly nie. Ek moet nog my hare kom was, ek het strykwerk om te doen en ek wil ’n poeding vir môreaand maak. As jy niks anders