Jack Verster is ’n aantreklike, blonde man van ongeveer dertig jaar en soos gewoonlik is hy onberispelik aangetrek. Soos gewoonlik is hy ook op pad na die een of ander belangrike funksie. Veronica het hom twee jaar gelede by ’n partytjie ontmoet en daarna het hy haar dikwels uitgeneem wanneer hy in Kaapstad was. Hy is ’n dinamiese man wat almal ken wat die moeite werd is om te ken en ’n gewilde vrygesel in sosiale kringe. Hy weet presies wat hy van die lewe wil hê en sal alles en almal uit sy pad vee om sy doel te bereik, maar hy is ’n goeie metgesel wat die kuns verstaan om ’n meisie mooi en gewild te laat voel. Hoewel Veronica nog altyd op haar hoede teenoor hom was – hy het ietwat van ’n reputasie met die skone geslag – geniet sy dit om af en toe saam met hom uit te gaan.
“Ek moet gaan,” sê Jack nadat hy ’n paar woordjies met hulle gewissel het. “Ek wou net hoor of jy nie Saterdagmiddag saam met my perdewedrenne toe wil gaan nie. Ek het ’n paar goeie wenke gekry – so uit die perd se bek – en as jy jou mooi gedra, sal ek dit miskien met jou deel.”
Sy kyk op in sy glimlaggende gesig.
“Dankie, ek sal graag gaan. Maar jou wenke kan jy maar vir jouself hou. My metodes is net so goed soos joune.”
Fronsend kyk Emile die aantreklike, selfversekerde Jack agterna.
“Is dit die soort wolwe in wie se geselskap jy jou deesdae bevind?” vra hy afkeurend.
Veronica kyk hom koel aan.
“Ek kan na myself kyk – ek doen dit al die laaste vyf jaar,” herinner sy hom liefies. “Maar dit word laat, ek moet gaan. Sien jy Jacques du Pré se dokter-vrou êrens? Jy het nog belowe om my aan haar voor te stel.”
Dokter Ingrid Meyer is heeltemal anders as wat Veronica haar voorgestel het. Sy is nie klein en fyn of buitengewoon mooi nie – glad nie die soort meisie op wie sy verwag het ’n kunstenaar verlief sal raak nie. Sy is lank en gebou soos ’n Amasone, met goudblonde hare wat sy in ’n vlegsel om haar kop gedraai het en die diepblou oë en wit vel wat haar Nordiese afkoms verraai. Sy is nie mooi in die konvensionele sin van die woord nie, daarvoor is haar gelaatstrekke nie suiwer genoeg nie, maar sy het ’n sterk gesig en uit die diepblou oë straal ’n rustigheid wat ’n mens dadelik tref.
Ek kan goed verstaan dat hy op haar verlief geraak het, dink Veronica nadat hulle ’n paar minute hoofsaaklik oor Jacques se werk gesels het. Ná al die prikkelpoppies met wie hy so dikwels in aanraking kom was Ingrid se kalm skoonheid seker onweerstaanbaar. En dis ’n skoonheid wat nie met die jare sal vergaan nie, maar steeds ryper en voller sal word.
Heeltemal te gou na Veronica se sin word Ingrid van hulle weggeroep.
“Bring haar saam partytjie toe,” sê Ingrid aan Emile toe sy wegstap.
“Jy het nou ’n dubbele uitnodiging,” sê Emile toe hulle weer alleen is. “As jy nie reeds ’n ander afspraak vir vanaand het nie, kan jy gerus saamkom. Dis nie ’n groot partytjie nie – net ’n paar van Jacques se ou vriende, meestal kunstenaars. Moontlik ken jy reeds die meeste van hulle.”
“Ek kom deesdae maar min met kunstenaars in aanraking,” sê sy stil. Sy sal graag na die partytjie toe wil gaan. Sy hou van Jacques en sy blonde dokter-vrou en sy sal hulle graag beter wil leer ken. Sy sal ook graag nog ’n bietjie met Emile wil gesels. Maar in haar hart weet sy dit sal verstandiger wees om liewer die uitnodiging van die hand te wys. Sy is bly sy het weer vir Emile raakgeloop, sodat sy haarself kon oortuig dat dit goed met hom gaan. Maar dis genoeg; dit het haar lank geneem om te vergeet en haar by haar nuwe lewe aan te pas. Waarom nou moeilikheid soek? Emile behoort aan die verlede met sy pyn, sy teleurstelling en ontnugtering. Hy het geen plek in haar toekomsplanne nie.
Vasberade sê sy: “Ek is jammer, maar ek het reeds ’n ander afspraak vir vanaand. Maak asseblief verskoning by jou vriende – ’n ander dag neem ek graag hulle uitnodiging aan.”
Sy sien die vlugtige teleurstelling in Emile se donker oë – mooi groenbruin oë met lang, donker wimpers soos dié van ’n meisie – maar voor hy kan antwoord, sluit Koenraad by hulle aan. “Ek wil jou nie aanjaag nie, Veronica,” sê hy verskonend. “Maar dis amper halfsewe en my ma wag vir my.”
“Ons kan dadelik gaan, Koenraad. Ek het nie besef dis al so laat nie.” Sy steek haar hand na Emile uit en sê met ’n glimlag: “Tot siens, Emile. Dit was goed om jou weer te sien. Alle sukses vir die toekoms.”
“Dankie!” ’n Paar oomblikke langer as wat nodig is, hou hy haar hand in syne gevange. Die donker oë glim effens asof hy die situasie ’n bietjie vermaaklik vind. “Sê vir my, Veronica: as die suidooster so waai – verlang jy nie soms terug Transvaal toe nie?”
Sy trek haar hand haastig uit syne en sê koel: “Ek hou van die suidooster. Hy is goeie geselskap. Hy waai gereeld al die spinnerakke weg en hy leer jou om vas op jou voete te staan. Ons noem hom die Kaapse Dokter, maar ek kan my indink sy medisyne is seker ’n bietjie sterk vir julle Transvalers. Tot siens, hoor. Alles van die beste.”
Sonder om vir ’n antwoord te wag, draai sy om en stap weg.
Jacques en sy vrou is in ’n diep gesprek met die professor gewikkel, en met Koenraad op haar hakke glip Veronica ongemerk by hulle verby. Sy sal op ’n ander dag terugkom om met Jacques te gesels.
Buite gryp die suidooster byna haar hoed van haar kop af.
“Jy hoef my nie huis toe te neem nie, Koenraad,” sê sy dadelik. “Ek weet jy is haastig en die bus is vir my net so gerieflik.”
Hy kyk vlugtig na sy horlosie, dan sê hy aarselend: “Dit het ’n bietjie laat geword – ons kry vanaand mense vir ete en ek het my ma belowe ek sal vroeg terug wees – maar ek hou nie daarvan dat jy so alleen rondloop nie.”
“My liewe Koenraad,” sê sy bondig, “jy behoort teen dié tyd te weet dat ek na myself kan kyk. Die bus loop feitlik voor my deur verby en ek kan jou verseker ek het al later as dit alleen rondgeloop.”
“Dalk. Maar nie wanneer jy saam met my uitgaan nie. Vanaand is ek egter so ’n bietjie in die knyp en as jy regtig nie omgee nie, gaan ek jou vriendelike aanbod aanvaar. Kom, ek stap gou saam met jou bushalte toe.”
In stilte beur hulle teen die sterk suidoostewind wat so uitgelate deur die stil, leë strate baljaar. Effens gespanne wag sy dat Koenraad vra wie die man is met wie sy so lank gesels het, maar hy is besig met sy eie gedagtes en verlig dink sy dat sy nie ’n verduideliking hoef te gee nie – nie vanaand nie altans.
“Baie dankie dat jy my saamgenooi het,” sê Koenraad toe hulle by die bushalte kom. “Ek het die uitstalling baie geniet. Ek bel later om te hoor of jy veilig tuis gekom het. Tot siens.”
Met ’n fronsie kyk Veronica hom agterna. Sy verstaan nie elke dag vir Koenraad nie. Hy is ’n gawe man, vriendelik en hulpvaardig. Hy sal seker as hy eendag trou baie goed wees vir sy vrou. Hy is ook ’n goeie onderwyser, wat die kuns verstaan om met kinders te werk, en hy is gewild by die leerlinge en die personeel. Hy het sy eie, besliste idees oor dinge en kan sy man staan in enige argument; almal hou van hom en respekteer hom. Maar waarom laat hy toe dat sy ma hom so domineer? Hy is ’n volwasse man van byna vier-en-dertig, tog het hy dit nog nooit reggekry om hom van haar rokspante los te maak nie.
Veronica weet hy is in ’n moeilike posisie. Hy het sy pa verloor toe hy nog jonk was en omdat hy die enigste kind was, moes hy al vroeg sy pa se plek probeer volstaan. Daarby was sy ma nie gesond nie en het sy met die jare ’n veeleisende, selfsugtige vrou geword wat nog steeds verwag om die middelpunt van haar seun se lewe te wees. Koenraad moes al lankal getroud gewees het, met sy eie huis en gesin, maar dit sal seker nie so maklik gaan om ’n vrou te kry wat sy ma se algehele goedkeuring wegdra nie.
Veronica was al ’n paar keer by die Louws aan huis. Af en toe het Koenraad haar genooi om op ’n Sondagmiddag by hulle te kom koffie drink, en een aand het sy saam met hulle geëet. Hoewel sy ma elke keer baie vriendelik teenoor haar was, het Veronica nie op haar gemak gevoel