Tryna du Toit
Agter die berge
Human & Rousseau
Hoofstuk 1
Die uitstalling was een van die hoogtepunte van die jaar in die Kaapstadse kunswêreld en die lokaal het vol gestaan van medekunstenaars, resensente, kunsliefhebbers en ander belangrike mense wat genooi is om die opening by te woon.
Van waar sy naby een van die groot noordevensters staan, luister Veronica Eybers belangstellend hoe professor Albert Jansen, bekende skrywer, digter en dramaturg, die uitstalling open. Professor Jansen is ’n begaafde spreker en hy praat insiggewend en humoristies oor die moderne kuns as uiting van die atoomeeu met sy spoetniks, materialisme, rusteloosheid en verwarring. Hy is egter vol lof vir die kunstenaar, Jacques du Pré, wat na byna vier jaar in die buiteland weer terug is in sy eie land. Hy sien in hom iemand wat met sy oorspronklike siening, kleuraanvoeling en interessante temas kop en skouers bo sy tydgenote uittroon en voorspel dat hy nog groot naam gaan maak.
Die professor is reg, dink Veronica terwyl sy kyk na die skilderye waarop hy sy gehoor se aandag vestig. Hier is ’n jong kunstenaar wat dit nog ver in die lewe gaan bring. Sy werk is lewenskragtig; elke doek het ’n eie persoonlikheid en dra die stempel van sy onmiskenbare talent. Veral daardie een skildery wat hy Sestien noem – die portret van ’n jong meisie wat teen ’n agtergrond van blougroen see, ’n paar seemeeue en ’n eensame vissersbootjie op die stoeptrap van ’n strandhuis sit met ’n skulp teen haar oor – is ’n besonderse werk. Die dromerige uitdrukking op die meisie se gesig, die geheime verlangens in haar oë, die waas van onskuld wat haar soos ’n beskermende kleed omvou, skep ’n onvergeetlike toneel.
Sy het lanklaas ’n uitstalling bygewoon wat haar verbeelding so aangegryp het. Behalwe Sestien is hier ’n hele paar skilderye wat sy dolgraag sou wou besit, maar die prys is ver bokant ’n onderwyseres se beursie en soos gewoonlik sal sy tevrede moet wees om net te droom en van ver af te bewonder.
Sy dink aan die tyd toe sy ook besiel was deur die idee om eendag ’n beroemde skilderes te word. ’n Uitstalling deur Veronica Eybers sou ’n gebeurtenis wees waarna kunskenners gretig uitsien; dit sou ’n voorreg wees om een van haar skilderye te besit. Helaas! Ook daardie droom het in die niet verdwyn.
As sy vroeër dié droom laat vaar het, dink sy nou, vroeër besef het dat geesdrif en harde werk nie genoeg is as die goddelike vonkie van talent nie ook daar is nie, hoe anders sou haar lewe nie miskien gewees het nie? In plaas daarvan om doeke te skilder wat in kunsgalerye en die groot museums van die wêreld hang, hou sy vandag skool en in haar vrye tyd illustreer sy kinderboeke en tydskrifverhale en doen sy ’n bietjie advertensiewerk. Dis ’n lonende stokperdjie en bring – in ’n mate – sy eie bevrediging mee. Dis slegs wanneer sy ’n uitstalling soos dié een van Jacques du Pré sien dat sy weer die ou drome en verlangens in haar voel roer, dat sy opnuut bewus is van ’n gevoel van ongeluk en verydeling. Maar dit sal weer verbygaan. Sy weet nou dit word slegs aan enkeles gegun om die pieke te bereik. Die berg Olympus is vir die gode, nie vir gewone mense nie.
Sy word skielik bewus daarvan dat iemand na haar kyk. ’n Tyd lank probeer sy dit ignoreer terwyl sy haar aandag by die spreker bepaal. Maar die gevoel word sterker en uiteindelik draai sy haar kop om te sien wie dit is. Sy kyk vas in ’n paar koel, donker oë wat haar belangstellend dophou. ’n Ligte rilling van skok gaan deur haar.
Emile!
’n Paar tellings kyk hulle oor die halwe lengte van die vertrek na mekaar, dan knik hy beleef. Veronica groet terug en draai dan haar kop weg, uiterlik ongestoord, maar haar hart klop skielik soos ’n voorhamer teen haar ribbes en haar gedagtes is ’n warboel.
Wat soek Emile hier?
Die toespraak is verby en ná geesdriftige applous begin almal opgewonde gesels. Met ’n hand wat liggies bewe neem Veronica ’n glasie sjerrie by Koenraad Louw wat saam met haar na die uitstalling gekom het.
“Interessante toespraak! Die oubaas weet waarvan hy praat.”
Sy knik net. Terwyl sy proe-proe aan die droë sjerrie probeer sy haar regruk. Waarom is sy so ontsteld? Sy het tog altyd geweet sy sal Emile weer eendag raakloop; die wonder is dat dit nie lankal gebeur het nie. Maar sy was natuurlik glad nie vandag op so iets voorbereid nie … dis soos ’n skim uit die verlede wat skielik helder oordag voor jou opdoem.
Kon hy haar nie laat weet het hy kom Kaap toe nie?
Die versoeking om weer ’n slag te kyk om seker te maak dat dit werklik hy is, is oorweldigend en gemaak ongeërg draai sy haar kop weer effens in sy rigting. Hy staan nou half met sy rug na haar gekeer, besig om met die bebaarde kunstenaar en die professor te gesels, en ’n paar oomblikke kan sy hom ongemerk dophou.
Hy is ouer, dink sy, sy gesig is skraler en daar het fyn plooitjies om die oë ontwikkel. Andersins het die vyf jaar liggies oor hom gegaan. In sy netjiese grys pak lyk hy op sy gemak en seker van homself soos dit ’n suksesvolle jong argitek betaam.
Vyf lange jare! Is dit moontlik? Die herinnering aan alles wat opgesluit lê in die vyf jaar sedert sy hom laas gesien het, is soos ’n beker koue water op haar deurmekaar gedagtes en help haar om haar kalmte van gees te herwin.
Met ’n glimlag draai sy weer terug na Koenraad: goeie, gawe, betroubare Koenraad met sy ronde seunsgesig, sy vriendelike blou oë, die ligte hare wat bo-op sy kop al ’n bietjie yl word. Koenraad is onderhoof van die skool waar Veronica sedert die begin van die vorige jaar kuns gee. Hy het ook twee kinderboeke geskryf wat Veronica geïllustreer het en werk tans aan ’n derde, meer ambisieuse boek. Veronica het van die begin af van hom gehou en hulle het die afgelope paar maande goeie vriende geword.
Ander kennisse sluit by hulle aan en die gesprek is vlot en gemaklik. Veronica gesels saam, maar sy bly die hele tyd skerp bewus van Emile se teenwoordigheid. Hy sal haar tog seker kom groet, al is dit net hoflikheidshalwe? Of verwag hy dat sy na hom toe moet kom? Hoe moet sy hom groet? Vriendelik en hartlik, as ’n goeie vriend wat sy vyf jaar laas gesien het? Of koeltjies, so ’n bietjie uit die hoogte, as ’n lastige kennis in wie sy nie juis belangstel nie en wat sy graag op ’n veilige afstand wil hou?
Wat sal Koenraad se reaksie wees, wonder sy effens nuuskierig, as sy vir hom sê dat Emile de Klerk, haar eertydse man, in lewende lywe saam met hulle hier in die vertrek is?
Iemand raak liggies aan haar mou om haar aandag te trek en sy voel hoe haar hart ruk. Nog voor sy omdraai, weet sy wie langs haar staan.
“Veronica! Ek het gewonder of ek jou hier sal raakloop.”
Sy kyk op in sy gesig en raak vlugtig aan sy uitgestrekte hand.
“Hallo, Emile. Dis ’n verrassing! Mag ek vra wat jy in die Kaap kom soek?”
Die groenbruin oë glimlag effens.
“Besigheid. Mag ék vra hoe dit met jou gaan, Veronica?”
“Dit gaan goed, dankie.”
Sy sien hy kyk na haar kaal linkerhand en vra haastig: “Wanneer het jy gekom?”
“Eergister. En sedertdien waai die suidoos nog onafgebroke. Waai hy maar altyd so, of is dit spesiaal om my te verwelkom?”
Sy glimlag effens, maar antwoord nie. Sy stel hom aan Koenraad en ’n paar ander kennisse voor, natuurlik sonder om te verduidelik wie hy is, en ’n rukkie lank gesels hulle almal saam. Dan draai Emile weer na haar en vra wat sy van die uitstalling dink.
“Ek dink dis pragtig,” sê sy sonder aarseling. “Hier is ’n paar skilderye waarvan ek nog weke lank sal droom.”
“Het jy enigiets gekoop?”
Haar wenkbroue lig effens.
“Spot jy nou? In elk geval, die een wat ek die graagste sou wou hê, is reeds verkoop.”
“Watter een is dit?”
Haar oë dwaal na die skildery wat haar van die eerste oomblik af so aangegryp het en rus ’n oomblik verlangend op die dromende jong meisie. Dan sê sy saggies: “Hier is ’n hele paar wat ek graag sou wou besit. Maar ek dink as ek kon kies,