“EEE staan vir Eksotiese Eksperimente Ekspo. Dis die grootste uitstalling van wetenskaplike eksperimente in die land. Die hoogtepunt is natuurlik dat al die opwindendste nuwe uitvindings ook hier uitgestal gaan word.”
“Wat’s die eerste prys, Juffrou?”
“Die eerste prys is dat nog twee leerders BBP-, oftewel ‘Baie Belangrike Persoon’-kaartjies wen na die Eksotiese Eksperimente Ekspo! Verblyf in ’n vyfsterhotel, vervoer, etes en toegang is álles ingesluit!”
Almal babbel gelyk. Sjoe, dit klink wonderlik!
Nina vang Jessie se oog. Vinnig skryf sy op ’n los papiertjie in hul geheime skrif:
Ierdieha enei oetmo nsoo enwy! Erbeelvu ouja – BPBv’s!*
Sy frommel dit in ’n balletjie en toe juffrou Steenkamp nie kyk nie, gooi sy dit vir Jessie. Dit beland op Jessie se lessenaar, maar bons dan weer op die vloer. Jessie buk vinnig, tel dit op en lees dit. Sy glimlag breed vir Nina en wys met haar duim na bo.
* Hierdie een moet ons wen! Verbeel jou – BBP’s!
4
Die atletiekoefening
“Toe nou, Nina, jy kan maar laat waai!” sê juffrou Steenkamp. Dis warm en Nina is moeg en dors. Sy kyk na die hoogspringlat ’n entjie voor haar. Sy sluk benoud. Dit lyk darem baie hoog! Sê nou die lat maak haar weer seer?
Sy begin hardloop. Net voor die lat trap sy vas, spring, buig haar lyf agteroor en val dan op die blou matras. Ag nee! Sy is nie eens naastenby oor nie. Sy vryf haar boud waar die lat haar getref het en sug.
“Julle graadvyfmeisies sal julle sokkies moet optrek,” raas juffrou Steenkamp. “Die kleure-atletiekbyeenkoms is om die draai en sover kon nie een van julle vandag oor die lat kom nie.” Sy beduie met haar wysvinger, nes Jessie haar gister nageboots het. Nina vang Jessie se oog en byt op haar onderlip toe die lag begin opborrel. Jessie maak ’n snorkgeluid soos sy haar lag ook probeer inhou. Juffrou Steenkamp kyk streng na haar oor haar sonbril.
“Toe, rus julle gou vir vyf minute. Mirkia, jy kan nou-nou ’n beurt kry.” Sy begin wegstap. “Onthou om water te drink, dis baie warm vandag!” roep sy oor haar skouer.
Jessie trek vir Nina aan die arm. “Kom ons gaan sit bietjie daar onder die bome.” ’n Paar klasmaats volg hulle na die skaduwee.
“Sjoe, ek’s nou al pootuit,” kla Jessie.
“… en baie lus vir ’n koeldrank,” voeg iemand anders by.
Nina maak haar oë toe. In haar verbeelding sien sy ’n glas yskoue koeldrank. Haar mond water. Haar ma het juis die vorige dag suurlemoenstroop van die vars suurlemoene uit hulle tuin gemaak.
“Foeitog, Petrie is al weer besig om te verloor.” Jessie beduie na waar die graadvyfseuns besig is om lang afstande te oefen. Al die seuns is al oor die eindstreep, maar Petrie het nog ’n hele ent om te gaan.
Nina kan sien hoe sy skouers hang toe hy uiteindelik oor die eindstreep hardloop. Juffrou Steenkamp kom weer vanuit die rigting van die pawiljoene aangedraf. Haar sonbril sit skeef op haar oë en sy skuif dit reg.
“Mirkia, wil jy gou probeer? Elkeen van die ander meisies het al ’n kans gehad vandag.”
“Die lat is baie laag. Ek sal dit tjop-tjop regkry,” sê Mirkia uit die hoogte. Sy hardloop en trap vas. Met ’n sierlike boog spring sy. Sy is los oor! Nina se moed sak in haar skoene.
5
Visblikke, jêmblikke …
“Kierie-kierie-kierie!” roep die dirigente op die verhoog van die skoolsaal.
“Haai-haai-haai!” gil die Wit span agterna.
Nina is nie meer lus vir sing nie. Sy spaar liewer haar stem vir die rêrige atletiekbyeenkoms oor twee weke. Haar keel is al klaar rou geskree. Sy beweeg darem haar lippe en klap saam hande.
“Visblikke, jêmblikke, drie by drie, ons is, ons is, weet julle wie, ons is, ons is, kan julle raai …”
Nou-nou is dit pouse, dan sal sy gaan water drink om haar seer keel te lawe.
Nina raak bewus daarvan dat die saal skielik doodstil is. Meneer Fourie, hul skoolhoof, staan op die verhoog saam met ’n vreemde vrou. Die vrou is fris en gespierd. Sy het ’n neonpienk en geel ontwerperssweetpak aan. Haar swart krulhare wip-wip in ’n hoë bokstert. Sy leun teen ’n groot wit boks.
“Goeiemôre, leerders, personeel. Jong, maar julle sing lekker!” Hy vryf sy ore asof hulle pyn. “As julle so aangaan, gaan my arme ore dit nie hou nie,” sê hy laggend. Hy vervolg: “Julle wonder seker hoekom hierdie boks hier op die verhoog is.” Sonder om te kyk, beduie hy na die vrou wat langs hom staan. ’n Paar kinders begin giggel. Meneer Fourie hou skielik op met praat en kyk dan langs hom. Hy sien dat hy na die vrou in plaas van die boks wys.
“E … verskoning tog … ek praat eintlik van hierdie een.” Hy klap twee maal op die bokant van die boks. “Binne-in hierdie boks is ’n nuwe trofee vir die wenspan van die atletiekbyeenkoms.” Hy maak die boks oop en haal ’n yslike goue beker uit. “Die trofee word geborg deur W & Z Beperk. Ons verwelkom vir juffrou Wollenstroom, mede-eienaar van W & Z Beperk.”
Al weer W & Z Beperk. Nina loer vir Jessie en trek haar skouers op. Die leerders klap hande.
Juffrou Wollenstroom neem die mikrofoon by meneer Fourie. “Vir julle atletiekbyeenkoms het ek ’n groot verrassing vir julle …” Sy bly ’n paar oomblikke stil. “Ons maatskappy wil graag elke enkele leerder van Laerskool Tierkop vir ons televisieadvertensie gebruik.”
Die leerders klap hande en fluit. Nina ril toe sy aan hulle besoek die Saterdag by W & Z Beperk terugdink. Sy voel skielik skuldig toe sy onthou van die sleutel wat sy in haar denim se sak geprop het. Waarom, weet sy nie. Sy moet haar kop laat lees. Haar en Jessie se verbeelding het darem regtig op loop gegaan – die koeldrankfabriek borg dan nou ’n trofee …
“Die advertensie gaan geskiet word tydens julle atletiekbyeenkoms. Vir die verfilming gaan ons ons nuwe sportdrankie aan julle voorsien. Ons gaan ook enkele individuele atlete uitkies wat ons vir nabyskote gaan gebruik.”
Jessie pomp vir Nina liggies in die sy. “Hier’s ’n kans om beroemd te raak, Nina!” fluister sy opgewonde.
“Ons soek spesifiek atlete wat gesond, energiek en lewenslustig voorkom. Dit hoef nie noodwendig die wenner van ’n item te wees nie, maar hul tegnieke moet korrek wees.”
Nina se hart klop vinniger. Dalk staan sy ’n kans? Wel, minstens is sy darem nie siek nie en sy dink nogal sy is energiek en lewenslustig … Sy sug. Sy kon egter nog nie een keer hierdie seisoen oor die hoogspringlat kom nie. Sy sal nooit gekies word nie!
“Ons sê ’n hartlike dankie aan juffrou Wollenstroom en W & Z Beperk,” sê meneer Fourie nadat juffrou Wollenstroom klaar gepraat het. “Elke span sal nou vir oulaas weer kans kry om ’n liedjie te oefen voordat julle vir pouse verdaag.” Hulle loop van die verhoog af om weer plek te maak vir die dirigente. Die saal zoem van die kinders se opgewonde stemme.
“Wie gaan wen?” roep die dirigente bo die geraas.
“Wit!”
“Blou!!”