“As daar iets vreemds aan die gang is by die fabriek, sal ons dit nou tjop-tjop agterkom.” Sy tik op die pet.
“Pinky promise!” Oudergewoonte krul Nina en Jessie hul pinkies om mekaar. Jessie gee ’n laggie. “Is jy tog nie al weer bang nie?”
“Nee, jong, net versigtig … hierdie hele ding met die pet bly maar so ’n bietjie freaky,” sê Nina grootoog en druk die pet op haar blonde hare. Sy draai na die houtkis, maak haar oë toe en konsentreer so hard sy kan. Hopelik neem die pet haar na W & Z Beperk en die vreemde professor en sy rot.
Versigtig maak sy eers haar een oog en dan die ander een oop. Sy sien haarself in die spieël aan die binnekant van die deksel. ’n Skewe kraak laat dit lyk asof sy twee neuse het. Net soos al die vorige kere hoor sy ’n suisgeluid en voel ’n ligte windjie teen haar vel. Al het sy dit al ’n paar keer in die verlede beleef, vang dit haar tog onkant.
Die spieël verander in deursigtige jellie. Die jellie beweeg, soos ’n lewendige kaleidoskoop. Dit voel asof ’n reuse-magneet haar in die kraak intrek! Haar hart klop in haar keel terwyl sy ingesuig word.
Nina ruik vanielje en aarbeie en vol afwagting beweeg sy deur die jellie. Lekker! Aan die ander kant is die lig verblindend helder. Woep-woep-woep, word sy rondgeskommel. Sy kyk om haar rond. Haar oë rek.
Nina sien ’n paar bruin haarslierte wat voor haar waai. Sy kyk af en sien ’n onderstebo gesig. Dis ’n ouer seun wat sy nog nooit gesien het nie. Sy is al weer ’n pet bo-op iemand se kop. Net soos al die vorige kere.
Die seun se voorkop, neus en wange is vol knoppe – party is rooi; ander is gelerig. Jig, dis puisies! En daar is baie van hulle. Ghloemps-ghloemps-ghloemps, neem hy gulsig ’n paar groot slukke uit ’n deursigtige bottel. Die koeldrank binne-in is geel en ’n paar druppels gly teen die buitekant af. Hy vee sy hande aan sy maroen sportklere af en smyt die bottel eenkant neer.
“Bam!” Nina se ore tuit. Sy wip op en af. Sy kan sy hardlopende bene duidelik van bo af sien. Genugtig, maar hy hardloop vinnig, puisies ofte nie! Die wind suis by haar ore verby.
“Jy’t nog ’n rekord gebreek! Mooi so!” hoor Nina iemand uitroep toe die seun ná ’n paar sekondes tot stilstand kom. Sy hik soos die persoon hom teen die skouer klop. “Jou vordering is werklik merkwaardig. Jy gaan ’n superster word!”
Die volgende oomblik word Nina weer deur die spieël getrek en kyk sy vas in Jessie se gesig. Sy is terug op die deurmekaar solder bo hulle huis. Die swart-en-rooi pet lê op haar skoot, waar Jessie dit seker neergesit het toe sy dit van haar kop afgehaal het.
“Toe, vertel, wat het jy gesien?” Jessie kyk haar vol afwagting aan.
“Puisies!” lag Nina.
“Puisies? Wie het puisies? Die professor of die rot?”
“Nee, man. Ek was toe glad nie by W & Z Beperk nie. Ek het ’n seun gesien, maar ek ken hom nie!” Nina vertel wat sy gesien het. “Die pet werk duidelik nie meer so lekker nie – dit het my glad nie geneem na waar ek wou wees nie!” sê sy teleurgesteld. Sy mik om dit weer terug in die kis te gooi, maar dit beland met ’n ligte plof op die vloer langsaan.
“Of dalk is daar niks fout by die fabriek nie en het ons ons verbeel. Miskien wou die professor maar net vriendelik wees. In elk geval, hierdie is ’n splinternuwe avontuur! Maar wat sou dit beteken?” vra Jessie. Sy tel die pet op en druk dit op haar eie donker hare. “Dalk moet ek ook gaan kyk.”
“Nina! Kom gou hier, asseblief!” hoor Nina haar ma se stem vanuit die rigting van die solderopening. Verskrik kyk die twee na mekaar. Vinnig prop Jessie die pet terug in die houtkis.
“Jy sal maar moet wag tot ’n ander keer,” fluister Nina.
3
Mirkia Zitscky
Die klas rumoer so dat ’n mens hulle wie weet waar kan hoor. Nina ys by die gedagte aan wat juffrou Steenkamp gaan doen wanneer sy nou-nou terugkom. Waar is sy?
“Ek wed julle die Groenes gaan vanjaar die atletiek wen,” klink Denver se stem bo die lawaai uit. “Ons het mos laas jaar gewen.” Hy maak ’n laaste vou in sy papiervliegtuigie en gooi dit. “Die Bloues en …”
Jessie spring op uit haar bank. “Issie!” val sy hom in die rede. “Die Bloues het ’n baie beter kans …”
Die volgende oomblik stap juffrou Steenkamp by die klas in en Jessie maak nie haar sin klaar nie. Ongemerk gaan sit sy weer. Nina glimlag. Dit lyk darem nie asof juffrou Steenkamp vir Jessie gesien het nie. Daar is ’n vreemde meisie by haar. Denver se papiervliegtuigie land met ’n sierlike boog voor juffrou Steenkamp se voete. Dit raak geleidelik stil.
Denver vermoed nie onraad nie en sê hard: “Ons het ’n paar vinnige laaities hierdie jaar bygekry. Ek kan nie wag vir vanmiddag se oefening nie.”
Hy wip van die skrik toe juffrou Steenkamp keel skoonmaak. Sy oë rek.
“Denver, ek wens jy was so opgewonde oor jou skoolwerk soos wat jy oor atletiek is.” Sy buk, tel die vliegtuigie op en bekyk dit. “H’m, ek kan julle nou seker straf omdat julle die eerste periode van die laaste kwartaal so te kere gaan, maar ek wil darem nie ons nuwe leerder die skrik op die lyf jaag nie.” Sy lig haar wysvinger op. “Maar dis julle laaste waarskuwing, gehoor! Van nou af is daar geen kanse te vat nie,” sê sy streng. Tog, Nina verbeel haar dat haar een mondhoek wil-wil lig.
Juffrou Steenkamp kyk in Nina se rigting. Die nuwe meisie langs haar is lank, maar lyk min of meer hulle ouderdom. Sy het, net soos Nina, lang blonde hare. Waar Nina se oë blou is, is die meisie s’n egter bruin. Sy moes seker iewers seergekry het, want daar is ’n pleister op haar wang.
“Hierdie is Mirkia Zitscky. Sy is ’n nuwe leerder wat by ons gaan inskakel.” Sy draai weer na Mirkia. “Mirkia, hierdie is jou klasmaats. Nina, aangesien jy klaskaptein is, kan jy haar aan die res voorstel.”
“Hallo, Mirkia, ek is Nina,” groet sy vriendelik. Die meisie kyk haar opsommend aan, haar oë op skrefies getrek. Sy glimlag nie.
“En dit is Jessie, Courtney, Beldine, Ciska en …” stel Nina die res van die meisies voor. “Jy hoef darem nie dadelik ons almal se name te onthou nie, hoor.”
Mirkia sê nog steeds niks nie. Nina kan nie besluit of sy skaam of net onbeskof is nie.
“Waar kom jy vandaan?” vra een van die ander. “In watter skool was jy?” Almal peper haar met nuuskierige vrae.
Mirkia trek haar skouers op. “Van Johannesburg af.”
“Toe nou, julle klomp nuuskierige agies, julle oorweldig vir Mirkia met al julle vrae!” tree juffrou Steenkamp tussenbeide. “Ek het vandag baie opwindende nuus gekry.” Sy lig haar een hand op. Nou eers sien Nina sy hou ’n groot bruin koevert vas.
Almal is skielik tjoepstil en kyk die onderwyseres afwagtend aan. Juffrou Steenkamp glimlag. “As deel van julle natuurwetenskap-module vir hierdie kwartaal, gaan ons ’n eksperimente-uitstalling hier by die skool hê. Julle gaan twee-twee saamwerk en moet ’n interessante wetenskaplike eksperiment demonstreer.”
Nina sit regop. Sy is mál oor eksperimente!
“Die twee beste eksperimente gaan pryse wen.”
“Gaan die prys weer ’n Xbox wees soos laas kwartaal by