Dit is egter veral Bass se vyfde fase van die hervormingsproses wat die meeste kerklike instellings laat struikel. Wanneer dit kom by institusionele hervorming, skop die kerk vas, al raak ál meer lidmate ontnugter deur verouderde en onaanvaarbare leerstellings. Die gaping tussen kerk en lidmaat word gevolglik net groter. Die kerk sal dalk een of twee stappe doen om te probeer hervorm, maar dan dikwels terugkrabbel om konserwatiewe lidmate tevrede te stel. Juis dit maak die kerk ál meer irrelevant in die oë van denkende en verligte gelowiges. Hulle verdwyn net eenvoudig van die kerklike radarskerm en die kerk gaan voort om ’n kleiner wordende groepie mense te voed met ’n ou spyskaart.
Dit is gevaarlik om sommer afleidings te maak van statistieke soos dié wat aantoon dat die NG Kerk die afgelope twee jaar ’n verlies van byna 50 000 doop- en belydende lidmate gely het. ’n Mens moet minstens erken dat dié verskynsel in ooreenstemming met ’n wêreldwye neiging is en ook in ooreenstemming met wat in die ander Afrikaanse kerke gebeur. Die statistieke moet verder ook verstaan word in ag genome dalende geboortesyfers onder Afrikaners, die grootste bron van lidmate vir die NG Kerk. Dit is met ander woorde moontlik dat mense nie noodwendig die kerk in groot getalle verlaat nie, maar dat natuurlike omstandighede die verliese kan verklaar.
Wat egter onweerlegbaar is, is dat ons leef in ’n tyd van individualisme en onverbondenheid. Die kerk speel nie meer so ’n belangrike rol in die samelewing soos twee dekades gelede nie en mense voel ook nie meer genoop om deel van ’n kerk te wees om te behoort of deur die samelewing goedgekeur te word nie. Mense het net nie meer daardie soort motivering om aan die kerk te behoort nie. Daarom is dit ook onwaarskynlik dat die groep vervreemde kerkmense nou ewe skielik in ander kerke sal opduik. Hulle sal eerder op ’n Sondagoggend in die winkelsentrums opgemerk word of by ’n kuier saam met vriende waar hulle na die krieket, gholf of ander sportgebeurtenis kyk. Die meeste sal nog ’n losse verbintenis met die kerk handhaaf en deelneem aan belangrike oorgangsrituele soos die doop, huweliksbevestigings en begrafnisse. Hulle sal selfs nog ingeskrewe lidmate wees, maar dit is nie meer vir hulle ’n sentrale saak wat hul lewens bepaal nie.
Die kerk kan geruime tyd al nie meer staatmaak op outomatiese bywoning of op ’n outomatiese gesagsposisie nie. As hy aanhou om die ou spyskaart op te dis – dit wil sê, volhou met kerklike retoriek wat nie meer toepaslik is vir ons tye nie – of voete sleep oor dinge soos Belhar, gays en die duiwel, sal hy lidmate op groot skaal begin verloor. Hulle sal nie meer met die instelling geassosieer wil word nie. Wanneer die kerk nie aanpas of sy boodskap meer toepaslik maak nie, loop hy gevaar om uitgedien te raak en van die toneel te verdwyn.
So was daar byvoorbeeld ’n dominee wat op die Sondag ná oudpres. Nelson Mandela se dood in sy preek geen verwysing na die persoon van die oudpresident gemaak het nie. Hy het eerder gefokus op die fiasko rondom die gebaretaaltolk by die gedenkdiens in Johannesburg wat vir hom ’n teken is dat Suid-Afrika op die afdraande pad is.
Hoewel die dominee heeltemal verstaanbare taal gebruik het, was sy preek onvanpas. Hy was onsensitief vir die geestelike behoeftes van die gemeente en gevolglik het sy teologiese taal ver tekortgeskiet. Aangesien sy boodskap in die konteks nie veel sin gehad het nie, het hy die kerk as’t ware ontoepaslik gemaak.
Die dominee het die geleentheid om ’n bepaalde rol te vervul deur sy vingers laat glip omdat dit vir hom belangriker was om ’n persoonlike, politieke standpunt oor te dra.
Toetsgeval: Die kerk en twyfelvrae
Die debakel om die NG Kerk en die Woordfees-gesprekke op Stellenbosch in 2013 is ’n goeie voorbeeld van kerklike retoriek wat myle van mense se belewenisse verwyder is. Die Kerkbode sou van die gesprekke by die Woordfees, wat oor dringende geloofsake sou handel, borg. Die gesprekke is beplan en gereël deur Jean Oosthuizen, wat toe nog nuusredakteur van die Kerkbode was. Dit het beloof om buitengewoon te wees. Die doel was om ruimte te skep vir die soort vrae en kwessies waaroor talle gelowiges twyfel en te soek na antwoorde wat verder gaan as die ou retoriek en gevestigde idees.
Die gesprekstema het egter groot teenkanting uit sekere geledere ontlok omdat dit kwansuis te krities was oor die kerk en geloof. Die uiteinde was dat Oosthuizen afgedank is by die Kerkbode omdat hy die gesprekke begin het en daarmee wou voortgaan.
Op 13 Maart van daardie jaar het die NG Kerk se moderamen ’n verklaring uitgereik wat onder meer lui: “Die kerk het ’n bereidwilligheid tot oop gesprek. Die kerk kan egter moeilik gesprekke borg waarvan die aanduidings daar is dat die gesprek die kernbelydenis van die kerk in die gedrang gaan bring en groter twyfel by mense gaan saai. Die kerk begelei mense nie na twyfel nie, maar deur twyfel na geloof. Dit is ons roeping. Die kerk is nie teen ewewigtige gesprek nie.”
Die verklaring dra swaar aan die kerk se teologiese bagasie oor kwessies soos geloof, sekerheid en twyfel. Dit is so tipies van die Sondag-geloof dat ek eers ’n oomblik daarby moet stilstaan. Die verklaring bring allerlei vrae na vore, onder andere oor die skynbare of werklike openheid binne kerklike geledere vir gesprek met andersdenkendes of twyfelendes. Dit wek die indruk dat die kerk enersyds oop is vir ’n kritiese gesprek, maar andersyds terugdeins vir sekere aspekte daarvan.
Die gesprek mag oënskynlik nie die “kernbelydenis” bevraagteken nie. Wat sou dit wees? Volgens wie se besluit en interpretasie is wat presies die kernbelydenis? In die Nuwe-Testamentiese tyd was die belydenis bloot dat Jesus die Here is. Maar wat sou dit in 2013 volgens die Moderamen van die NG Kerk wees? Duidelik het hulle meer in gedagte as net die basiese belydenis van eenvoudige geloof. Dit lyk asof die kerkleiding voel daar mag oor randsake getwyfel word, maar nie oor wesenlike sake nie. Dit spreek van ’n kerk wat dink dat lidmate van hom verwag om sterk op te tree en die ongeloof te besweer. ’n Kerk wat skynbaar net een belang het en dit is die beskerming van die instelling, al is dit met swak teologie.
Wat gebeur dan wanneer mense wel oor die sogenaamde kernsake twyfel? Moet sulke twyfel dan deur sterk verklarings besweer word?
’n Kerk wat alles wil beheer en twyfel probeer besweer met verklarings, is ’n handboekvoorbeeld van waarheen die Sondag-godsdiens ’n mens neem. Is dit omdat hy nie in staat is om verandering of enigiets wat die gebaande weë uitdaag, te omhels nie?
Wanneer dit kom by kwessies soos hemel en hel (wat waarskynlik by die Woordfees bespreek sou word) en konsepte wat die tradisionele verstaan van sonde, straf, verlossing en ewige saligheid vergestalt, raak die kerk bang vir die oop gesprek. Met ander woorde, die posisie is “ja” vir oop gesprek, maar net solank dit nie ons gevestigde verstaan van sake uitdaag nie.
Dít is tog geen “oop” gesprek nie! Dit is ’n geslote gesprek waarvan die grense vooraf afgebaken is. NP van Wyk Louw het die term “Die oop gesprek” geskep en daaroor gesê: “Daar is geen edeler plesier as die intellektuele omgang met mense wat totaal anders dink as jy nie – wat ander dele van die eindelose rykdom van die waarheid tot hul besit gemaak het …”3
Dit is nogal ver verwyderd van wat die NG Kerk met ’n oop gesprek in gedagte het. ’n Mens kan nie ’n oop gesprek hê en tegelykertyd teenstrydige stemme wil smoor nie. As die NG Kerk dit wil doen, moet hy liewer heeltemal wegbly van ’n plek soos die Woordfees. Jy kan nie aan die een kant die indruk probeer wek dat jy ’n eerlike, luisterende gespreksgenoot is en aan die ander kant ontslae raak van die alternatiewe stem in jou midde en Oosthuizen se kop laat rol nie. Die oop gesprek verg juis ’n opregte luister na en ’n ware, doelbewuste omgaan met nuwe konsepte.
Dit is nie die eerste keer dat die leiers van die NG Kerk hulle probeer skaar aan die kant van die oop gesprek nie. In Mei 2009 het Beeld berig oor ’n byeenkoms van die destydse tien moderators van die NG Kerk en ’n verklaring wat deur hulle uitgereik is. Die moderators het toe ook gesê meningsverskil in ’n kerk is ’n goeie ding. Dit help om die kaf van die koring te skei. “Sonder so ’n robuuste onderskeidende gesprek kan ’n kerk nie werklik teologie bedryf nie.”4 Toe het dit gegaan oor ’n voortgaande gesprek rondom die opstanding van Christus en die verskillende sieninge daarvan.
Uiteenlopende standpunte oor belangrike kwessies bly skynbaar vir die kerk ’n moeilike saak om te hanteer. Die kerk gee voor dat daar ’n openheid vir verskeidenheid in eie geledere is, maar daar is ’n skynbare onvermoë om werklik in die gees van Van