Geloof anderkant Sondag. Julian Müller. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Julian Müller
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780624066248
Скачать книгу
om deel van die kerk te wees. Ek was tot in daardie stadium net vaagweg bewus daarvan dat daar mense met ’n ander seksuele oriëntasie bestaan.

      Diederik se besoek het my geestelike ewewig heeltemal versteur. Hy het my van sy lewe en sy wêreld vertel. Ek was dadelik onder die indruk van sy opregtheid. Hy het my bewus gemaak van my vooroordele en dit is iets waarvoor ek tot vandag toe dankbaar is. Vir die eerste keer was ek in die posisie om mét iemand te gesels wat homoseksueel is, eerder as om óór hom te praat. Ek het geluister na sy godsdienstige erns, maar ook na sy hartseervrae en die pyn wat veroorsaak is deur die kerklike en godsdienstige verwerping waaraan hy blootgestel is.

      Ek het na Diederik uitgereik en deur hom ook ander gay mense leer ken. Saam het ons begin werk aan ’n nuwe projek: ’n Bybelstudiegroep vir homoseksuele mense. Ons moes dit in die grootste geheimhouding doen, want Diederik was toe voorsitter van ons kerkjeugaksie en nie uit die kas nie.

      Die Bybelstudie saam met Diederik en sy vriende het aan my verander, maar te min.

      Ek het hulle ontdek as menswaardige en eerlike mede-Christene, maar ek het nog nie die insig gehad dat seksuele oriëntasie nie ’n keuse is nie, maar ’n gegewe. Ek het gedink my betrokkenheid by dié groepie sou hulle op die ou end kon help om te verander. Die gevolg was dat die Bybelstudiegroep net ’n paar maande gehou het. Dit het weldra deurgeskemer dat ek geglo het homoseksuele mense moet hulle tot ’n “normale” seksualiteit bekeer waarna hulle hul vertroue in my verloor het.

      As ek vandag daaraan terugdink, is ek hartseer dat ek nie vinniger tot insig gekom het nie. Gelukkig kon ek later veral weens my blootstelling aan gay studente tot ander insigte kom.

      Ek vertel dié verhaal eintlik om te illustreer hoe ek reeds in die sewentigerjare ontdek het dat daar geloof en geestelikheid buite die kerk is. Ek het opregte menslikheid, ware geloof en wonderlike toewyding buite die tradisionele kerklike strukture gevind. Ek weet ook dat ek baie diep daardeur geraak en verander is.

      Die ontdekking van geloof buite die kerk is later in my studentebediening verder gevoer. Van die ernstigste gesprekke wat ek met jong mense gevoer het, het buite die kerklike omgewing gebeur. Daar was wonderlike jong mense binne die kerk en ek wil geensins afbreuk doen aan die rol wat die kerk in hul lewe en in my lewe gespeel het nie. Ek kon egter ook studente oor die hele spektrum leer ken aangesien ek deel was van ’n universiteitsomgewing wat wyer gestrek het as die studentegemeente wat ek bedien het. Dit het opnuut die werklikheid van geloof buite die tradisionele kerklikheid aan my bevestig.

      Vandag is ek dankbaar vir die blootstelling wat die middestadse en studentegemeente aan my gebied het. Dit het my gehelp om geloof te ontdek waar ek dit nie altyd verwag het nie.

      Daarom word dié boek geskryf uit oortuiging, maar dit is nietemin ook ’n persoonlike waagstuk. Dit is soos om deur ’n rivier in die Amasone te probeer swem terwyl jy ’n swak swemmer is en boonop aan asma ly.

      Die aangrypende boek en rolprent The Motorcycle Diaries (2004, Gael García Bernal, regie deur Walter Salles) vertel hoe Che Guevara as jong man op ’n motorfiets deur dele van Suid-Amerika saam met ’n boesemvriend getoer het. Aan die einde van die reis bevind hy en sy vriend hulle ’n paar weke lank in ’n hospitaal vir melaatses op ’n eiland in die Amasone, waar hulle as vrywilligers werk.

      Guevara was ontsteld oor die skeiding tussen die mediese personeel, wie se kwartiere op die land was, en dié van die pasiënte wat op die eiland aan die oorkant van ’n rivier was.

      Die aand ná ’n afskeidsparty vir hom en sy vriend het hy die rivier ingeloop en na die eiland begin swem. Sy kollegas was geskok, maar hy het alle waarskuwings verontagsaam en ondanks sy asma en onder groot aanmoediging van die melaatse pasiënte die eiland bereik.

      Die mense van wie Guevara af weggeswem het, was nie sy vyande nie. Die skeiding tussen die siekes en hul versorgers was egter vir hom so ’n onreg dat hy genoop gevoel het om die swemtog aan te pak en standpunt teen die skeiding in te neem.

      Vir hom was daar ’n onnodige kloof wat oorbrug moes word.

      Met dié boek wil ek self ’n rivier oorsteek en uitreik na diegene op die geloofseiland: die gelowiges buite die magsirkel en gemaksone van die georganiseerde godsdiens en die kerk. Ek besef wel dat sommige mense dit kan sien as ’n wegswem van die kerk af. Dit is egter glad nie die geval nie. Ek probeer nie wegswem, of myself wegskryf van iets af nie.

      Inteendeel, ek wil eerder probeer inhoud gee aan die geestelike plek waarheen ek op pad is en wie ek daardeur wil bereik. Dit gaan vir my oor ’n gemarginaliseerde en verwaarloosde groep mense wat nie meer deur die kerktaal geraak word nie, maar wat gelowiges wil wees en bly. Met dié boek wil ek aandui dat geloof en meer bepaald die Christelike geloof ook – soms selfs juis – anderkant Sondag te vind is.

      Om ’n boek te skryf oor iets waarvan jy eintlik níks weet nie, is nogal benouend! Hoe verder ek geskryf het, hoe meer het ek my in onbekende vaarwaters bevind. Daar is min sekerhede wanneer jy nuwe maniere van dink en praat oor geloof, God, die kerk en die wêreld probeer formuleer. Daarom was dit ook so ’n interessante skryfervaring. Ek het ’n hele paar keer die sleutelbord teruggeskuif en opgehou skryf, want hoe skryf jy as jy tegelyk besef dat jy besig is om iets van ’n nie-wete te konstrueer?

      Wat my laat aanhou het, is die oortuiging dat daar baie mense is wat, soos ek, genoeg gehad het van die oënskynlike baie-weet oor God en geloof. Die sekerheid en soms alwetendheid wat ’n mens in godsdienstige gesprekke en by godsdienstige geleenthede moet aanhoor, slaan ’n mens dikwels dronk.

      Net toe ek weer deur ’n tyd van diepe twyfel gegaan het oor of ek wel dié boek die lig moet laat sien, het ek heel toevallig by een van die groot, gewilde Christen-boekwinkels ingestap. Ek was halfpad tussen al die boeke in toe die dawerende prediker op die groot skerm my weer daar uitgedryf het. Ek kon dit nie verdra nie. Daardie styl van aggressiewe prediking wat dreig en manipuleer met ’n vreesaanjaende God werk duidelik nog vir ’n klomp mense, maar daar is talle soos ek vir wie dit groot ongemak veroorsaak.

      Ek wil nie die indruk wek dat ’n Sondag-geloof sleg en problematies is en ’n anderkant Sondag-geestelikheid net goed en onproblematies is nie. Wat wel nodig is, is dat daar ruimte gemaak word vir ’n geloofservaring anderkant Sondag. As dié boek selfs net ’n bietjie ruimte vir alternatiewe geloofsverhale kan help skep, is die doelwit reeds bereik.

      Nie dat ’n duidelik afgebakende, afgeronde verhaal hieruit gaan voortvloei nie. Daarvoor is die anderkant Sondag-omgewing nog te onbekend en ongekarteer.

      Ons soek nog ons pad deur die onbekende landskap, maar die reis het reeds begin. Vir diegene vir wie ’n Sondag-geloof nie meer oortuigend is nie, is daar geen sprake van terugkeer nie.

      Ons gaan versigtig, maar nuuskierig in ’n ontdekkingsgees vorentoe – van binne en buite die kerk.

      2

      Die kerk en ’n ou spyskaart

15770.png

      Hoe het dit gebeur dat die kerk in soveel gevalle uit die hart van die gemeenskap verdring is?

      Van waar die toenemende kriewelrigheid oor die kerk as instelling en alle vorme van georganiseerde godsdiens?

      Gedurende ’n onlangse besoek aan Bristol in die suidweste van Brittanje loop ek een dag weer in die pragtige Gloucester Road, een van die stad se bekende ou strate. Ek was verstom om te sien wat van die mooi ou klipkerke in die straat en die res van die buurt geword het.

      Een is verander in woonstelle, al lyk dit van buite steeds soos ’n kerk.

      ’n Ander is in ’n gimnasium omskep. ’n Klein geboutjie langsaan, wat miskien vroeër die konsistorie of ’n kapelletjie was, dien nou as die kerk waar ’n handjievol mense op ’n Sondag die diens bywoon. Die groot ruimte wat eens die kerk gehuisves het, moes dus plek maak vir ’n nuwe soort aanbidding. Die kerkgebou is steeds ’n toevlugsoord, maar die godsdiens van die lyf word nou daar beoefen. Ander soorte rituele speel nou daar af soos die mense probeer om fiks te bly te midde van die oordaad en die druk van die moderne lewe.

      In