Alta sê sy dink mense gee hom partykeer ’n harde tyd oor hy soms so eksentriek kan wees. Ek wonder of ons ’n eksentrieke gesin is.
“Wat gaan dit kos?” vra hy.
“Ek het gespaar. Dis my geld van werk by die markie met die blomme.”
“En wie gaan jou soontoe vat? Waar is dit?”
“Ek gaan haar vat, Koert,” sê Alta. “Dis nie so ver nie.”
“Ek is net bekommerd oor my enigste kind, dis al,” sê hy.
“Waaroor, Pa? Dis ’n bekende skool. Baie mense gaan soontoe.”
“Jy was nog nooit so lank van die huis af weg nie. Hoe lank is dit? Die hele vakansie?”
“Tien dae. Ek sal orraait wees.”
Hy skud weer sy kop. Maar ek dink nie hy sal verder vasskop nie. Koert is ’n inskiklike man, sê Alta altyd.
Dan doen hy ’n ding wat my verras.
“Kom hier,” sê hy vir my. Hy sit in die ou gemakstoel wat hy self met roomkleurige kunsleer oorgetrek het. ’n Mens kan die growwe steke aan die een armleuning sien. Dis van toe hy nog nie mooi geweet het hoe om die materiaal vas te werk nie. Maar aan die ander kant van die stoel kan jy sien hy het geleer. Dis hoe Koert is, hy leer dinge en doen dit gou goed.
Ek voel ’n bietjie simpel om by hom op die leuning met die growwe steke te gaan sit, want ek het dit lanklaas gedoen. Maar Koert is my pa en ’n dogter en haar pa het glo ’n spesiale band. So ek gaan sit daar, my arms gevou, en kyk af na hom.
Hy maak my arms los en vat my hand. “Dis hoe jy my hand vasgehou het toe jy klein was.” En hy vou my vingers om sy duim, wat warm en droog voel.
’n Snaakse gevoel kom oor my, iets wat my laat sluk.
“My dogter moenie te gou groot word nie,” sê hy, my pa, Koert, die man wat die oudhedewinkel in die hoofstraat het, met die outydse kinderstootwaentjie onder die winkel se naam.
“Ek sal mos nie, Pa. Dis net iets wat ek wil doen.”
“En jy kom terug na ons toe, met of sonder ’n rooi neus.”
4
Koert vra my oor die narpak, maar ek wil dit nie vir hom aantrek nie.
Hy knik net en praat toe maar oor ’n beeld wat hy die oggend gekoop het. Dit was baie vuil en hy het die hele middag gevat om dit met ’n borsel skoon te skrop. Die beeld is die moeite werd, sê hy. Hy kan dit voor die winkel laat staan om aandag te trek.
“Kinders gaan dit verf,” sê Alta.
“Dalk verf hulle dit nog mooi. Dalk laat hulle die beeld soos ’n hanswors lyk.”
Hy kyk vinnig na my.
“Dis ’n nar, dis wat ’n mens dit noem,” sê ek.
Die aand voor ons ry, lê ek in die bed met my musiek sag aan. ’n Man sing oor hoe hy oor die heuwels stap om na die uitsig onder hom te kyk terwyl hy na sy geliefde verlang. Ek weet skielik nie meer of ek wil weggaan nie.
Maar dis al so lank wat ek daarna uitsien, en ek het mense gebel en dinge gereël en geld, my eie geld wat ek gespaar het, in ’n bankrekening inbetaal en ’n kwitansie en kaart in die pos gekry, saam met ’n brosjure met die prent van ’n witgesig nar daarop.
Ek het inligting oor narre op die internet gesoek; hulle geskiedenis, die verskillende soorte narre wat ’n mens kry en grimering en kostuums en oor sirkusse.
Ek was selfs biblioteek toe om ’n paar boeke oor narre uit te neem. Die bibliotekaresse het met ’n glimlag vir my gesê: “As jy van narre hou, hier is Harlekyn-boeke.”
Duh! Dis ’n reeks liefdesverhale en ek stel nie belang nie!
Soms wonder ek of dit my moet bekommer, die ding dat ek ’n bietjie gril vir die liefde. Eendag het ek dit vir Alta vertel en sy het gesê: “Dis iets wat jou beskerm teen te vinnig grootword. Wanneer jy reg is vir die liefde, sal jy dit aanvaar.”
Daaraan dink ek terwyl ek in die donker lê, en ook aan wat ’n mens moet doen wanneer jy klaar is met skool. Dit lyk al hoe meer vir my asof die lewe sommer gou minder lekker kan raak. Maar dit help ook nie om nou al daaroor te stres nie. Ek moet my regmaak vir die tien dae wat voorlê.
Koert en Alta bring my albei weg. Dit voel verder as wat ek my voorgestel het. Ek voel skoon benoud oor die afstand, want dis waar wat Koert gesê het, ek was nog nooit so lank van die huis af weg nie.
Die sirkusskool is so ’n entjie buite Wellington, op met ’n pad wat ’n man by ’n winkel vir ons beduie. Ons ry verby vrugteboorde en grasveld en geboue, en rye bome.
By ’n bordjie met handgeverfde letters wat lees Klein-Piet en Columbine ry ons teen ’n skuinste uit, oor ’n nek en dan in ’n vlak kom tussen nog bome in.
Koert hou stil voor ’n saal en houthutte. Dit laat my aan die Bamboesbos Pizzeria dink. ’n Groepie jongmense wat daar rondstaan draai in ons rigting, en my hart is skielik baie klein vir dié ding wat ek aangepak het.
Maar dis ’n mooi dag en almal lyk vrolik en vriendelik. Gou het Koert op sy gebruiklike manier homself voorgestel en die ys gebreek.
“Ek is Siobhán,” sê ek ’n paar keer en weet ek gaan my naam een of ander tyd moet spel. Dalk moet ek ’n bynaam kry of myself net San noem. Maar ek hou tog van my naam. Dis effens ongewoon en trek aandag.
“Dis ’n bietjie afgesonder,” sê Koert en kyk oor die oopte langs die saal waar ’n paar braaidromme staan en ’n stapel vuurmaakhout lê. ’n Mens kry vandaar ’n mooi uitsig oor die dam en die perde wat in die groen gras staan en wei. Verderaan loop ’n laning bome en anderkant hulle sien ons die rante.
“Dis pragtig hier,” sê Alta. “Ek is bly jy’t gekom. Jy gaan dit geniet.”
Ons laai my bagasie af. Daar is my sak met gewone klere en die groterige tas met die narklere en die moewiese paar narskoene.
Alta omhels my. Koert lyk verleë. Hy groet my en waai vir die mense wat nog daar rondstaan. En toe ry hulle en ek bly agter. Dit voel skielik koeler hier tussen die vreemdelinge en die bome en die berge waar die skadu’s al langer word.
5
Dis dalk die beste om met Greer vriende te maak, dink ek aan tafel toe ons toebroodjies eet en vrugtesap drink. Daar is twintig mense wat die kursus gaan doen, drie van hulle saam met my in ’n hut. Ek hou nogal van hulle, dink ek, maar ons sal moet sien. Ons het maar pas ontmoet.
Daar is ’n meisie met groot heupe en sakkies onder haar oë wat lyk asof sy al dinge beleef het. Sy vertel ewe ongeërg sy het verlede jaar selfmoord probeer pleeg. Dis asof sy vir kritiek of ten minste kommentaar wag, maar niemand reageer nie.
Toe vertel sy sy het ’n dronk man wat by haar aangelê het, halfdood geslaan.
Nog steeds sê niemand iets nie. Sy is hier omdat sy ’n aktrise wil word en daar is glo nie beter voorbereiding as om te leer om ’n nar te wees nie. Sy is Alet, kwaai en intens, en erg geïrriteerd met simpel, kinderagtige ouens wat by haar probeer aanlê.
Elaine weer is lank en het breë skouers. Sy lyk fiks en sterk, en met haar donker vel is sy vir my beeldskoon. Sy vertel sy ry graag branderplank. Sy wil eendag in ’n sirkus werk en is reeds ’n goeie akrobaat, soos ons later agterkom wanneer sy saam met ander vlugvoetiges in die lug spring en tol en oor die gras rol.
Die derde meisie in my hut is Greer. Sy lyk vir my baie volwasse en dis vir my moeilik om haar met ’n rooi neus voor te stel. Wat nog te sê om soos ’n mal ding in die lug rond te tol en toertjies te doen. Sy is in matriek en sy sê sy woon die kursus by om ’n bietjie te chill, want sy weet sy is te ernstig oor