Siobhán van die sirkus. Jaco Fouché. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jaco Fouché
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798167550
Скачать книгу
met hulle op en af aanmerkings. Maar dis oukei, dit maak nie saak nie. Dis vakansie en ek voel goed.

      By die huis probeer ek vir Alta systap, maar sy hoor my inkom en roep my na die badkamer toe – wat vandag weer chaoties is. Sy het ’n klomp droë fynbos ingekry en is besig om dit te kleur vir Saterdag se markie onder die berg.

      Ek help my ma soms. Sy betaal my redelik goed vir die hulp by die huis en al die ure agter die opslaantoonbank by die markie waar ek gelukkig ’n bietjie grimering mag dra.

      Die bossies fynbos hang pers, rooi en geel aan toue en drup in die bad. Daar sit kleursel aan Alta se gesig. Sy is eintlik mooi, dink ek toe sy oor haar oor vee en ’n bietjie rooi daaraan afkom.

      “Ma gaan eendag ’n mooi ou vrou wees,” sê ek.

      “Ek is nog lank nie daar nie, maar dankie. Vat gou hier.”

      Ek help bokse met reeds droë blomme in die motorhuis pak. Alta werk so van die huis af. Ek weet sy werk hard en ek is eintlik trots op haar. Miskien moet ek dit ’n slag vir haar sê.

      Later die middag raas ’n motorfiets in die straat. Ek sê: “Ag, bliksem tog,” en Alta vererg haar.

      “Jou taal, Siobhán!”

      “Maar dis alweer Ronnie.”

      “Hy is ’n gas wat jou geselskap die moeite werd vind. Wees gaaf.”

      Ronnie kom in en ons gaan sit soos altyd in die woonkamer. Hy praat gewoonlik nie veel nie, wat miskien ’n goeie ding is. Enigiets wat ons doen, is oukei met hom. Ek het hom al getoets met die ergste chick flieks denkbaar, maar hy kyk hulle sonder om te moan of iets goors te sê.

      Hy drink ook chamomile-tee en knik wanneer ek vir hom my poppe wys waarmee ek as dogtertjie gespeel het. Een middag het ek hom gevra of hy nie ’n romp sal aanpas wat ek korter wil maak nie en dit het sowaar gelyk of hy dit sal doen.

      Maar Alta het dit gehoor en haastig kom sê: “Siobhán, jy steur jou nooit aan naaldwerk nie. Wat is dit nou? Ronnie, wil jy koffie hê? Die oom sal nou-nou hier wees, dan kan julle rugby kyk.”

      “Hallo,” sê hy vanmiddag by die voordeur. Hy het ’n nuwe hemp aan en die donker skynsel wat ek soms op sy bolip sien, is weg. Hy glimlag met al sy tande. Ek probeer, soos ek partykeer maak, tel hoeveel ek tegelyk kan sien, maar sy lippe gaan toe.

      Ons speel mahjongg in my pa se studeerkamer. Dis ’n onvolledige stel wat Koert by iemand gekoop het. Ek is amper seker Ronnie haat die speletjie en hy is in elk geval nie goed daarmee nie, maar hy speel om my ontwil. Dis die vreemdste gevoel om te vermoed hy sal enigiets vir my doen.

      “Gaan maak vir ons tee,” sê ek na ’n ruk en mik na my kamer toe.

      Hy gaan kombuis toe en ek hoor hom en Alta praat. Oomblikke later kom sy by my kamer in.

      “Wat gaan met jou aan?” vra sy in ’n fluisterstem wat ek seker is ’n mens tot by die Engelse kerk kan hoor. “Moenie die man so treiter nie. Maak jy self vir julle tee!”

      Toe ons kort daarna tee drink, vra Ronnie: “Wat beplan jy vir die vakansie?”

      “Ek gaan ’n bietjie weg.”

      “O.” Hy klink teleurgesteld.

      “Ek gaan sirkus toe.”

      Hy glimlag en drink sy tee. Dalk het ek hom al te veel nonsens in die kop ingeprent vandat hy hier kuier.

      “Regtig. Ek het plek in ’n sirkusskool gekry.”

      “Waar is dié skool?”

      “Nie ver hiervandaan nie. Ek gaan vir tien dae.”

      “Om wat te doen?”

      “Ek wil ’n nar word.”

      Hy frons en staar my aan. Dalk het ek regtig die laaste ruk te ver met hom begin gaan.

      “Hoekom wil jy ’n hanswors word?” vra hy.

      “Nie ’n hanswors nie, Ronnie, ’n nar! Narre verstaan die lewe. Narre laat ander lag, maar steek hulle eie pyn weg.”

      “Watse pyn het jy?”

      “Net dié wat hier uithang,” sê ek sarkasties.

      Ronnie kyk my op en af, sy oë groot. Dit voel of my borste gloei en ek kan nie glo ek is so mislik met hom nie.

      “Siobhán!” waarsku Alta uit die kombuis.

      “Toemaar, toemaar, ek makeer niks,” sê ek vir Ronnie.

      “Ek wou sê. Vir my lyk jy baie gesond.” Hy glimlag met soveel vertroue, ek onthou ’n labrador wat ons jare gelede as troeteldier gehad het.

      3

      Ronnie loop vroeg omdat ek skimp. Nou het ek so ’n uur.

      Ek het ’n oorgroot pak van die helderste rooi en geel, met oorgroot sakke en enorme geel en rooi skoene in die stad gekoop. Daarmee saam kom ’n wit skedelpet met skelrooi hare wat weerskante uitbol.

      Ek het die boonste deel van my gesig wit gemaak, maar ek het nie heeltemal die regte grimering nie, so die skakering is nie presies die skedelpet s’n nie.

      Maar ek trek die pak aan en paradeer in my kamer voor die spieël. Die klere is so sakkerig, g’n mens kan sien hoe groot my borste is nie. Jy sien net ’n frisserige figuur wat haar eie skoene raaktrap.

      Eintlik moet ek sê sy skoene, want ek lyk soos ’n mansnar. Daar’s natuurlik vrouenarre ook, maar hulle is gewoonlik die witgesig soort en op die oomblik stel ek meer in die rondvallerige boemelaar belang, so ek het my wange en ken bruin gemaak, asof ek ’n baard het.

      Dis heerlik om die klere aan te trek. Ek is nooit haastig nie en bekyk elke stap in die spieël, van my onderklere tot die bont hemp en aanknip-strikdas. Dan die onderbaadjie, die broek en die baadjie bo-oor, en die skoene. Teen hierdie tyd is ek lankal gegrimeer, want ek doen dit eerste om nie die klere te bemors nie.

      En nou staan ek in my narpak, ’n hartseer trek om my mond wat ek, al moet ek dit nou self sê, nogal goed opgeverf het. Ek is mos ’n boemelaarnar. Ek gooi my arms na weerskante oop en wieg terug op my hakke sodat die enorme skoene se punte lig. Net voor ek val, kom ek regop, sak eenkant toe, my hande om my gesig, die vingers wyd.

      Ek loop krom, ek loop regop. Gooi my kop agteroor en lag, trek my vals wenkbroue saam sodat ek ellendig bedroef lyk.

      Van die bewegings ken ek nou al, want ek oefen my gesigsuitdrukkings en houdings. Maar ek waag altyd ’n paar nuwes, wat my ma dalk vulgêr sou noem. Ek bedoel, ek is tog vermom en as ’n mens vermom is, kan jy enigiets doen.

      Dan moet ek uittrek, want Koert kom van die werk af. Alta het my al in die narklere gesien, maar ek loop lig vir my pa. Dalk skrik hy as hy my so sien en weier dat ek sirkusskool toe gaan.

      Dit neem tyd om die grimering af te kry. Ek sit voor die spieël en kyk hoe ek weer die ou Siobhán word, en is ’n bietjie teleurgesteld.

      Maar Koert is hier en ek gaan in om hom te groet.

      “Wat doen jy vandag wat die moeite werd is om van te hoor?” vra hy met ’n reguit gesig.

      “Sit in my kamer en krepeer,” sê ek.

      “Mooi, my dogter. Pa wil nie hê jy moet jou tyd mors nie, so krepeer gerus voort. Wat is dit dié?” Hy vee onder my oor en sy vingerpunt is wit.

      Alta sien dit. “Het jy al ’n naam?”

      “Nee.”

      “Naam vir wat?” vra Koert.

      “Vir haar hanswors.”

      “Dis ’n nar, Ma!”

      “Vir jou nar dan.”

      “O,” sê Koert. “Jou nar. Is jy nog steeds aan die gang met die sirkusskool?”

      “Pa weet mos ek