Siobhán van die sirkus. Jaco Fouché. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Jaco Fouché
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798167550
Скачать книгу
n>

      Siobhán van die sirkus

      Jaco Fouché

      Human & Rousseau

      Aan Klein-Piet en Columbine

      1

      Ons sit in die Bamboesbos Pizzeria. Dis natuurlik ek, want in my lewe speel niks af sonder dat ek die middelpunt daarvan is nie; dis maar een van daai dinge.

      En ek is die een met die naam wat al hoe meer mense deesdae reg uitspreek, al vrees ek die skade is reeds gedoen deur die miljoene kere wat ek “Sioebên” genoem is. Dis “Shiwon”, my magtig, dis hoe ’n mens dit sê, met ’n w soos in witwarm-klap-as-jy-weer-my-naam-verkeerd-kry.

      My naam was seker veronderstel om ’n eksotiese element in my lewe te wees. Of dalk moes dit my net geduld leer, want ek moes al baie mense reghelp.

      Ek gee die ander twee van “ons” die skuld vir my gesukkel as kind: Koert, die gryskop man aan my linkerkant wat hom my pa noem en nog steeds vertel hy was by met my geboorte, maar darem nie meer vertroulik ná ’n drankie fluister: “Ek kon nie glo dis my kind se kop nie” – en Alta, die oorspronklik swartkop vrou aan my regterkant wat haar hare blond kleur en haar my ma noem, maar soms (ek is amper seker daarvan) ontken sy het geboorte aan my gegee.

      Want my maniere is darem net te erg, sal sy sê wanneer ek krapperig voel en wens die hele blerrie wêreld wil net uit my kamer bly. Dan wil ek niks en niemand sien nie en veral nie mense wat vir my probeer verduidelik waarom ek niks en niemand wil sien nie.

      Wat gee ek om as ek besig is om “groot” te word? Kyk hoe lyk “groot”. Groot lyk soos die ekstra knoffel en salami wat Koert op sy ekstra-groot pizza gelaai het. En as hy dit oorleef, sal hy vanaand buite moet slaap.

      En dis nie asof Alta juis beter doen in my oë nie. Kyk hoe geniet sy die wyn en hoe glimlag sy sodra iemand in haar rigting kyk. Haar wenkbroue is ook te dun. Dit kom van haar tienerjare af, toe sy dit eendag gepluk en dit nooit weer ordentlik teruggegroei het nie. Sy sê vir my: “Laat dit vir jou ’n les wees. Die stommighede van ’n mens se jeug ry jou later in jou lewe.”

      Dit sê sy ook oor Ronnie, wat die laaste tyd genadeloos amper elke weekmiddag sy motorfiets skuins op ons sypaadjie parkeer en dan met die helm in die hand aan ons deur kom klop. Nou die dag sê ek vir hom: “Haai, is jy met die helm gebore dat jy weet ek is hier?”

      Lame grappie, ek weet, maar Ronnie grinnik net sy 48-tand glimlag en vee sy hare plat en vra of ’n mens dan nie koffie kry hier rond nie. Kompleet nes my pa sou vra. Maar ek laat hom inkom en sit, want hy is darem geselskap en hy gee aandag aan my.

      Oor aandag kan jy Alta niks vertel nie.

      “Ons gee jou al die aandag wat jy wil hê,” sê sy. “Ons kom net agter jy’t dit nie meer so nodig soos vroeër nie.”

      Ek wens my ma wil minder praat. ’n Ding kan so duidelik soos die blou lug wees, en dan sal sy uitgaan, opkyk, terugkom en sê: “Dit reën nie vandag nie.”

      Sowaar? vra ek, maar nie hardop nie, want ek is nie lus vir nog ’n lesing oor my maniere nie.

      “Aangename plek,” sê Koert in die Bamboesbos Pizzeria en glimlag vir my.

      Ek kyk lusteloos rond. Die meubels is van hout. Daar is houtpanele op die mure. Tot die eienaar van die plek lyk soos iets wat uit ’n boomstomp gekap is.

      By die ander tafels sit gesinnetjies en paartjies en lyk onverklaarbaar gelukkig.

      “Almal en alles ruik oud,” sê ek en trek ’n gesig.

      Koert en Alta glimlag tegelyk. Ek kan sweer hulle het nie gehoor wat ek sê nie.

      “Wat gaan deesdae in jou lewe aan?” vra my ma. “Ons kry so min tyd vir gesels.”

      Maar dis die probleem! wil ek gil. Ons praat heeldag en aldag. Julle suig my leeg vir inligting oor die “jeug van vandag”.

      “Ek wil weggaan,” sê ek.

      “Waarheen?” vra Alta.

      “Ons gaan mos elke skoolvakansie weg,” sê Koert.

      “Ja, maar altyd na die goorste plekke toe.”

      “Dis waar ons familie is. Jy moet jou familie ken.”

      “’n Mens moet ander mense ook ken.”

      “Watse mense?”

      “Mense by wie jy iets kan leer.”

      “Maar wat wil jy leer?”

      “Die dinge wat troebadoers weet.”

      “Sing Ronnie?” vra Alta. Sy klink agterdogtig.

      “Ek wens hy het. Nou sit hy heeltyd met Pa oor rugby en praat.”

      “Ronnie weet baie van die spel,” sê Koert.

      “Hy weet nog meer van …” Ek bly stil.

      “Van wat?” vra Alta. “Hy lyk so onskuldig. Eintlik selfs naïef.”

      “Ken jy die duiwel?” vra Koert tergerig.

      “Wat maak hy met jou?” vra Alta met nog meer agterdog.

      “Niks, Ma! Hy verken die omgewing.”

      “Watse omgewing? Het hy aan jou … gevat?”

      “Ma! Hy verken die omgewing op sy motorfiets. Hy weet baie van aardrykskunde en toerisme. Hy wil eendag die wêreld sien.”

      “Koert, praat met jou dogter.”

      “Siobhán, as jy ooit voel iemand nader jou op ’n ongepaste …” begin Koert. Hy lyk geamuseerd en ek wonder of die wyn hom ook aangetas het soos vir Ma.

      “Pa!” sis ek. “Wat gaan met julle aan? Ons kan nêrens heen gaan sonder dat julle aan my karring nie.”

      “Koert,” sê Alta vermanend.

      “Dis Ma ook,” sê ek vies.

      “Waarheen wil jy gaan?” vra Alta.

      “Ek het ’n bietjie rondgekyk … en ’n plek gekry.”

      “Dis nog meer as ’n jaar voor jy klaar is met skool. Dan kan jy doen wat jy wil,” sê Koert.

      “Nee,” sê Alta. “Sy sal gaan studeer.”

      “Ek praat van die vakansie. Hiérdie vakansie. Net so tien dae.”

      “’n Skoolkamp?”

      “Nee, dis eintlik …”

      “’n Kerkkamp? Uitstekend.”

      “Nee! Dis ’n sirkusskool.”

      “’n Wat?” vra my ouers tegelyk.

      “Ek wil net iets anders doen as wat ek tot nou toe gedoen het.”

      “Siobhán, hulle gaan jou olifantmis laat optel. Weet jy hoeveel mis maak ’n olifant? Ek het eenmaal ’n homp vir die winkel gekoop. Droog, natuurlik.”

      “Pa!”

      “Ek stem saam met jou pa. Dis misbruik maak van kinderarbeid.”

      “Daar’s nie diere nie,” kners ek dit uit. “Dis ’n skool waar ’n mens leer om ’n akrobaat of ’n nar te word.”

      “Maar jy wou nog altyd ’n onderwyseres word?”

      “Dis so verlede jaar, Ma. Hierdie is iets wat ek nóú wil doen. En dit sal die vakansie gouer laat verbygaan en dan is ek in elk geval nie in julle hare nie.”

      “My kind, jy was nog nooit in ons pad nie.”

      Maar dalk is julle in myne, dink ek, maar ek skaam my vir myself. Soms kry ek die goorste gedagtes.

      2

      Die eksamen maak klaar en die laaste paar dae gaan ons ons antwoordstelle se punte na, kyk ’n boring doccie oor geboortebeperking en gaan dan uitmekaar vir die vakansie.

      Ek stap huis toe, my romp hoër opgetrek as wat die skool toelaat, en my hare los, al weet ek die rekkie maak so ’n