Wat sy van motorfietse weet, het sy by Jacques geleer. Jacques la Mer, ’n Fransman in Nederland. Die Fransman-met-die-motorfiets. Haar eerste naweek in Dordrecht het sy die Saterdagoggend ’n kommosie in die straat gehoor, vinnig venster toe gehardloop en die man in die straat wydsbeen op die gevaarte sien sit. Hy het opgekyk na haar en die motorfiets laat brul. Sy het gevoel hoe haar maag saamtrek.
Die weerman kom tel haar koffertjie agter haar op. “Dit is so drie en ’n half myl na die hospitaal,” sê hy en kyk op na haar terwyl hy afbuk, glimlag skeef. “Laat ons die lewe geniet terwyl ons kan, of hoe?”
Dan lag hy hard, nogal vermakerig, en bind haar bagasie op die motorfiets se karet vas. Hy stop haar ’n stofbril in die hand en hou ’n elmboog uit sodat sy met die inklim daarop kan leun.
Die lewe geniet … Wat bedoel hy? Die ordonnans is egter reeds druk besig om die motorfiets aan die brand te probeer skop, altans dit is wat sy aflei. Sy het dit al gesien, die geskoppery, maar Jacques se motorfiets moes jy aan die gang stoot en dan vinnig in die ry opspring.
Prrr, prrr, prrr, skop hy, en sy gaan voort met wat sy heelpad van Harwich gedoen het: regtig probeer kyk na wat om haar aangaan, probeer vatplek kry aan die landskap, die geboue, hiérdie wêreld probeer peil. Is daar werklik iewers ’n oorlog aan die gang? En waarom merk sy so min daarvan? Daar is wel ’n vreemde, vae soort ongedurigheid in haar, maar dit het nie presies met die land en sy oorlog te make nie, dit het eerder te make met haar onvermoë om onverdeeld op iets daar buite te konsentreer. Dit is alewig asof daar iets anders is, iets net buite sigafstand, wat eintlik haar aandag verdien.
Jacobs se geskop-skop maak dit ook nie makliker nie en toe sy haar weer kry, is haar blik vasgevang deur die blos wat van sy kaak oor sy gladde wange optrek – wange sonder ’n teken van baard – en die uniformbaadjie wat opwip oor sy boude. Ag, liewe vader, ook dáárin sien sy vir Jacques. Maar die feit is dat selfs wanneer sý gery het, daar in Dordrecht, moes hý eers die motorfiets se enjin warm kry voordat hulle dit aan die brand kon stoot, pompend aan so ’n hefboom aan die enjin. En nou, hier in hierdie vreemde dorp en in die vreemde land en met ’n wildvreemde soldaat wat die opdrag gekry het om haar te begelei, is dit wat haar te binne skiet: hoe sy agterop Jacques la Mer se motorfiets op die paadjies deur die Biesbosch se riet- en biesievelde putte-putte-put. Later het sy toe self gery, hy moes haar wys hoe: Hier die ratte, een, twee drie; dáár draai jy die petroltoevoer geleidelik oop; kry jou vingers behoorlik om die rem.
Kruis en dwars op die Biesbosch se paadjies het hulle gejaag, sy dan wankelrig op die karet – deur die seewind, deur die strepe son en skadu, snakkend af in bogte vol koel lug om dan weer op te skiet in die loom helderte, haar hande onder sy baadjie, met onder haar vingerpunte die trilling van ribbe, daaronder die hortende, rosige gepomp van longe, die blindelingse kruip van bloed. Rietsnyers wat regop kom en met hul sekels beduie; sy wat hard, doelbewus, minagtend teen Jacques se agterkop vas lag, en hom voel ineenkrimp. Ja, dit onthou sy nou, hoe hy telkens onder haar vingers ineengekrimp het.
Dat sy dít nou moet onthou … Eenmaal het Jacques, nadat hulle terug was by die apartement, net so met sy hande aan die stuurstang geklamp bly sit. “Wat’s fout?” het sy gevra. “Kom jy?”
Hy het nie opgekyk nie, en dit het gelyk asof hy met die motorfiets praat. “Ek dink nie ons moet dit doen nie,” het hy gesê.
“Wat moet ons nie doen nie? Waarvan praat jy?”
Hy het afgeklim en stuurs by haar verbygeloop. “Jy weet goed,” het hy gemompel.
Sy het hom agternagestaar. Sy lang, eendagtige treë, sy ineengedoke skouers. Siestog, het sy gedink, en dadelik geskrik asof dit hý was wat omgeswaai het en die woord soos ’n wilde kat na haar gegooi het. Siesssstog! Maar hy het bloot met die trap opgeloop en die voordeur agter hom laat klap.
Jacobs swaai sy been oor die sputterende motorfiets se saal, kyk oor sy skouer na haar voordat hy die rathefboom tussen sy bene laat inklik en die fiets straataf laat brul. Die momentum druk haar terug teen die sitplek; sy kyk ietwat vervaard links en regs en gryp die rand van die syspan vas. Sy het gedink sy het dit reeds uitgepluis, bly haar gedagtes oor daardie ding met Jacques karring terwyl huise, mense en bome by haar verbyflits, ’n vreemde, vreemde konfrontasie. Daar was tog niks tussen hulle nie. Hy was ’n soort geleentheidsvriend. Ja, dit is die woord, geleentheidsvriend. Dalk was die probleem dat die geleenthede deur haar en haar alleen bepaal is. Dit is in elk geval die slotsom waartoe sy destyds gekom het: dat hy haar te voor op die wa gevind het, te beheersugtig. Maar nou wonder sy. Sy sien weer die rietsnyers wat orent kom en met hul sekels swaai, sy hoor die lemme deur die gras girts, sy voel sy trillende vel onder haar vingers. Hy moet iets daarvan agtergekom het. Maar wat is dit presies?
Uit die hoek van haar oog sien sy ’n groot struktuur verbyflits en sy swaai haar kop: in die middel van die straat ’n kloktoring, bonkig, massief, sommerso asof dit die oorblyfsels is van ’n kerk wat in die grond weggesink het, die ruïne half deur klimop toegegroei, maar met die horlosie volkome intak. Nou is haar aandag weer volledig by die omgewing, by die stamperige, raserige gang van die motorfiets met die soldaat aan die stuur. Dit is oënskynlik ’n alledaagse gesig, want ’n man wat ’n fiets verbystoot, kyk hulle nie eens aan nie, en langs die straat loop mense ingedagte voort. Sy druk haar clochehoed vaster op haar kop, klou met die ander hand aan die rand van die syspan.
Jacobs wys in die ry vir haar bakens uit, besienswaardighede, dinge wat hy reken sy om die een of ander rede moet weet as sy vir ’n ruk in hierdie gemeenskap moet woon en werk. ’n Keer of wat stop hy by ’n kruising, skuif sy bril op en gee ’n skoolseunagtige verduideliking: die huis waar die een of ander krieketspeler gebore is, die hospitaalpersoneel se gunstelingkroeg. Van die verpleegsters kom hierheen, sê hy met die kwaaklag wat sy vroeër gehoor het. Sy lag saam, heeltemal ontvanklik vir sy opgewondenheid, leun vorentoe en sê hard genoeg om hoorbaar te wees bokant die enjingeraas: “Ek sal seker nie sonder ’n metgesel kan kom nie.”
“Ek is seker dit sal gereël kan word,” sê hy en knipoog.
Sy kyk weg. ’n Irritasie roer in haar. Sy het hom te veel toegelaat; sy het sy vrypostigheid aangemoedig. Sy hoor hom agter haar praat, maar sy stuur doelbewus haar gedagtes weg van hom, van alle seunsoldate met motorfietse. Sy ken die opwinding, die ingeboude waaghalsigheid van die mens-masjien-kombinasie. Versigtig nou, versigtig nou … Sy voel ’n krieweling teen haar sye opkruip en kyk vinnig om na Jacobs. Hy het haar nog heeltyd sit en dophou, kom sy agter, maar nou kyk hy vinnig weg na waar hy reken iets haar aandag getrek het. Soekend kyk hy, en sê dan kopskuddend: “Nee, ek weet nie, dis maar net gewone huise.”
Sy lag verlig, beduie met haar hand dat dit niks is nie, strek ’n arm na hom en skiet vingerpunte uit: Ry maar, ry jy maar net.
Aan die buitewyke van die dorp stop hy nog ’n keer, lig die bril oor die skerm van sy pet, haal die motorfiets taamlik omslagtig uit rat uit en beduie met ’n lang voorvinger en die elmboog dooierus op die stuurstang: “Sien jy daardie huis,” sê hy en wys na ’n aantal spits dakke, skakelhuise wat bokant ’n ruwe ringmuur uitsteek, “die een heel links, dis waar een van ons grootste generaals gebore is, Leslie Rundle.” Hy laat die naam insink. “Meestal in Afrika geveg. Teen die Zoeloes, die Boere.” Hy kyk kopknikkend na die wit fasade met die enkele skuifraamvenster wat bokant die klipmuur sigbaar is.
Haar blik, wat die oomblik tevore nog byna argeloos oor die lyne van mure en dakke, van horison en straatvlak getas het, is eensklaps vasgevang. Sy kyk na waar hy wys, en voel hoe die ongedurigheid in haar iets anders word, nie presies irritasie nie, hoewel Jacobs se onverbloemde bewondering haar ’n oomblik laat dink dat sy besig is om kinderagtig te reageer. Iets anders roer egter in haar bewussyn; om die een of ander rede kry sy dit nie reg om haar met volle