“Sit, Tina,” sê hy onderwyl hy die deur op knip stoot, “ons moet vanaand oor jou toekoms gesels.”
“Pappa klink vreeslik ernstig,” sê sy met ’n senuweeagtige glimlaggie toe sy op die stoel langs sy groot lessenaar gaan sit.
Sy kyk hom behoedsaam aan toe hy op sy gewone plek agter die lessenaar inskuif en saaklik sê: “Ek is ernstig, ou dogter, of het jy vergeet dat jou skooldae oor ’n week en drie dae agter die rug sal wees?”
“Nee, ek het nie vergeet nie, Pappa, maar wat is dit in verband met my toekoms wat bespreek moet word? Ek is tevrede met my lewe soos dit is. Oor tien dae sal ek ’n gekwalifiseerde sekretaresse wees, ek het aangename vriende . . .”
Hy maak haar met ’n ongeduldige handgebaar stil.
“Ek wil juis met jou gesels oor jou vriende,” sê hy effens streng. “Solank jy nog skoolgaan, gee ek nie om dat jy met daardie mense bevriend is nie. Maar die dag dat die skool sluit, sal jy jou vriendskap met hulle finaal moet beëindig en jou regmatige plek in die sosiale lewe inneem.”
“Ek sien geen rede waarom ek my vriendskap met Riana-hulle moet beëindig nie –” begin Tina, maar haar pa val haar dadelik in die rede.
“Sodra jy in die regte kringe opgeneem is, sal jou lewe te vol wees om aandag aan mense buite ons sfeer te gee,” sê hy. “Die tweede Saterdag nadat die skool gesluit het, sal ek ’n onthaal reël sodat jy met al die jong mense kan kennis maak, en ek verwag dat jy veral aandag aan Thys Joubert moet gee. Ek het hom lankal in die oog vir jou –”
“Wat, daardie losbol!” val sy haar pa verontwaardig in die rede. “Al is hy die laaste man op aarde . . .”
“Toemaar, jy het dit reeds met jou laaste verjaardag vir my gesê, maar ek dring nog daarop aan dat jy tydens die onthaal spesiaal aandag aan hom gee. Trouens, dit sal vir my ’n gelukkige dag wees wanneer hy my om jou hand kom vra. Jy moet hom net ’n klein bietjie aanmoedig, julle vroumense weet mos hoe dit gedoen word. En wanneer julle verloof is . . .”
“Dit sal nooit gebeur nie, Pappa,” keer sy haastig. “Ek verdrink my liewer in die swembad as om my aan so ’n man te verbind. Genugtig, ek gril as hy net na my kyk, laat staan nog aan my raak . . . Nee, Pappa kan maar van Thys vergeet. Al sy geld kan my nie koop nie, want ek is nie bereid om my siel vir geld te verkoop nie.”
“Jy probeer nou doelbewus om moeilik te wees,” spreek hy haar streng aan, “maar ek gaan my nie aan jou steur nie, Tina. Jy weet nou wat ek van jou verwag, sorg dus dat jy aan my wense voldoen, want ek sal geen koppigheid van jou duld nie.”
“Maar, Pappa, ek het Thys nie lief nie! Hoe kan Pappa van my verwag om met hom . . . om my aan hom te verbind?”
“Jy is gans te sentimenteel, Tina,” kom dit streng. “Geld en sekuriteit is vandag baie belangriker as die liefde waarmee julle jong mense so dweep. Liefde kan jou nie sekuriteit bied nie, maar geld wel, daarom sal ek seker maak dat jy met ’n welgestelde man trou.”
Tina is merkbaar bleek toe sy van die stoel af opstaan en onseker sê: “As Pappa my sal verskoon, sal ek liewer nou na my kamer toe gaan.”
“Jy kan maar gaan,” sê hy. “Onthou net, ek het alles bedoel wat ek vanaand gesê het. Vergeet daardie arm vriende van jou, en bepaal jou aandag by Thys Joubert.”
Sonder om haar pa te antwoord, verlaat sy die studeerkamer en vlug na die privaatheid van haar slaapkamer toe. ’n Gedempte snik ontsnap haar, en dan voel sy hoe die trane warm oor haar wange begin rol. Maar sy is reeds in haar kamer, en met ’n bewerige hand stoot sy die deur agter haar toe, val op die bed neer en bars in ’n stortvloed van trane uit.
Sy het nooit kon droom dat haar pa so harteloos kan wees om haar in ’n huwelik te wil indwing met ’n man wat sy absoluut afstootlik vind nie. Besef hy dan nie dat geluk nie met geld of sekuriteit gekoop kan word nie? Het sy gejaag na meer rykdom hom dan blind gemaak vir die dinge wat die lewe mooi en aangenaam maak?
Toe Tina se snikke later bedaar, gaan was sy haar gesig en dokter haar rooi gehuilde oë met oogdruppels. Hierna skryf sy vir Renier ’n lang brief, waarin sy hom alles vertel wat vanaand tussen haar en haar pa gebeur het.
Die hele brief weerspieël haar hartseer, en aan die einde skryf sy: Ek weet ek behoort jou nie op hierdie tydstip met my probleme lastig te val nie, maar Renier, ek kan nooit aan my pa se begeerte voldoen nie. Hoe kan ek? Ek het jóú immers lief, en ek sal jou altyd liefhê. In my hart sal daar nooit weer plek wees vir ’n ander liefde nie, want jy, my dierbare Renier, het my hele hart in besit geneem.
Ek sal Wessel môreoggend vra om hierdie brief vir jou te gee, en as ek Saterdag nie op die gewone tyd by die restaurant opdaag nie, moet jy weet dat ek Germiston toe is om my oom At te spreek . . .
Die volgende oggend vertrek Tina vroeër skool toe as ander dae, want vanoggend moet sy Wessel sien voordat hy na die universiteit toe vertrek. Dit is vir haar van die grootste belang dat Renier vandag nog haar brief moet kry.
Sy tref dit gelukkig, want Wessel en Gerrie is net op die punt om te vertrek. Sy beantwoord die twee jong mans se vrolike môregroet toe hulle uit die huis gestap kom, maar haar eie stem is vanmôre nie so vol blye lewenslus soos ander dae nie.
Wessel kyk haar ondersoekend aan en vra besorg: “Wat makeer, ou sussie? Jy is vanoggend nie jouself nie, en is daar werklik spore van hartseer in jou oë?”
“Dis my pa, Wessel. Hy sal nog maak dat ek iets onverantwoordeliks aanvang, maar ek wil nie die oorsaak wees dat julle twee die bus verpas nie.” Sy neem die brief uit haar baadjie se sak en hou dit na Wessel uit. “Sal jy asseblief hierdie brief vir Renier gee? Daar is nie nou tyd om julle alles te vertel nie, maar as julle later vir Renier vra, sal hy julle vertel. Ek het vir hom alles in hierdie brief geskryf.”
“Ek en Renier skryf vandag ons laaste eksamenvak,” sê Wessel terwyl hy die brief in sy sak steek. “Ek sal jou brief vir hom gee sodra ons klaar geskryf het, Tina. Maar wat ek wou sê . . . kom jy na skool na ons toe, of moet jy huis toe gaan?”
“Ek kom hier na julle toe, Wessel.”
“Nou goed, dan gesels ons vanmiddag . . . Sien jou later, Tina!”
“Tot siens, kleinsus,” groet Gerrie en voeg besorg daaraan toe: “Ons sal almal vanmiddag saamstaan en jou probleme help uitstryk . . . Tot wederom, ou kleintjie!”
Hierna het Tina net tyd om vir die res van die gesin môre te sê, toe moet sy en Riana ook skool toe vertrek.
Riana merk dadelik dat Tina bitter ongelukkig voel, maar sy swyg wyslik, want sy weet dat Tina haar wel later sal vertel wat haar hinder.
Sy slaan die bal ook glad nie mis nie, want toe hulle by die skool aankom en hul bromponies versorg het, vertel Tina haar alles wat die vorige aand tussen haar en haar pa gebeur het.
“Ek gaan hierdie saak Saterdag met oom At en tant Louise bespreek,” sê sy.
“Maar, Tina, my ou maatjie, jou pa kan mos nie so ’n dwase ding doen om ’n man aan jou op te dwing nie!” roep Riana geskok uit. “Ons lewe mos darem in die verligte eeu, nie meer in die agttiende eeu nie! En wat van jou geluk, tel dit dan glad nie by hom nie?”
“My pa sê geld en sekuriteit is vandag belangriker as liefde,” laat Tina met ’n verwese glimlaggie hoor. “Ek het altyd geweet dat my pa ’n snob is, Riana, maar ek het nooit geweet hy is ook hard en gevoelloos nie. Maar ek verseker jou, ek sterf eerder as om met Thys Joubert te trou . . . Ek sal nooit met iemand anders kan trou nie, want ek het Renier lief.”
“Ek dink ons moet nou binnetoe gaan,” sê Riana. “Ons sal weer vanmiddag oor hierdie ding gesels. Moontlik kom Wessel of Gerrie met ’n oplossing vorendag.”
Dat Tina daardie dag so goed vaar in die eksamen, is vir haar en Riana albei ’n wonderwerk.
“Ek