“Dis natuurlik in ’n poging om die terroriste te probeer keer om dieper in Libanon in te vlug met die soldate wat hulle ontvoer het,” sê Miryam, wat by hulle kom staan het. Sy het pas haar jaarlikse maand lange verpligte reserwediens in die weermag agter die rug. “Jy kan seker wees dat ons artillerie al die Hisbollah-stellings langs die grens hel gee.”
“Dink jy Hisbollah kry wapens uit Iran?”
“Ag, jy weet dit mos! En dit vloei sonder moeite deur Sirië Libanon toe. Albei daai lande voorsien Hisbollah van strategiese advies en alle ander steun wat hulle nodig mag hê,” sê Avner vies.
Miryam knik. “Dis dieselfde met Hamas. Hul hoofkwartier is in Damaskus. Hulle kry ook militêre hulp uit Iran en smokkel dit deur Egipte in.”
“Julle reken dus ons gaan dalk aan twee fronte veg: die Libanese grens én in Gasa?” Marc kyk na Avner.
“Wel, waarskynlik. Kyk, Gilad Shalit is nes vandag se twee soldate binne internasionaal erkende Israelse grense langs die Gasastrook ontvoer. Dit het die IDF Gasa weer laat binnegaan.”
“Ja, maar nie nét as gevolg van die ontvoering nie. Hulle het ook ingegaan om die installasies te vernietig wat kassam-vuurpyle lanseer, en Hamas-terroriste en hul aanvoerders by te kom. Die IDF is dus klaar besig daar,” sê Miryam.
“Ek verstaan Hisbollah het minstens 13 000 langafstandvuurpyle op die Libanese grens.”
“Presies,” val Miryam hom in die rede. “Hulle kan Haifa, Tiberias en Hadera met redelike noukeurigheid haal. Ek reken die IDF gaan hulle eerste buite werking probeer stel.”
“En Libanon? Sekerlik sal ons nie hierdie ontvoerings net laat verbygaan nie?”
“Wel, ek reken Libanon gaan ’n hengse prys betaal oor hy nie Hisbollah op sy eie grondgebied kan beheer nie en toegelaat het dat hulle dit gebruik om Israel aan te val. Veral nie nadat ons ses jaar gelede na die internasionaal erkende grense teruggetrek het nie,” sê Avner. “Dit kan beteken dat Libanese infrastruktuur soos kragsentrales en so aan gebombardeer sal word.”
“En dis ook baie, baie moontlik dat Sirië se steun aan Hisbollah en Hamas sal beteken dat die IDF Sirië, en spesifiek Damaskus, gaan aanval.”
“Dit beteken volskaalse oorlog.” Avner klink somber.
“Môre is die 17de van Tammuz,” sê Marc sag.
Die ander twee knik bekommerd.
“Onlangs het Mahmoed Ahmadinejad van Iran gesê die bestaan van ’n Sioniste-regime, soos hy ons noem, is die basiese probleem in die Islamitiese wêreld. Daar moet gemobiliseer word om hierdie probleem te verwyder. Volgens hom is daar vandag ’n sterk wil om die Joodse staat te elimineer en ’n wettige Palestynse regime oor die hele Palestina te vestig, soos hy dit noem. Hy meen ons bestaan is die grootste bedreiging in die streek,” sê Avner ná ’n rukkie.
“Daardie man gaan ’n tweede Holocaust inlei,” ril Miryam. “Ek verstaan hy sê Allah praat direk met hom.”
Dis stil tot Marc weer praat. “Wat Ahmadinejad sê, is een ding, maar HaShem, die Ewige van Israel, het gesê: ‘My Naam sal vir ewig in Yerushalayim wees.’”
Sy twee sekulêre kollegas kyk hom stil aan.
“Mag dit waar wees,” sê Miryam gedemp.
Donderdag 13 Julie 2006
Die dag breek somber en bewolk, vreemd vir Jerusalem in Julie. Dis asof die grys wolke, wat in ’n roukleed oor die stad hang, ook onthou dat dit die 17de van Tammuz is. Dis die dag in 566 v.C. toe Nebukadnesar se leërmag wat die stad omsingel het deur die mure van Jerusalem gebreek het. Drie weke later, op Tisha B’Av, is die tempel vernietig. Die drie weke tussen die 17de van Tammuz en die 9de van Av is tradisioneel ’n swaarmoedige tyd waarin Jode oral diep bewus raak van wat hulle verloor het en hoe hul reg op bestaan gedurig bedreig word.
Maar dié dag het ’n ekstra somber betekenis. Dit het intussen bekend geword dat agt jong soldate die vorige dag in die aanval op die Hummer-patrollie langs die Libanese grens gesterf het. Hul begrafnisse het reeds begin. Die drie ontvoerdes word steeds vermis en is in die hande van Hisbollah- en Hamas-terroriste. Die ganse noorde van die land word voortdurend deur vuurpylaanvalle geteister. Inwoners van plekke soos Nahariya, Safed en selfs so ver suid soos Rosh Pina bevind hulle vir die eerste keer weer in bomskuilings sedert Israel ses jaar gelede uit Libanon onttrek het.
In reaksie op die aanval wat hulle nie uitgelok het nie, het Israel ’n massiewe militêre veldtog op see, land en in die lug geloods. Hul mikpunte is die vrylating van die ontvoerde soldate, om die lanseerplekke van die katyusha-rakette te verwoes en sodoende Israeli’s wat in die noorde woon weer veilig te laat voel. Vir die meeste mense word dit ook duideliker dat die Hisbollah-aanval en ontvoering van die twee soldate opsetlike uitlokking tot vyandelikhede was.
Nadat hy by die universiteit klaar is, haal Marc ’n bus na Oos-Talpiot om sy ouma te gaan gelukwens met haar 80ste verjaardag. Vanjaar val dit op die vasdag van die 17de van Tammuz en sy het gevra dat dit asseblief nie gevier moet word nie. Nie voor die tyd óf daarna nie. En noudat die oorlogswolke donker in die lug hang, is daar by haar duidelik nie sprake van nie.
Ruwth is teleurgesteld dat Rivkah en klein Yhoshi nie saamgekom het nie. Sy is gek na die baba, haar eerste agterkleinkind. Maar hulle het die vorige nag bitter min geslaap met Yhoshi wat van oorpyn gehuil het en vanmôre nog koorsig was, en hulle het besluit Marc moet maar alleen gaan.
Ofer, Ruwth se seun, en sy vrou, Shoshana, is ook daar. Die somberheid van die dag en die dreiging van ’n uitgerekte oorlog hang oor hulle. Dis veral vir húlle erg traumaties aangesien Bibi, hul jongste, wat op negentien pas die eerste van die drie jaar van sy diensplig voltooi het, sonder twyfel opgeroep sal word. Hulle het ook ’n oproep van David gehad om te sê dat hy opgeroep is. Hy het pas ’n opleidingskursus as helikoptervlieënier iewers in die suide voltooi. As reservis is hy normaalweg in ’n noordelike eenheid en sy ouers het nie die minste twyfel dat hy hom binnekort in Libanon sal bevind nie.
Marc neem nie veel aan die gesprek deel nie. Ofer, wat die halfbroer is van sy ma, Mara, het hom met sy eerste koms Israel toe in 2002 soos ’n eie seun ontvang en was vir hom van onskatbare steun. Veral omdat hy as enigste kind grootgeword het sonder enige ooms en tantes of neefs en niggies. In daardie tyd, en nou steeds, het David, die oudste van Ofer en Shoshana se twee seuns, vir hom soos die broer geword wat hy nooit gehad het nie. Omdat hulle nie ’n volle twee jaar in ouderdom verskil nie, het hulle heelwat dinge saam gedoen.
Veral toe Marc met sy basiese opleiding in die IDF besig was, was David ’n ware ouer broer vir hom. Hy het hom nooit laat voel dat hy so kunstenaarverfynd was dat hy nie ook ’n goeie soldaat kon wees nie. Maar hy het ook nie gemaak asof hy nie weet hoe swaar dit vir Marc is om opleiding te ondergaan waarmee hy nog nooit op enige manier te doen gehad het nie.
Hy dink nou aan die keer toe hulle met ’n besonder strawwe oefening besig was. Onder skerp geskut moes hulle “gewonde” makkers uit ’n “vyandelike” gebied gaan haal, letterlik ’n ander swaar manskap onder vyandelike vuur oor die skouer na veiligheid dra. Tragies is daar dié dag een van hulle, waar Marc by was, noodlottig gewond.
Dié aand het David, wat in daardie stadium by ’n regspraktyk in Jerusalem gewerk en die nuus gehoor het, al die pad na Marc se basis iewers in Galilea gekom om hom by te staan. Marc was buite weste getraumatiseer en het nie geweet waar om met sy ellende heen te vlug nie. Sy Hebreeus was nog nie goed genoeg om selfs ’n betekenisvolle gesprek met iemand te voer nie. Hy het eenvoudig in die kaserne op sy bed gaan lê met sy arms oor sy kop. En meteens was David daar. Hy het niks gesê nie. Nie ’n woord nie. Maar hy het by hom gesit met sy hand op sy skouer totdat Marc weer beheer oor sy emosies gekry het. Toe het David die bier uitgehaal wat hy saamgebring het en hulle het dit gedrink. Dié dag het Marc hom soos ’n broer liefgekry.
Ruwth skud haar kop. “Sal ons nooit vrede hier hê nie?”