Shomer Yisra'el. Beskermer van Israel. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796316752
Скачать книгу
in die bome. Hy merk dat, ten spyte van die verkeersopeenhoping in al die systraatjies waar hulle verbyloop, niemand op ’n toeter druk nie. Hier en daar klim mense uit hul motors en staan stil na die optog en kyk.

      Die koningsblou paneelwa wat Eliyahu na sy laaste rusplek neem, kom stadig verby. Honderde mans loop saam. Baie met hul hande teen die kant van die voertuig terwyl hulle gebede prewel. Marc voel Rivkah se beswete hand na syne soek en hy neem dit styf in syne.

      Dis ’n lang staptog in die versengende son van bo en die hitte wat uit die teer opslaan. Hulle het elkeen net een botteltjie water in hul rugsakke saamgeneem. Dié is lankal op. Die laaste deel van die roete na die begraafplaas gaan deur ’n Arabiese enklave. Arabiese mans sit op plastiekstoele voor verwaarloosde winkeltjies en woonstelblokke. Baie rook, ander sit net stilswyend na die optog en kyk. Deur die vensters loer vroue met bedekte hoofde. Marc merk dat daar geen enkele vrou of meisie op straat te sien is nie. ’n Ondernemende Arabier het ’n tafel uitgesit waarop hy tweeliterbottels met water te koop aanbied. Niemand koop nie, al het die meeste mense waarskynlik erg dors.

      Israeli-soldate in hul bekende olyfgroen uniforms is oral in groepe van vier tot ses opgestel. Hul gewere hang nie soos gewoonlik agter hul rûe nie, hulle hou dit teen hul sye vas. Hul gesigte is behoedsaam en gespanne. Daar is geen teken van die gewone skertsery en gelag nie.

      In die begraafplaas gaan Marc en Rivkah eenkant op een van die terrasse sit. Hulle kyk in stilte toe hoe honderde mense langs die graf verbyloop om ’n klippie daarop te plaas. Dit stapel so hoog dat die kranse wat daar gelê is, byna nie meer gesien kan word nie. Baie tieners maak beurte om langs die graf op die grond te gaan sit en snikkend van hul vriend afskeid te neem. Meisies staan huilend in groepies, arms om mekaar geslaan. Jong mans in hul vroeë twintigs slaan mekaar op die rug en val dan in mekaar se arms om onbeskaamd te huil.

      Marc-hulle wag totdat die skare redelik uitgedun geraak het voordat hulle ook tot by die graf loop om ’n klippie daarop neer te sit. Oral rondom hulle breek mans in groepies van tien weg om ’n minyan te vorm en saam te bid. ’n Man met ’n donker baard en swart hoed kom lê ’n lowergroen krans op die klippies en bly ’n paar oomblikke lank in eerbiedige stilte daar staan. Sweet pêrel onder sy hoed uit en meng met sy trane.

      “Ons sal seker moet teruggaan,” sê Marc behoedsaam toe hy merk hoe donker die skadu’s onder Rivkah se oë geword het.

      Sy kyk vinnig na hom, sug. “Seker,” sê sy, “Yhoshi moet byna bed toe en dis nog ver tot by die busstop.”

      “Ons sal ’n taxi haal,” sê Marc beslis en neem haar hand. “Het dit vandag nie vir jou ook gevoel asof ons almal daar familie is nie?”

      “Ons is Jode,” sê sy net.

      Hulle praat nie terwyl hulle terugstap nie. Dit het koeler geword en die hoë dennebome keer die son uit hul oë. ’n Skaars merkbare briesie het in die bome se toppe begin roer. Dit laat Marc aan die vroeë oggend met Yhoshi onder die bome dink.

      Terug deur die Arabiese strate het die spanning onder die soldate merkbaar verslap. Dis hier en daar duidelik dat ’n paar afgevaardig is om eet- en drinkgoed vir die res te gaan koop. Party sit op hul hurke langs pakkies kos wat op papier op die grond oopgesprei is, en gesels gedemp met mekaar.

      Om ’n nie-Arabiese taxi te vind, blyk moeiliker te wees as wat Marc verwag het en eindelik haal hulle tog maar ’n bus tot in die middestad. In King Georgestraat klim hulle af. Hulle stap deur Onafhanklikheidspark, met Gershon Agronstraat verby Mamilla-begraafplaas na die Jaffa-poort terug na die Ou Stad, moeg, dors en emosioneel uitgeput.

      Midsomer in Jerusalem is die dae lank. Vanaand word dit byna agtuur voordat die kerse aangesteek kan word. Een maal per maand kom die hele familie in Chaim en Hadassah se ruim woonstel in Gilo saam vir Erev Shabbat. Marc en Rivkah met Yhoshi; Re’uven en Shlomit met Yaniv. Oor die Shabbat-tafel, waar silwerware op ’n wit tafelkleed skitter en die geel rose die laaste lig vang, huiwer die eggo van Rivkah se droewige relaas oor die vorige dag se begrafnis nog.

      Buite het die stad Shabbat-stil geword.

      Die herinnering aan sy eerste aand aan hierdie selfde Shabbat-tafel is meteens lewendig by Marc. Dit was vier jaar gelede – tydens sy eerste besoek aan Israel. Hy het pas tot die ontdekking gekom dat hy Joods is en het sy wortels kom soek. Op die eerste dag al het hy Rivkah, toe nog ’n soldaat, ontmoet. Binne dae het hy geweet dat hy haar liefgekry het. Dis toe dat sy hom, oningelig soos hy was oor Joodse tradisies, genooi het om die Shabbat-maal met hulle te kom deel. Om haar mense te ontmoet.

      Hoe goed onthou hy nou sy eerste bewuswording van die teenwoordigheid van Adonai, wat op Erev Shabbat, wanneer die son ondergaan, oor die huise en oor Jerusalem neerdaal. Op daardie tydstip, wat hy nou so goed ken, wanneer die sandsteen van die geboue goud raak en die hemele rosig.

      Toe het hy Chaim en Hadassah ontmoet, maar hoe droef was daardie Pesach van 2002 nie: ’n Tyd van ’n verskriklike vlaag selfmoordbomaanvalle in Jerusalem; van die Seder-gruwel in Netanya … met Re’uven en Rivkah albei so nou by die Defensive Shield-oorlog betrokke.

      Die vier jaar het verbygehaas, dink hy. Maar wanneer hy na sy vrou kyk, wat plat op die mat met Yhoshi sit om hom te voer, besef hy hoe geweldig baie gebeur het. Asof sy bewus word van sy gedagtes, kyk Rivkah op. Haar donker hare krul oor haar skouers en haar mond is sag.

      Om ’n ma te wees het haar net mooier gemaak, dink hy.

      Sy lag. “Wat droom jy?” vra sy.

      “Van jou,” vorm sy lippe die woorde.

      Hy sien met genoeë hoe kleur in haar wange kruip.

      Chaim kom staan in die woonkamerdeur en kyk met sigbare ontroering na sy twee skoondogters, wat elkeen ’n lewenslustige baba sit en voer.

      “Baruch HaShem,” sê hy en slaan sy arm om sy vrou se skouer. “Verlede jaar dié tyd was ons net ses en nou is ons agt.”

      “Weldra staan jou kleinseuns soos jong olyfboompies om jou Shabbat-tafel, Chaim.” Sy vrou vryf haar wang teen sy skouer.

      “Geseënd is die Ewige van Israel, van wie elke goeie gawe kom.”

      Re’uven tel sy seuntjie uit sy ma se skoot en vee sy neusie met ’n sakdoek af. “Tien minute voordat die kerse aangesteek word, mense.”

      Marc neem Yhoshi by Rivkah, druk die kippah reg op sy woeste krulle. Sy oog vang ’n oomblik lank dié van sy skoonpa, wat kwalik merkbaar knik. Marc is al een wat weet dat Chaim Yeshua amper ’n jaar gelede as die Joodse Messias leer ken het.

      Die rabbi trek sy swart hoed effens dieper oor sy kop en sit Ma ToeVoo met sy diep stem in. “Hoe lieflik is jou tente, Jakob, jou wonings, Israel,” sing hulle. En toe die pragtige L’cha Dodi: “Kom, my geliefdes, laat ons die bruid verwelkom, laat die teenwoordigheid van Shabbat ons harte vervul … ”

      Hadassah kom die kerse aansteek. Die vroue trek serpe oor hul hare. Almal lag toe Yhoshi amper uit sy pa se arms val soos hy vorentoe beur om by die kerslig uit te kom.

      “Baruch Atah Adonai, Eloheinu …” bid Hadassah sag, haar hande oor haar oë geskerm:

      “Geseënd is U, o Adonai Eloheinu,

      Koning van die heelal,

      wat ons geheilig het deur u Tora.

      U het ons geroep om die Shabbat

      met lig te vereer,

      met vreugde en met vrede.

      Soos ’n bruid en haar bruidegom

      mekaar liefhet,

      so steek ons hierdie twee kerse aan

      uit liefde vir u dogter,

      die Shabbat … ”

      Die kerslig glim in Chaim se brilglase toe hy die Sabbat seën: “Eloheinu, Elohim van ons vaders, mag ons rus U bly maak. Heilig ons deur u verordeninge en verlewendig u Tora in ons harte. Versadig ons met u goedheid en verheug ons in u Verlossing … ” Weer ontmoet sy oë vir ’n kort oomblik Marc s’n.