Toe word hy kwaad. “Nee, ek verstaan presies. Ek het nog die hele tyd verstaan. Wat jy eintlik wil sê, is dat ek geen gevoel vir die land het nie. Dat wat hier aangaan my nie raak soos dit jou raak nie. Dat ek nooit regtig ’n Israeli sal wees nie, nog minder ’n soldaat in murg en been soos jy.”
“Dis nie wat ek gesê het nie!”
“Is dit nie?”
Shmu’el, wat die hele tyd by hul voete gesit het, het al hoe meer begin bewe, hoe hewiger hul stemtoon geword het. Hy gaan meteens histeries aan die blaf en die volgende oomblik tik iemand liggies aan die voordeur. Voordat Marc die paar tree van die oopplankombuis af kan gee, gaan die deur oop.
Daar staan die rabbi, Rivkah se pa, swart hoed in die hand, verleë laggie om sy mond. “Ek kom toe sommer in.”
Dis duidelik dat hy onmiddellik die gelaaide atmosfeer aanvoel, want hy bly stil en kyk van die een na die ander.
Rivkah is dadelik op haar voete. “Abba,” prewel sy en kom na hom toe.
Hy soen haar en kyk vraend na Marc.
Maar dié weet ook nie hoe om die situasie te hanteer nie en maak ’n onbeholpe skouerbeweging.
“Ek was hier by rabbi Raysman en ek dag ek kom kyk gou of my kleinseun nog wakker is.”
“Hy slaap al,” sê Rivkah met ’n klein stemmetjie. “Kom sit, Abba, ek gaan tee skink.”
Chaim kyk hulle ondersoekend oor sy teeglas aan toe Rivkah terugkom. “Het iets gebeur?”
Marc ontwyk sy skoonpa se oë en laat dit aan Rivkah oor. Sy aarsel ’n oomblik lank voordat sy antwoord. “Daar het, Abba.”
“Sou dit van belang wees dat ek weet?”
“Ek dink so, Abba.”
Chaim kyk na Marc. “En jy, Marc, dra dit jou goedkeuring weg dat ek weet?”
“Ja, Abba, ek glo … dat ons u miskien nodig het.”
Sy twee volwasse kinders se oordrewe onderdanigheid bring ’n geamuseerde vonkeling in die rabbi se oë. Hy stryk nadenkend oor sy baard, haal sy bril af en begin die lense met ’n wit sakdoek poets.
“Ek luister,” sê hy en kyk na sy skoonseun.
Marc weet sy skoonpa beskou hom as die priester van sy huis. Hy kan dit nie aan Rivkah oorlaat om hul probleem te verduidelik nie.
“Abba, ons het vandag bevestiging gekry dat Rivkah weer swanger is.”
Dié aankondiging tref die rabbi beslis onkant. Sy mond val oop van verbasing en hy kyk van die een na die ander. “En moet ek aanneem dat julle dit as ’n ramp beskou dat HaShem, geseënd is Hy, soveel guns aan julle wil bewys?”
“Nee,” sê hulle gelyk.
“Wel,” hy lig sy hande in ’n hulpsoekende gebaar, “waarom dans julle dan nie van vreugde nie?”
Marc kyk na sy vrou, maar sy skoonpa het hóm onder oë. “Marc?”
Marc huiwer, onwillig om Rivkah uit te lewer, maar nie seker hoe hy dit kan vermy nie.
Chaim snap sy penarie en draai na sy dogter. “Het jy ’n antwoord vir my, Rivkah?”
Sy sluk, maar toe kyk sy hom reguit aan. “Ek het, Abba. Natuurlik is ek bly. Dis net, dis so gou … en ek voel dat ek ook iets kan … wil doen. Ek bedoel met die oorlog. As dit op enige ander tyd was … maar nou voel dit vir my ek kan nie net by die huis sit nie terwyl …” Sy veg verbete om kalm te bly, “ terwyl ander met hul lewe betaal.”
Haar pa se stem verander van toon. “Ek weet hoe lief jy die land het. Ek weet hoe goed toegerus jy is om te kan help. Ek kan my voorstel hoe gefrustreerd jy moet voel om niks te kan doen nie. Ek voel self gefrustreerd oor my eie onvermoë om ’n bydrae te lewer.”
Marc merk hoe haar mond versag en hy wens hy kan sy arm om haar sit en haar teen hom vashou, maar hy besef dis nie die juiste oomblik daarvoor nie.
“My kind, jy moet besef dat daar in elke fase van ’n mens se lewe ’n plek is wat die Ewige vir jou berei het. Dis die plek wat Hy vir ons bepaal het en ons moet ons daarby neerlê as ons van sy seën wil deel word.”
Maar Rivkah gee nie sommer die stryd gewonne nie. “Abba, ek het nie gedink om as ’n soldaat te gaan veg nie. Net om iewers in die noorde as ’n paramedic of ambulansbestuurder of wat ook al te gaan help.”
“Swanger … en met ’n baba?”
“Die oorlog kan tog nie lank duur nie.”
Haar pa skud sy kop. “Nee, liefling, dit is nie waar jou plek is nie. Jou plek is hier om die Shabbat-kerse aan die brand te hou vir jou man, wat beslis opgeroep sal word as dit enigsins langer aanhou, en by jou kind.”
Rivkah byt haar onderlip. Sy sê niks verder nie.
Chaim kyk na Marc. “Ek neem aan dis waaroor die struweling was?”
Marc knik. “Min of meer,” sê hy ontwykend.
“Ek glo julle sal dit uitgestryk kry. Dink daaraan dat dit die vyfde dag van die dae van ontsetting is, ’n tyd van geweldige geestelike gevaar vir Israel. Ons moet mekaar vashou, nie verteer nie.”
Hy sit sy bril weer op. “Kom, laat ons HaShem loof dat Hy julle waardig geag het om nog ’n kindjie aan julle toe te vertrou.” Hy neem hulle albei se hande in syne soos sy gewoonte is. “Baruch Atah Adonai, Eloheinu Melech ha’olam. Geseënd is U, Here ons God, Koning van die heelal.”
Toe hy klaar gebid het, trek hy Rivkah op die armleuning van sy stoel neer en slaan sy arm om haar middel. “Ek het jou dit al vertel toe jy klein was, maar ek gaan dit weer doen. Toe Imma en ek ná jou geboorte op jou naam besluit het, was daar twee redes waarom ons jou dié naam gegee het. B’resheet sê vir ons dat Rivkah baie mooi was, en ons kon sien hoe mooi jy sou word.”
“Abba-a-a!” Rivkah se wange vlam verleë.
“Nee, luister mooi. Ons het jou ook so genoem omdat Rivkah die bruid van Yitz’chak se hart was. Die Tora sê spesifiek hy het haar liefgehad. Sy was vir hom ’n troos ná sy ma se dood. Ons lees hy het haar gebring na die tent van Sara, sy ma. Rashi sê vir ons dit beteken dat al die seën wat weggegaan het ná Sara se dood, teruggekeer het toe Yitz’chak sy bruid in die tent gebring het, want sy was ’n waardige opvolger vir sy ma. Daar is verskeie Midrash-tekste wat sê dat die Shabbat-kerse gedurende Sara se lewe van een Erev Shabbat tot die volgende bly brand het. Ná haar dood het die wonder opgehou, maar toe Rivkah daar kom, het dit weer begin. Kan jy glo dat HaShem jou bestem het om nou in hierdie bitter dae van Israel vir jou man en jou seuntjie die Shabbat-kerse brandend te hou?”
Ná ’n paar oomblikke knik sy.
“En Re’uven se naam?” vra Marc belangstellend.
“Re’uven se naam …” Chaim se gesig verteder. Hy haal weer sy bril af, stryk oor sy baard. “Marc, Hadassah en ek het drie jaar lank vir ’n baba gewag, lank vir ’n Ortodokse paar. Hadassah se vriendinne en haar twee susters het die een baba ná die ander gekry, so ook die vroue van my medestudente in die yeshiva, net by haar het niks gebeur nie. Sy het stiller en stiller geword. Ek het dag en nag vir haar by HaShem ingetree, soos Yitz’chak vir Rivkah gedoen het. Toe sy eindelik swanger raak, het ons vreugde nie perke geken nie. Sonder om haar te sê, het ek HaShem, geseënd is Hy, gevra vir ’n seuntjie. Omdat dit altyd goed is om ’n gesin met ’n seun te begin. Maar om die een of ander rede was Hadassah vas oortuig dat dit ’n dogter sou wees. Maar toe is dit ’n seun en ons noem hom Re’uven, soos Lea met haar eersteling gedoen het. Re’uven beteken: Kyk, dis ’n seun.”
“Wonderlik,” sê Marc.
Die rabbi lag. “Daar is niemand soos die Ewige van Israel nie. Het Hy nie vir Yirmeyahu gesê nie: ‘Kyk, ek is Adonai, die God van alle vlees, sou