“Wel, dit is regtig alles baie onseker.” Hy aarsel ’n oomblik. “Maar … Luister, ek is aan die universiteit verbonde en ons het nou vakansie. My vrou en ek het ’n plan gehad om na ’n kibboets by Tiberias te gaan vir twee weke, maar dit is natuurlik ook voorlopig van die baan. Miskien kan ek julle ten minste hier in Jerusalem ’n bietjie rondwys of iets.”
Onmiddellik nadat hy dit gesê het, kry Marc spyt oor sy voortvarendheid, maar toe is dit te laat.
“Ag, maar dis darem veel gevra …” protesteer die man halfhartig.
Marc skud sy kop. “Nee wat. Dis net dat ek waarskynlik ook enige oomblik opgeroep kan word.”
“Natuurlik.”
Hulle kyk mekaar ’n paar oomblikke onseker aan. Marc besef dat hy nou eenmaal daarin getrap het en dat hy dit net sowel die moeite werd kan maak. Hy sê: “Wil julle nie ’n aandjie oorkom na ons toe nie? Ons woon net hier anderkant.” Hy wys in die rigting van hul woonstel. Hy dink vinnig, besef dat vanaand waarskynlik nie die beste aand is nie. “Wat van môreaand miskien?”
Henok kyk na sy vrou en sy knik. “Ek dink dis goed.”
“Ek sal julle bel by Christ Church as ek net eers by my vrou gehoor het of dit goed is so, dan spreek ons af.”
“Ek het die nommer hier.” Sarah krap in haar handsak.
“Ek het dit ook,” keer Marc haar. “Ek het nou julle van vergeet.”
“Kambungu, kamer 26.”
Marc sit Yhoshi op die bank neer en skryf die van en kamernommer neer. “Sal ons dan so afspreek?”
Die ander twee knik.
“Goed, dan bel ek julle.”
“Hierdie oorlog …” sê Henok net toe Marc wil wegdraai. “Hoe ernstig is dit?”
Daar is iets in die man se stem en in sy gesig toe Marc na hom kyk wat hy nie kan peil nie. Iets meer as die gewone vrees vir oorlog.
“Dis moeilik om te sê. Dit is die vyfde dag vandag en wat my bekommer is dat die gevegte erger word. Hisbollah het byvoorbeeld vandag vyf langafstandvuurpyle op Haifa afgeskiet. Een het ’n werkswinkel getref waar treine herstel word. Agt mense is daar dood en dertien gewond. Daar is petrochemiese raffinaderye in daardie omgewing …”
Henok knik. “Ek het vanmiddag in die Jerusalem Post gesien. Haifa is ’n groot stad?”
Marc knik. “Derde grootste in die land.”
“Mens kan seker verwag Israel sal vergeldingstappe doen?”
“O ja. Ek dink die weermag sal nou Hisbollah-stellings en infrastruktuur in Suid-Libanon bombardeer en spesiale see-, lug- en landmagte instoot. Wat uiteraard ’n stroom vlugtelinge noordwaarts sal laat padgee, Beiroet toe.”
“Hoe groot is die moontlikheid dat Sirië en Iran hierby betrokke kan raak?”
“Ek reken aansienlik. Hulle hoop dalk dat dit die globale Islamitiese jihad teen Israel en die Weste aan die gang sal kry.”
“Sou jy sê so ’n geweldige reaksie van Israel ná die ontvoering van twee soldate is geregverdig?” vra die vrou.
Marc merk dat die man sy hand kalmerend op haar arm lê en hy hou sy eie stem rustig, al word sy nek warm.
“Hoe sal enige ander land reageer as burgers in meer as twintig stede en dorpe voortdurend blootgestel word aan rakette op hul huise, skole, hospitale, treine, fabrieke en so aan? Is Israel dan nie ook daarop geregtig om sy mense teen oorlog te beskerm nie?”
Sarah glimlag flou. “Wel, seker. Daar is beslis feite waarvan ek nie bewus was nie.”
Haar man neem haar aan die elmboog. “Kom,” sê hy, “dit word etenstyd by Christ Church.” En vir Marc: “Jy sal ons dan laat weet van môreaand?”
“Ek sal.”
Marc het Yhoshi net aan die slaap toe hy Rivkah by die voordeur hoor. Hy maak die babakamer se deur sag toe en kry haar voor die bos rooi rose wat in ’n emmer op die kombuistafel staan. ’n Oomblik kyk hulle mekaar stilswyend aan. Dan neem hy haar in sy arms en hou haar styf vas. ’n Rukkie bly sy so teen hom staan.
Toe sug sy en fluister teen sy bors: “Die rose is pragtig.”
Hy lag en soen die kant van haar gesig. “Jy ook.”
“Regtig?” vra sy gedemp.
Hy lig haar gesig na hom toe en soen haar lank en vol op haar mond. “Niemand is mooier as jy nie.”
Sy woel haar kop weer teen sy bors en hy trek die doek los waarmee haar hare agtertoe vasgemaak is sodat dit in haar nek en teen sy gesig val. Hy asem die soetheid daarvan in en trek haar stywer teen hom vas.
“Ek is bly,” sê hy.
Sy bly stil.
“Rivkah?”
Sy sug weer, maak haar uit sy arms los en skud haar hare agtertoe. “Slaap Yhoshi?”
Hy knik.
“Ek wil na hom toe gaan.”
Hy laat haar gaan.
Toe sy nie dadelik terugkom nie, gaan loer hy by die kinderkamer in. Sy staan by die traliebedjie met albei hande op die houtreling na die slapende kind en kyk. Toe sy opkyk, sien hy haar mond bewe.
Hy kom agter haar staan. “Kom,” sê hy sag, “ek gaan tee maak.” Sy verstyf net ’n oomblik, dan gaan sy saam met hom.
Sy sit op die hoë stoeltjie langs die toonbank terwyl hy vir elkeen ’n glas kersietee maak.
“Jy wou tog dat ons gou weer ’n baba moes hê,” sê hy met geveinsde rustigheid toe hulle met glase walmende rooi tee oorkant mekaar sit.
Die ritueel van sy teemakery het ’n kalmerende effek op haar. “Natuurlik. Maar nie só gou nie. Nie nóú nie.”
Hy raak liggies met sy hand aan hare, wat op die toonbank lê. “Die oorlog is in die noorde, dis baie onwaarskynlik dat dit Jerusalem toe sal kom.”
“Dis nie waaroor dit gaan nie.”
Hy besef waaroor dit gaan, maar verkies om dit nie te laat blyk nie. “Waaroor gaan dit?” sê hy dan.
Sy haal diep asem en haar neusvleuels tril effens. “Dit gaan daaroor dat daar oorlog in my land is en ek my deel wil doen.”
Toe hy wil praat, lig sy haar hand vinnig. “Moenie vir my sê my deel is om my kinders groot te maak nie, ek weet dit. Maar ek is ook ’n soldaat en ’n opgeleide paramedic.”
“Jy sal nie opgeroep word nie.”
“Dit weet ek ook! Ek hoef nie opgeroep te word nie, ek kan vrywillig my diens aanbied.”
“Rivkah … jy het ’n baba van nog nie ’n volle jaar nie en jy is byna twee maande swanger.”
“Ek weet!” Haar oë verdonker. “Maar geen oorlog hier duur ooit lank nie, ook nie hierdie een nie. Ek wil, ek móét met iets help. Al bestuur ek ook net ’n ambulans, soos met Defensive Shield.”
Hy wil vir haar sê: Dink daaraan dat toe jy met ons eerste baba swanger was en aanhou werk het by MADA, jy op twee maande ’n miskraam gehad het. Maar hy weet dis nie iets waaroor hy nou moet praat nie.
Hy sê: “Toe was jy nie getroud met ’n baba nie.”
“Marc! Dis uiters vir ’n paar dae, miskien ’n week of twee, dan is Hisbollah platgeslaan.”
“Rivkah, asseblief, hoe op aarde het jy gedink om dit te wil doen? Wat van Yhoshi?”
“Maar jy …”
Hy kyk haar stomverbaas aan. “En dit kom nie by jou op dat ék opgeroep sal word