Vorm groepe van 5 tot 6. Julle gaan nou julle handboek, Piekfyn Afrikaans graad 8, volgens hierdie riglyne ondersoek. Wys ’n groepleier aan. Die taak van die groepleier is om die groep deur hierdie verskillende stappe te lei.
Prelees die volgende teks saam met ’n maat.
Kyk na die illustrasie en lees die opskrif van die teks:
Waaroor gaan die teks?
Weet jy iets van die onderwerp? Vertel jou maat.
Hoeveel van jou maats moes met hierdie probleem worstel?
Vluglees die teks.
Het julle ’n idee gevorm waaroor die teks gaan? Bespreek dit en voorspel. Wanneer ons klaar gelees het, kan julle kyk of julle reg was.
Lees die teks aandagtig deur.
Draadjies hoef nie afskuwelik te wees nie
’n Mooi glimlag is ’n wenner – dit verbeter jou selfvertroue en aantreklikheid.
Vra maar vir menige tieners wat draadjies dra.
Reguit tande kan ook voorkom dat jy later in jou lewe sekere gesondheidsprobleme ontwikkel.
Volgens die Suid-Afrikaanse Vereniging van Ortodontiste (SAVO) is die meerderheid pasiënte tieners.
’n Ortondontis wat in Centurion praktiseer, sê jou tienerjare, wanneer jou mond nog nie klaar ontwikkel is nie, is die perfekte ryd om ’n slegte gebit reg te maak.
Die goeie nuus vir tieners is dat toestelle of draadjies nie meer so lelik en ongemaklik is as wat dit vroeër jare was nie. “Die metaal-aanhegtings is kleiner en tandkleurig. Dit is minder opsigtelik.”
Sy sê dat 11- tot 15-jariges dit geniet om verskillende kleure rekkies te kies om op hulle aanhegtings te plaas. Daarteenoor verkies 16-jariges dit gewoonlik om so min moontlik aandag op hul draadjies te vestig en vra vir die minder opvallende opsies.
Die probleem met skewe tande
As jou tande skeef is, beïnvloed dit baie meer as net jou glimlag.
Dit beteken jy byt sleg.
Dit is moeilik om skoon te hou.
Skewe tande is meer geneig tot tandvleisprobleme en afslyting.
Skewe voortande word makliker gebreek tydens kontaksport of in ongelukke.
Later in jou lewe kan skewe tande lei tot kaak- en gewrigsprobleme. Dit kan ook die rede vir kroniese hoofpyn wees.
Skewe tande is soms die oorsaak dat tieners nie meer wil glimlag nie en baie selfbewus is.
Leesbegrip: beantwoord die volgende vrae.
Vrae oor die inhoud
1. Na watter “draadjies” verwys die opskrif?
2. Wanneer is die beste tyd om “draadjies” te dra? Hoekom is dit die beste tyd?
Maak afleidings
3. Hoekom dink jy sal 11- tot 15-jariges gekleurde rekkies verkies terwyl 16-jariges dit glad nie wil hê nie?
4. Waarvoor staan SAVO?
5. Hoekom is dit nuttig vir ’n rugbyspeler om nie skewe voortande te hê nie?
6. Wat kan ’n rugbyspeler doen om sy tande te beskerm?
7. Party mense het permanent hoofpyn. Wat kan, volgens hierdie inligtingteks, ’n moontlike oorsaak van so ’n hoofpyn wees?
Hoe voel jy daaroor?
8. Die nadeel van skewe tande word in hierdie teks gegee. Wat dink jy, is die grootste nadeel wat skewe tande inhou?
Hersien die selfstandige naamwoord, wat in In ’n neutdop verduidelik word. Kyk ook na die Taalgids wat agter in die boek verskyn.
Woordsoorte: Die selfstandige naamwoord
’n Selfstandige naamwoord kan gewoonlik saam met die lidwoorde ’n en die gebruik word. Dit kan ook in die meervoud en verkleining geskryf word. Kyk na die volgende verskillende soorte selfstandige naamwoorde:
’n Soortnaam is die naam van ’n voorwerp waaraan jy kan vat of wat jy kan sien, byvoorbeeld: kind, broer, rugbywedstryd, skool.
Eiename is die name van mense, diere, plekke, ensovoorts, byvoorbeeld: Tebogo, Namibië, Kaapstad, Nancy, Drakensberg.
’n Versamelnaam is ’n woord wat ’n versameling van dieselfde tipe voorwerpe of mense aandui. Byvoorbeeld: ’n Klomp wasgoed word ’n bondel genoem. Ook: ’n Stapel klippe. ’n Swerm voëls. ’n Oes mielies. ’n Vloot skepe. ’n Sak aartappels. ’n Trop ape. ’n Bundel gedigte. ’n Swerm voëls/bye. ’n Baksel koekies. ’n Kolonie miere. ’n Skool visse. ’n Bos sleutels. ’n Span osse.
Abstrakte selfstandige naamwoorde verwys na dinge waaraan ’n mens nie kan vat, kan sien of kan ruik nie. Dit is woorde soos liefde, ongeduld, woede.
Massaname is die name van items wat moeilik getel kan word, byvoorbeeld: uraan, goud.
Agtervoegsels soos -e, -s, -ere, -ers, -ens, -’s, -te of -de kan gebruik word om meervoud by selfstandige naamwoorde aan te dui, byvoorbeeld: professore; baddens.
(Onthou, nie alle selfstandige naamwoorde het ’n meervoudsvorm nie, byvoorbeeld: geld, water, liefde.)
Sommige woorde het meer as een meervoudsvorm (wisselvorm)
fisikusse – fisici; memorandums – memoranda; sentrums – sentra; laboratoriums – laboratoria
Woorde met twee meervoude wat ’n verskil in betekenis het
gif/giwwe – maak dood; gifte – geskenke
letter/lettere – letterkunde; letters – klanktekens
raad/rade – soos stadsrade; raadgewings – advies
rug/rûe – liggaamsdeel; rûens – randjies
Verkleining
In Afrikaans word verkleining gewoonlik deur die agtervoegsels -tjie, -jie, -pie, -ie, -etjie en -kie aangedui. In baie gevalle word die woord “klein” saam met die verkleinwoord gebruik, byvoorbeeld: die klein seuntjie; ’n geringe poginkie; die kort boompie; ’n klein mannetjie.
Geslag
Die volgende postmorfeme word gebruik om die teenoorgestelde geslag (vroulik) by die selfstandige naamwoord aan te dui:
-e: eggenoot – eggenote
-es: eienaar – eienares
-euse vir woorde wat eindig met -eur: masseur – masseuse
-in: Jood – Jodin
-ise: donateur – donatrise
-ster: skrywer – skryfster
-te: vir woorde wat eindig met -is: pianis – pianiste
-vin vir woorde wat eindig met -f: wolf – wolvin
In sommige gevalle word
aparte woorde gebruik: ram – ooi; bul – koei; hings – merrie
die woord vrou gebruik: buurman – buurvrou
dame of vroulike voor ’n woord geplaas: