Piekfyn Afrikaans Graad 9 Leerderboek vir Eerste Addisionele Taal. Henk Viljoen. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Henk Viljoen
Издательство: Ingram
Серия: Piekfyn Afrikaans
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9781770029392
Скачать книгу

       •Watter soort argitektuur dink jy kom meestal voor in hierdie woonarea? (Kyk na die illustrasie en maak ’n afleiding.) Is dit eie aan Suid-Afrika? Motiveer jou antwoord.

       •Tieners hou daarvan om geassosieer te word met bekende etikette/handelsname. Gee dit status aan ’n mens? Gee jou opinie hieroor.

       •Is die sosiale groep wat in die teks voorkom net beperk tot Pretoria? Gee jou mening hieroor.

      Daardie Livingstone-gevoel

      deur Dana Snyman

Mod%208%20pica.psd

      Malan en Ina-Mari ontdek nou Afrika.

      Ek was nou die aand by dié twee. Hulle het mos onlangs laat huis bou in Woodhill Estate, ’n tamaaie plek met sentrale verhitting, ’n ondergrondse wynkelder en ’n binnehof met ’n spuitfontein in die middel.

      Maar daardie spuitfontein waai binnekort, sê Ina-Mari. In die plek daarvan kom hierdie amazing tradisionele houtfiguur wat hulle by ’n Lozikunstenaar in Zambië geruil het vir ’n draagbare CD-speler en twee denimlangbroeke; nou laas toe hulle met die Landie op in Afrika was.

      Nee, hulle het nie Kilimandjaro gaan klim nie. Hulle het die berg net in die verte gesien, sê Malan. Maar hulle gaan dit beslis aanstaande jaar saam met sy Investec-pelle klim. (Klein-Malan is wel op die oomblik saam met leerders van die Hoërskool Waterkloof op die berg.)

      Kili is amazing, sê Ina-Mari. Dis so ’n spiritual plek.

      Die lekkerste van Afrika te ontdek, sê Malan, is dat jy deesdae heelpad teerpad kan ry, deur Botswana en Zambië tot in Tanzanië. En oral is hierdie nice lodges, sê hy. Hulle absolute gunsteling is die Chobe River Lodge naby Kasane. As jy daar op die Chobe se stoep met ’n gin en tonic in die hand sit, sê hy, weet jy jy is in die ware Afrika – Livingstone se Afrika. Die Krugerwildtuin is nie die ware Afrika nie, sê hy. Die Kruger het hopeloos te gekommersialiseer geraak.

      Die Chobe, sê Ina-Mari, het ook hierdie amazing “shoppie” waar sy vir haar hierdie absolutely amazing Armanihelmet gekoop het, nes die een wat Meryl Streep in Out of Africa gedra het.

      Ons weet nie van al die armoede noord van ons nie, sê Malan. Diepsloot se HOP-huisies is niks teen wat jy in Zambië en Tanzanië sien nie. Dit was vir hulle ’n eye-opener, sê hy. Die mense bly in kleihutte en het nie geld nie. Net om iets te besit, ruil hulle maklik-maklik hul beelde en ander curios vir klere en goed.

      Êrens in Zambië, sê Ina-Mari, loop daar ’n ou met ’n Diesel-T-shirt wat sy vir hierdie amazing Lungulaswaard verruil het. Êrens is daar ook ’n ou wat na Theuns Jordaan luister, sê Malan, want hulle het vergeet om hul Theuns-CD uit die speler te haal toe hulle dit vir die Lozihoutfiguur verruil het.

      Hy is net oor een ding spyt, sê Malan. Hy sou graag sy quad bike wou saamgeneem het. Daarom gaan hy en Klein-Malan maar in Augustus met die bikes op die trailer Mosambiek toe. (Malan sê hy hoor Kortbroek gaan dalk weer die strande oopstel vir 4x4’s noudat hy Minister van Omgewingsake en Toerisme is.)

      Ina-Mari sê sy gaan nie saam Mosambiek toe nie want Jahn, haar binnehuisargitek, kom haar help. Hulle gaan die huis hierdie Afrika-feeling gee, sê sy. Sy het klaar begin om die binnemure hierdie amazing warm Afrika-kleure te laat verf; oker en blou en geel. Sy het ook reeds ’n amazing leerbank bestel, en sy gaan hulle ou Savanne-stel laat oortrek met hierdie amazing goue fluweel met swart luiperdkolle op.

      In Desember gaan hulle beslis Zanzibar ontdek, sê Malan. Hulle wou eers met die Landie deur Zim en Malawi tot in Dar ry, maar hy is nie lus vir Zim se dinge nie.

      Hy verstaan die swartmense nie, sê Malan.

      (Uit: Uit die binneland. Human & Rousseau. 2005)

PostleesWerk nou in pare. Beantwoord die vrae in julle werkboeke.
1.Vluglees die teks vir die volgende inligting:
a)Wie is die hoofkarakters?
b)Noem die twee ruimtes (agtergrond) waarna in die skets verwys word.
c)Met watter sosiale groep word die spot gedryf?
d)Watter kleur is “oker”?
2.Soeklees die teks vir woorde wat verband hou met bekende mode-etikette (“labels”). Skryf dit neer.
3.a)Maak ’n lys van die dinge waarmee die Malan-gesin Afrika assosieer.
b)Waarmee assosieer jy Afrika?
4.Wie is Meryl Streep en waarna verwys Out of Africa?
5.Skryf die volgende woorde voluit neer en sê waarna elkeen verwys.
a)Kili
b)Landie
6.Vervang “amazing” met gepaste Afrikaanse woorde. Probeer om dieselfde woord nie meer as een keer te gebruik nie.
a)“… hierdie amazing tradisionele houtfiguur …”
b)“… hierdie amazing ‘shoppie’ …”
c)“Sy het ook reeds hierdie amazing leerbank bestel …”
7.Om krities te lees, moet die leser verstaan wat die skrywer/verteller sê en hoekom hy dit sê. Watter boodskap wil die skrywer aan die leser oordra? Stem jy daarmee saam? Motiveer jou standpunt/mening.
8.Is die titel van die teks gepas? Motiveer jou antwoord.
9.In die teks word die woord “amazing” heelwat gebruik. Wat sê dit van die karakter wat dit gebruik?
10.Die titel van die skets is “Daardie Livingstone-gevoel”.
a)Wie was Livingstone?
b)Waarna verwys die “gevoel” in die titel?
c)Sluit die eerste sin aan by die titel?
11.Wat is die algemene trant van hierdie skets?
12.In die skets is daar baie Engelse woorde. Is dit slengtaal, swak of aanvaarbare taalgebruik?
13.Hoe voel die skrywer oor die onderwerp? Kies een van die moontlikhede en motiveer waarom jy dit gekies het.
a)Hy skryf graag oor die mense wat in die Woodhill-omgewing woon.
b)Hy toon simpatie met die mense se wanbegrip van Afrika.
c)Hy beklemtoon sekere mense se kunsmatige waardes.
d)Hy beskryf die Woodhill-mense se reis en ervarings in Afrika.
14.Kan jy met een van die karakters en hul sienings en waardes identifiseer? Motiveer jou antwoord.
15.“As jy daar op die Chobe se stoep met ’n gin en tonic in die hand sit, sê hy, weet jy jy is in die ware Afrika – Livingstone se Afrika.” Wat is ironies omtrent hierdie stelling? Onthou dat ironie ’n stylmiddel is wat skrywers en digters gebruik wanneer hulle ter wille van effek die teenoorgestelde sê van dit wat bedoel word.
16.Is daar stereotipering in die skets? Verduidelik.
Oefen dialoog
17.Skryf die laaste drie paragrawe in dialoogvorm. Begin so:
Ina-Mari sê: “Ek gaan nie saam … ”Malan sê: “Ons gaan in Desember … ”Malan sê: “Ek … ”

      Lees, waardeer en verstaan ’n volksverhaal

      In jou Piekfyn Afrikaans Leesboek is verskeie kortverhale en volksverhale opgeneem, maar weet jy wat die verskil tussen ’n kortverhaal en ’n volksverhaal is? Kyk saam met ’n maat na die volgende tabel.

KortverhaalVolksverhaal
Dit sluit in moderne kortverhale soos satires, reisverhale, sketse, ensovoorts.Dit sluit in sprokies, mites, legendes, fabels, belewenisse en sages.
Het ontstaan as skriftelike literatuur.Het ontstaan as mondelinge literatuur wat van geslag tot geslag oorvertel is.
Kortverhale het ’n verskeidenheid doelstellings en temas.Die doel van volksverhale is om die gehoor te vermaak en om ’n lewensles te leer.
Kortverhale wissel van kort tot lank, die intrige en spanningslyn is duidelik, innerlike en uiterlike handelinge kom voor.Dit is baie kort, daar is min intrige (patroon van gebeure) en dit maak hoofsaaklik van dialoog en handeling gebruik.
Die karakters is gewoonlik mense en daar is gewoonlik een hoofkarakter en newekarakters.Karakters is sprokiesfigure, diere, dinge uit die natuur.
Dit kan in die verlede of teenwoordige tyd geskryf word.Dit word gewoonlik in die verlede tyd vertel.
Karakters

e-mail: [email protected]