Danda op Oudeur. Chris Barnard. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Chris Barnard
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780624065227
Скачать книгу
probeer, kom daar nie. Hulle het pas klaar geëet, toe word daar aan die deur geklop. Danda gaan maak oop. Dis tant Sara, ’n vriendin van sy pa wat langsaan woon. En Danda weet al – as Sara kom, dan gesels sy en sy pa altyd op die stoepie of onder in die werf, of hulle gaan stap in die dorp. En as jy die hele middag alleen was, is dit nie lekker om nog saans ook sonder geselskap te sit nie.

      Buitendien hou Danda nie baie van Sara nie. Sy is altyd kortaf met hom en sy diere, en sy maak altyd haar lippe te rooi. Sy pa koop vir haar sjokolade en borsspelde en sulke goed, en Danda het nog nie één keer gehoor dat sy dankie sê nie. As hý by sy pa iets kry, sê hy altyd oor en oor dankie, want hy weet alles kos geld en geld is skaars en sy pa werk hard vir die bietjie wat hulle het.

      Sara se lippe is weer rooi en sy en sy pa gesels ’n rukkie op die agterstoep en gaan later saam teen die trap af. Danda is al in die bed en byna aan die slaap voordat hy weer die agterdeur hoor oopgaan. Hy lê en luister hoe sy pa water in die bad indra, maar hy kan nie wakker bly nie. En die volgende oggend toe hy wakker word, is sy pa al klaar weg werk toe.

      Op pad skool toe moet hy voor die polisiestasie verby en soos gewoonlik dié tyd van die oggend staan konstabel Tiens in die deur en koffie drink. Danda hou hom skraal en wil koes-koes verbystap, maar die konstabel het valkoë.

      “Jy daar, Daneel,” roep hy. “Kom staan bietjie nader.”

      “Ek is laat,” sê Danda.

      “Laat se voet. Dis nou eers twintig voor!”

      Danda steek die straat oor en gaan staan in die hekkie, boek­sak oor die skouer.

      “Bietjie koffie?” vra Tiens.

      “Nee dankie, Oom.”

      Die konstabel het ’n pikswart hangsnor en sy tande is ge­vlek van baie pyprook.

      “Jy’t gedag ek sien jou nie gistermiddag nie, nè?”

      “Waar, Oom?”

      “Jy weet goed waar. Wat soek jy daar by die kantien?”

      “My kraai, Oom.”

      “Dis ’n gevaarlike plek daardie vir ’n bog soos jy. Toe jou kraai gekry?”

      “Ja, Oom.”

      Tiens glimlag, kom nader gestap. Hy sit sy koffiekoppie op die hekpaal neer, klap vir Danda op die skouer en vou sy hande oor sy groot maag. “Jy en daardie Vetvoet-vent is mos sulke groot maats.”

      Hier kom moeilikheid, dink Danda.

      “Wanneer het jy hom laas gesien?”

      “Ek sien hom nie meer so baie nie,” sê Danda. “Hy’s deesdae maar skaars.”

      “Hm.” Tiens knik. “Hy’s skoonveld as jy my vra. Hoe ’n soort ou is hy?”

      Danda kyk die konstabel vas in die oë. “Sag soos ’n lammetjie,” sê hy.

      “O, nè?”

      “Hy praat baie groot en so, maar hy’s ’n gawe ou.”

      “Hm,” sê Tiens en wieg op sy tone.

      “Regtig,” sê Danda.

      “Hy’s ’n leuenaar en ’n droster en ’n kansvatter, dis wat hy is.” Tiens buk vertroulik vooroor, loer oor sy skouer en wink Danda nóg nader. “Hoor hier, Daneeltjie,” sê hy, “as jy vir my kan vasstel waar die vent is, gee ek jou die grootste pasella wat jy nog ooit in jou lewe gekry het!”

      Dit sál ’n groot pasella moet wees, dink Danda, as dit ’n groter pasella wil wees as Rosina. “Ek sal kyk, Oom.”

      Tiens glimlag weer en knipoog vertroulik.

      “Hoekom soek Oom hom?”

      “Dis polisiesake.”

      “O,” sê Danda. “Nou maar goed, Oom. Tot siens, Oom.” En hy draai om en stryk straat af sonder om om te kyk. As dit dan sulke danige polisiesake is, dink hy, hoekom soek Tiens hom nie self nie?

      In die klas wens hy die periodes om. Kort pouse kry hy weer nie vir Rosina te sien nie, maar lang pouse loop hy haar op die stoep raak. Sy kyk anderpad toe sy hom sien, maar hy weet ook al – op die skoolwerf is sy altyd skaam en afsydig, soos sy aan die begin was. Maar Woensdae-middae langs die see word sy haarself – nog skaam, ja, maar ten minste nie afsydig nie.

      “Rosina,” sê hy, “kan jy vanmiddag kom?”

      Sy skud haar kop.

      “Probeer kom, man; ek het ’n klomp goed om jou te vertel,” sê Danda.

      “Ek kan nie,” sê sy net.

      “Probéér!”

      Daar is skielik voetstappe agter hulle en Rosina stap haas­tig verder, haar kop effens skuins soos altyd wanneer sy verleë voel.

      Die middag wag hy vir haar by die ou vissershawe, maar soos hy verwag het, daag sy nie op nie. Die diere is saam met hom en ’n rukkie speel hy met Vlooi in die vlak brandertjies. Toe begin hy koers kry Puntjie toe. Vetvoet het nie gesê hoe laat hy by die grot moet wees nie, maar enige tyd is seker goed genoeg.

      Dis herfs en die middag is winderig en die see lê grys onder die bleek lug. Maar die diere is baldadig en Vlooi en Ratel hardloop ente vooruit – Vlooi vooraan en Ratel mankerig agterna. Kiki vlieg wye draaie en probeer die seemeeue jaag, maar hulle is gans te slim vir hom. En Sindo, bangbroek wat hy is, kruip in Danda se hempskraag weg; hy kan maar net nie die lawaai van die branders verdra nie.

      Naby die wrak van die Constantine, ’n ou treiler wat halfpad Puntjie toe op die sand lê, gaan Danda staan. Verbeel hy hom of het hy iemand hoor roep? Hy kyk rond en sien hoe Vlooi met gespitste ore staan en kyk – terug, na waar hulle vandaan kom. Hy kyk om en sien ’n man haastig aangestap kom. Toe die man sien Danda gewaar hom, beduie hy iets met sy arms. Ratel merk ook onraad en kom staan hier by Danda se voete. Hy probeer sy bes om gevaarlik te lyk en kyk kort-kort op om te sien of sy baas dit raaksien.

      Eers toe die man naby is, herken Danda hom. Dis Luis.

      “Waar loop jy so alleen rond?” wil Luis al van ver af weet.

      Deesdae wil almal skielik weet waar hy so alleen rondloop, dink Danda. Wat makeer hulle? Hy loop al sy lewe lank alleen rond en niemand was nog ooit daaroor bekommerd nie. Dis in elk geval beter om alleen te wees. Waar daar mense is, is daar tog net altyd moeilikheid.

      “Ek sê,” sê Luis, “wat dwaal jy so?”

      “Sommer,” sê Danda.

      Vlooi kom nader en knor – en Luis steek vas. “Byt hierdie brak van jou?” vra hy.

      “Hy’s g’n ’n brak nie,” sê Danda, “en hy byt dat dit bars.”

      Luis betrag vir Vlooi en kan skynbaar nie besluit of hy Danda moet glo of nie. Hy snuit sy neus op die sand en kyk oor die see. “Het jy gehoor van Sarel?” vra hy.

      “Wat van hom?”

      “Dis juis wat ons nie weet nie. Hy’s weg. Vanmôre toe ek hom in sy kamer gaan soek, toe’s die deur afgebreek en sy bed is deurmekaar en vol bloed en als. En hy’s skoonveld.”

      “Bloed?” Die wind laat Danda skielik koud kry.

      “Al van hom wat agtergebly het, is sy skoene en sy hemp. En die hemp flenters. Kompleet in twee stukke.”

      Danda kan nie glo wat hy hoor nie. Hy hou Luis baie fyn dop – soek iets in sy gesig, in sy oë, iets wat hom sal laat weet dis ’n set hierdie. Maar Luis lyk doodernstig.

      “Dis nie waar nie, Luis.”

      “Hoekom sal ek oor só iets lieg?” Luis krap op die plek waar sy regteroor moes gewees het. “Die arme blikskater is dalk dood!”

      Vetvoet? Dood? Danda sluk. Dit kan nie wees nie …

      En voor hy hom kan keer, swaai hy om en begin hardloop.