Danda loer weer na Vetvoet, maar die ou grote kyk anderpad. En dit help nie juis nie. Is Kalkoen Viljoen hierdie Hans Hoed se vriend, kan Danda by die waarheid bly en pront-uit sê nee. Maar is Kalkoen en Hans Hoed vyande, kan dit dalk vir Vetvoet help as Danda die storie bevestig.
“Hoekom sê jy niks?” vra Kalkoen.
Vetvoet snork skielik. “Los nou dié ou storie, kameraad. Ek sê jou mos ek het Hans Hoed opgedons!”
“Bly stil!” snou die man met die lel en kyk weer na Danda. “Hierdie man,” sê hy en wys met sy duim half oor sy skouer na Sarel, “is in die gemors oor hy weer kluitjies verkoop het.”
Vetvoet vlieg op. “Ek sê jou dis nie kluitjies nie. Dis die waarheid!”
Kalkoen sug en suig weer aan sy pyp.
“En ek sê jou nog ’n ding,” sê Vetvoet. “Ek gaan nie meer wegkruip nie. As daardie spul my soek, kan hulle my kry. Ek sien kans vir die hele lot – Pontak en Dons en Trens Koster en almal!”
Kalkoen swaai om, gluur na Sarel. “Jy sit jou voet uit hierdie plek uit en jy’s óf môre agter die tralies óf Pontak-hulle kom jou in ’n agterstraatjie by.”
Danda kan nie kop of stert van die argument uitmaak nie. Al wat hy weet, is dat dié Pontak en Dons de Waal en Trens Koster waarvan hulle praat, die drie gevaarlikste en mees gevreesde skobbejakke in die hawe is. Praat jy van een van dié drie, dan praat jy van moeilikheid. Praat jy van al drie, is dit so goed jy laat die duiwel los. Waar hulle kom, is daar altyd moleste, en die meeste matrose en dokwerkers en vissermanne bly maar liewer uit hulle pad uit. As dit húlle is met wie Vetvoet deurmekaar is, is dit geen wonder dat hy nou al weke lank wegkruip nie.
Gaandeweg, terwyl Kalkoen en Sarel argumenteer, begin die storie vir Danda vorm aanneem.
Vetvoet en Hans Hoed het skynbaar een middag in die kantien stry gekry oor een van Vetvoet se vriende. Hulle het mekaar met die vuis bygedam en Hans het die slegste daarvan afgekom. In die proses is ’n stoel en ’n tafel en ’n klomp glase gebreek en Eriksson, die kroegman, was só kwaad dat hy vir konstabel Tiens laat kom het. Later die middag is Vetvoet daar weg dokke toe en volgens hom het Hans hom agternagesit en met ’n mes gedreig. Die volgende môre het hulle Hans Hoed by die dokke gekry. Hy was dood.
“Toe gaan hierdie swaap heen,” sê Kalkoen en wys na Vetvoet, “en hy vertel vir almal hy’t Hans Hoed geslaan tot hy bly lê en hom toe daar gelos. En ek weet hy lieg.”
“Hoe weet Oom dit?” vra Danda.
“Die middag met die bakleiery in die kantien was ék die een wat hulle uitmekaar gemaak het. En hierdie vent is saam met my daar weg, en hy was heelaand by my gewees.”
Vetvoet skud net sy kop.
Kalkoen sukkel deur toe en maak dit oop. “Luis!” roep hy buitekant toe. “Kom hier.”
Luis praat iewers van ver af.
“Nou hoekom kom sê jy nie?” vra Kalkoen.
Luis sê weer iets, en Danda kan sien hoe rek Vetvoet se nek om te probeer hoor. Kalkoen kyk oor sy skouer terug na hulle toe, gaan uit en trek die deur agter hom toe. En soos blits is Vetvoet by Danda.
“Ek bly nie ’n dag langer hier nie,” hyg hy. “Hierdie Kalkoen krap al my planne deurmekaar!”
“Maar wie is hy?” vra Danda. “Ek dag hy’s jou vriend.”
“Soort van,” sê Vetvoet. “Hoewel, mens kan nie juis sê hy’s dié of dáárdie een se vriend nie. Hy’s aan almal se kant, en hy’s aan niemand se kant nie. Almal is bang vir die ou vreksel.”
“Jy ook?”
“Wat wo!” sê Vetvoet, maar hy sê dit op ’n manier wat Danda glad nie oortuig nie.
“Hét jy daardie ander ou doodgemaak?”
Vetvoet knik. Maar hy kyk nie vir Danda nie, hy kyk anderpad. En Danda weet skielik Sarel jok al weer.
“Jy glo my nie?”
“Nee,” sê Danda. “Jy sal nie ’n mier doodmaak nie. En jy weet dit. En ék weet dit.”
“Jy ken my nog nie. As ’n ou met my sukkel soos Hans Hoed met my gesukkel het, dan gee ek hom wat hy soek.”
“Jy’t oor my gejok. Hans Hoed het my g’n met ’n mes –”
“Los dit vir my,” sê Vetvoet. “Ek weet wat ek doen.” Hy loer deur toe, luister ’n oomblik. Iewers in die agtergrond hoor hulle Kalkoen en Luis praat. “Jy ken die grot hier anderkant Puntjie – jy weet, die een onderkant die rooikransbos.”
“Ek was al daar.” Danda knik.
“Ek kry jou môremiddag daar.”
“Hoe laat?”
Maar daar is skielik voetstappe en Vetvoet swaai om en gaan staan voor die venster. Die deur gaan oop en Kalkoen en Luis verskyn.
“Het jy en jou jong vriend nou klaar gekuier?” vra Kalkoen vir Sarel. “Ek dink Tiens het snuf in die neus. Hy was netnou in die kantien.”
“Ons het nog nie eers begín kuier nie,” sê Vetvoet.
“Jy’t gesê jy wil hom net vyf minute sien sodat jy hom kan sê jy’s veilig. Jou vyf minute is al hoeka verby al.”
“Kom,” sê Luis vir Danda. “Jou kraai het omtrent al die papelellekoors hier buitekant.”
Danda staan op, maar Kalkoen lig sy gebreklike hand. “Onthou nou net,” sê hy. “Jy sê vir niemand jy was hier nie. Nie eens vir jou pa nie. En van Sarel Vetvoet weet jy net mooi niks nie, gehoor? Niks!”
Danda knik.
“My diep vriend,” sê Vetvoet, “dit was goed om jou weer te sien!” Hy glimlag en vryf ’n slag oor die groot vratte op sy neus – maar dis net sodat Kalkoen nie moet sien hy knipoog vir Danda nie. “Bly jy maar uit hierdie ding uit – ek sal wel vir myself sorg.” Hy klap Danda op die skouer en Danda knik en beweeg deur toe, waar Luis al op hom staan en wag.
“Onthou!” roep Kalkoen Viljoen agterna. “Nie ’n woord nie of ek trek jou basvelle vir jou af. En jy bly hier weg tot ek jou sê jy kan weer kom.”
“Goed,” sê Danda.
Die deur gaan agter hulle toe en die volgende oomblik kom Kiki met swiepende vlerke op hulle af. Hy pik ’n slag na Luis, kom sit op Danda se skouer en skop ’n lawaai op, kompleet asof hy sy baas berispe.
Luis beduie met sy arms. “Maak stil daardie ding – netnou hoor die diender ons!”
Hulle loop koes-koes oor die binneplaas en Luis stoot die hoë heining se sinkdeur oop. Danda loop deur en begin die trap boontoe klim sonder om te groet. Eers toe hy bo in die straat is, gaan hy weer staan. Hy kyk links en regs.
En aan die bopunt van die straat staan die bedelaar nog steeds windskeef tussen sy krukke.
Die res van Danda se middag is omgekrap. Hoe meer hy probeer uitpluis aan die dinge wat hy gesien en gehoor het, hoe minder verstaan hy daarvan. Is dit moontlik dat Sarel Vetvoet iemand kan doodgemaak het? Soos hý Sarel ken, is dit heeltemal buite die kwessie. Vetvoet praat wel groot, ja; hy vertel met smaak die afgryslikste stories, maar toe hy en Danda een middag in die vygieduine langs die riviermond op ’n halfdooie hasie in ’n strik afkom, kon einste Sarel dit nie oor sy hart kry om die diertjie van kant te maak nie. Danda moes dit self doen.
’n Méns doodmaak? Nie Vetvoet nie.
En dié Hans Hoed. Wie is hy? Een van Pontak-hulle se vriende, seker – maar wat was Vetvoet se verbintenis met hom?
Dan is daar nóg iets wat Danda nie kan begryp nie. Sy pa vertel hom