Dieter en Madame Zenobia (skooluitgawe). Nelia Engelbrecht. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Nelia Engelbrecht
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Учебная литература
Год издания: 0
isbn: 9780798165136
Скачать книгу
so ’n ongelukkige situasie hoe­genaamd lagwekkend vind,” sê meneer Lourens. “Sit!”

      Ek sak verlig op my stoel neer. Meneer Lourens gee sommer maklik strafwerk. Gewoonlik opstelle met die goorste titels waaraan jy kan dink.

      “… enige onderwerp kies, solank dit van opvoedkundige waarde is,” hoor ek meneer Lourens sê.

      Ek sug moedeloos. “Opvoedkundige waarde” klink erg boring.

      Aan die einde van die dag stoot ek en Krynauw ons fietse saam hek toe.

      “Kom vanmiddag na my toe, sodat ons planne kan maak,” sê ek.

      “Oukei, sien jou later,” groet Krynauw en klim op sy fiets.

      “Baai.”

      By die huis gaan bêre ek my fiets in die buitekamer en stap agterdeur toe. Daar is ’n vreemde bruin hopie in die middel van die sementpaadjie. Dis sowaar ’n skilpad.

      Ek gaan sit op my hurke en tik met my vinger teen die geelbruin dop. Vier pote en ’n oumenskoppie verskyn. Die skilpad kyk my met verlepte ogies aan. Hy trek sy kop weer vinnig in toe ek hom optel.

      “En dit?” vra my ma toe ek in die kombuis kom.

      “Ek het hom hier buite gekry. Ek dink hy’s honger.” Ek haal ’n paar slaaiblare uit die yskas. “Ek gaan hom agter in die ou hoenderhok sit.”

      “Ek dink nie ’n mens mag ’n skilpad sonder spesiale toestemming aanhou nie,” waarsku my ma.

      “Ek sal die hoenderhok se hekkie oophou. Dan hou ek hom mos nie aan nie. As hy wil wegloop, moet hy maar.”

      Buite maak ek die hekkie van die hoenderhok oop en stoot die skilpad binnetoe. Hy steek sy kop dadelik uit toe ek die slaaiblare voor hom neersit. Shame, die arme ding was regtig honger.

      Daardie middag toe Krynauw kom, gaan wys ek vir hom die skilpad.

      “Ons moet vir hom ’n naam gee. Iets soos Skillie,” sê Krynauw.

      “Skillie? No way. Dis boring verby.”

      Ek kyk stip na die plooigesiggie voor my. Sydney. Dit voel vir my hy’s ’n Sydney.

      “Wat van Pootjies?”

      Ek kyk moedeloos na Krynauw. Vir iemand wat ’n sielkundige vir ’n ma en ’n tandarts vir ’n pa het, is hy partykeer maar lekker dof.

      Ek staan op. “Sy naam is Sydney.”

      ’n Rukkie later sit ons elkeen met ’n glas koeldrank op my bed en praat oor hoe ons die skooldief gaan vang.

      “Miskien moet ons ’n lys maak van die goed wat die skelm sal wil steel,” sê ek.

      “Klink oukei,” sê Krynauw. “Ons kan môre ekstra vroeg skool toe gaan en ’n bietjie gaan rondkyk.” Hy leun vooroor en tel ’n rekenaaruitdruk van die bedkassie af op. “Wat is dit?”

      “My pa het vir my ’n e-mail van Hongarye af gestuur. Dis ’n foto wat hy daar geneem het.”

      “Vlieëniers is vrek gelukkig. Hulle vlieg oral rond en word nog daarvoor betaal ook.” Krynauw kyk na die foto. “Watse weird mense is dit daai?”

      “Dis sigeuners. My pa sê daar’s nog baie in Hongarye. In Joego-Slawië en Bulgarye ook.”

      Krynauw lê agteroor op die bed. Vir ’n oomblik is hy stil. Dan sit hy regop. “Ek het nou net onthou. Daar’s ’n prent van ’n sigeunervrou teen die muur van die supermark naby die skool. Madame iets …”

      Ek knik. “Madame Zenobia. Ek het dit ook gesien. My ma sê sy bly in die torinkiehuis agter die skool. Sy voorspel kastig mense se toekoms. Ek dink dis ’n groot bol tjol.”

      Krynauw kry ’n veraf uitdrukking in sy oë. “Miskien. Miskien nie.”

      “Jy glo tog nie sulke nonsens nie?”

      Krynauw haal sy skouers op. “In die flieks help hulle die polisie om moor­denaars te vang. Dalk kan dié Madame-vroumens ons help om die skool­skelm in die hande te kry.”

      Ek drink die laaste bietjie koeldrank en sit die leë glas op die bedkassie neer. “Ek sê jou, dis bollie.”

      Krynauw staan op. “Wel, ek dink dit sal flippen cool wees.”

      My oog val op my Afrikaanse boek wat halfpad by my tas uitsteek.

      “Wat cool sal wees, is as meneer Lourens vir ons sê ons hoef nie meer daardie vertraagde mondeling te doen nie.”

      “Ek het nie ’n clue waaroor om te praat nie.” Krynauw vee met sy hand deur sy rooi pennetjieshare. “Dalk kan jou ma ons help met die mon­deling. Skrywers het mos baie idees,” stel hy voor.

      “Al waaraan my ma nou kan dink, is die nuwe moordstorie waarmee sy besig is.”

      “Vra haar nogtans, toe?”

      Ek sug.

      Krynauw kan tog so aanhou met iets. “Ek sal haar vra of ons deur haar ideeboek kan blaai. Dalk kry ons iets daarin.”

      Ek stap studeerkamer toe. My ma sit soos gewoonlik voor die rekenaar.

      “Ma, kan ons Ma se ideeboek leen?”

      My ma beduie met haar kop na die ingeboude kas, terwyl haar vin­gers sonder ophou oor die sleutelbord voor haar beweeg. “Op die twee­de boonste rak,” sê sy.

      “As my ma skryf, weet sy skaars ek is hier,” brom ek toe ons terug is in my kamer. “Sy kan net sowel ook in ’n Boeing klim en oorsee vlieg.”

      Krynauw val weer op my bed neer. “Ek dink dis awesome om ’n ma te hê wat moordstories skryf en ’n pa wat Boeings vlieg,” sê hy.

      “Ja, maar jy kan weer bly wees jy het twee sussies. As ’n mens die enigste kind is, zoom jou ma en pa die hele tyd in op jou.”

      Ek maak my ma se ideeboek oop. Die meeste van die koerantberigte wat daarin is, gaan oor moorde wat gepleeg is. Tussen die laaste bladsye is ’n fotostaat van ’n berig wat lyk of dit uit ’n ou koerant kom. My ma het ’n rooi kring om die opskrif getrek.

      “Beroemde Hongaar vestig hom in Pretoria,” lees ek hardop. “Die Hon­gaarse skilder, Zoltan Bartok, het pas vir hom ’n huis op die hoek van Wilge- en Bloekomlaan gebou.”

      Wilge- en Bloekomlaan? Ek kyk na Krynauw. “Dis waar ons skool is. Hierdie Zoltan-ou het daar gebly.”

      “Wow! Jy’t mos gesê ’n deel van die skool was eers ’n ou huis,” sê Krynauw.

      Op die volgende bladsy is nog ’n ou koerantberig. “Zoltan Bartok verdwyn spoorloos,” lees ek die opskrif.

      Krynauw se oë blink. “Jis, dis cool!”

      “Dit lyk my die man het net op ’n dag verdwyn. Sy vrou het nie ’n clue gehad waar hy is nie. En twee van sy beste skilderye het saam met hom verdwyn.”

      Ek maak die ideeboek toe.

      “Mense verdwyn nie sommer net nie,” sê Krynauw. “Ek dink iemand het die ou vermoor en sy skilderye gesteel. Ek wonder of hulle ooit sy lyk gekry het.”

      “Vergeet nou van lyke en goed. Het jy al ’n idee vir jou mondeling?”

      Krynauw staan op. “Ja, ek gaan oor Zoltan Watsenaam praat. Ek gaan in die skool se biblioteek kyk of daar nie nog goed oor hom is nie. Dalk figure ek nog uit wat van hom en sy skilderye geword het.”

      Ek sit die ideeboek op my lessenaar neer. “Oukei, maar ons moenie van die skoolskelm vergeet nie. Onthou, hy’t ons rugbybeker gesteel.”

      “Moenie worry nie, ons sal hom kry,” sê Krynauw en staan op.

      Toe hy weg is, stap ek na my pa se studeerkamer toe. Ek haal een van sy boeke van die boekrak af. Die Sigeuners van Oos-Europa. Daar is ’n klomp foto’s van donkerkop sigeuners