Dieter en Madame Zenobia
(skooluitgawe)
Nelia Engelbrecht
Human & Rousseau
1
Ons graadnegejaar het nou net minder boring geraak.
“’n Skooldief – wow, dis cool,” fluister Krynauw hier langs my.
Voor op die saal se verhoog lyk die hoof se gesig soos ’n opgepofte doughnut met pienk versiersuiker op.
“Verlede week het dié dief die muurhorlosie uit die saal gesteel en gister het ses silwer teelepels uit die personeelkamer verdwyn. Maar die ergste is dat my goue papiermes van my lessenaar af gesteel is.”
Ek kyk na die kinders om ons. Dis nogal weird om te dink een van hulle kan die dief wees.
Pouse praat almal oor die skooldief. By die snoepie sien ek en Krynauw hoe ’n klomp meisies om Zaanli Viljoen saamdrom.
“Vandat sy kaptein van die ondersestien-netbalspan is, dink almal sy is wonderlik,” sê Krynauw terwyl hy aan sy sout-en-asyn chips kou. “G’n netbalspeler sal die punch kan vat op ’n rugbyveld nie. Buitendien, dis óns rugbyspan se beker wat in die voorportaal staan.”
Dis waar. Ons het die streek gewen, terwyl Zaanli-hulle net sirkelwenners was.
“Ek is seker ons sal die skooldief kan vang,” sê Zaanli vir haar maats net toe ek en Krynauw verby hulle stap.
Krynauw gaan staan. “En hoe wil julle dit nogal doen?” vra hy.
Zaanli kyk hom op en af. “Dit gaan ons beslis nie vir jou vertel nie.”
Krynauw frons. “Ek wed jou vyftig rand ek en Dieter gaan daardie dief vang – nog lank voor julle.”
Ek stik amper in my Coke. Krynauw se brein makeer seker iets. Die polisie kan dan nie eens die dief vang nie!
Zaanli loer na my. “Goed dan, dis ’n weddenskap,” sê sy.
Ek kry vir Krynauw aan die arm beet. “Kom hier,” sis ek en sleep hom weg.
My wange word warm toe ek hoor hoe die meisies agter ons giggel. “Vir wat gaan jy sommer ’n weddenskap aan? Hoe dink jy gaan ons die skelm gevang kry?” raas ek toe ons op ons gewone bankie langs die tennisbane sit.
“Ek moes iets sê om haar stil te kry,” brom Krynauw.
“Sure! En nou lag hulle vir ons,” sê ek en staar moedeloos na die stowwerige punte van my skoolskoene.
“Ek het ’n plan,” sê Krynauw meteens.
Ek kyk versigtig op. Krynauw se slim planne het ons al baie in die moeilikheid laat beland. “Watse plan?”
“Ek is seker die skelm is ’n kind in ons skool, want alles het in die middel van die dag weggeraak terwyl die skool vol kinders was. En niemand het ’n vreemde ou op die skoolgrond gesien toe die goed gesteel is nie. Dit beteken ons moet die kinders dophou.”
“En hoe moet ons nogal die hele skool dophou as ons self in die klas sit?”
“Ek … ons moet iets uitdink sodat ons kans kry om rond te kyk.”
“Soos wat?”
Krynauw sit vir ’n oomblik en dink. Dan grinnik hy. “Ek hét dit!”
Hy spring op toe die klok lui. “Doen jy maar net wat ek doen.”
Ná pouse is dit Kuns en Kultuur by juffrou Blom. Sy hou ’n groot prent van ’n man in haar hande. Sy staar fronsend na die gesig.
“Ekskuus … waar was ons nou weer?” vra sy.
Krynauw begin proes.
Ek kyk na die naam op die swartbord: Vincent van Gogh. Ek steek my hand op.
“Ja, Diederick?”
Om ons begin die kinders giggel. Ek háát dit as juffrou Blom my sommer enige naam noem.
“Ek is Dieter, Juffrou. Ek dink ons praat vandag oor Vincent van Gogh.”
“O ja,” sê juffrou Blom. “Hy was ’n briljante kunstenaar wat later kranksinnig geword en sy eie oor afgesny het …”
“Uhhg!”
My nek ruk toe die alleraakligste geluid skielik hier langs my in die bank opklink.
“Oe-e-e!” gil juffrou Blom, haar pienk roosknopmond op ’n tuit getrek. “Wat makeer?”
“Uhhg … ek’s vrééslik naar, Juffrou,” kerm Krynauw. “Ek dink ek en Dieter het pouse iets geëet wat nie … Uhhg!”
Net voor hy opstaan, pomp Krynauw my hard in die ribbes. Dan onthou ek wat ons afgespreek het.
“Uhhg!” brul ek ook.
“Ie-e-e!” gil juffrou Blom.“Julle twee moet liewer dadelik siekekamer toe gaan.”
Ons is skaars by die deur uit, of Krynauw vou dubbel soos hy lag.
Ek kyk vinnig na die toe deur agter ons. “Sjuut! Wil jy hê sy moet jou hoor?”
In die voorportaal loop ons die kantoortannie raak. Tannie Ella loer oor haar goueraambrilletjie na ons. “Ja?”
“Juffrou Blom het ons siekekamer toe gestuur. Ek dink ons het pouse iets geëet wat ons siek gemaak het,” jok ek en loer vinnig na Krynauw.
Dié hou sy hand voor sy mond asof sy derms enige oomblik by sy mond gaan uitpeul. “Vrék-vreeslik naar,” mompel hy.
“Siestog, gaan lê ’n bietjie. Juffrou Blom sal nie kinders siekekamer toe stuur as dit nie regtig nodig is nie.”
Toe ons elkeen op ’n bed in die siekekamer lê, frons ek. “Ek hou nie daarvan om so vir tannie Ella te jok nie.”
Krynauw waai met sy hand deur die lug asof hy ’n lastige vlieg wegjaag. “A-a-g, dis vir ’n goeie doel. Ons gaan mos die skelm vang.”
Ná ’n rukkie loop Krynauw deur toe. “Kom,” beduie hy, “ons moet weg wees.”
Ek sluip agter Krynauw in die gang af. Net toe ons om die hoek van die gimnastieksaal kom, steek ek vas.
“Die deur daar voor het nou net toegegaan.”
“So what?” vra Krynauw.
“Daardie deur is altyd toe. Ek het nog nooit iemand daar sien ingaan nie.”
“Dink jy dit kan die skelm wees?”
“Dalk. Kom ons gaan kyk,” sê ek, en ons draf vinnig soontoe. Ek voel aan die deur. Dis nie gesluit nie. Dit kraak toe ek dit stadig oopstoot.
“Waar’s ons?” vra Krynauw.
“Dis ’n stoorkamer of iets.”
Die vertrek is skemerdonker. Dis so stil, ek kan hoor hoe ek en Krynauw asemhaal. Jis, ek is seker ek het nou net nóg iets gehoor …
Ek stamp aan Krynauw. “Het jý iets gehoor?”
“Wat?”
“Dit het geklink soos ’n deur wat toegaan.”
“Jy verbeel jou. Maar miskien moet ons die lig aansit … A, hier’s die skakelaar.”
Klik!
Die gloeilampie hang aan ’n lang tou van die dak af. Die lig swaai-swaai oor die rakke en ou tafels en stoele, asof iemand so pas daarteen gestamp het.
Ek en Krynauw kyk na mekaar. “Dalk … dalk was dit die wind, toe ons ingekom het,” sê Krynauw.
Om ons is ’n paar rakke met stowwerige, afgeblaasde rugbyballe en stapels ou lêers op. Agter die rakke staan afpoot-tafels en stoele sonder sitplekke.
“Kyk daar!” roep Krynauw uit.
In die verste hoek van die pakkamer is die snaakste klomp goed op ’n hoop geskuif.
“Dit lyk na ou goed wat hulle in konserte