OM TE MAG TWYFEL
’n Gelowige se reis
Julian Müller
TAFELBERG
En ik praat met de zee
En ik praat met de doden
En ik mis soms een god
Om in te geloven
Zoals ik toen ik klein was
Vlak voor het slapen
Wist dat er iemand
Over mij waakte
Nu sta ik hier ’s nachts
Ik kijk naar de sterren
En weet niet goed meer
Wat ik moet zeggen
Ik voel me soms moe
Ik voel me soms leeg
Hoe langer ik leef
Hoe minder ik weet
Uit “Witsand” deur Stef Bos
Inleiding: 'n outobiografiese teologie
Ek skryf hierdie boek vir mense soos ek: mense wat soms met geloof sukkel, mense wat nie elke dag ewe goed glo nie en mense wat hul geloof beslis nie as ’n prestasie kan aanbied nie. Dis mense wat soms daaroor verras is dat hulle tog nog glo en mense wat partykeer daaroor ontsteld is dat hulle so ongelowig is. Dis mense wat onthou hoe hulle as kinders ongedwonge en maklik geglo het, maar sukkel om steeds so naïef te vertrou.
’n Kollega by die Universiteit van Pretoria het my eendag gevra wanneer ek dan ’n besprekingsgroep vir “ongelowige gelowiges” begin. Sy het dit gevra na aanleiding van ’n koerantartikel wat ek geskryf het en sy het gemeen daar is ’n behoefte daaraan. Ek het nooit sover gekom om met so ’n groep te begin nie, maar haar interessante formulering het my bygebly en op ’n manier is hierdie boek my reaksie op daardie versoek.
Met die titel Om te mag twyfel neem ek, soos daardie kollega, posisie in teenoor die kampioene van geloof en skaar ek my liewer by die “ongelowige” gelowiges. Ek wil nie van die oorwinnings van geloof vertel nie. Daarvan is daar genoeg in die populêre Christelike literatuur. Ek wil eerder die teenoorgestelde beklemtoon, naamlik dat geloof gebroke, gehawend, swak en ontoereikend is. Geloof het geen inherente krag en betekenis nie. Dit is kwesbaar en breekbaar.
Daarmee distansieer ek my ook van die konsep “geloofsekerheid”, iets waaroor ek met die jare al meer skepties geraak het. Dit is ’n konsep waarmee gepoog word om iets tot geloof toe te voeg, asof geloof alleen nie genoeg is nie. Jy moet nog ’n kwaliteit daarby verwerf. Dis so asof daar twee soorte geloof is: sekere én onsekere geloof. En dan is die deur oop vir nog verdere onderskeidinge: geloof wat oortuig is en geloof wat onoortuig is; die geloof van wedergebore Christene en die geloof van gewone Christene.
Die teologie is ’n refleksie op geloof en wat daarmee verband hou. Dit kan op verskillende maniere beoefen word: Dit kan óf geweldig sistematies en argumentatief aangepak word óf spontaan en verhalend. Die Afrikaanse teologie is nogal daartoe geneig om besonder dogmaties, sistematies en argumentatief te wees, maar in die laaste jare het die belangstelling in verhalende of narratiewe teologie toegeneem. Met dié boek waag ek my hand aan outobiografiese teologie.
Ek glo teologie is altyd in ’n bepaalde persoonlike, sosiale en kulturele konteks geanker – dat dit alleen vanuit daardie konteks beskryf en teen daardie agtergrond geïnterpreteer kan word. Teologie kan tog nie in objektiewe stellings en belydenis-uitsprake alleen vasgevang word nie. Enige teologiese uitspraak kry eers betekenis teen ’n bepaalde agtergrond en binne ’n konkrete situasie. Die narratiewe benadering tot teologie probeer hierdie gesitueerdheid in die oog hou.
Vandaar dan ook die konsep van biografie as teologie en in hierdie geval outobiografie as teologie. My eie teologie is gesitueerd in my lewensverhaal en onlosmaaklik verbonde aan my ervaring van sowel geloof as twyfel. Teologie (en geloof) ontwikkel nie iewers langs en apart van ons lewensverhale nie. Inteendeel, dit is onmoontlik om op jou geloof en teologie te reflekteer sonder om jou lewensverhaal daarby in te bring. Dit is natuurlik ’n waagstuk, want dit stel jou baie bloot. Jy kan nie outobiografies werk en ook die skyn van geloofsekerheid probeer behou nie. As jy narratief en outobiografies te werk gaan, sal jy noodgedwonge kaalgestroop en eerlik anderkant uitkom.
Ek aanvaar dat daar in elke (outo)biografie ’n element van fiksie is. Waar is die grens tussen die feitelike en die fiktiewe in elk geval? Ek kan sê dat ek doelbewus probeer het om nie stories op te maak nie en my by die “feite” gehou het. Maar is die stories soos ek hulle onthou, nie reeds fiktief gekleur nie? Sal al die betrokke karakters dit soos ek onthou? Waarskynlik nie.
In Etienne van Heerden se 30 nagte in Amsterdam onthou die hoofkarakter Henk de Melker dat Stephen Oats geskryf het ’n biograaf is “’n kunstenaar onder eed”. Hy onthou dit na aanleiding van sy eie droom, waarin ’n sekere toneel so werklik geword het dat hy sukkel om droom van werklikheid te onderskei. Henk skrik vir sy eie droombeeld en herinner homself daaraan dat hy die gevaar loop om fiksie met feite te vermeng. En dan die retoriese vraag: Wat is die waarheid?
Daar is dus verskeie redes waarom die onderneming van enigiets (outo)biografies gevaarlik is. Afgesien van die kwesbaarheid van geheue wat op die dun lyn tussen feite en fiksie beweeg, is outobiografiese werk in verskeie ander opsigte waaghalsig en gevaarlik. Jy gaan van die veronderstelling uit dat lesers jóú lewensverhaal lesenswaardig sal vind. Hierdie is ’n vreesaanjaende gedagte en het my baie oor hierdie boek laat huiwer. Uiteindelik was dit egter onafwendbaar omdat hierdie verhaal, soos elke verhaal, ’n verteller soek. Of ek die beste verteller van my eie verhaal is, weet ek nie, maar ek kan die vertel ook nie langer vermy nie. Ek probeer ook nie die sogenaamde “lesenswaardige” dele van my verhaal uitsoek nie. Ek laat die skryfproses maar sy eie loop neem, wetende dat ’n eerlike teologiese refleksie juis die gewone en alledaagse na vore gaan roep. As teologie ’n verhalende gebeure is, dan is dit sekerlik in ’n mens se hele lewensverhaal veranker en nie net in die vrome en godsdienstige deel daarvan nie.
Die vraag is: Waarom skryf ’n mens iets en laat dit dan nie in ’n laai lê nie, maar publiseer dit? Hopelik is dit nie weens ’n soort ekshibisionisme nie, maar as ’n daad van vertroue dat jou lewensloop wel raakpunte met ander s’n het en dat ’n eerlike refleksie ook wyer betekenis mag hê. Jy hoop dat hierdie outobiografie wat met teologie in verband gebring word, ook ander biografieë as vorm van teologisering sal aanwakker.
Ek waag my juis in hierdie stadium van my lewe daaraan omdat ek daardie mistieke grens van 65 nader. Soos ander mense van my ouderdom moet ek myself posisioneer teenoor en binne die konsep van “op pensioen” gaan. Dit is een ding om jou kantoorsleutels vir jou werkgewer terug te gee; dit is ’n ander ding om jouself te midde van veranderende lewensomstandighede te handhaaf en te herontdek. Die skryf van hierdie boek is moontlik juis deel van my poging tot herontdekking en identiteit. Hoe ’n mens jou ook al posisioneer, aftrede bly ’n onvermydelike oorgang na ’n ander soort lewensfase. Ook daarom maak dit vir my sin om in hierdie stadium van my lewe outobiografies te werk, om by die omblaai na ’n volgende bladsy ’n bietjie terug te kyk en in die proses ook vorentoe te kyk. Daarom doen ek dit nou in plaas daarvan om tot op 90 te probeer wag en dan soos ds. A.F. Louw met ’n moedige titel soos My eerste neëntig jaar na vore te kom.
In ’n boek soos hierdie lê die waagstuk ook op die vlak van (on)volledigheid. My bedoeling is nie om ’n volledige outobiografie te probeer skryf nie. Daar bestaan in elk geval nie so iets soos ’n volledige outobiografie nie – wanneer is dit volledig? Om dieselfde rede bestaan daar ook nie so iets soos ’n volledige teologie nie.
Aan die einde van Amy Tan se boek Saving fish from drowning kom die verteller tot die slotsom: “That is the nature of endings, it seems. They never end. When all the missing pieces of your life are found, put together with the glue of memory and reason, there are more pieces to be found.”
In my geval is