Dan hoor Andi klieke van ’n ander aard. Sy kyk om en sien Nina, drie, poedelkaal by die trappe aftrippel in haar Barbie-hoëhakskoene. Bolle skuim kleef oral aan haar lyfie.
“Nina, kom terug!” gil Vera van bo af.
Nina het uit die bad ontsnap en is baie in haar skik daaroor. Arme Vera, dink Andi. Sy kyk vir Hano. Hy sien Nina nie eens nie. Hy maak nou klein geluidjies en sy kop ruk. Sy sal moet ingryp, besluit Andi, al is sy hoe bang vir kinders. Nina hardloop weg toe Andi op haar afpyl. In die kombuis gly haar skuimvoetjies op die teëls en sy val. Juig al wat leef. Nou is daar nog ’n geluid om by Riekert se gille, Jantjie se geblaf en die Playstation-doodskreune te voeg. Dit begin bedrieglik sag. Net so ’n hoë geteem, maar dan crescendo dit tot ’n allemintige martelaarskreet. Andi gryp haar aan die hand en sleep haar al skreeuend by die trappe op. Klein stoutgat.
“Dankie, An,” sê Vera waar sy op haar knieë voor die bad staan. Vera is so mooi, sien Andi weer. Klein met ’n fyn gesiggie en kort, donker pixie-hare wat veertjies maak oor haar voorkop en langs haar slape. Riekert speel nou op engelagtige wyse pienk en vrolik in die skuim op ’n manier wat ’n mens laat dink jy het nou-nou gehallusineer toe jy die duiwel self in sy oë kon sien.
Hy kyk sy suster verbysterd aan, asof sy waansinnig is om so te skree oor ’n heerlike skuimbad. “Jy gaan naughty chair toe,” waarsku Vera haar. Die naughty chair is hulle plaasvervanger vir lyfstraf. Die dreigement het geen uitwerking nie. Op die ou end kry sy Nina tevrede deur toe te laat dat sy met die Barbie-skoene en al in die bad klim.
“Hoe gaan dit by die werk?” vra Vera toe dit uiteindelik so stil en salig is dat hulle die skuimborreltjies kan hoor bars. Siestog, sy’s altyd so beleefd. Maak nie saak watter katastrofes in haar huis afspeel nie, sy sal altyd die ordentlike ding doen en in ander mense se lewe belangstel.
“Eintlik heel opwindend,” sê Andi. Sy’s nou ook op haar knieë voor die bad en maak klowe in die skuim met ’n Bratz-pop.
“Opwindend, sê jy?”
“Ek dink ek is op die rand van ’n onthulling oor Jack Greeff.”
Vera lag. “Jack Greeff!” sê sy. “Is jy seker daar is iets om te onthul buiten grys borshare?”
“Nee, hierdie is rêrig êrig,” sê Andi. Sy vertel Vera van die briefie onder die ruitveër en die vrou wat haar in die geheim wil sien om duistere dinge oor die ou man te vertel. “Dis alles baie Deep Throat en cloak and dagger,” giggel Andi.
“Jy beter net pasop. Jy weet nie wat hierdie vrou se motiewe is nie.”
“Nee, ek weet, ek weet. Ek sal dit mooi uitluister. En ons ontmoet darem in ’n openbare plek.”
“Moet net nie saam met haar iewers heen gaan nie, wat jy ook al doen.”
“Hm, ja, dalk is dit ’n lokval,” sê Andi.
Vera lag weer terwyl sy Riekert begin afdroog. “ ’n Lokval, sê jy? Deur wie nogal?”
“Ek weet nie.” Andi trek haar skouers op. “Dalk die Boeremag. Dalk wil hulle my hê vir hulle teelprogram. Hulle het my vrugbare heupe gesien en besluit hierdie een gaan eiehandig vir ons ’n wit meerderheid baar.”
Voordat Vera vir die grappie kan lag, gaan die badkamerdeur oop. Dis Hano. “Is jy oukei, Mamma?”
Hano en Vera noem mekaar al vir jare nie meer op hul voorname nie. Afhangend van die onderwerp onder bespreking, spreek hulle mekaar óf as “Mamma” en “Pappa” aan óf as “Ounooi” en “Oubaas”. As dit oor die kinders gaan, is dit Mamma en Pappa; as dit oor die honde gaan, is dit Ounooi en Oubaas: “Pappa, sit asseblief die pram in die Prado.” “Ounooi, kyk hoe mooi lê Jantjie in sy mandjie.” Andi wonder hoe ’n mens seks kan hê met iemand wat jy “Pappa” en “Oubaas” noem.
“Ja dankie, Pappa, Andi help my,” glimlag Vera vir Hano. Hy probeer nie eers sy verligting wegsteek nie en fluit “Prys die Heer met blye galme” toe hy die deur toetrek en in die gang afstap.
Vera het die wêreld se geduld. Met die kinders én met Hano. Hy help feitlik met niks nie en sy is altyd vriendelik met hom. “Hy het baie stres by die werk,” het sy al voorheen vir Andi gesê. “Hy kan nie nog by die huis met hierdie goed sukkel nie. Ek’s mos nou ’n huisvrou.”
Maar op ’n manier beny sy Vera. Sy is so uitgesorteer. Sy het die hele setup: ryk man, kinders, mooi huis met simmetriese, gesnoeide boompies voor die garage, beleggings in eiendom, waterfeature. Al die goed wat Andi se ma vir haar wil hê. En sy voel of sy dit nooit gaan kry nie. Een van die dae is sy dertig en sy’t nie eens ’n boyfriend nie.
“Jy’s so lucky, Veer,” sê sy. Hulle droog nou vir Nina ook af. “Op jou dertigste verjaardag kan jy weet jy hét ten minste iets.”
“Wat praat jy?” sê Vera. “Weet jy hoe wens ek soms ek was nog lekker single soos jy? Net verantwoordelik vir jouself. Kan enige ou date.”
“Ag,” sug Andi, “dating is overrated.”
Vera glimlag net. Andi sê: “Jy’s nou veronderstel om te sê ‘moederskap en Toskaanse villas ook’.”
Vera lag. “Oukei, moederskap en Toskaanse villas ook,” sê sy terwyl sy Nina in haar pienk Bratz-handdoek toedraai en vasdruk. Die twee lyk soos ’n voorblad vir Baba en Kleuter. Donker hare, pienk wange, blink oë.
“Ja, ek glo jou,” sê Andi sarkasties en gooi ’n bad-eendjie in haar rigting.
“Alles is nie altyd soos dit lyk nie, An,” sê Vera somber. Haar oë slaan vir ’n oomblik neer en sy byt op haar onderlip.
Andi is bekommerd. “Wat bedoel jy? Veer? Wat gaan aan?”
Maar toe Vera opkyk, is haar blosende Baba en Kleuter-gesig terug. “Ag, sommer niks nie.” Sy swiep Riekert in die lug op dat hy kraai van plesier. “Kom ons gaan sit die twee monsters in die bed.”
Goed. Hoe moeilik kan dit wees? Avokadovorm. Vandag is die dag dat sy vir haar ma gaan wys sy kán iets so eenvoudigs soos ’n avokadovorm maak. Sodat Elsabé Niemand nie weer, soos gewoonlik, onderlangs kan mompel: “Mens vra iets eenvoudig soos ’n avokadovorm ...” Dis wat haar ma doen: wanneer sy onvergenoegd of te nagekom voel, verwys sy altyd na haarself in die derde persoon.
Daar is ’n vreemde vloek oor Andi. Sy kán kosmaak. Regtig. Kook, bak, koeke versier, crème brulée met daardie blaasvlammetjie maak. Almal weet dit. Tussen hulle vriendinne is sy bekend as die meestersjef. Maar feitlik elke liewe keer wanneer sy iets vir haar ma moet maak, flop dit. Pavlova kan sy maak, soufflé, rolkoek, sjokoladeblaartjies, rooiwynpere en bloukaasroom, maar laat haar ma haar vra vir ’n eenvoudige noedelslaai en dit kom rampspoedig uit. Maar vandag gaan sy daai vloek breek. Vandag gaan sy haar ma beïndruk met die beste avokadovorm ooit.
Hoekom ’n mens ’n vrug of ’n groente wat heeltemal lekker en sappig of krakerig op sy eie is, wil verpulp en met jellie wil meng sodat dit skuimagtig word en dril en almal aan tafel daarvoor gril, verstaan sy nie. Maar ter wille van ’n goeie verhouding met haar moeder, gaan sy vanoggend ’n vormslaai maak, al is dit waarskynlik teen een of ander internasionale handves van menseregte.
Toe sy met al die bestanddele van Pick n Pay af terugkom, is dit 9:23. Dis bietjie laat en sy sal moet wikkel, maar alles is nog onder beheer.
Terwyl sy die avokado’s skil, dink sy aan Vera. Andi het ’n vreemde gevoel alles is nie pluis daar nie. Sy kan nie vir seker sê nie, en sy kan nie haar vinger daarop lê nie, want Vera sal nooit kla of vertel nie, maar iets is daar nie reg nie. Andi wéét dit. Dit help nie sy vra haar nie. Net soos wat wiskundige formules deel van Vera se aard is, is dit in haar om die blink kant bo te hou. Vera se dowwe kant, haar seer kant, sien jy net as iets haar heeltemal omgooi en sy op haar blink kant val, sodat niks anders as die dowwe kant kan wys nie. En Andi het ’n gevoel dit is presies wat aan die gebeur is ...