“Ek … Liefie, jy moet darem weet. Ek drink nie meer nie. Ek is ’n ander mens.”
“Verbasend. Of miskien tog nie; was daar nie ’n tyd toe jy elke week opgehou het met drink nie?”
“Ek het behandeling ontvang. Agt weke lank. Ek het ses maande laas gedrink. Nou drink ek ses glase melk per dag, weet jy.”
“Dié wat jou snor so wit is,” sê sy voordat sy haar kan keer. Sy besef dat sy nou darem gemeen was, en dit veroorsaak ’n prikkie van die gewete. Sy versag effens. “Gaan nou terug, Jack, en kom oor ses maande weer. As jy dan nog nie weer begin drink het nie, kan ons gesels.”
“Maar ek sal nie, Liefie – ek bedoel, weer begin drink nie. Waarom sal ek nou, as ek weet dit doen my nie goed nie?”
“Dis ’n baie duur proefneming, Jack; en ek weier dat Lettie en Berdine die konyne is. Kom terug as dit ’n feit is dat jy nooit weer sal drink nie. Bring ’n beëdigde verklaring saam, indien moontlik.”
“Maar, Liefie …”
Sy waai sy protes met haar hand weg, amper asof dit ’n vlieg is. “Kom terug oor ses maande, Jack.” Daar bestaan weinig twyfel by haar dat sy soberheid dan nie meer sal voortduur nie. En dis nou eenmaal so dat iets in hom drasties bots met drank. Hy ondergaan ’n totale verandering van persoonlikheid sodra hy in die bottel kyk. Andersins is hy nie te onaardig nie, erken sy met ’n mate van onwilligheid.
Nee, besluit sy dan weer met harde onbuigsaamheid. Lettie en Berdine behoort aan haar, Laurie, Sjimmie en Die Drie. Nie aan hierdie halm in die wind nie.
“Jy kan my nie hierdie dorp belet nie, Liefie.”
“Maar ek belet jou Die Drie. En ek belet jou enige toenadering tot Lettie of Berdine.”
“Jy’t nie die reg om …”
“Ek het weer en weer die reg. Ek kan in die hof getuig, as dit moet, in watter toestand jy hulle twee gehad het. En van hof gepraat, ek dink dit raak tyd vir ’n egskeiding.”
Sy wit winkbroue skiet op. “Maar ek wil nie skei nie! En jy’t nou net gesê ek kan oor ses maande weer kom,” herinner hy haar wrokkig.
“As jy kan bewys dat jy niks gedrink het nie. En hoe sal jy dit doen?”
“Hoe de duiwel, vra ek jou. Ek kan net my woord gee …”
“Dié is nie genoeg nie.”
“Luister, Liefie.” Hy smeek nou. “Kom ons maak anders. Kom jy gee Lettie en Berdine vir my vir ses maande. Dan kyk ons …”
“Jammer, Jack. Ek het jou reeds gesê: dis ’n te duur proefneming om met sulke kosbare mensemateriaal uit te voer.”
“Wat kan jy presies doen om te belet dat ek eenvoudig my vrou en kind gaan vat?”
“Ek is Lettie se ouers, Jack. Ek weet beter as sy wat goed is vir haar. Probeer jy, dan sal jy sien wat ek kan doen. Ek stuit vir geen duiwel nie.”
“Ek ook nie.” Hy probeer dit net so fier soos sy sê, maar kan nie help om te voel hoe hy innerlik verkrummel voor haar blik nie.
“Jy en wie nog?” spot sy.
“Jy moet my darem nie beledig nie, Liefie. Ek sal ’n verkeerde perd opklim.”
“Onthou net, jy is hervorm. Tot siens, Jack. Voorspoedige reis terug.” Sy vertrek sonder ’n groet. Sy stel haar voor hoe hy haar agternastaar, saamgetrokke wit wenkbroue bo die glurende blou oë.
Op die stoep draai sy om. “Kan jy my sê in watter kamer ene juffrou Annette Durandt is?” vra sy asof hulle geen verskil van watter aard ook al gehad het nie.
“Dit traak my nie,” sê hy nors.
“Hoe jammer. Ek moet haar spreek. Dringend.”
Sy laat hom net daar staan en stap die paar treë stoeplangs na kamer 15. Sy weet reeds dat dit die meisie se kamer is.
Haar doel met die enkele woorde het sy egter bereik. Terwyl Jack nog in sy oop deur staan, begin hy dink. Wat sal nou skielik so dringend wees? Sy weet nie eers mooi in watter kamer die meisie is nie. Sy soek natuurlik iemand wat as speurder kan optree, sy bewegings kan dophou en rapporteer. Liefie doen mos geen halwe werk nie, vervlaks.
Hy klap die deur agter hom toe.
Liefie hoor dit waar sy voor die toe deur van kamer 15 wag en die albasterharde blik in haar bruin kykers versag. Sy glimlag effens. Sy kan sweer dat hy nou hunker na ’n drankie. Dit moes vir hom veel gekos het om vir behandeling te gaan. Maar hy het dit gedoen as ’n middel tot ’n doel. Sodra hy vir Lettie terug het, is die weerstand teen die drank nie meer nodig nie. Nee, dankie, daarvoor sal sy, Liefie Hugo, sorg.
Die deur waaraan sy pas geklop het, word oopgemaak. Die jong meisie voor haar is kaalvoet. ’n Oomblik wil Liefie haar verbeel dat sy ’n vasgekeerdheid in die grysblou kykers gewaar. Intuïtief voel sy aan dat die meisie terugdeins van vreemdelinge.
Binne ’n paar oomblikke neem Liefie elke besonderheid in haar voorkoms waar. Haar hoofindruk is die van ’n stil, sterk gesig met ’n gesonde gelaatskleur. Ligte, halflang hare. Sy is effens langer as Liefie, en baie slank.
“Goeiemiddag,” sê sy.
“Goeiemiddag,” antwoord Liefie. “Juffrou Durandt?”
“Dis reg. Wil u binnekom?” Daar lui nie klokkies in haar stem nie en daar lig nie liggies in haar oë nie. Sy beweeg soos sy lyk en praat, stil en onopvallend. Eers nadat sy beweeg het, tref dit ’n mens dat die beweging afgerond en ritmies was. ’n Skugter seilskippie op stil water, besluit Liefie.
Dat Laurie oor haar gaande kon raak, is bykans amusant. Hy wat so ’n ekspressiewe geaardheid het, wie se gemoedstoestand binne oomblikke kan omswaai. Dis dan seker die wet van teenoorgesteldes, besluit sy toe sy na binne stap. Of sommer een van Laurie se vlae van belangstelling wat ewe gou sal oorwaai as wat dit posgevat het. Hy is reeds sewe en twintig sonder dat hy nog ooit ’n blywende verhouding aangeknoop het. Sy het in stilte maar gehoop dat hy later heeltemal immuun sou raak, soos Sjimmie. Al het laasgenoemde dan langs ’n moeilike weg daarby uitgekom.
“Ek is Hugo,” sê Liefie. “Almal noem my Liefie.”
“Bly te kenne, mevrou Hugo,” sê die meisie ietwat versigtig.
“As jy dan nie my wenk wil neem nie, noem my juffrou,” reageer Liefie effens skerp.
Die meisie byt verleë haar lip. “Dan liewer Liefie,” stem sy in. Waarskynlik die voorsitster van die een of ander vereniging, besluit sy in stilte. Die vrou lyk so bekwaam en selfversekerd. “My naam is Annette, Liefie.”
“Gaaf, Annette. As jy hoor vir hoe ’n belaglike sakie ek hier is, is die voorstellery amper oorbodig.”
“Toe maar,” sê Annette by gebrek aan ’n beter antwoord. “Wil jy nie sit nie?”
“Dankie,” sê Liefie en gaan sit op ’n gestoffeerde stoeltjie met ’n ligte, besondere ontwerp. “Jou eie meubels?” Sy moet erken dat die kamer baie aantrekliker as Jack s’n daar uitsien. Die divan het ’n geplooide oortreksel en teen die venster is ’n staander met ruie potplante. Die groen loof staan doodstil teen die lig van die venster, beskeie en swygsaam soos die meisie wat hulle daar geplaas het.
“Ja,” sê Annette. “Ek sal seker binnekort oortrek na ’n huis, sodra ek een kry.”
“Jy gaan tog nie alleen daar intrek nie?” Liefie voel nogal besorg.