Noot vir dood. Ilza Roggeband. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ilza Roggeband
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780795800757
Скачать книгу
al van plan verander?” het sy gevra.

      “Tertia, dit gaan nie gebeur nie. As dit enigsins help, ek is jammer. Ek is jammer oor gisteraand en ek is jammer as ek jou dalk aanleiding gegee het.”

      “Aanleiding? Aanleiding? My fok, ons het seks gehad!” het sy geskreeu.

      Hy het om hom gekyk, bang iemand hoor haar.

      “Ek weet, ek is jammer. Verstaan asseblief. Ek is regtig jammer.”

      “Jammer se gat! Jy weet nog net nie wat ek vir jou in jou loopbaan kan beteken nie!”

      “Ek moet nou gaan. Ek is regtig jammer.”

      Hy het in sy bakkie geklim en weggery. By die koshuis het hy dadelik vir Linda gebel.

      “Tertia was by die ander twee optredes en het nou by my bakkie gewag.”

      “Daai vrou is ongelooflik. Haar vel is so dik soos ’n renoster s’n. Wat het sy gesê?”

      “Sy het gesê ek besef nie wat sy vir my in my loopbaan kan beteken nie.”

      Linda het gelag.

      “Nee wat, daaroor moet jy jou nie bekommer nie. Sy het ’n baie slegte reputasie en hoe sy nog ’n werk het, gaan my verstand te bowe. Mense neem gewoonlik haar stories met ’n knippie sout, maar dit beteken nie dat jy nie versigtig moet wees nie. Kom ons kyk eers of sy iets gaan skryf. Ons hanteer dit van daar.”

      Carel het die aand op sy koshuiskateltjie lê en lees. Al nege­uur sy lig afgeskakel.

      Die volgende twee dae het dit goed gegaan. Daar was elke keer meer mense en teen die Saterdagoggend was al die CD’s wat hy saamgebring het, verkoop. Mense het gevra waar hulle hom vir ’n konsert kan bespreek en hy was verlig dat hy vir hulle Linda se nommer kon gee.

      En elke keer was Tertia daar. Nie met hom gepraat nie, net naby genoeg dat hy kon agterkom sy is daar.

      4

      Nuus24.com; 11.46 vm.

      2 Februarie 2012

       Joernalis vermoor vir selfoon en beursie

      Deur Sophia Lategan

      Die joernalis Tertia Viviers (35) is gisteraand voor haar huis in Tableview vermoor. Cynthia Cupido, woordvoerder van die Tableview-polisiekantoor, het gesê slegs Viviers se beursie en selfoon word vermis.

      “Haar lyk is vroeg vanoggend deur haar buurvrou gevind,” het Cupido in ’n verklaring gesê. “Dit is in hierdie stadium nie seker of die motief vir die moord slegs diefstal was nie en daar is nog geen verdagtes nie.”

      Viviers was ná haar dramastudie aan die Universiteit Stellenbosch vir ’n wyle betrokke by kinderteater, waarna sy ’n paar weke in die sepie Mooirivier te sien was. Daar was toe gerugte dat sy gevra is om dié langs lopende sepie in Suid-Afrika te verlaat as gevolg van haar laatkommery en die feit dat sy nie altyd voorberei het nie.

      “Ons is baie jammer om van Tertia se ontydige dood te hoor,” het Elsabé Louw, woordvoerder van Mooirivier, gesê. “Ons innige simpatie met haar naasbestaandes.”

      Louw wou geen kommentaar lewer oor die tyd toe Viviers onder ’n wolk by Mooirivier weg is nie.

      Simon van Wyk, redakteur van Scoop, die skinderblad waarvoor Viviers gewerk het, het gesê sy laat ’n groot leemte.

      “Tertia was dalk nie die gewildste joernalis nie, maar sy het nie opgegee voor sy ’n storie gekry het nie,” het hy bygevoeg.

      Viviers het kort nadat sy by Mooirivier weg is, by Scoop begin werk. Daar is gesê dat sy juis die werk gekry het omdat sy soveel mense in die vermaakbedryf geken het. Sy was verantwoordelik vir verskeie skinderstories wat die lewe vir bekendes moeilik gemaak het. Van die onlangse skandale wat sy uitgekrap het, was die verhouding tussen die getroude rugbyspeler Wian Klopper en die Springbokke se fisioterapeut, Telanie Schutte, en die feit dat die Afrikaanse sangeres Mari-Lou haar matrieksertifikaat vervals het.

      Van die bekendes wat nie wou kommentaar lewer oor Viviers se dood nie, is die sanger Carel Strydom, die sangeres Anél Burger en die Mooirivier-spelers Nico de Jongh, Annemarie Nortier en Samuel Jacobs.

      Begrafnisreëlings is nog nie bekendgemaak nie. Viviers, wat ongetroud was, word oorleef deur haar ma en suster.

      5

      Dis seker verkeerd, dink Azania Paulse, maar sy is bly Tertia Viviers is dood. Sy is jammer vir haar ma en suster, maar die wêreld is ’n beter plek sonder mense soos Tertia.

      As dit nie vir haar was nie, dink Azania, as dit net nie vir haar was nie …

      Sy wil nie bitter wees nie, maar sy kan dit nie help nie. Tertia Viviers het gekrap waar dit nie gejeuk het nie. Azania se verlede gaan oopkrap en daaroor in die koerant geskryf sodat haar swaarkry openbaar kon word vir ander se vermaak. Vir die land vertel van Azania se lewe in die plakkerskamp, haar dronk ma, haar pa wat sy nooit geken het nie. Geskryf dat haar suiplap-ma bruin was, maar haar pa swart, en dat dit is hoekom Azania so ’n donker vel maar gladde hare het. Asof dit saak maak! Asof haar DNS iets met haar talent te doen het.

      Tertia het met haar giftige pen mense mooi laat verstaan dat niks goeds ooit uit ’n plakkerskamp kan kom nie. Dat Azania se loopbaan dood was nog voor dit begin het. Wie wil tog nou iemand ’n kans gee of vir ’n konsert bespreek as sy dalk nie eens met ’n mes en vurk kan eet nie? Of dalk suip soos haar ma?

      Natuurlik nie ’n woord geskryf oor haar Ouma Annie wat haar met liefde grootgemaak het nie. Ouma Annie wat die klere aan haar lyf sou gee om te sorg dat Azania iets van haar lewe maak. Uit die haglike omstandighede kom en haar stem gebruik om die stof van die plakkerskamp af te skud.

      Toe Ouma Annie geld gespaar het sodat Azania ’n taxi na die Idols-oudisie kon neem, het Azania geweet dis genoeg geld vir ’n brood, dalk ’n halfliter melk, ’n paar rand om elektrisiteit mee te koop. Bloedgeld.

      Sy het die vorige jaar matriek geskryf, maar werk was skaars. Haar ouma het geweier dat sy huise skoonmaak soos sy. Geld vir verder leer was daar nie. Wanneer sy aangeklop het vir werk, was die antwoorde altyd dieselfde: al die poste is gevul; ons het iemand nodig met meer as net ’n matrieksertifikaat; jammer, nie vandag nie.

      Intussen het sy elke oomblik wat sy kon, gesing. Na die radio­tjie in hulle kombuis geluister en saamgesing. Woorde gememoriseer en neergeskryf. Gesing in die kerk en wanneer mense haar gevra het om by partytjies op te tree. Sonder begeleiding, want geld daarvoor was daar beslis nie. Sy het in haar hart geweet dat Ouma Annie reg was – as iets haar uit hierdie sinkhuis-hel gaan kry, gaan dit haar stem wees.

      Azania kyk op haar horlosie. Dis amper twaalfuur. Sy moet wikkel as sy betyds by die kleuterskool wil wees. Rosa haat dit tog so om te wag.

      Rosa. Die lig in haar lewe. Haar klein krulkopdogtertjie met die mooi oë wat haar geleer het wat liefde is. Vyf jaar oud, maar met soveel wysheid. ’n Skoon siel wat ’n vreugde is vir enigiemand wat met haar te doen kry.

      Rosa. Azania sal alles doen om te keer dat sy die kinderjare het wat sy self gehad het. Sy kon nie verhoed dat Rosa ook sonder ’n pa grootword nie, maar sy sal sorg dat daar nooit stories is wat haar lewe sal verwoes nie.

      Rosa, die kind wat sy tot die dood sal beskerm.

      6

      “Weet jy wie is Nico de Jongh?”

      Carel kyk na André Smit. André is ’n groot man en sy dubbelken sit wyd onder sy kakebeen. Hy is in sy laat dertigs en sy swart hare, wat plek-plek grys word, is kort gesny, sy donkerbruin oë diep in hulle kasse. Hier waar hy agter sy lessenaar by Encore Musiek sit, beur die knope van sy hemp teen sy groot maag en skuif hy aanhoudend rond. Maak hy aanmekaar sy rug reguit soos een wat ongemaklik sit, ’n lyf wat swaar dra aan al die ekstra gewig.

      “Nico de Jongh, die akteur?”

      “Ja,