Noot vir dood. Ilza Roggeband. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ilza Roggeband
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Ужасы и Мистика
Год издания: 0
isbn: 9780795800757
Скачать книгу
weet, ek het haar gesien. Natuurlik nie met haar gepraat nie. Niks vir die vrou te sê nie! Die cheek wat sy het om haarself altyd oral in te wurm. Maar foei tog, dis seker nie ’n manier om dood te gaan nie.”

      “Nee, seker nie.” Carel se kop is ’n warboel. Hy het ook nie by die partytjie met Tertia gepraat nie, maar het geweet sy hou hom dop. Dit was asof sy die hele tyd net ’n paar sentimeter van hom af gestaan het. Alles geluister het wat hy gepraat het. Met haar swartomlynde oë en mond altyd op ’n plooi getrek asof sy iets slegs ruik. En altyd met ’n glas in die hand.

      “Wil jy kommentaar lewer? Moet ek vir Sophia iets stuur?” vra Linda.

      “Nee. Nee wag, dalk moet ek. Ek weet nie. Laat ek daaroor dink,” sê hy.

      Daar is ’n stilte.

      “Carel, dink jy sy het geweet?”

      Hy weet dadelik waarvan sy praat.

      “Nee, hoe kon sy?” Hy sug, laat sak sy kop in sy hand. “Maar met haar het mens nooit geweet nie. Bliksem, sy kon so krap en krap! Linda, daar is net vier van ons wat weet, nee, vyf, want Alma weet ook, en nie een van ons sal praat nie.”

      “Maar ek en jy het gisteraand … ”

      “Ek weet ons het vinnig daaroor gepraat, maar hoe sou sy kon hoor?”

      “Ek weet nie. Ek wonder maar net. En as sy dalk die inligting gehad het, hoeveel ander mense het daarvan geweet?”

      “Kom ons hoop niemand nie. Ek gaan nou stort. Ek bel jou later.”

      “OK, bye. Praat later.”

      Carel staan op en gaan badkamer toe. Kyk vir homself in die spieël. Tertia Viviers is dood. Die doring in sy vlees is met ’n skerp lem uitgesny.

      Jy is ’n slapgat, Carel Strydom. Jy moes al lankal eerlik gewees het. Die wêreld en sy vrou vertel het van jou groot geheim. Hoe erg kan dit nou wees? Maar is die feit dat hy dit al so lank wegsteek, nie deel van die probleem nie? Gaan mense hom nie juis kruisig omdat hy so lank vir hulle gelieg het nie?

      Hy sal seker vir Alma ook van Tertia moet laat weet. Alma O’Kennedy, een van die min mense in sy lewe wat hy werklik vertrou. Sy assistent die afgelope vyf jaar, wat oral saam met hom reis en sorg dat sy lewe glad loop. Liewe Alma wat nie ’n vlieg sal skade doen nie, maar soos ’n leeuwyfie sal baklei om hom te beskerm.

      Hy en Tertia het mekaar die eerste keer ses jaar terug ontmoet. Sy eerste CD is pas bekendgestel en mense het van hom begin praat as die nuwe hoop vir Afrikaanse musiek. Dit was by die KKNK en hy het van die een verhoog na die ander gegaan en sonder betaling gesing. Encore Musiek, die musiekmaatskappy met wie hy kort tevore ’n kontrak geteken het, het gesorg vir plakkate, maar dit was hy wat dit tot die vroeë oggendure teen die lamppale vasgesit het.

      Die foto op die plakkaat is geneem by ’n goedkoop ateljee in Kaapstad, maar daar was nie geld vir ’n stilis en iemand om te sorg dat sy neus en voorkop nie te veel blink nie. Sy vaalblonde hare het geraak-raak aan sy kraag. Die langerige kuif was tot teenaan sy wenkbroue. Die ligblou hemp op die foto is een wat hy by Mr Price gekoop het, die jeans ’n paar Levi’s wat al jare in sy kas was.

      Hy het alleen gereis. Met die bokse CD’s en sy kitaar agter in sy bakkie en ’n geldkissie vir die kontant. Mense het geluister terwyl hulle die een bier ná die ander gedrink het en aan die einde van die fees was hy, asook die musiekmaatskappy, ’n paar rand ryker. Sy eerste groot treë na sukses is in die Klein Karoo gegee.

      Hy was meestal alleen en saans het hy na die koshuiskamer gegaan wat hy gehuur het vir die tyd by die fees. Soggens het hy tougestaan by die badkamers en gehoop daar is nog warm water oor.

      Dit was net daardie een aand. Daardie een onbesonne aand wat hy besluit het om te gaan kyk hoe die naglewe by ’n fees lyk.

      Volgens almal was Al Capone die plek om te kuier. Die watergat waar mense nog ’n laaste bier of dop of die een of ander gif in klein glasies gedrink het.

      Carel het vinnig besef as jy op ’n verhoog is, is jy vir die meeste vroue soos ’n magneet. Sit ’n mikrofoon in jou hand en die vroue gooi hulleself vir jou.

      Hy het geweet, gewéét hy moenie drink nie. Maar een bier sal tog nie skade aanrig nie? Hy het immers iets gehad om te vier. Goeie verkope, ’n goeie fees. Een bier het twee geword. Iemand het vir hom nog ’n drankie gekoop, ’n vrou het twee shooters aangedra. Ná daardie eerste twee biere het hy nie een keer vir sy eie drank betaal nie. Later het dit jolig gegaan. Hy het begin ontspan, grappies gemaak en met vreemde mense gesels. Hy het ’n persoonlikheid gekry wat hy nie sonder drank gehad het nie.

      Saam met die aandag van vroue kom daar ander moeilikheid. Mans hou nie daarvan as hulle meisies ’n ou aanstaar nie. Ook nie as hulle vir hom drank aandra nie. Carel het die aandag geniet, maar ’n groot man met piesangtrosse vir hande het besluit hy het genoeg gehad. Hy het tot voor Carel gestap, hom in die oë gekyk en gesê: “Jy dink jy’s die kat se gat, nè? Moffie-sangertjie wat seker koor op skool gesing het. Kyk nog een keer na my girl en ek bliksem vir jou.”

      Carel het probeer verduidelik, maar dit het nie gehelp nie.

      “Ek belowe ek stel nie in jou girl belang nie.”

      “Wat?! Sê jy my girl is lelik? Wat is fout met haar? Jy het nog net tien CD’s verkoop en jy dink klaar jy is God’s gift to women. Arrogante klein bliksem!” het die man hom toegesnou.

      Carel het besef hy gaan nie wen nie en het omgedraai en weggestap.

      “Ek watch vir jou!” het die man nog agternageskreeu, maar Carel het gemaak of hy nie hoor nie.

      By ’n stiller plek in die ou huis wat as kuierplek omskep is, het hy teen ’n muur gaan staan.

      “Jy gaan moet gewoond raak daaraan,” het ’n vrou vir hom gesê.

      “Waaraan?”

      “Die aandag.”

      Carel het na die vrou gekyk. Sy was seker in haar laat twintigs, nie te lelik nie. ’n Paar jaar ouer as hy, maar met oë wat nie wyk nie en ’n borsmaat wat sy nie skaam was om te wys nie.

      “Ek dink nie ek sal ooit gewoond raak daaraan nie,” het hy geantwoord.

      “My naam is Tertia Viviers,” het sy gesê en haar hand uitgesteek.

      “Hallo, ek is … ”

      “Ek weet wie jy is. Ek het vanoggend na jou geluister by die Huisgenoot-verhoog. Jy is goed.”

      “Dankie. Ek het hard gewerk … ”

      “Natuurlik het jy. Mens kan dit hoor. So, vertel my, wat is jou storie?”

      Die vrou se blonde hare het los op haar skouers gehang. Haar grimering was met ’n swaar hand aangewend en die donker potloodstrepe het dik onder haar oë gelê. Dit het gelyk of haar klere een nommer te klein is.

      Hy het later besef dit was die alkohol wat sy mond so los gemaak het.

      “Ek kom van Saldanha. Daar grootgeword en skoolgegaan. Daar was nie geld vir verder leer nie. Ek sing nog altyd. Gehoop iemand sien my eendag raak. En iemand het. Ek het by ’n kuier­plek gesing toe André van Encore Musiek my raakgesien het. Hy het my ’n kontrak aangebied en hier is ek nou.”

      “Weskusklong? Met soutwater in jou are?”

      “Ja, seker.”

      “Gaan jy ’n shooter saam met my drink?” het Tertia gevra.

      Sy lyf was warm, die smaak van sukses nog ’n nuwigheid.

      “Ja, hoekom nie?”

      Hy kon die volgende oggend nie onthou hoeveel hy gedrink het nie. Daar was om die waarheid te sê dele van die aand waarvan hy niks geweet het nie. Toe hy baie vroeg in haar bed by haar gastehuis wakker word, was hy dankbaar dat sy nog slaap. Hy het versigtig opgestaan, sy klere aangetrek en uitgesluip.

      Die warm son van die Klein Karoo