ILZA ROGGEBAND
NOOD VIR DOOD
Queillerie
Vir my seun, Zac Roggeband Steyn,
en ook my ouers, Willie en Esbé Roggeband,
wat my lief gemaak het vir boeke en musiek.
1
Sy blaai deur die plakboek tot sy by die eerste leë bladsy kom. Neem die stafie gom en smeer van dit versigtig op die agterkant van die tydskriffoto wat sy uitgeknip het. Sy plak dit sekuur vas en kyk tevrede daarna. Sy lees weer die onderskrif: “Die gewilde sanger Carel Strydom het onlangs sy vierde platinum-toekenning ontvang vir verkope van meer as 40 000 vir sy nuwe album, Maanmens. Die album het hierdie prestasie behaal slegs vyf weke nadat dit uitgereik is. ‘Ek is baie dankbaar vir die sukses,’ het Strydom gesê. ‘Die Afrikaanse musiekmark gaan deur ’n moeilike tyd en ek is bly my aanhangers ondersteun nog my musiek.’”
Sy vryf saggies oor sy gesig. Haar vingers huiwer by sy mond. Eendag, dink sy, eendag gaan ek daardie mond soen.
Sy maak die plakboek toe, sit dit op die rak by die ander. Sy stap na haar CD-speler en druk die speel-knoppie.
Hoe lank moet ek nog wag?
Waar is jy, engel van my hart?
Hoeveel ure moet ek alleen
deur hierdie wêreld gaan?
Dis ek, Carel, dis ek. Jy weet dit nog net nie, maar dis ek. Dis na my wat jy so soek.
2
Jägermeister. So walglik, so wonderlik.
Tertia Viviers lek oor haar lippe. Sy proe nog die bruin vloeistof en lek effens harder om die smaak vir oulaas te geniet. Daardie laaste een was dalk nie nodig nie, maar o so lekker. Soos medisyne, maar medisyne wat sy graag drink. Gereeld en baie.
Sy stap deur die parkeerarea tot by haar kar. Mik-mik met die sleutel na die sleutelgat. Sit haar hand op die kar se dak sodat sy beter kan balanseer.
Mik weer en kry dit hierdie keer in. Draai die sleutel en val amper om toe sy die deur oopmaak.
Ek moet dalk nie bestuur nie, dink sy. Maar wie sal haar tog kan huis toe vat? Dis nie asof sy met ope arms by die partytjie ontvang is nie. Donnerse musiekmaatskappy! Skryf een ou skinderstorietjie oor een van hulle ou sterretjies en dan is jy skielik van die party-lys af. Nie dat sy haar laat onderkry nie. Sy daag eenvoudig net op. Hang buite die deur rond tot sy iemand sien in wie se goeie boekies sy nog is. Daar is altyd iemand wat sal sorg dat sy kan inkom. En dit maak nie saak of sy nie ’n formele uitnodiging gekry het om te weet waar en wanneer dinge gebeur nie – met Facebook weet mens deesdae in elk geval waar almal die hele flippen tyd is. So voorspelbaar.
Tog snaaks wat sommige mense vir publisiteit sal doen, dink sy terwyl sy die sleutel in die aansitter draai. Die stories wat mense al vir haar oor hulleself aangedra het, is iets verskrikliks. Skandes! Skinder! Sensasie! Enigiets om tog net hulle gesiggie in die media te sien. Talentlose klomp gemors, dink Tertia.
Die kar gee ’n ruk en stol. Sy draai weer die sleutel en ry rukkerig vorentoe. Konsentreer, Tertia, konsentreer. Die laaste ding wat jy nodig het, is ’n klag van dronkbestuur.
Sy ry so versigtig as wat sy kan. Probeer om by die spoedbeperking te hou.
By die Waterfront uit, links by die verkeerslig. Amper ’n kilometer op die N1 en dan die Tableview-afrit. Konsentreer, konsentreer, konsentreer.
Môreoggend moet sy vars op kantoor wees. Sy gaan moet onthou wat sy alles vanaand gesien en gehoor het.
Die hoogheilige Carel Strydom gaan sy gat sien, dink sy. Altyd so preuts en vriendelik met sy blou ogies en lang kuif. Maar dít gaan hom sink. Hy en Linda het sag gepraat, maar sy het elke woord gehoor.
Sy kan net dink wat hy alles gaan probeer doen om die skandaal te keer. Natuurlik sal sy hom môre bel om te sê dat sy die inligting gaan gebruik. Hy moet weet. Hy moet panic. Hy moenie ’n oog toemaak voor die koerant op straat is nie. Hy moet weet dat sy, Tertia Viviers, sy loopbaan gaan verwoes.
Boontjie kry sy loontjie. ’n Oog vir ’n oog. Die wiel draai. The sweet taste of revenge.
O, sy kry so lekker. Hierdie storie laat haar tone krul, dis so sappig en skandalig.
Sy kan nie glo dat sy dit nog nooit raakgesien het nie. Twee en twee bymekaargesit het nie. Dit was altyd daar. Hoe hy dit reggekry het om dit so lank weg te steek, weet sy nie. Sy fans sal hom baie vergewe, maar nie hierdie een nie. Hy het sy laaste konsert in ’n kerksaal gehou, dis donners seker.
Sy maak haar een oog toe om te sien of sy beter kan fokus. Maak dit weer oop en skrik toe ’n ander kar vinnig by haar verbyry.
Deur Milnerton en Sunset Beach, verby Rietvlei aan haar regterkant. By Blaauwbergweg draai sy links en by die volgende verkeerslig regs. Amper daar, amper daar.
Sy stop voor haar huis. Dis al donker en stil by die kompleks.
Ek gaan nie vanaand my kar in die motorhuis intrek nie, te veel moeite, dink sy.
Sy sien dis amper eenuur. G’n wonder dis so stil nie.
Sy klim uit en laat val haar handsak.
“Bliksem tog,” mompel sy.
Kom strompelend regop. Krap in haar handsak en vat haar huissleutels raak. Sy stap na die voordeur en probeer in die bietjie helderte van die straatlig die regte sleutel tussen die ander raakvat.
Sy hoor nie die sagte voetstappe agter haar nie. Die eerste hou val hard en met mening. Dit gooi haar van balans af. Sy keer met haar een hand teen die muur. Probeer regop kom.
“Wat … ” sê Tertia, verdwaas oor hoe seer dit is. Sy lig haar hand op om aan haar kop te vat, probeer draai om te sien waar hierdie verskriklike pyn vandaan kom. Sy voel hoe bloed uit die wond begin loop. Ek sal my hare moet was, dink sy.
Die tweede hou tref haar teen haar slaap. Haar knieë swik weer. Sy sak af en val vooroor.
“Wie … moenie … ” Sy is verward, verstaan nie wat besig is om te gebeur nie. Sy wil gil, maar sy kan nie. Maak haar mond oop, probeer iets sê. Niks nie. Sy verstaan nie …
Sy probeer weer regop kom. Druk met haar hande op die plaveisel. Druk harder. Niks in haar liggaam wil werk nie. Sy draai haar kop. Sien die donker figuur wat afbuk na haar toe.
Sy voel iets teen haar keel. Probeer wegruk en sien die skerp lem sekondes voor dit die hoofslagaar in haar nek oopsny.
3
“Het jy gehoor?”
Carel kom regop in sy bed, vee die hare uit sy oë. Die selfoon het hom gewek uit ’n diep slaap.
“Wie praat nou?” vra hy.
“Goeiste, slaap jy nog? Dis Linda.”
Carel herken sy agent se stem, kyk na sy selfoon se skerm en sien nou eers haar naam.
Hoe laat is dit? Hy kyk op sy horlosie. Halfagt.
“Hallo,” sê hy hees. “Skuus, ja, ek het nog geslaap. Het ek wat gehoor?”
“Tertia Viviers is gisteraand dood. Iemand het haar voor haar huis oorval, haar nek met ’n mes oopgesny. Sy het glo doodgebloei. Net haar beursie en haar selfoon is gesteel.”
Carel word koud.
“Hoe … hoe … weet jy?” vra hy deurmekaar.
“Dis groot nuus op die radio en Sophia Lategan van Die Burger het my netnou gebel om te hoor of ek enige kommentaar het. Sy wil natuurlik by jou ook weet of jy iets te sê het. Ek het vir haar gesê ek sal by jou hoor, maar ek glo nie jy sal nie.”
Carel swaai sy bene van die bed af. Sit geboë vooroor.