B
bakatel — kleinigheid
In Latyn het baga “vasbind (in bondels)” beteken wat later in Frans bagage “bagasie” sou word. Maar as moeder na vader luister en nie die hele huishouding plus die kat op vakansie saamneem nie, is daar net klein pakkies in die bagasie – kleinighede wat as bakatelle beskou kan word. Bagasie het later na onbelangrike bondels verwys wat kort daarna as vullis beskou is. In hierdie sin het die Franse bagasse gebruik vir ’n nuttelose vrou wat agter die soldate se kamp aangetrek het en ongetwyfeld haar rantsoen horisontaal verdien het.
In Italiaans was bagatella ook onder meer ’n bessie — iets kleins dus.
bakterie — eensellige organisme
Die eerste bakterieë wat met die mikroskoop gesien is, het soos stokkies gelyk en is dus daarna vernoem (Grieks bakterion “staffie”).
bal — gewoonlik formele dansparty
Dit is maklik om die woord terug te voer na die Latynse ballare “om te dans” – maar daar is ’n stertjie aan. In die Middeleeue is op verskeie plekke in Europa (veral Napels in Italië) ’n eienaardige speletjie in die kerk deur die deken van die kerk en die koorseuns gespeel. Dit is die Gekkefees genoem. Die seuns het om die deken gedans en gesing terwyl hulle ’n bal vang wat hy na hulle toe gooi. Daar is ook gespot met die kerklike instellings. Die bal is agterna weggegooi, maar die dansritme is ballade genoem – as ’n mens die bron kan glo.
balalaika — Russiese driehoekvormige snaarinstrument
Waar ’n mens deesdae in ’n musiekuitvoering nie op jou tande mag kners sonder dat die geluid jou buurman aanstoot gee nie, het die vroeë spelers van die balalaika ’n gebabbel om hulle verdra. Altans, so lyk dit as ’n mens in ag neem dat die instrument sy naam van ’n Russiese woord gekry het wat waarskynlik verwant was aan balabolit wat “praatsiek, klets, babbel” beteken.
balein — stof wat uit walvisbaard gemaak word
Die Grieke se verbeelding het dikwels om die mens en sy liggaamsdele gedraai. Miskien het hulle in die vorm van die walvis ’n geswolle orgaan gesien, want Oudfrans balaine “walvisbeen” was verwant aan Grieks phallos “geswolle penis”.
balkon — oop uitbouing aan ’n verdiepinghuis; galery in ’n teater
Dit was nie naastenby argitektonies so spoggerig nie. Balkon se oorspronklike betekenis (in Italiaans balcone) was maar net “stellasie”.
ballistiek — leer van die baan van ’n koeël
Die antieke ballista was ’n militêre masjien, ’n rotsgooier wat die massale klippe selfs oor ’n stadsmuur met ernstige liggaamlike letsel binne-in kon gooi (Grieks ballistes uit ballizein “gooi”).
balloteer — met geslote stembriewe stem
Die woord kom uit Italiaans balla en het “bal gooi” beteken. Dit was omdat geheime stemming in die ou dae deur middel van balletjies was wat in ’n houer gegooi is. Dit is dikwels (en word dalk vandag nog) gebruik om byvoorbeeld nuwe lede van ’n snobklub te keur. As een van die lede van die komitee ’n swart balletjie ingegooi het, is die aansoeker afgewys. Dit kom tot uiting in die Engelse to blackball someone.
balustrade — hekwerk van ’n balkon, trap en dergelike
In sommige vroeë ontwerpe het die hekwerk ’n dubbele liervorm vertoon wat aan die blom van die wildegranaatstruik herinner het. Die oorspronklike herkoms is dan Grieks balaoustion of Aramees balatz “wildegranaatblom” – wat niks van die hekwerk gesê het nie.
banaal — alledaags, kleinlik
As jy in Frankryk onder die ban is, beteken dit dat jy vir verpligte militêre diens moet aanmeld. Dit was dus die eerste betekenis van die woord. Sulke persone was banaal – maar omdat hulle nie altyd die wet gehoorsaam het nie, het die woord later beteken die “straf wat dié ongehoorsames opgelê is”. Om iemand te verban, was om hom as skurk te brandmerk. Ban het ook verwys na die openbare oonde of meulens wat aan die slawe behoort het en tot die beskikking van almal was. Hieruit het die woord gemeenplasig ontwikkel wat later die hedendaagse betekenisse verkry het. Familie van banaal is duidelik bandiet: ook iemand wat uit die maatskappy verban is.
bandelier — breë leerband met houers vir geweerpatrone
Dié woord het aanvanklik geen gevaar ingehou nie. In Spaans bandolera was dit ’n skouerband vir ’n geldsak, maar dit was maar net die verkleinwoord van banda “’n serp”. ’n Soldaat met ’n serpie aan was te erg om aan te dink.
banier — vaandel, standaard van ’n vors of edele waaronder ’n stryd gevoer word
Die veredeling van ’n stuk lap (die oorspronklike betekenis) tot ’n kenteken van ’n vername iets of iemand het eers in die Middeleeue gekom. Toe is dit deur vrye stede, kerklike instellings en baanderhere gebruik om hul gesag te wys. Die baanderhere was edelmanne wat die reg verkry het om adellike mans onder hul eie baniere in veldslae te lei, in plaas van die land of gebied s’n.
bank — finansiële instelling
Die Italianers se meubels sou by ons net verwarring veroorsaak het. Banca was die “geldskieter se bank of tafel waar hy sy sake doen”. Daar was geen toonbanke, tralies, alarms (stil of lawaaierig) of ander tellers nie. Die Bybel vertel ons Jesus het die geldskieters uit die tempel gejaag – nog ’n plek waar hulle nie ’n gebou beset het nie. Ons woord bankrot kom direk uit die Italiaans banca rotta “gebreekte bank” – as dié arme bankier geen geld meer gehad het om sake doen (en veral sy skuld te vereffen nie) nie, is sy bank of tafel onseremonieel deur die vroeë mafia gebreek.
banket — deftige ete
’n Banket was vroeër ’n droewige affêre: net so ’n versnaperinkie wat nie ’n mossie se maag sou vul nie. Dit is ook sommer soos ’n elfuurtjie verorber terwyl jy op ’n bankie gesit het – dus geen tafels wat onder die kosse kreun nie. Banket is oorspronklik ’n Franse verkleiningsvorm van bank – die betekenis het mettertyd dus heeltemal teenoorgesteld ontwikkel.
barbaar — onbeskaafde, wilde mens
Die Grieks barbarus het “vreemdeling en onkundige” beteken. Die Attiërs het geen simpatie met vreemdelinge gehad nie omdat hulle nie hul manjifieke klassieke Griekse taal kon praat nie. Die vreemdelinge se taal het onbeskaafd geklink: ’n onverstaanbare gebar-bar. In die antieke tyd het barbarisme verwys na ’n woord wat nóg klassieke Grieks nóg Latyn was. ’n Barbaar was dus so ’n taalgestremde persoon. In die Middeleeue het die Engelse Christene die kusstreek van Noord-Afrika begrens deur Egipte, die Atlantiese Oseaan, Saharawoestyn en die Middellandse See Barbarye genoem omdat dit deur Moslems bewoon was. (Ander bronne meen dat die naam van die Berbers kom wat die oudste bewoners van die gebied was – maar veral uitgeblink het deur hulle seerowers wat die skepe op die Middellandse See geteister het.)
’n Twyfelagtige (maar interessanter) herkoms is Latyn barbarus “bebaard” – die Romeinse stedeling het geskeer en neergesien op die minder gesofistikeerde, bebaarde plattelanders. Maar die Romeinse konserwatiewe senator Cato die Jongere (95–46 v.C.) het die gladgeskeerde manne uitgetrap as verwyfd. Aleksander die Grote (356–323 v.C.) het sy soldate laat skeer sodat die vyand hulle nie aan die baard kon gryp nie.
Die Grieke en die Romeine het alle vreemdelinge barbare genoem; die Jode heidene en die Russe ostiakke (na die antieke Romeinse dorp aan die mond van die Tiberrivier).
In die taalkunde vandag is ’n barbarisme ’n woord of uitdrukking wat uiterlik inheems is, maar in betekenis of vorming in stryd met die taaleie is; → RABARBER.
barok — onnatuurlike styl in die kunste en argitektuur
Dié