'n Dief aan die kers - Skelm woorde deur die eeue. Anton F. Prinsloo. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Anton F. Prinsloo
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9781868901777
Скачать книгу
/p>

      PHAROS

      ’n Dief aan die kers

      Skelm woorde deur die eeue

tiltlepage-image.tif

      Anton F. Prinsloo

      Eerste uitgawe, eerste druk

      ’n Skelm woorddief?

      ’n Ou Afrikaanse uitdrukking beskryf die was van ’n kers wat skeef afloop. Dié uitdrukking lui daar is ’n dief aan die kers (wat dan die was skelm-skelm aan een kant van die kers steel).

      In hierdie boek word ongeveer ’n duisend woorde beskryf waarvan die oorspronklike betekenis mettereeue deur ’n soortgelyke woorddief so skelm skeefgetrek is dat die huidige betekenis eintlik onsin is. Byvoorbeeld: hoekom sou ’n mens moet weghardloop as jy ’n fuga van Bach hoor? Hoe het dit gekom dat die Nederlanders se beroemde dyke onderstebo die see uithou? Hoekom het die naam van (met permissie) die orgidee, avokadopeer en muskus so ’n seksuele inhoud dat hulle nie in beleefde geselskap genoem behoort te word nie? Geweet dat ’n soldaat se bandelier maar net ’n serp was? Of dat iemand met ambisie soos ’n bedelaar van huis tot huis moes loop? Wat het die outydse pangeweer, die musket, met ’n valk te make?

      Die antwoorde hierop kom uit die tale van antieke tye, veral Latyn en Grieks, maar soms ook uit ander soos Oudfrans, Oudhoogduits of Sanskrit. Die boek verskil dus van ’n tradisionele boek oor die herkoms van woorde (die etimologie) deurdat dit net woorde behandel waarvan die betekenis erg prettig (en skelm) deur die tyd skeefgetrek is.

      Vir die klassici: Om die inhoud nie onnodig te beswaar nie, het ek nie deur die grammatikale oerwoud van die ou tale geworstel nie, maar telkens probeer om die pit van die betekenis uit die werkwoord te illustreer. Die teenwoordigheid van ’n oorwig Engelse bronne is omdat hulle telkens vir verklarings na Latyn of Grieks teruggryp.

      As die inhoud van sommige inskrywings miskien ’n dame ontstel, moet sy maar in die pruilkamer, haar boudoir, haar dikmond gaan laat sak — dit is nie ’n plek om te slaap nie.

      AFP

      Johannesburg

      April 2013

      Hoe werk die boek?

      Ná die trefwoord (vet gedruk) verskyn die hedendaagse (meestal onsinnige) woordeboekdefinisie kursief (dit wil sê skuins gedruk). Dit word gevolg deur die corpus delicti – die bewyse vir die woordmisdaad wat deur die woorddief begaan is.

      Lees maar, er staat niet wat er staat

      Martinus Nijhoff (1894–1953) Nederlandse digte

      A

      abakus — telraam

      Die pretensieuse abakus van vandag met sy blink drade en gekleurde krale was oorspronklik ’n sandskinkbord. Klippies is in kolomme in die sand gelê waarmee getel en somme gemaak is. Die ding se naam het ’n geskiedenis uit verskillende lande: Die Romeine, wat minstens altyd wou weet hoeveel brons asse (munte) hulle in hulle sakke het, het dit al ’n abacus genoem — maar die woord by die Grieke gehoor, die abakos. Dié volk het iets uit Hebreeus daarmee gemaak, waar dit abaq was wat “stof” beteken het; of Fenisies abak met dieselfde betekenis. In sommige Turkse skole word die apparaat nog gebruik; → KALKULEER.

      abdikeer — van ’n kroon afstand doen

      Die posisie van ’n Engelse koning is soos dié van ’n rugby­speler in die Springbokspan – jy kom makliker daarin as daaruit. Die abdikasie van koning Eduard VIII van Brittanje in 1936 het groot opslae gemaak, want hy was die enigste Britse koning in die geskiedenis wat vrywillig van die troon afstand gedoen het. Om die waarheid sê: hy het dit “weg verklaar” — die regte betekenis van abdikeer. Sy liefde en hartstog vir ’n hoogs ongewilde, twee keer geskeide Amerikaanse vrou (sommige bronne weier om haar ’n dame te noem), Wallis Simpson (voorheen Spencer, gebore Warfield), het hom laat besluit om die huweliksbed bo die troon te kies. Hy was so ongewild, ook oor sy vriendskap met die Nazi-leiers in Duitsland, dat hy en sy vrou na Frankryk uitgewyk het. (Latyn abdicare uit ab- “weg” + dicare “verklaar”, dus verklaar dat jy die troon weggooi)

      abdomen — buikdeel van ’n mens of dier

      Die Romeine het geglo dat alles wat geëet word, in die onderbuik weggesteek is. Daarmee saam het gehang die wegsteek ook van die ingewande wat ontbloot nie aptytwekkend sou wees nie – die woord beteken dus eintlik “verborge”. Maar die opvallendste kenmerk van die abdomen is die geronde vorm: die eerste betekenis van die woord was inderdaad “vet pens, boepens”. (Uit Latyn abdere “wegsteek”, of adeps “vet”)

      aberrasie — afwyking van die normale, veral gesê van sterre, plante

      Iemand wat hieraan ly, is die kluts letterlik kwyt. Hy het van die reguit paadjie afgedwaal en verdwaal – reeds in die Romeinse tyd. Latyn is aberrare “die weg byster raak”, uit ab- “weg” + errare “ronddwaal”.

      ablusie — afwassing

      Die Romeinse baddens was groot en besonder gewild; daar was selfs professionele masseurs wat met salf en olie gewerk het. Latyn abluere het “afwas” beteken, uit ab “af, weg” + luere “was”. Maar dit was vir die gewone ouens: ablusie het later ook beteken “rituele reiniging”. Vandag dink ’n mens meer aan ablusieblokke by woonwa- of ander kampeerterreine (wat gewoonlik gewas behoort te word nadat iemand daar gewas het). Die woorddeel lu- van luere sit ook in alluviaal “wat deur ’n rivier na ’n plek gewas is”. ’n Wisselvorm daarvan, la-, het ons vandag nog in latrine, maar ook laventel. Laventel en afwas? Die naam van die plant met die delikate geur kom uit die gebruik daarvan in wasserye: dit is van die vroegste tye af op vars gewaste katoen gelê om dit vars te laat ruik.

      abnormaal — effens gekrenk in geestesvermoëns; misvorm

      As ’n mens nie die aanvaarde sosiale reëls nakom nie, word jy dikwels as ‘eksentriek’ en ‘eienaardig’ bestempel, maar selde as ‘abnormaal’. Tog is dit waar die woord vandaan kom: Latyn abnormis “wegbreek van die reël” uit ab- “weg, af” + norma “reël”. Dit was die beleefde verduideliking: abnormaal het ook “kranksinnig” beteken, want iemand wat só optree, handel ook buite die norma.

      abolisie — staking, opheffing, afskaffing

      Soos ’n eiesinnige rankplant, het die woord oorspronklik beteken “weggroei”, dit wil sê in ’n rigting groei waar die oor­spronklike bestel agtergelaat word. Die woord se betekenis het mettertyd versterk en ander betekenisse aangeneem. Slawerny is byvoorbeeld geaboleer, maar met groot lawaai en protes in sekere kringe – dit het nie sommer net mettertyd gekwyn nie. (Latyn ab- “weg” + olere “groei”)

      abominabel — iets afskuweliks

      Voorbodes dui op dinge wat nog moet gebeur en word dikwels met vrees bejeën, want dit slaan gewoonlik op onheil. Selfs die stoere Romeine het die goed gevrees. As iemand byvoorbeeld genies het, het hulle uitgeroep: Absit omen!, dit wil sê: “Wyk, voorbode!” omdat hulle geglo het dat die nies die voor­teken van die plaag was (dit was een van die eerste simptome). ’n Abominasie was iets om van weg te kom, te vermy en dus ’n haatlike, afskuwelike ding (Latyn ab- “weg (van)” + omen “voorteken”). Dié betekenis is versterk deurdat die Engelse teoloog, filosoof, kerkhervormer en voorloper van die eerste volledige vertaling van die Bybel in Engels, John Wycliffe (c. 1330–1384), hom met die Latyn vergis en ’n volksetimologie vir die abominasie geskep het, naamlik abhominable, asof dit “weg van die mens” (ab- + homen “mens”) beteken het. Die betekenis het toe dus ook “onmenslik, beesagtig” ingesluit. Dié verwikkeling was bekend genoeg dat William Shakespeare in sy werke die woord 14 keer soos Wycliffe gespel het, byvoorbeeld in As you like it