101 Bakgat maniere. R.R. Ryger. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: R.R. Ryger
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780795800696
Скачать книгу
die meeste flieks sien jy hoe die held daarop konsentreer om die krisis op te los. Hier, in die werklike lewe, moet ek myself ook nog bemoei met familiesake. Ma het vroeër gebel. Sy het ook geld nodig. Dis eintlik waarom ek Duane gehap het.

      Dit voel party dae vir my of ek vir die welsyn werk. Toe Roelien en die tweeling nog gelewe het, het ek my geld ook nooit gesien nie. Tussen Roelien, my ma en Duane, het dit vinnig verdwyn. Nou is Roelien en die tweeling weg, maar dit help nie veel nie. Daar is nog altyd Ma en Duane. En die mongool.

      “Moenie my alleen los nie, Dirk,” sê Ma elke keer wanneer ek waai. “Moenie jy ook wegloop nie.”

      Ek was 12 jaar oud toe my pa weggeloop het. ’n Paar jaar later het Duane in sy voetspore gevolg. Hy was maar net ’n laaitie. Ons twee het deur die jare kontak gehou, maar hy praat nie meer met Ma nie. Te skaam.

      ’n Ruk sit ek net in die kar voor die ou huis. Vanaand voel ek hartseer omdat ek so oud is soos ek is. Waar’s die dae? Waar’s die sorgelose dae toe Ma gewerk het en ons net gespeel het?

      Ons … ek en Duane. Nie die mongool. Ma se laatlammetjie. Een van die redes waarom Pa gevlug het. ’n Stadige kindjie. Dom oë wat ver van mekaar af sit. Groot kop met ’n weird haarstyl. Ma knip nou nog haar hare. Die mongool kom omtrent nooit uit die huis nie. Al wat sy doen is eet, poefies, TV kyk en doedoes.

      Die mongool is dalk baie slimmer as ek. Dit klink na ’n bargain.

      Ek klop nie. Die deur is nie gesluit nie. Die mongool sit voor die TV. Weereens kry ek bevestiging dat sy wel ’n idioot is, soos die dokter destyds gesê het. Want sy kyk na ’n program waar ’n ou aan drie dames vragies stel om sodoende te bepaal watter een sy gunsteling, sy sielsmaat, is. Dan is hulle veronderstel om te trou en vir ewig en ewig gelukkig saam te wees.

      Die mongool glimlag. Ook nie meer ’n kindjie nie, nè …

      Verby haar na Ma se kamer. Haar deur is toe, maar ek kniel nie en loer deur die sleutelgat soos ek eens op ’n tyd gedoen het nie. Ek klop hard en vinnig.

      Ek hoor haar hoes.

      “Dis ek. Dirk. Kan ek inkom?”

      “Ja, Dirk.” Sy is besig om ’n sigaret aan te steek.

      “Daai goed gaan Ma nog doodmaak.”

      “Ja, ja.” Sy beduie dat ek moet sit. “Wat’s daar in die sakkie?”

      “ ’n Geskenkie vir Ma.”

      Sy vat die doos sigarette wat ek aangee.

      Haar kamer is ’n nes. Stapels tydskrifte en hope klere. Baie foto’s teen die mure. Almal van jare gelede. Daar is Duane en ek met speelgoed-swaarde. Peter Pan en Captain Hook.

      Buite blaf die hond. Nou blaf hy, maar toe ek ingekom het, was hy nêrens nie.

      “Kom ons gaan kyk,” stel ek voor, want die rook maak my naar.

      Dis al taamlik donker buite. Die wit pavement special spring teen my bene op.

      “Nee, man! Dis ’n skoon broek!”

      “Ou Worsie, kom laat ek jou vryf,” sê Ma en voeg die daad by die woord.

      Ons gaan sit op die draadstoele wat onder die afdak staan. Dis kouerig.

      “Julle moet die voordeur so nou en dan sluit.”

      “Waarom? Niemand sal hier iets kry om te steel of om te verkrag nie.”

      “Ma sal verbaas wees.”

      Ek staar na die agterplaas waar ek soveel ure gespeel het. Dis nou netjies, danksy die tuindienste waarvoor ek betaal.

      Dit was nie altyd so netjies nie. Toe ons kinders was, het dit partykeer soos ’n oerwoud gelyk van al die bossies en gras. Nou en dan het Pa of Ma vir my en Duane geld belowe as ons bietjie sou netjies maak. Ons het een keer op ’n molslangetjie afgekom. Altyd op brandwurms. Reuse-sprinkane en botterspinnekoppe.

      Dis of Ma kan sien ek dink aan Duane.

      “Wanneer laas het jy van jou sleg broer gehoor?”

      “Ek het nou-nou met hom gepraat. Hy is nog in Kaapstad. Klink my hy sukkel maar.”

      “Ons sukkel almal,” sug sy.

      Ek weet wat kom. Haar skouers sak nog verder.

      “Kan jy hierdie maand ’n paar rand afstaan?” vra sy sag.

      “Natuurlik. Hoeveel soek Ma?”

      Ansie se verrassing

      In die nag het ek weer na die foto’s van Maria gekyk. Eers het ek die foto’s bestudeer om te sien of ek nie dalk tog haar “snaakse handjie”, soos George Appelgryn dit gestel het, kon sien nie. Die fotograaf het goeie werk gedoen. Ek kon nie.

      Vroegoggend log ek by Facebook in. My byna 300 sogenaamde vriende was besig, sien ek. Een oom, wat ek van geen kant af ken nie, het ’n paar Bybelversies uitgelig. Iemand saam met wie ek op laerskool was, stel voor almal moet op YouTube aanmeld en kyk hoe sing Frank Sinatra “Night and Day”.

      Jacques Olivier was ook doenig, duidelik gesuip, want hy het verskeie vloekwoorde die kuberruimte ingestuur.

      Ek Google Maria sonder sukses.

      Ek spring in my rooi Polo en gaan soek haar in die strate van Melville. Dié voorstad van Johannesburg word soms spottend “Klein Hollywood” genoem, omrede daar glo heelwat plaaslike celebrities en akteurs uithang.

      Ek sien nie een nie. Hulle is net so skaars soos parkeerplek.

      Ek ignoreer die kêrel wat draadrakkies en ’n miniatuur draad Harley Davidson aan my probeer verkoop en stap by die Full Stop Cafe in. Die plek se dekor lyk vir my effe verweer, maar party mense sal dit sekerlik kunstig of oulik vind. Die tafeltjie waar ek gaan sit, wobble en ek strip my moer onmiddellik en soek ’n ander sitplek met die kelnerin wat my verbouereerd agtervolg.

      “Het jy dalk dié meisie gesien?” vra ek haar, skielik vriendelik, toe ek ’n gemaklike sitplek gekry het. Ek het Maria se gesig uit een van die foto’s geknip en op ’n stukkie karton geplak.

      “Mmm,” peins die kelnerin, “laat ek sien …” Sy bekyk die foto met ’n ernstige frons.

      “Sy het ’n snaakse handjie,” gooi ek in.

      “Wat bedoel jy, snaaks?”

      “Iemand het al daardie hand as ’n deurknop beskryf.”

      Die kelnerin, ’n skraal poppie met hangskouers, maak grootoë en sit die foto op die tafel neer.

      “Hoekom soek jy haar?” vra sy agterdogtig.

      “Ek’s ’n joernalis. Ek’s besig om ’n storie te skryf oor mooi maar gebreklike mense.”

      Die kelnerin se gesig verhelder. Dis asof haar voortande skielik by haar mond uitpeul. “My suster is gebreklik! Sy is sonder knieë gebore!”

      “Is sy so mooi soos jy?” vra ek sonder om ’n oog te knip.

      Die kelnerin bloos. Na ek haar suster se telefoonnommer gevat het, bestel ek ’n bier en ’n bordjie aartappelskille. Ek sien die kelnerin sleep haar voete.

      Het seker ook nie knieë nie …

      Niemand in die Full Stop Cafe kan my help met Maria nie. Ek eet klaar en vra die kelnerin om die sjef te komplimenteer vir die heerlike kaassous wat saam met die skille voorgesit is. Toe vertrek ek effe besluiteloos, maar tog tevrede met my eie sarkasme, en dwaal by ’n boekwinkel in. Ek loer na verskeie boeke, maar registreer niks, want ek besef dat dit skynbaar nie so eenvoudig gaan wees om Maria op te spoor as wat ek gedink het dit sou wees nie.

      Bach se tweede Brandenburg-concerto speel oor Classic FM terwyl ek terugry Pretoria toe. Al die pad Johannesburg toe gekom vir ’n bord aartappelskille en ’n bier …

      Die pad tussen Pretoria en Johannesburg het