Selfs die ekstra werk het nie daarin geslaag om al die orige tyd te vermoor nie, en dis kwart voor een toe Irma by die Odeon aankom. Sy gaan eers kleedkamer toe om haar op te knap voor Johan se koms. Met verbasing merk sy in die spieël hoe bleek en senuweeagtig sy voorkom. Ook word sy nou bewus van ’n dowwe, kloppende hoofpyn. Saam daarmee stroom die assosiasies weer na vore: die skielike verstoring van die daaglikse kantoorroetine, die vreemde ondervinding om na etlike jare weer Deon se stem te hoor vanuit ’n stormagtige Wernersdal. En, boweal, die ongelooflike gedagte dat Tillie dalk in die skaduwee van die dood is. Goed, dis nie wat Deon gesê het nie. Maar sy het nie ’n goeie gevoel oor Tillie se lot nie. Iets is groot verkeerd. Die gedagte verleen ’n vreemde, onwerklike kwaliteit aan die dag.
Sy bestel solank die gebruiklike gemengde braaigereg, Johan se gunsteling. Sy wonder of sy sal kan eet. Sy sal probeer, ter wille van hom. Sy wil haar onbeheerste optrede van vanoggend uit die weg probeer ruim.
Johan is laat. Die kelner het intussen die tafel gedek en bring die twee borde deur die swaaideur van die kombuis juis toe hy by die ingang verskyn. Hy blik vinnig deur die ruim restaurant wat nou vinnig begin volstroom, sien haar dan raak teen die agterste muur. Hy pyl op haar af met sy kenmerkende haastige, effens vooroor stap.
“Jammer ek is laat … onvermydelike oponthoud,” gebaar hy. “Dankie dat jy solank bestel het.” Hy druk haar arm vlugtig toe hy gaan sit en vra voorlopig niks uit nie. Tog is sy hele houding simpatiek en beskermend en sy kry spyt oor haar bedenkinge aangaande sy belangstelling.
Mettertyd, terwyl hulle eet, hoor hy al die besonderhede van haar. Later glimlag hy fyntjies: “Jy moet my vergewe; ek was net ingedagte vanoggend.”
“Hoe so?”
“Deon is mos jou stiefbroer, Tillie se broer.” Hy glimlag verskonend na haar met sy onweerstaanbare oë wat so dinamies vertoon onder die sterk oogbanke. Op die oomblik is dit egter nie sy oë wat haar die meeste boei nie, maar die feit dat hy nog steeds mistas aangaande Deon se identiteit, asof laasgenoemde so heeltemal onbenullig is.
“Ja,” antwoord sy geslote. “Sê maar so. Dis seker na genoeg.”
“Wel, is hy nie?” Die borende, staalgrys oë vernou terwyl ’n frons sy gladde voorkop kreukel.
“Maak dit saak?” Sy haal haar skouers op en voel skielik dodelik moeg. “Jy trou immers nie met my familie nie.”
“Dan kan Deon net die koning se hond se vlooiknipper wees.” Sy stem is gevaarlik kalm, sy oë ook. “En jy weet hoe ’n belangrike persoon dit is. Wat jou familie betref, ek sal nie omgee om hulle te leer ken nie. Al is dit net om jou daardeur te probeer verstaan. Maar ek word nie juis soontoe uitgenooi nie, of hoe?”
Hulle gesprek is haperig, aangevul deur stiltes en die half verbete klank van messegoed op porselein. “Ek sou jou lankal uitgenooi het as ek gedink het dat jy die ingewikkelde verhoudinge tuis sal verstaan,” antwoord sy na ’n tydjie. “Jy kan ’n knap bemarker wees, Johan, maar dis nog nie te sê jy kan mense lees en verstaan nie.”
“Praat jy van mense, of van geslote boeke? Kom, ek vat jou na jou woonstel toe.” Sy stem is geforseerd. Hy frommel sy servet op nadat hy dit teen sy lippe gedruk het. Die kelner staan nader om hulle borde te neem. Nie een van hulle het juis veel geëet nie. Johan gooi geld op die tafel neer sonder om vir die rekening te wag.
“Ek haal ’n bus,” kondig sy stroef aan toe hulle buite kom. Hulle gaan uitmekaar sonder ’n verdere woord, sonder ’n afskeidsgroet. Toe sy hom die straat sien oorsteek, wil sy hom roep, haar daarvan vergewis dat hierdie afskeid ’n verskriklike fout is. Sy wil dit óór doen. Haar lyf teen syne vasdruk en voel hoe hy vir haar toenadering ontwaak.
Verydeld sien sy hom verdwyn en voel haar oë begin brand. Sy word bewus van mense wat heen en weer verby haar loop. Die sypaadjie is vol. Dis tyd vir haar bus. Sy begin aanstap na die halte. In die bus sien sy bekende bakens verbyflits, maar vaag. Sy vee oor haar oë.
Dis moeilik om te weet hoeveel en wat om in te pak. Dis nog sterk winter, maar as sy vir ’n onbepaalde tyd daar anderkant bly, kan die warmte haar oorval. Sy pak dus veiligheidshalwe ’n kleiner tas met somersklere ook in. So weinig die bande wat my hier bind, dink sy met swaar heimwee. Sonder Johan, niks. Binne ’n halfuur reël sy om ’n onbepaalde tyd weg te wees, en die lewe gaan voort. Selfs meneer Langley sal hom begin tevrede stel met Behrens, nadat hy haar herhaaldelik oor haar spelling berispe het. Net Johan sal haar mis, miskien, as hy weer goed word.
Haar gedagtes slinger verward rond tussen die afskeid van Johan en die weersien van Tillie. Johan wat tussen die verkeer verdwyn sonder om selfs net een keer om te kyk; Tillie in ’n wit hospitaalbed met Matilda wat soos ’n engel van vergelding op ’n stoel langs haar waak, wag dat sy bykom, herstel, om haar beter te kan roskam.
En vader en Deon … Nee, maar Deon is mos op pad om haar te kom haal. Vir die eerste keer besef sy dat sy Deon binnekort sal sien. Sou hy verander het? Sou hulle nog soos van ouds teenoor mekaar kan optree? Sy self het onteenseglik verander, en dan dink sy nie net aan haar voorkoms nie. Sy het ’n eie lewe gekry, selfvertroue opgebou.
Sy het koue vleis en ’n kraakvars graanbroodjie by ’n winkelkafee naby die bushalte gekoop. Nou berei sy ’n slaaitjie voor. Intussen word sy haar egter sterker bewus van die hoofpyn wat haar teister. Sy sluk twee hoofpynpille saam met ’n koppie tee en probeer daarna op haar bed ontspan. Sy moes ingesluimer het, want toe die telefoon skril, ruk sy verward orent. Sy kyk op haar horlosie; dis vyfuur.
Tillie …! Sy vlieg op en draf kaalvoet telefoon toe, bereid om die ergste te verneem. Haar hart klop met ’n swaar bonsing en haar stem is hees toe sy praat. Dan bewe sy van verligting as sy Deon se stem herken.
“Ek is reeds hier in die stad,” sê hy. Sy skrik vir die moeë erns in sy stem wat nou so tasbaar duidelik in haar ore opklink, in teenstelling met die frustrerende gesukkel van vroeër vandag, wat op eienaardige wyse soos ’n vorige jaar of eeu voel. “Matilda het net jou foonnommer vir my neergeskryf. Ek wou ook nie wag tot sy jou adres vind nie. Dog ek bel jou maar van ’n hokkie af as ek hier kom.”
“Maar vertel my eers …” begin sy dringend.
“Ek vertel jou alles binne ’n kwartier,” keer hy haar. “Beduie my eers die pad na jou toe?”
Dit voel sy is óp gewag voordat sy hom aan die oorkant van die straat sien stilhou. Sy het by die venster stelling ingeneem en net kort-kort vinnig iets gaan doen wat haar byval. Toe sy haar pa se bekende ouerige motor sien, steek sy haar hand uit om die gordyne verder oop te trek. Dan huiwer sy en bly roerloos staan om hom dop te hou. Sy herken hom onmiddellik aan die ruie, donker hare. As kinders het sy en Tillie hom altyd geterg wanneer die krullerige hare weer orent begin kom nadat hy dit glad agteroor probeer kam het. Sedertdien wou dit in geen ander styl pas nie, as agteroor.
Hoe kom dit dat hy nie terugdeins om in die stad te bestuur nie? wonder sy, onthou dan dat Deon nie iemand is wat met enigiets sukkel nie.
Hy klim uit, trek sy klere reg. ’n Sekonde of twee staar hulle mekaar bewegingloos oor die breedte van die straat aan.
2
Toe die hyser se deur geruisloos oopgly en Deon uitstap, wag Irma hom voor haar oop deur in. Na drie jaar staan hulle skielik van aangesig tot aangesig teenoor mekaar. Albei glimlag onseker. Hy wil haar oudergewoonte piksoen, maar weerhou die beweging toe hy bewus word van die vreemde skugterheid wat van weerskante uitgaan.
Dis hy wat die ys breek: “Dit lyk my ons het mekaar ontgroei,” sê hy met die effens melankoliese glimlaggie wat seker nooit sal verander nie.
“Wel, jy het … letterlik,” glimlag sy terug, verwysende daarna dat hy frisser geword het sedert sy hom laas gesien het. Sy staan opsy sodat hy ook kan binnekom.
Sy nooi hom egter nie om te sit nie, bly net angstig na hom opkyk sodat hy moet verstaan wat haar blik van hom vra. Eintlik is sy hele houding, sy verslae, terneergedrukte voorkoms, reeds antwoord genoeg op haar onuitgesproke vraag.
“Ons moet maar so