Ingrid Jonker Versamelde Werke. Ingrid Jonker. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ingrid Jonker
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9780798157889
Скачать книгу
een-een loop die paadjies

      na dieselfde plek terug

      Hoe vergelyk die wonder

      die geboorte van my kind

      dit was vinkel en koljander

      by Rieta, Rosalind

      Die skadu van die nagte

      hang koud en moeg

      daar klop dieselfde harte

      in kerk of kroeg

      Dis vinkel en koljander

      in die Kongo of die Kaap

      die geskille mag verander

      maar oral bly die haat

      En vinkel en koljander

      dit help nie wat jul wens

      die een is soos die ander

      voor God as mens

      Jy’t my gekierang

      Jy’t my gekierang Dolie

      jy’t my gefop

      my hart o appelliefie

      verdroë in sy dop

      Die predikant sê agge nee

      my ma sê agga gwaan

      my ouma dink weg wêreld

      waar kom ons hulp vandaan

      Maar Dolie bokkie baby

      jy’t my verstoot

      al maak ek ook my daggies

      nes kuikens vir jou groot

      Al gee ek jou die dagbreek

      se rooiwang-vy

      jy’t laasnag – o my attatjie!

      met ’n ander man gevry

      My brakhond en my mak uil

      tjank groot en wyd

      maar Dolie bokkie baby

      ons tjank een woord altyd

      Ook mos mens

      Nou’s jy treurig Wielie

      maar ek sweer o bokkie

      jy’s die kuiken nou nog

      in my hart se doppie

      Ek was ver van huis

      en die lug se kap

      staat so wyd en wit

      oor die trekkerspad

      Ag jy weet mos Wielie

      en jy ken my vry

      om ’n man te soen is

      om hom lief te kry

      En ek had hom lief

      ja dit stry ek nie

      anders sou ek hom

      nie wou gevry het nie

      Maar ek dag al reeds

      in sy warm pondokkie

      hy’s net ’n ander vorm

      van jou my bokkie

      Op die voetpad

      Op die voetpad o bokkie

      Jou hand die myne

      En ons huisie staan klaar

      In my hart se lyne

      Deur die dag van die by

      tot dit rooikrans o bokkie

      Vannag sluit hom toe

      In ons pondokkie

      Klimaat van jou lyf

      o meidjie dousag

      Maar jou oë vlieg wyd

      oor die nimmermeerdag

      En die aand skilfer reeds

      sy bont kleure af

      Waar die voetpad alleen

      oor die blou bulte draf

4

      Begin somer

      Vir Simone

      Begin somer en die see

      ’n oopgebreekte kweper

      die lug soos ’n kind

      se ballon

      ver bo die water

      Onder die sambrele

      soos gestreepte lekkergoed

      miere van mense

      en die gul lag van die baai

      het goue tande

      Kind met die geel emmertjie

      en die vergete vlegsel

      jou mond is sekerlik ’n klokkie

      kleintongetjie klepeltjie

      Jy bespeel die son daglank

      soos ’n ukulele

      Kabouterliefde

      Vir Simone

      Die kabouter met die rooi-rooi pet

      die kabouter met die geel hemp aan

      het sy hart gistraand vir my gegee

      en sy hemp is vir die maan

      Die hoepelronde blou-blou lug

      het kadoemps op die grond geval

      hy’t dit blink-blou in sy hand gerol

      toe speel ons daarmee bal

      Die sterre met hul wit ligte

      het geknipoog toe ons lag

      hul’t rondom ons in ’n kring getrek

      soos ’n laer in die nag

      Die aandblom het sy trom-trompet

      geblaas in die warrelwindkring

      die kalkoentjies met hul rooi mondjies

      het die sprinkaan-wals gesing

      Die maan met sy geel lyfie

      het gaan plat lê op sy rug

      hy’t gaan slaap by die gousblomme

      met sy boepens in die lug

      Die kabouter met die rooi-rooi hart

      het dit self vir my gesê

      hy’t die aardbol oor sy kop gegooi

      o dis hier waar die liefde lê

      Korreltjie sand

      Korreltjie korreltjie sand

      klippie gerol in my hand

      klippie gesteek in my sak

      word korreltjie klein en plat

      Sonnetjie groot in die blou

      ek maak net ’n ogie van jou

      blink in my korreltjie klippie

      dit is genoeg vir die rukkie

      Kindjie wat skreeu uit die skoot

      niks in die wêreld is groot

      stilletjies lag nou en praat

      stilte in Doodloopstraat

      Wêreldjie rond en aardblou

      korreltjie maak ek van jou

      huisie