Ingrid Jonker Versamelde Werke. Ingrid Jonker. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Ingrid Jonker
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Языкознание
Год издания: 0
isbn: 9780798157889
Скачать книгу
die lug blou van verte en afsydigheid

      het ek gedink dat ek my hart sou vind

      waar ek jou oë die twee bruin vlinders

      gehou het en ek het die swalu sien opvlieg

      en skaduwees spreeus

      Verlore stad

      In die reën wat verby is

      ver dag en verlore stad

      van akkers van duiwe vol dagbreek

      was my hande die ene eekhorinkie

      vinnig sku maar voorbereid

      ver dag en verlore stad

      deur al die mense het jy gekom

      met ’n eenvoudige glimlag

      soos van ’n lang reis

      en die reën wat verby is

      het hom verwarm aan my lyf

      die reën van rook en oker

      wat ruik na jou hande skoongewas

      na warm duiwe en die oop

      oranje papawer van die lug

      Herwonne land

      Ek het jou herwin van die see

      en waar die stormwaters was

      die aarde aan jou teruggegee

      saad van my begeerte son van my woord

      wat bome plant in jou vore

      teen die kus van die dood

      Ek het ’n hemel bo jou gerond

      fondamente laat sak en ’n stad

      laat bloei uit jou grond

      Ek het jou teruggegee aan die lug

      maar met die eerste sirenes

      van jou weggevlug

2 Intieme gesprek

      Moenie slaap nie

      Moenie slaap nie, kyk!

      Agter die gordyne begin die dag dans

      met ’n pouveer in sy hoed

      As jy na my roep

      As jy na my roep uit jou keel

      gaan daar ’n vogtige voetpaadjie oop

      in ’n ruie bos

      Ek weet

      Ek weet tog

      jou mond is ’n nessie

      vol voëltjies

      As jy lag

      Jou lag is ’n oopgebreekte granaat

      Lag weer

      dat ek kan hoor hoe lag die granate

      Toe jy ’n baba was

      Toe jy ’n baba was

      het jy sekerlik geruik

      na ’n bokrammetjie

      en blomme

      As jy slaap

      As jy slaap

      is jou voorkop ’n berg

      en jou slape

      soos lammers teen die hange

      Jou lyf

      Jou lyf is

      swaar van bloed

      en jou rug

      ’n singende kitaar

      Elke man het ’n kop

      Elke man het ’n kop

      ’n lyf

      en twee bene

      hulle probeer jou namaak

3

      Gistraand

      gistraand in jou arms

      by die perdeskoen maan

      pluk ons ’n klawer

      met vier blare aan

      vandag bly ek staan

      op die werf by die blik

      my hart agterdogtig

      soos ’n hoender wat pik

      aan een korrel ’n klip

      wat skeur deur die hange

      die liefde’s niks anders

      as die verlange

      Liedjie van die troebadoer

      Op die pad of by die huis

      oral is ek amper tuis

      in die kamer van die nag

      soms vergeet ek dat ek wag

      maar die oomblik wat ontsnap

      uit die mallemeul of grap

      meet die paaie met hul kilte

      na die tuiste van jou stilte

      na die arend van jou oë

      na die bloute en die hoë

      vlug voordat ek uit jou mond

      terugval op die harde grond

      Ramkietjieliedjie

      Net waar ek gaan

      is ’n pad voor my oop

      wat skerp uit my oë

      soos ’n litteken loop

      Hoe die dag ook verblou

      of rooikam om my

      ek volg net my hartseer

      en die naambord is jy

      Bitterbessie dagbreek

      Bitterbessie dagbreek

      bitterbessie son

      ’n spieël het gebreek

      tussen my en hom

      Soek ek na die grootpad

      om daarlangs te draf

      oral draai die paadjies

      van sy woorde af

      Dennebos herinnering

      dennebos vergeet

      het ek ook verdwaal

      trap ek in my leed

      Papegaai-bont eggo

      kierang kierang my

      totdat ek bedroë

      weer die koggel kry

      Eggo is geen antwoord

      antwoord hy alom

      bitterbessie dagbreek

      bitterbessie son

      Dis vinkel en koljander

      Dis vinkel en koljander

      is dit Florrie Griet of Doep

      die een is soos die ander

      as die volmaan kiep-kiep roep

      Die dae val soos mossies

      een-een