“Dis niks. Dis my werk.”
“Is dit die eerste keer dat jy iemand doodskiet?”
“Is dit vir jou storie?” Sy hand huiwer op die deur, sy lyf reeds halfpad die motor in.
“Nee.”
“Ek glo jou.”
“Dis nie vir die koerant nie. Belowe.” Ek klim in.
Hy doen dieselfde. Skakel die motor aan. Trek die truspieël reg. “Vierde keer.”
Ek probeer geen emosie wys nie. Maak die sitplekgordel vas. “Hoe voel dit? Hoe voel jy?”
“Te veel. Te min.”
“Maak nie sin nie.”
Hy trek vinnig weg. “Presies.”
3
Die gastehuis waar ek bly, lê net buite Welkom se ietwat verweerde hart. Die dorp het jare gelede al begin leegloop toe die goud al minder geraak en van die myne toegemaak het. Baie van die mense is Limpopo en Noordwes toe, agter die platinum aan. Net die Zama-Zamas, die onwettige myners, het agtergebly, en ’n paar mynmaatskappye wat glo daar is nog iets waardevols onder die grond.
Wat sou Ernest Oppenheimer nie nou van sy voormalige ontwikkeling dink nie, meer as vyftig jaar nadat hy die eerste erwe uitgemeet het?
Ten minste is die horison nog oop hier, en die lug is varser as in Johannesburg. En jy kan nog die sterre sien. Dit bly ’n goeie ding van minder mense.
’n Skielike, koue rukwind trek deur die oop venster en waai ’n handvol droë blare die vertrek in. Ek soek op my horlosie na die datum. 16 Julie. Was dit nie gister nog April nie?
Ek speel met die stukke van die Parker-pen. Pas dit inmekaar. Haal dit weer uitmekaar. Ek kan nie slaap nie. Ek het my eerste diepte-artikel oor onwettige goudmynbedrywighede in die Vrystaat geskryf en na die koerant se nuusredakteur gestuur. Nou bly my kop besig met dinge waaraan ek nie wil dink nie, maar wat ek nie kan keer nie.
Lê Ranna ook êrens wakker? Waar? In wie se bed?
En hoe voel ek oor die fotograaf wat laas jaar uit my lewe verdwyn het? Kwaad? Of mis ek haar?
Kwaad, besluit ek. ’n Mens verdwyn nie net so nie, al sê jy hoeveel maal dis vir die ander persoon se beswil. Dis goed wat jy sê om jouself beter te laat voel, om die skuld stil te praat. Sy moes net gesê het sy wou nie bly nie. Dat ek niks vir haar beteken nie.
Die kamerfoon lui en keer die bekende woede.
“Derksen.”
“Ek het iets vir jou.”
“Okay,” sê ek stadig. Versigtig.
Die stem is ’n ouerige man s’n, nogal hoog. En dis laat. Halftwaalf. Dit kan net een ding beteken: iemand het inligting om te deel.
“Ek luister,” sê ek toe die stem lank stilbly.
“Die klopjag vandag. Die radio sê dit het lelik skeefgeloop. Twee mense dood en jy ook amper. Ek het geweet dit sou gebeur. Iemand het die sindikaat afgetip.”
“En jy is …?”
Hy lag, en dan is dit asof hy vir ’n oomblik dink. “Noem my Ghaddafi.”
Ja. Reg. “Goed dan, Ghaddafi. Hoekom gaan jy nie polisie toe met jou inligting nie?”
“Ek kan nie. Daar’s te veel geld betrokke. Te veel ouens wat betaal word om anderpad te kyk.”
Ek probeer sy aksent plaas. Dit klink amper Oos-Europees, ’n geneigdheid om die s tot ’n z te sus.
“Wat wil jy hê moet ek vir jou doen? En onthou, my koerant betaal nie vir stories nie.”
Hy reageer nie daarop nie. “Neem Langstraat. Daar’s ’n kroeg in een van die systrate, Shafts. Almal weet waar dit is. Kry my daar oor ’n kwartier.”
Ek wil nog antwoord, maar die foon is reeds dood. Ek sit die GPS aan. Dis omtrent vyftien minute se loop tot by Shafts. Beteken dit die informant weet waar ek bly? Of is alles vyftien minute uitmekaar in Welkom? Hierdie is nie juis Londen of Parys nie. Moet wees.
Die besluit is maklik. Ek trek ’n baadjie aan en gooi ’n paar los goed in my rugsak. Dit sal veiliger by my wees as in die kamer, ingeval Ghaddafi – of wat ook al sy regte naam is – eintlik net ’n geleentheid soek om hier in te breek.
Toe ek my selfoon optel, huiwer ek vir ’n oomblik. Moet ek by Sarah se reëls hou, gemaak omdat ek kwansuis deesdae onverantwoordelik is? Moet ek haar laat weet waarheen ek op pad is?
Dis seker ’n goeie idee. En sy sal wakker wees, besig om Death Raider te speel of iets onwettigs te doen op al daai rekenaars van haar.
Ek gooi die foon in en maak die sak toe. Nee wat. ’n Mens kom nie los van een vrou net om beheer aan ’n ander te gee nie. Te veel vroue, te veel moeilikheid.
Vyf-en-twintig voor twaalf. Ek mors tyd.
Daar is ’n handvol mense wat buite Shafts rondmaal, die meeste van hulle dronk en min gepla deur die koue. Drie jong mans met blink hemde stap die kroeg binne. ’n Pragtige vrou met ’n handsak so groot soos haar vuis en ’n rok nie veel groter nie, kom uit.
Sy sien my raak en glimlag, so asof sy my bankbalans en belangstelling opweeg, maar besluit dan ’n dun baadjie, stowwerige bruin stewels en Levi’s sal haar nie kan bekostig nie.
’n Paar minute later klim sy in ’n wit BMW wat in die middel van die pad stilhou. Ligte jazz peul by die motor uit toe die deur oopgaan, en verdwyn dan saam met die vrou en ’n ronde wit man wat gretig aan haar been vat.
Ek besluit dis tyd om in te gaan. Sover lyk alles kosher. Ek het nie vir Ghaddafi gevra hoe ek hom sal herken nie, maar dit behoort nie ’n probleem te wees nie. As hy weet waar ek bly, sal hy weet hoe ek lyk. Dalk is hy selfs ’n polisieman.
Die stegie waarin ek Shafts se voordeur staan en dophou, is skuins oorkant die neonteken wat met vloeiende rooi-en-swart letters belowe dat jy hier die koudste Black Label in Welkom kry. My bakkie staan in die kroeg se amper leë parkeerarea aan die agterkant geparkeer. Die veiligheidswag het my laat inry sonder om vrae te vra.
Die deur se skarniere skreeu toe ek inloop. Die man agter die toonbank, besig om glase af te droog, kyk op, maar dis te donker om sy oë te lees. Daar is baie meer mense buite die kroeg as binne die gebou. Net een tafel het nog drinkers – die blink hemde van vroeër.
Shaggy sing oor die luidspreker wat aan die plafon vasgemaak is. ’n Gasverwarmer staan in die hoek en stroop die nag van die ergste koue.
“Julle nog oop?”
Die kroegman beduie met sy kaalgeskeerde kop verby my. “Die deur is toe.”
“Dis nog nie twaalfuur nie. En ek’s dors.”
“Dan moet jy gou drink.” Hy kyk op sy horlosie dat ek moet sien hy is haastig.
Ek gaan sit aan die punt van die toonbank, in die hoek, sodat ek die deur kan dophou. Die houtoppervlak is vol graffiti. Casper Like Cindy. ’n Nuwer een sê Thabo Loves Lungile. Haar naam is deurgekrap met ’n mes of iets.
“Castle, asseblief.”
’n Paar sekondes later staan die bier voor my. Die kroegman vat my geld sonder om dankie te sê of vir my kleingeld aan te bied.
“Tien minute tot toemaaktyd.”
Ek knik. Dit los sommer my probleem op. As Ghaddafi betyds opdaag, is dit goed. So nie, gaan ek terug gastehuis toe. Môre vroeg moet ek by die polisie wees vir ’n onderhoud met Dumi se bevelvoerder, en daarna gaan ek met die skofbaas van een van die myne praat.
My foon lui, maar ek ignoreer dit. Dis die nuusredakteur. Ek’s nie nou lus om met haar te praat nie. Nog minder om raas te kry omdat ek geskiet is.