Skrapnel. Irma Venter. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Irma Venter
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Контркультура
Год издания: 0
isbn: 9780798162579
Скачать книгу
>

      

      SKRAPNEL

      Irma Venter

      Human & Rousseau

      Vir Jacci

      En vir Esta en Sca

      A day isn’t just a standard measure, all the same size so each fit on a calendar page. A day is a period of light, an astronomical event. I felt that on the road that Kansas dawn. The broad swath of the sun’s light rolls upwards from the darkness, morning after morning, and then we roll outward into the ocean of stars at night. It seems extravagant, a glorious squandering of motion to give light, and life, to the grasses bending under the breeze, slowly retracting their shadows as the sun begins to climb.

      Verlyn Klinkenborg, The New York Times, 30 September 2009

      ALEX

      1

      Die eerste skoot trek links verby, te ver om te veel te worry. Die tweede een laat my op my hurke neersak, tot op die harde, stowwerige grond. Dit plof deur die sink van die plakkershut tot in die naburige huis. Tref iets met ’n dowwe klank.

      ’n Kind skree, maar dis ’n paar huise verder in die slingerende stofpad af.

      Flieks lieg. Nege-millimeter-koeëls gaan deur alles.

      “Beweeg!” skree die polisieman. Konstabel Ndebele, as ek reg onthou. Dumisani. Maar sommer net Dumi, het hy gesê toe kap­tein Burger hom vanoggend aan my voorgestel het.

      Hy beduie van die hut langs myne dat ons moet aanskuif ­na die volgende ry huise, weg van die koeëls af. Ek maak dan ook soos hy ­sê.

      Vroeër, oor fleskoffie en eet-sum-mors agter in die koue polisie-Opel, het hy vertel dat hy van ’n klein plekkie naby Ulundi kom. Sy oom is ’n tradisionele leier. Hy kon daar gebly het as hy wou, het hy gespot, maar dalk sou die verveling hom teen die mure uit­gedryf het.

      Ek wonder of hy steeds so dink.

      “Kom!” roep hy weer. Beduie ons moet nog verder gaan.

      Fyn stof dwarrel in die lug op soos sy swart stewels vastrap. Die voorspelerbene in die blou uniformbroek hardloop vol selfvertroue. Doelgerig. Ek fokus op die harde swart kopdeksel voor my. Die loop van die R5 steek kort-kort verby sy lyf soos sy arms swaai.

      Ons hardloop na die volgende sinkgebou.

      Die volgende een.

      Nog een.

      Niks nie. Geen geluid nie.

      Dan klap die skote weer, agter ons. Die bliksem – bliksems? – het herlaai. Hy hol saam met ons van huis tot huis.

      Ek duik vir die volgende hut, rol en gaan sit op my knieë. Ek kyk op, hemel toe. Die lug is blou. Onnatuurlik blou. Hoekom lyk dit altyd soveel mooier in die Vrystaat?

      Ek dwing my asem om rustig te word. Sagter. Kyk skrams deur die venster van die plakkershut.

      Die muurpapier kom van Lucky Star-blikke. Die moeë bed is netjies opgemaak. ’n Baba in ’n rooi T-hemp sit op die oranje duvet. Haar goue oorbelle blink in die oggendson wat skuins deur die venster val.

      Waar is haar ma?

      Langs my hyg Dumi na sy asem, al is hy jonk en gesond. Twee-en-twintig, het hy gesê. Dit moet al die toerusting wees wat sy longe so laat swoeg. Ek het net ’n notaboek in my gatsak, ’n pen in my hempsak en ’n ongemaklike koeëlvaste baadjie wat in groot wit letters verkondig dat ek van die media is.

      Kan die donners nie lees nie?

      Die volgende skoot tref die ketel in die hoek van die hut. Water stroom van die lendelam tafel tot op die vloer. Stoom rys stadig deur die geel lig en verdwyn teen die lae dak.

      Die kind begin skree, haar handjies op soek na iemand om haar op te tel.

      Nee. As iets met haar gebeur, is dit ons skuld.

      “Kom.” Ek pluk aan die polisieman se hemp. Wys na die volgende hut. “Soontoe.”

      Dumi skud sy kop waar hy langs my hurk. Hy beduie met sy oë dat ek mooi moet kyk.

      Ek maak so. Hy is reg. Net ná die volgende skewe plakkershut hou die ry huise op. Al wat oorbly, is ’n droë, rommelbestrooide veld aan die einde van Chris Hani Park.

      “Wat nou?” beduie ek stom. Skuif aan my koeëlvaste baadjie. Ek was nie lus vir die ding vanoggend nie, want dit skaaf my skouers, maar nou is ek bly vir die swaar Kevlar.

      “Ek het die ander geroep,” fluister Dumi en wys na sy radio. Loer om die hoek. “Hulle is ’n paar minute weg, maar hulle kom help. Ons moet net ’n rukkie vasbyt. Daar is blykbaar groot kak. AK-kak.”

      Ek wens my Zoeloe was so goed soos sy Afrikaans.

      Om sy woorde te beklemtoon stotter ’n masjiengeweer kortaf. Die skote kom van êrens links van ons, waar ons ’n paar minute gelede was.

      Ek kyk na Dumi en weet hy dink dieselfde: heel waarskynlik is daar nou ’n man met ’n moerse geweer tussen ons en die res van die klopjag. Onwettige myners is meestal sindikaatmanne. Hulle dra dikwels groter wapens as die polisie.

      Ek druk my notaboek dieper in my gatsak in. ’n Kamera beteken meer in situasies soos dié. ’n Lens maak mense meer toegeeflik as ’n stuk papier. Meer gewillig om te praat. Te onderhandel.

      Die gedagte is daar, te vinnig om te keer: Foto’s. Ranna Abramson.

      Fok tog. Dis die laaste mens aan wie ek nou wil dink.

      “Ons moet iets doen,” sê ek en beduie met my kop na die huis agter ons. “Daar’s ’n kind daar binne. Ons kan nie hier bly nie.”

      Dumi sukkel orent. Kyk deur die venster. Vloek soos vroeër toe hy besef het ons het van sy kollegas af weggedwaal. Ek en hy het vanoggend dik stukke gesels. Dis dalk hoekom ons nou hier sit. Ons het te veel gepraat en te min opgelet.

      Hy kyk na my, dan terug na die baba in die hut. “Dis al wat ons nou nodig het.”

      Hy draai sy kop veld se kant toe, asof hy die afstand meet. “Hoe lank gelede was die laaste skoot?”

      “Tien sekondes.”

      “Nie meer nie?”

      “Dalk,” gee ek toe en kom langs hom orent. Niks maak tyd meer relatief as die idee van ’n koeël deur die kop nie.

      Ons loer weer na die kind, haar handjies nou dringender – oop, toe, oop, toe – haar mond wyd, pleitend dat iemand haar moet optel. Wegvat.

      “Dit help ook niks sy skree so nie,” sê Dumi.

      Hy dink vir ’n oomblik. “Kom ons hoop die shooter se aandag is by die ander, hulle moet nou al naby wees.” Hy wys na die swartgebrande gras. “Ons hardloop so om,” hy beduie na die huise op die rand van die veld, “en kyk of ons by die res van die groep kan kom.”

      “Goed.” Ek knik en voel of my notaboek stewig in my jeans se agtersak sit.

      “Go!” sis Dumi. “Ek sal jou cover.”

      Ek laat sak my kop tussen my skouers en hardloop agter die huis uit, die veld in. Agter my stamp Dumi se nommertiens in die grond in.

      Tien meter weg. Vyftien.

      Niemand skiet op ons nie.

      Dertig meter.

      My asem jaag in my ore.

      Vyftig meter.

      Die huise bly regs van ons. ’n Maer hond blaf verskrik toe ons verbystorm. Drie skote gaan af, meer afgemete hierdie keer. Nege-mil?

      Iemand gil. Nie die kind nie, dankie tog. Dis iemand wat skree soos ’n mens wat skielik doodgaan. Verbaas. Die naelstring waaraan hy spartel kortgeknip.

      “Gaan regs in,” roep Dumi. “Regs!”

      Ons hardloop tussen ’n ry huise in.

      Nog skote, nader hierdie keer. Morsekode. R5? Ek hoop so.

      Skielik