Wanneer God jou vashou. Johan Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796316400
Скачать книгу
boodskap verwerk? Wat uit die verhaal duidelik blyk, is dat sy dit onmiddellik as ’n boodskap van die Here erken het. ’n Mens weet wanneer dit God is wat praat. Soos wat ek en jy ook al by meer as een geleentheid by die lees van die Bybel of onder ’n preek of die lees van ’n boek geweet het God praat nou baie spesiaal met my. En dis dié wete wat vir haar op God se woord laat antwoord.

      Ek is tot u beskikking! God se boodskap sou sekerlik nie tot opgewonde vreugde aanleiding gee nie. ’n Ongehude swangerskap, wat gaan Josef sê, en die mense? Maar as dit God se pad is, dan is ek tot sy beskikking. Dis daardie antwoord van Maria wat van haar ’n besondere mens gemaak het.

      Here, ek is tot u beskikking!

      24 Januarie

      Die regte keuse

      Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God.” Rut 1:16

      ~

      Rut se storie is in vele opsigte merkwaardig. Sy is uit huis uit ’n heidense meisie. Sy trou met ’n Israeliet wat saam met sy ouers uit ’n droogte geteisterde Betlehem gevlug het. In Moab sterf haar skoonpa en man. Haar skoonmoeder besluit om terug te keer na haar tuisdorp. En Rut besluit om saam te gaan, haar verlede, haar huis en land en mense én godsdiens agter te laat. Rut se storie word die storie van verlossing, van die nuwe ryk van God waar daar plek is vir mense uit alle volke, nasies en tale, en uiteindelik van ’n nuwe hemel en nuwe aarde!

      Naomi, Rut se skoonmoeder, keer terug na Betlehem, haar geboortegrond en die plek waar haar oorlede man nog sekere regte agtergelaat het. Rut en Boas raak op mekaar verlief en Boas tree vir Rut as losser op, wat beteken dat hy op ’n wettige manier Naomi se regte terugkoop en aan Rut besorg. Op dié manier word Naomi in ere herstel en Rut word deur haar huwelik met Boas deel van die verbondsvolk.

      En dan vir die verrassing, vir die “eerste Kersfees” in Betlehem: ’n kind word vir Rut en Boas gebore. Die vrou uit die heidendom word die moeder van ’n nuwe bloedlyn in Israel, die bloedlyn waaruit die Messias later in Betlehem gebore sou word.

      Die uitdaging waarvoor Rut te staan gekom het, was die dag toe sy moes besluit watter roete sy gaan inslaan: terug na Moab of saam met Naomi (en haar God!) na die onbekende Betlehem.

      ’n Keuse vir die regte God loop toe uit op Kersfees!

      25 Januarie

      Waarna kyk jy?

      Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: “Here, red my!” Matteus 14:30

      ~

      Op Jesus se spoor sou daar ander uitdagings op Petrus se pad kom. Soos die dag toe hy op die stormsee moes besluit wat hy gaan doen toe Jesus hom nader wink om op die water na Hom toe te loop.

      Stel jou die atmosfeer op die boot voor toe die vreesbevange dissipels hoor dat die “spook” niemand anders as hulle Meester, Jesus, was nie. Verligting! Verbasing? Blydskap? En dan Petrus aan die woord: “As dit regtig U is, beveel my om op die water na U toe te kom.” Uitdagend? Hy moes darem net altyd die eerste woord inkry, in die kalklig bly. Wat sou Jesus antwoord? “Nee, Petrus, dis nie vir jou nie. Ek is op pad na julle toe.” Maar nee, Jesus sê: “Kom!” Be­sluitnemingstyd. “Het ek nie dalk te gou gepraat nie?” Petrus neem Jesus op sy woord. Dit was wel ’n geloofsdaad. Daarvoor moet Petrus tog ’n punt of twee kry. Hy loop toe op die water. Seker tot verbystering van sy makkers (en homself!). Maar toe sien hy die branders. En hy dink: “Is ek van my trollie af om op die water te probeer loop!” Toe hy begin sink, roep hy om hulp, steek sy hande na Jesus uit … en word gered.

      Toe Petrus die uitdaging om op die water te loop aanvaar, was dit ’n geloofs­daad. Met sy oë op Jesus gerig, het dit toe gewerk. Die verskil tussen geloof en twyfel het met jou visie te make – óf Jesus óf omstandighede. Dis goed Petrus het onthou om weer na Jesus uit te reik. Dis hoe ’n mens gered word.

      Die verskil tussen geloof en twyfel het met jou visie te make – óf Jesus óf omstandighede.

      26 Januarie

      Om ’n herder vir die skape te wees

      Toe hulle klaar geëet het, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” “Ja, Here,” antwoord hy Hom, “U weet dat ek U liefhet.” Hy sê toe vir hom: “Laat my lammers wei.” Johannes 21:15

      ~

      Kom ons gee vir Petrus nog ’n beurt. Die toneel is kort voor Jesus se hemelvaart. Jesus het ná sy opstanding aan sy dissipels verskyn by die see van Galilea (Tiberias). Die atmosfeer is effe gespanne. Onwerklik. Die dissipels weet nie presies wat om te verwag nie. En Petrus is verleë. Hy het vir Jesus verloën. Die haan se gekraai is nog ’n aanklag in sy ore. En dan praat Jesus …

      “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle hier?” Toe weet Petrus: die tyd vir boeke opmaak het gekom. Hy verklaar sonder skroom sy liefde vir die Here. Dit lyk tog of hy nog ’n kans kry. Hy gryp die kans met albei hande aan. Maar dan herhaal Jesus die vraag, ’n tweede en derde maal. Wat sou dit tog beteken? Dat Jesus hom nie glo nie? Veral nie ná die verloëning nie? Hoe op aarde sal hy tog vir Jesus daarvan kan oortuig dat hy Hom hartstogtelik liefhet?

      Die antwoord word gevind in Jesus se reaksie op sy liefdesverklaring: Pas my skape op. Bewys jou liefde deur jou diens. En dit was Petrus se grootste uitdaging. Jesus sou binnekort weggaan. Sy skape bly agter. En Petrus word as herder aangestel, ’n herder op die voetspoor van die hemelse Herder.

      Liefde in aksie, liefde wat inderdaad bewys word, liefde wat van ons vra om ons moue op te rol, skouer aan die wiel te sit en ’n herder vir die skape te wees.

      Bewys jou liefde deur jou diens.

      27 Januarie

      Moet ek álles prysgee?!

      Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry en vir hom gesê: “Net een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Hy het egter geskrik toe hy dit hoor en het bedruk weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Markus 10:21–22

      ~

      Besittings, geld en goed, speel in die meeste mense se lewens ’n baie belangrike rol. Dit is die sekuriteite waarmee hulle vir hulself ’n gemaklike en voorspoedige lewe verseker. Dit gebeur so maklik dat mense aan hierdie aardse goed verknog raak, dat dit vir hulle só kosbaar raak dat dit onmoontlik raak om daarvan afstand te doen.

      Dié jongman was nie ’n losbandige losbol nie. Hy was ’n goeie godsdiens­tige Jood. Hy het die wet geken en onderhou. En hy wou graag nog meer weet oor dinge met ewigheidswaarde. Toe Jesus hom met soveel entoesiasme hoor praat, het Hy hom liefgekry. Toe stel Jesus die jongman voor die grootste uitdaging waarmee hy nog gekonfronteer is: “Gaan verkoop alles wat jy het, en gee die geld vir armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My!” Dit gaan oor ’n keuse tussen skatte op aarde en skatte in die hemel. Jesus wou maar net hê dat die jongman duidelikheid sou kry oor wat vir hom regtig die heel belangrikste is. ’n Belegging in die hemel bring mee dat ’n mens jou aardse goed as van minder belang moet reken; dat jy die nood van jou medemens ernstig sal neem, en dat jy vir Jesus sal volg. En ’n mens kom uit die verhaaltjie agter dat hoe ryker ’n mens is, hoe moeiliker is dit om in hemelse skatte te belê.

      Hoe ryker ’n mens is, hoe moeiliker is dit om in hemelse skatte te belê.

      28 Januarie

      Verraad uit die binnekring

      Terwyl Jesus nog praat, kom ’n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. Maar