Wanneer God jou vashou. Johan Smit. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Johan Smit
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796316400
Скачать книгу
voortvlugtige moordenaar, sy volk uit Egiptiese slawerny moet bevry. Wat gaan hy doen? Toe hy maande later voor ’n watermassa te staan kom met die hele volk agter hom en die Egiptenare volstoom op hulle spore – wat nou gemaak? Toe die water maande later in die woestyn opraak en God sê hy moet maar net met sy kierie op ’n klipharde rots slaan en daar sal water uitkom … wat gaan hy doen? En die ergste van alles: toe die volk in sy afwesigheid ’n goue kalf maak en só vir hulle hul god verbeeld en God besluit om die volk te verwerp … hoe gaan hy dit hanteer?

      Wat doen Moses? Hy praat met God en hy vertrou sy God. Hy neem God op sy woord en sien elke uitdaging as ’n geleentheid waardeur God verheerlik moet word.

      Sien jou uitdagings as geleenthede om God te verheerlik.

      10 Januarie

      Ek en my familie sal die Here dien

      Of, as julle dit nie goedvind om die Here te dien nie, kies dan vandag wie julle wil dien: die gode wat julle voorvaders gedien het anderkant die Eufraat, of die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Wat my en my familie betref, ons sal die Here dien. Josua 24:15

      ~

      Tydens die uittog was Josua die stille medewerker, heeltyd gewillig om in Moses se skaduwee te staan. Hy was een van die verkenners wat met geesdrif bereid was om die gevare van die beloofde land te trotseer. En toe val Moses se kleed op hom. Eintlik was Josua eerder ’n krygsman as ’n politikus. Maar hy was nederig en volkome afhanklik van die Here.

      Tydens die intog het hy homself as ’n uitmuntende leier bewys. Hy het deurentyd die Here se bevele gehoorsaam. Die intog was ’n reusesukses. Maar ongelukkig is sukses nie altyd die beste medisyne nie. Die mense het van die Here en sy verbond begin vergeet. Die heidene se afgode en afgodspraktyke was darem net te aanloklik en interessant. Dit was maar oor al die eeue so: as dit met mense goed gaan, het hulle die Here eintlik nie so broodnodig nie.

      Toe moet Josua sy afskeidspreek lewer. Hy het ’n beleidsverklaring gedoen. Dit het so gebeur: Die Israeliete het in die afgode van die heidenvolkere geïnteresseerd geraak. Soveel so dat hulle van die Here afvallig geraak het. Wie sê nou dat die Here van Moses en Josua regtig so ’n wonderlike God is?

      Toe het Josua standpunt ingeneem. Sonder skroom, onverskrokke. “Ek en my huis sal die Here dien.” Ek hoor nog vandag Josua se stem refrein deur die wêreld van ons tyd. Mense verwerp oraloor die God van die Bybel. Waar staan jy en jou huis?

      Aan wie se kant is jy en jou gesin?

      11 Januarie

      Die swaard van die Here en Gideon

      Die Here het vir Gideon gesê: “Ek kan Midian nie oorgee in die mag van soveel manne by jou nie. Israel sal teenoor My spog en sê: ‘Ek het myself gered.’” Rigters 7:2

      ~

      Gideon was ’n jongman met waagmoed en durf. Sedert sy ontmoeting met die engel van die Here het daar heelwat opwindende dinge in sy lewe gebeur. Hy het die uitdaging aanvaar om die Israeliete van die Midianitiese oorheersing te bevry. Hy het die afgodealtaar voor sy pa se huis afgebreek en sodoende die sonde van sy volk blootgelê en hom openlik daarvan gedistansieer. Maar nou moet die vyand aangedurf word. En soos ons weet was die Midianiete ’n oormag. Sal die energieke jongman die nodige ervaring en kennis hê om so ’n groot taak aan te pak?

      En dis toe hier waar die Here hom voor ’n geweldige toets plaas. Nee, meen die Here, daar is heeltemal te veel manskappe wat saam met Gideon optrek. Te veel? Luister na die Here se motivering: “Israel sal teenoor My spog en sê: ‘Ek het myself gered.’” Israel se verhouding met die Here was in daardie stadium nie so goed nie. Die afbreek van ’n afgodealtaar het nog nie die volk van harte na die Here laat terugkeer nie. Dit moet bo alle twyfel duidelik wees dat die Here sélf vir die oorwinning verantwoordelik gaan wees. Oorwinning gaan so maklik na ’n mens se kop. En in die hart van ’n groot kop is daar selde plek vir die Here.

      En Gideon aanvaar die uitdaging. Selfs toe die Here die leer tot drie honderd man beperk! Die Here het toe vir oorwinning gesorg. Niemand kon daar­aan twyfel nie. Met die slagspreuk “die swaard van die Here en Gideon” is die Midianiete verslaan.

      In die hart van ’n groot kop is daar selde plek vir die Here.

      12 Januarie

      Wag tot die Here praat

      Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” 1 Samuel 16:7

      ~

      In die verhaal van Dawid se salwing as Israel se volgende koning word Samuel voor die uitdaging gestel om te wag tot God praat. Vir die meeste mense is dit een van die heel moeilikste oefeninge. Ons stel ons gesonde oordeel so hoog op prys. En ons is menslik gesproke tog meesal in die kol (meen ons). Maar die fout wat ons maak is om nie te wag tot die Here praat nie.

      Die Here stuur vir Samuel om ’n nuwe koning te gaan salf. Die Here sê nie hy uit die staanspoor vir Samuel om vir Dawid te salf nie. Nee, al wat hy weet, is dat dit een van Isai se seuns moet wees. Die Here wou vir Samuel so­wel as vir almal wat oor eeue heen die storie sou hoor ’n belangrike les leer. Reeds toe die oudste seun, ’n man van goeie voorkoms, inkom, meen Sa­muel dis nou die nuwe koning. Maar die Here sê nee. En dan hierdie veel­seggende verduideli­king: “Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”

      Dis toe dat Samuel leer om te wag. Totdat die jong skaapwagtertjie op die toneel verskyn en hy weet: hiér is die Here se keuse! Om te wag en te luister en nie op die oog af te oordeel nie – dit bly vir ons almal wat in die Here se diens staan, ’n reuse-uitdaging. Ons kan tog so oorhaastig raak en verkeerde konings salf …

      Wag, en luister … totdat jy weet die Here het gepraat.

      13 Januarie

      Die verkeerde offer

      Maar Samuel antwoord: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery.” 1 Samuel 15:22–23a

      ~

      Partykeer raak ’n uitdaging net té groot vir ’n mens om te hanteer. Of liewer: soms raak die mens net te groot vir die uitdagings. Soos wat dit die geval was met koning Saul. Eintlik was dit nie die uitdagings wat te groot geraak het nie, maar die oorwinnings. Alles het net te vinnig gebeur. Die jongman wat sy pa se verlore donkies gaan soek, kom terug by die huis as ’n gesalfde koning! Israel se eerste koning. En hy doen goed. Die mense hou van hom. Hy wen sy eerste belangrike veldslae. Hy word ondersteun deur Samuel, die man van God. God is aan sy kant.

      Maar dis net toe dat dinge begin skeefloop. Saul se kop raak te groot. Hy weet nie hoe om sukses te hanteer nie. Wat die Here sê is nie meer heeltemal so belangrik nie. Hy doen sy eie ding. Hy is immers die koning. Toe die Here sê die vyand moet met die ban getref word, hou Saul van die beste vee uit. ’n Mens kan darem nie sulke goeie goed laat verlore gaan nie. Toe Samuel hom voor stok kry, vertel hy ’n leuen, sê dat hy dit eintlik as offerdiere uitgehou het. En so beland Saul in die een na die ander petalje wat sy verhouding met die Here in die wiele ry. Totdat die Here hom as koning verwerp. Want die Here vra gehoorsaamheid, of jy nou ’n gewone voetsoldaat of ’n koning is.

      Die Here vra gehoorsaamheid, wie jy ook al is.

      14 Januarie

      In die Naam van die Here!

      Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jy kom na my toe met ’n dolk en ’n spies en ’n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die