Uit die beek 2014. Attie van Wijk. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Attie van Wijk
Издательство: Ingram
Серия: Uit die Beek
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796313492
Скачать книгу
van ons werk nie vandag nie. Ons kan dus self besluit hoe ons hierdie Sondag wil deurbring. Ons kan dit gebruik vir dinge wat nie werklik saak maak nie, of ons kan dit sinvol gebruik. Die eredienste is bedoel om ons te bewapen vir die week wat voorlê. Begin sommer vandag om ’n dagboekie aan te skaf en elke dag, of minstens elke week, neer te skryf wat die Here sê. Probeer dit memoriseer. Dit gaan jou vanjaar in die slapelose nagte help.

      GEBED:

      Dankie dat u Woord my elke dag wil deurdra.

      Lees vanaand in Psalm 119:153-160 hoe ’n mens met vrymoedigheid al jou probleme na God toe kan neem.

      Maandag 6 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 5:1-9

      Geen godsdiensvryheid

      […] Ek ken die Here nie, en ek sal Israel nie laat gaan nie! – Eks 5:2

      GESELSVRAAG:

      Waarom is daar soveel Christenvervolging?

      “Daar sterf elke jaar 163 000 Christene vir hul geloof. Meer as die helfte van alle Christene wat vir hul geloof doodgemaak is, het in die afgelope eeu gelewe,” lees ek op die internet. Meer as 200 miljoen Christene het nie die vryheid om openlik op ’n Sondag bymekaar te kom om die Here te aanbid nie. Van die 50 lande waar daar tans die hewigste Christen-vervolging plaasvind, is meer as 80% Moslemlande. Hoekom doen mense dit?

      Vandag se Skriflesing herinner ons dat die hoofoorsaak is dat die regeringsleiers nie die Here ken nie. Selfsug het baie daarmee te doen. Hulle wou nie hul slawe verloor nie. Produksie was belangriker as mense. Toe Moses en Aäron in die Naam van die Here vir vryheid gevra het, was die gevolg net groter verdrukking. Dit het hulle baie ongewild onder hul eie mense gemaak.

      Paulus verduidelik dat daar agter dit alles eintlik ’n ander vyand sit. Ons vyande is nie in die eerste plek mense nie, maar bose geeste (Ef 6:12). Dit is ’n geestelike oorlog waarin ons betrokke is. Ons kan dus verwag om ook weerstand te kry as ons vanjaar aan die Here gehoorsaam wil lewe. Baie dae sal jy dalk ook so moedeloos soos Moses voel. Is dit werklik die moeite werd? Maar onthou: die oorwinning is in die Here se hand. Hy het alle mag in hemel en op aarde. Sy kant is uiteindelik die wenkant. Halleluja!

      GEBED:

      Help my volhard ten spyte van teenspoed, Here.

      Lees vanaand in Eksodus 5:10-21 hoe moeilik dit soms is om aan God se opdragte gehoorsaam te wees.

      Dinsdag 7 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 5:22 – 6:12

      Waar is die Here?

      Dit het Moses toe aan die Israeliete vertel, maar in hulle moedeloosheid oor die harde werk het hulle nie na hom geluister nie. – Eks 6:8

      GESELSVRAAG:

      Wanneer voel dit vir jou asof die Here te ver is?

      “Dit voel vir my asof my gebede nie verder as die plafon gaan nie,” kla ’n groeplid. “Sit jou God dan bo-op die plafon?” vra een van haar vriendinne. Skerp! Die Here belowe tog dat Hy elke dag met ons sal wees. Christene kan weet die Drie-enige God woon in hulle. En tog moet ons so dikwels erken dat dit vir ons voel asof God nie bestaan nie. Hoekom is daar dan geen uitkoms nie? Waarom neem dinge so lank? Is daar nog enige hoop vir ons?

      Dit is niks nuuts nie. Moses en sy broer het ook so gevoel. En hulle het die vrymoedigheid gehad om dit so aan die Here te sê. Die Here het hulle bemoedig en hulle verseker van sy goeie planne vir hulle, soos ons vandag gelees het. Maar toe hulle dit aan die volk oordra, wou hulle dit nie aanvaar nie. Waar is die God van wie julle praat? Kyk net hoe swaar kry ons nou as gevolg van jul inmenging. Wil julle nie maar jul bondeltjies vat en weggaan nie? Dit lyk nie asof jul God enige verskil kan maak nie.

      Ons weet nie wat vanjaar vir ons wag nie. Maar ons kan van een ding seker wees: God weet, en Hy sal elke dag saam met ons ingaan. Hy nooi ons om Hom te volg. Dit veronderstel dat Hy voor ons hierdie dag ingaan. Dis ’n avontuur om saam met Hom te gaan. Kom ons geniet dié dag saam met Hom.

      GEBED:

      Here, dra my deur die moedelose tye.

      Lees vanaand in Eksodus 6:13-26 die lys van mense wat die Here se bevryding nodig gehad het. Het jy ook ’n lysie?

      Woensdag 8 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 6:27 – 7:13

      Wie is in beheer?

      Maar Ek sal die farao hardkoppig maak, sodat Ek baie tekens en wonders in Egipte kan doen. – Eks 7:3

      GESELSVRAAG:

      Hoe weet ons dat die Here vandag nog in beheer is?

      “As ek ’n jaar lank God kon wees, dan sou ek darem hierdie land gou regsien,” sê baie mense. Soos in ’n fliek oor hierdie onderwerp, sal jy gou genoeg agterkom dat God-wees nie so maklik is nie. Elke ding wat jy doen, het onverwagte gevolge. Dit is net God wat weet wat die regte besluit is om te neem.

      Interessant genoeg, is dit presies wat God in die oorspronklike taal aan Moses sê. “Ek maak jou ’n god vir farao,” staan dit letterlik in vers 1. Dit beteken nie dat Moses nou maar kon doen wat hy wou nie. Hy moes steeds elke keer by die Here gaan hoor wat om te doen en te sê. Dit moes hy dan aan Aäron oordra, wat as sy tolk sou dien. Die Here het hom egter gewaarsku dat die farao nie sou luister nie. Hy sou bly weier totdat hy besef God is almagtig. God is in beheer. Dit is Hy wat die farao koppig maak. Dit gaan oor sy eer. Hy wou sy almag aan die Egiptenare ten toon stel; daarom het die een wonderwerk ná die ander gebeur – elke keer om te wys dat God magtiger as Egipte se gode is. Elkeen van die tien plae het oor een van Egipte se afgode gegaan.

      Ons wonder soms waarom God nie dadelik alles regmaak nie. Hy het sy eie tydtafel. Hy weet alles, en kan alles vooruit sien omdat Hy nie aan tyd gebonde is nie. Ons kan Hom vertrou. Hy regeer.

      GEBED:

      Dankie dat ek ’n kind van die Koning mag wees.

      Lees vanaand in Eksodus 7:14-25 hoe die Nylgod voor die Here se almag moes buig.

      Donderdag 9 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 8:1-15

      Die mislukking van sukses

      Maar toe die farao sien dat daar verligting gekom het, het hy weer onversetlik geword […] – Eks 8:15

      GESELSVRAAG:

      Wat sal mense oortuig dat God lewe?

      “Ai, ek wens God kan sy almag op so ’n manier openbaar dat alle ateïste sal besef Hy bestaan,” het jy seker ook al gewens en oor gewonder. Sou dit dinge nie baie vereenvoudig nie? Sien is mos glo. Of is dit?

      Die Egiptiese godin van vrugbaarheid, Heket, is voorgestel as ’n vrou met die kop van ’n padda. Paddas is daarom as heilig beskou en mag nie doodgemaak word nie. Dit het dus vir die farao en sy mense ’n baie groot probleem geskep toe hul land op Moses se woord deur paddas oorstroom is. Lees net die humoristiese beskrywing van hierdie plaag. En die farao se towenaars het die saak net vererger! Die farao kon self kies wanneer God Moses se gebed moes verhoor. En dit het so gebeur. Wie kon dan nog twyfel dat die Here almagtig is? Maar die farao wou hom nog steeds nie bekeer nie. En dit nadat hy Moses laat roep en gevra het dat hy tot die God van Israel moet bid.

      Sonder ’n grondige hartsverandering kan mense nie verander nie. Jy moet weergebore word. Net die Heilige Gees is in staat om mense van binne af uit te verander. Ons lewe en woorde kan hulle probeer oortuig, maar uiteindelik is dit God self wat die wonder laat gebeur. Die farao was nog nie gewillig om sy selfsug prys te gee en voor die ware God te buig nie.

      GEBED:

      Here Jesus, verhoed tog dat ek my hart teen U verhard.

      Lees vanaand in Eksodus 8:16-19 hoe muggies die vinger van God geword het. Wie is dan nog te klein om gebruik te word?

      Vrydag 10 Januarie 2014 Lees eers Eksodus 8:20-32

      Steekvlieë

      Die