Kavod Adonai. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796316240
Скачать книгу
leer om so te veg. Yeshua het ook uit die Tora gepraat toe Hy gesê het ons moet ons vyande liefhê.”

      “Vertel my nog so ’n storie.”

      Marc dink ’n ruk voordat hy weer praat. “Dis nie heeltemal so ’n mooi storie nie, Yhosh.”

      “Ek wil dit hoor, Abba.”

      “Wel, dit was in ’n ander oorlog. My afdeling het ’n straat in Gasastad gepatrolleer in ’n skarebeheervoertuig. Daar was geweldig baie mense in die straat en steeds het meer bygekom.”

      ’n Woeste bende was aan die versamel. Uit die moskees het fanatiese aanbidders die strate ingestroom. In die skarebeheervoertuig het hulle besef die situasie kan te eniger tyd ontplof.

      “Ons bestuurder was ’n jong soldaat. Nog byna ’n kind, pas klaar met sy opleiding. Die offisier in bevel het bo-op die voertuig geklim om beter te kan sien wat aangaan.”

      “Dís gevaarlik!”

      Marc glimlag. “Vir seker. Toe ons by ’n moskee verbyry, word ons meteens van alle kante bestorm en heeltemal omsingel. Ons het dadelik besef dit sal die beste wees om so gou moontlik daar weg te kom. Terug basis toe.”

      Die skare het die voertuig heen en weer geskud. Dit was donker van dreigende mense rondom hulle. Besete mense. Al waaraan Marc kon dink, was die twee soldate wat in Ramallah van die pad afgeraak het en deur net so ’n woedende skare gelynch is. Hy het vurig gehoop hul bevelvoerder het genoeg ervaring om die situasie te beheers.

      “Skielik het ’n man agter teen die voertuig opgeklim en die offisier se geweer probeer gryp.”

      “Allah hu Akbar,” het die bebaarde man geskreeu toe hy agter opklouter. Marc het yskoud geword.

      “Die offisier het nie nog kans gehad om sy geweer op te lig en te skiet nie. Hy moes die man met die kolf van sy geweer van die voertuig afstamp. Tegelykertyd het ’n yslike klip wat iemand bo van die muur rondom die moskee afgegooi het, hom getref sodat hy geval en ’n sekonde of twee bewusteloos was. Klippe van alle groottes het op hom gereën.”

      Yhoshi kyk hom met groot oë aan. “Hoekom het die bestuurder nie begin ry nie?”

      Marc knik. “Toe hy bykom, het die offisier vir hom geskree: ‘Ry agteruit! Ry agteruit!’ Maar niks het gebeur nie. Toe eers het ons besef die kabel van die mikrofoon na die bestuurder is stukkend gegooi.”

      “Sjoe!” Yhoshi druk sy kop styf teen sy pa se bors.

      Dit was duidelik dat die skare opgesweep was en te eniger tyd sou aanval. Waar hy in die voertuig gesit het, kon Marc hulle hoor gil: “Allah hu Akbar! Allah Yixdac!” Die ritmiese krete het soos tromslae geklink. Marc was so angstig dat hy skaars kon asemhaal. Van die oproeriges het agter op die voertuig begin klim. Hulle gaan ons vandag hier doodmaak, het hy besef.

      “Die bestuurder was so geskok, hy was heeltemal verlam. Hy kon homself nie so ver kry om agteruit die skare in te ry nie.”

      Waar hy vasgekeer gesit het, was Marc ten spyte van die verstikkende angs bewus van die geweldige emosie wat in die skare aan die opwel was. Met ’n swaar hart het hy besef hoe moeilik die keuse vir die bevelvoerder was. Al manier waarop hulle lewend kon uitkom, was om onmiddellik so vinnig moontlik agteruit te ry, wat ongetwyfeld sou beteken dat mense beseer of selfs gedood sou word. Die alternatief was egter dat die hele afdeling daar gelynch word.

      “Wat het julle toe gedoen?”

      “Een van ons manne het ’n paar skote naby die bestuurder afgetrek om hom uit sy skok te ruk. Dit het gewerk en hy het vinnig agteruitgejaag.”

      Marc kon wilde krete hoor soos die oproeriges uiteenspat om pad te gee.

      “Het hy baie mense doodgery?”

      Marc skud sy kop. “Nee, ons kon bloed op die sypaadjie sien, maar niemand is dood nie.”

      Yhoshi sug verlig.

      “Ek vertel jou die storie sodat jy kan begryp dat soldate in die oorlog soms dinge moet doen wat hulle nie graag wil doen nie. Maar uit verdediging, nie om aan te val nie.”

      Hy knik.

      “Is dit vir jou ’n bietjie duideliker hoekom ons altyd moet oorlog maak?”

      Hy knik weer half afwesig en vra toe: “Abba?”

      “Jaaa?” Marc het al half regop gekom om te loop, maar hy gaan sit weer.

      “Hoekom is jy liewer vir Natani as vir my?”

      Dis asof iemand hom ’n hou in die maag gee. Sou dit wees dat hy half skuldig voel?

      “Hoe nou?” vra hy.

      “Jy hou meer van Natani as van my.”

      “Nee, Yhosh, dis nie waar nie. Hoekom sê jy dit?”

      Die kind sê niks, haal net sy skouers op.

      “Hoekom sê jy dit, Yhosh?”

      “Jy laat Natani dinge doen wat ek nie mag gedoen het nie.”

      Marc besef hy praat van die oggend met die geweer. “Jy is reg wat dit betref, ek het hom vanoggend aan my geweer laat vat wat ek jou nooit toegelaat het nie. Ek behoort dit nie te gedoen het nie.”

      “Maar jy is liewer vir hom as vir my.”

      “Nee, Yhosh, dis nie so nie. Luister nou wat ek vir jou sê: Dit lyk maar vir jou so. Miskien oor my en Natani se … geaardhede baie dieselfde is. Jy en Imma is weer baie eners. Julle albei is vir niks bang nie.”

      Yhoshi kyk op. “Maar jy is nie bang nie, Abba.”

      Marc grimlag effens. “Jy weet net nie. Ek is bang vir vreemde mense. Ek is partykeer bang om Israeli te wees. In die oorlog was ek baie bang. Ek is nie so ’n goeie Israeli soos jy en Imma nie.”

      “Abba, jy het die Tora liewer as enigiemand anders.”

      “Nee …!”

      “Ja, Abba. Jy is soos saba Chaim.”

      Dit ontroer Marc so dat hy vinnig moet weg kyk. Hy neem Yhoshi se handjie styf in syne. “Yhoshi, ek het Natan nie liewer as vir jou nie. Ek het julle ewe lief. Jy is my eersgeborene.”

      “Natani gaan eendag skilder, soos jy.”

      “En jy gaan ’n professor word.”

      “Nee, ek gaan ’n vlieënier word, ’n vegvlieënier.”

      “Dit kan jy doen solank jy in die IDF is, maar daarna word jy ’n professor. Dit weet ek vir seker.”

      “Abba.”

      “Hmm?”

      “Ek het jou ook lief.”

      Marc buk af en soen hom op sy voorkop. Dit maak dat Yhosh se kippah afval. Hy tel dit dadelik op en sit dit weer netjies op sy kop.

      “Kyk!” roep hy toe.

      Oor die plein kom Rivkah aangestap. Voor haar uit huppel Natan met Shmu’el op sy hakke. Hy werp hom met oorgawe in Marc se arms.

      “En toe?” vra Rivkah toe sy voor hulle staan, haar oë blou soos die somerlug bo hulle. “Het julle al Israel se probleme opgelos?”

      “Álmal.” Hy sit Natan op die grond neer en neem albei seuntjies se hande. “Kom ons stap af Kotel toe, ons het baie om HaShem voor te bedank.”

      “En te vra dat jy veilig van milu’im terugkom.”

      Maar Natan trek ongeduldig aan Marc se hand. “Abba, ons het nog nie Kiddush gedoen nie.”

      “’n Mens doen nie Kiddush op Shabbat-oggend nie!” help sy broer hom onmiddellik reg. “Ons het dit op Erev Shabbat by saba Chaim gedoen. Meshug …” Hy stop in die middel van die woord toe hy sy pa se gesig sien.

      “Yhoshi is reg, Natani.”

      “Maar