Kavod Adonai. Marzanne Leroux-Van der Boon. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Marzanne Leroux-Van der Boon
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Религия: прочее
Год издания: 0
isbn: 9780796316240
Скачать книгу
tion>

      

      MARZANNE

      LEROUX-VAN DER BOON

      KAVOD ADONAI

      Die vrese van die Here

      Lux Verbi

      Hoofstuk 1

      Jerusalem

      Shabbat 13 Augustus 2011

      Marc staan ’n oomblik stil in die deur van die kamer waar sy seuntjies slaap. Yhoshi het sy duvet afgeskop en lê uitgestrek op sy maag. Die verweerde beertjie waarsonder hy in die eerste ses jaar van sy lewe nooit gaan slaap het nie, lê op die grond. Hy dring deesdae daarop aan dat hy Yhosh genoem word en nie meer op die troetelnaam “Yhoshi” nie. Nie dat sy ouers of boetie dit dikwels onthou nie.

      Ten spyte van die Augustus-hitte lê Natan nog nes sy ma hom die vorige aand toegemaak het, diep in sy duvet ingewurm. Sy lang swart krulhaartjies steek net-net uit. Duim in die mond. Shmu’el, die wit wolhaarhondjie, slaap opgekrul styf agter Natan se rug. Toe hy Marc hoor binnekom, kyk hy skuldig op. Hy is immers veronderstel om in sy mandjie voor die bed te slaap. Maar sy baas tel hom op en druk die koue snoetjie teen sy wang. Toe trek hy die gordyne voor die venster oop en helder sonlig bars die vertrek binne.

      Yhoshi roer en draai om. “Abba,” mompel hy nog voordat sy oë behoorlik oop is.

      Marc glimlag, buk af en soen hom. “Boker tov,” sê hy. “Kyk hoe hoog sit die son al.”

      “Abba …! Dis Shabbat,” sê die kind, “en dis skoolvakansie.”

      “Dit is so.” Marc gaan sit op die kant van die bed.

      Natan het ook wakker geword. Hy ontworstel hom uit sy beddegoed en kom klim sonder versuim op sy pa se skoot. Marc druk die koppie teen sy bors en soen die slaapwarm gesiggie.

      “Kom,” sê hy, en met die kinders se hande in syne bid hulle die Modeh Ani.

      “Ek sê vir U dankie, lewende en ewige Koning, dat U in liefde en deernis my siel weer in my vernuwe het. Groot is u getrouheid.”

      “Abba?”

      “Hmm?”

      “Hoekom kan ons nie net sê: ‘Dankie dat ek nog lewe’ nie? Hoekom moet ons altyd dieselfde woorde sê? Dit maak my moeg.” Yhoshi sug oordrewe.

      “Yhoshi, kyk, Beer lê op die grond!” Natan leun oor om hom op te tel.

      “Ek weet! Los hom, ek’s nie meer ’n baba soos jy wat met bere slaap nie.”

      “Yhosh.” Sy pa vat hom stewig aan die skouer. “Jy praat nie so met jou broer nie. Tel die beer op.”

      Yhoshi se lip hang, maar hy buk nogtans, tel die speelding op en laat val dit op die onderent van die bed. “Abba, ek het jou gevra hoekom ons altyd dieselfde moet bid?”

      “En ek sal jou eers antwoord wanneer jy ordentlik praat. Vir wie is jy kwaad?”

      Natan, wat nie van onenigheid hou nie, vra vinnig: “Waar is Imma?”

      Marc vryf sy jongste se rug. “Sy slaap nog, babbelossie.”

      “Sy slaap altyd,” mompel Yhoshi. Hy het weer die sagte speelding opgetel en begin van die wolpluisies al om die beertjie se neus uittrek.

      “Gaan kruip jy ’n bietjie by Imma in, Natani,” sê Marc vir die kleinste. “Sê ek bring nou-nou vir haar tee.”

      Die seuntjie gly onwillig van sy skoot af.

      Marc praat eers toe hy Natan se voetstappe in die gang hoor wegraak. “Wat is verkeerd, Yhosh?” vra hy.

      Die kind antwoord nie. Hy sit kop onderstebo die beertjie verder en uitpluis.

      Marc neem die speelding van hom weg. “Wat is dit, Yhoshi? Hoekom is jy kwaad?”

      “Jy gaan weer oorlog toe.”

      “Nee, ek …”

      “Ja, Abba! Ek het gesien jy haal jou madim en jou neshek gisteraand uit die kas.”

      “Ek gaan nie oorlog1 toe nie, ek gaan net milu’im doen.”

      “Dit ís oorlog.” Yhoshi kyk vir die eerste keer op. Hy’t Rivkah se blou oë, maar dié gloei nou donker. “Hoekom maak ons altyd oorlog?”

      Marc trek die kind aan sy arm nader en druk die gespanne lyfie teen hom vas.

      “Ons máák nie altyd oorlog nie, liefling. Ons probeer ons net beskerm teen almal wat teen ons wil oorlog maak.”

      “Hoekom wil almal …”

      “Abba …”

      Nie een van hulle het gemerk dat Natan weer in die deur staan nie.

      “Ek dag jy’t by Imma gaan lê, Natani?”

      “Abba, jou madim en jou neshek is daar in die kamer.”

      Marc onderdruk ’n sug en trek die kleintjie tot teen sy knieë. “Ek het net vir Yhoshi …”

      “Yhosh!” herinner sy oudste hom gegrief.

      “Ek het net vir Yhosh verduidelik dat ek weer milu’im gaan doen.”

      “Gaan jy vandag?”

      Marc sluk voor die twee paar oë wat hom aankyk. “Vanaand ná Shabbat.”

      Yhoshi kyk vinnig weg, maar Natan vra: “Abba, kan ek maar aan jou geweer vat?”

      Hy hoor Yhoshi sy asem vinnig intrek. “Niemand mag aan Abba se neshek vat nie, Natani, jy weet dit.”

      Marc sug. Hy en Rivkah het sterk daaroor gevoel dat die seuns nie speelgoedgewere moet hê nie. As iemand dit onwetend present gegee het, het hulle seker gemaak dat dit nie in die kinders se hande beland nie. Voorwerpe van geweld was totaal verbode, selfs om mee te speel. Daarvoor word hulle met veels te veel geweld rondom hulle groot. Totdat Yhoshi op ’n dag ’n herrie daaroor opgeskop het. Hulle het toe maar toegegee en vir hom ’n waterpistool gekoop.

      Maar nou bly Natan se bruin oë smeek. “Ek wil net vóél hoe dit voel, Abba.”

      “Nou wag, ek gaan haal dit.”

      In die kamer slaap Rivkah nog vas. Hy neem die groot R6 en gaan terug na die kinders toe.

      Natan se oë rek yslik groot. Yhoshi sê byna onhoorbaar: “Ek mag nooit daaraan geraak het nie.”

      “Ek weet, maar …” Marc maak ’n ietwat hulpelose gebaar met sy hande.

      Natan raak met versigtige vingertjies aan die loop. “Kom die bomme hier uit, Abba?”

      “Daar kom nie bómme uit nie, atah meshuggah? Dis koeëls!”

      Marc raak waarskuwend aan sy oudste se arm en dié bly stil.

      “Ja, dis koeëls, Natani. Maar kom ek gaan bêre hom weer. ’n Neshek is nie iets om mee te speel nie.”

      Maar Natani word nie so maklik van stryk gebring nie. “Koeëls kan mense doodmaak, nè, Abba? Dis mos hoe jy daardie slegte mense doodmaak?”

      “Nee, wag nou. Dis nie sommer net dat ons hulle wil doodmaak nie. Ons wil liewer dat hulle ophou om sleg te wees.”

      “Maar milu’im gaan jou mos leer om hulle nog beter dood te maak, Abba?”

      Sy oudste se blou oë kyk hom stip aan.

      “Of miskien kan jy ook sê ons gaan leer hoe om beter te keer dat hulle óns doodmaak.”

      “Ek gaan nou régtig by Imma lê.” Natan raak nog een maal eerbiedig aan die geweerloop voor hy om die deur verdwyn.

      “Yhoshi,” sê sy pa toe sy boetie weg is, “weet jy wat? Dis tyd dat ek en jy oor die oorlog praat. Ek gaan net vir Imma tee neem, dan stap ons twee af plein toe. Kom, voordat dit te warm word om uit te gaan. Trek jou gou aan.”

      “Gaan jy nie vanoggend shul toe nie? Dis Shabbat?” vra die kind verwonderd.

      “Nee, ek gaan nie shul toe nie; dis belangriker dat ek en jy gesels.”