Elke vrou vir haarself. Elize Parker. Читать онлайн. Newlib. NEWLIB.NET

Автор: Elize Parker
Издательство: Ingram
Серия:
Жанр произведения: Короткие любовные романы
Год издания: 0
isbn: 9780798164658
Скачать книгу
on>

      

      Elize Parker

      Elke vrou vir haarself

      Human & Rousseau

      Proloog

      Haar pa dra die dood reeds soos ’n tweede vel, dink Adri Keet.

      Sy draai om na waar haar ma se stem uit die sitkamer opklink.

      Selfs vanaand hou Ma Hettie hof. Soos vele ander aande. Sy ontvang besoekers asof Stefan Keet reeds oorlede is.

      Adri voel die rowe van ’n langvergete wond onwillekeurig afdop. Het sy dan nie lankal die bekende pyn agtergelos nie? Of sal dit elke keer terugkom terwyl sy nog in Hettie se mag vasgevang is?

      Sy is so moeg vir die manier waarop haar ma ou pyn kan ontgin.

      Sy buig nader. Haar pa fluister, maar sy hoor net die helfte van die gedig. Tot hier op sy sterfbed bly hy die Engelse skoolmeester wat hy so lank in sy lewe was, die verfynde man wat Engelse gedigte kon voordra soos wat ander mense familiename kon opsê.

      “We dance around in a ring and suppose, but the ­secret sits in the middle and knows,” dink Adri sy hoor hom fluister. Sy herhaal sy woorde asof sy weet dit is nodig om dit te onthou. “Robert Frost,” fluister hy verder. Sy volgende woorde gaan verlore in ’n gehyg en ’n ge­hoes.

      Adri draai weg en hou haar mond vir ’n oomblik met haar hand toe terwyl sy op haar lippe byt. Sy eens sagte stem is nog sagter.

      Sy draai terug en kyk na sy veranderende gesig. Daar is skielik ’n seëvierendheid daaraan. Die dood kan nou nie ver wees nie. Dan weet sy ineens waar die lig in sy oë vandaan kom

      Met sy selfmoord behaal hy die enigste groot oorwinning van sy lewe – ’n oorwinning oor haar ma.

      En skielik weet sy hierdie oorwinning is onlosmaaklik aan sy laaste onverstaanbare woorde gebind.

      Sy kniel op haar knieë voor die bed. “Wat het Pappie gesê?”

      Maar die plooie om Stefan Keet se oë vou reeds sy lewe­lose irisse toe. Adri lê haar kop op sy stil hande en soen vir oulaas die nou willose breë palm.

      1

      Die suidoos verdelg alles in sy pad op die Kaapse wintermiddag toe Nelia en Adri Keet na die Hotel Woltemade ry. Die twee susters kyk gespanne na mekaar en trek self­bewus aan hulle donkerblou jasse. Die huurmotor stop by ’n verkeerslig oorkant die gewelfde ingang na die hotel – daaragter lê die klassieke kolomme en imposante portale wat die Kaapse baken so ’n kenmerkende voorkoms gee.

      “Ek het vergeet die hotel lyk soos ’n melkskommelgeel paleis,” sê Adri. Sy vee oor haar sakkerige broek en klem haar arms styf om haar bene. “Is jy seker tant Emmie het vir Ma gesê ek is welkom? Ek verstaan nie hoekom Ma Hettie my laat kom het nie.”

      “Moenie jou dom hou nie. Jy’s hier om werk te kry en ’n man te vang. Overberg-mans is nie goed genoeg vir Hettie Keet se dogters nie.” Sy stryk oor haar polonektrui en trek dit styf oor haar langbroek. Sy draai haar kop skuins en kyk ongeduldig na die twintigjarige Adri. Al is sy net twee jaar ouer as Adri, voel dit dikwels meer.

      Adri sit terug teen die sitplekleuning. “Kan Ma dit nie in haar kop kry nie? Mens hoef nie meer te trou om iets of iemand te wees nie. Dis 1973!” Sy kyk vies na die hotel­fasade. “Ek wens ek het nie gekom nie. Emmie is so ’n koue vis. Pa Stefan kon haar nie verdra nie.”

      “Sy is ’n ou heks, maar ons kan haar gebruik. Los haar vir my.” Nelia kyk doelgerig by die venster uit. Sy gaan nie vir ewig in haar ma se lewenstroom vasgevang wees en om haar goedkeuring veg nie. Van nou af veg sy net vir haarself: ’n betrekking by die hotel is haar ontsnaproete.

      Adri trek denkbeeldige wolletjies van haar broek af. “Wat van Carine?”

      “Carine sal regkom. Ma ignoreer haar, maar dit lyk my so ’n laatlammetjie maak haarself groot. Ek dink die ouderdomsverskil tussen hulle is te groot. Ma is eintlik te oud om ’n ware ma vir ’n ses jaar oue kind te wees.”

      “Ma was nog nooit die regte ouderdom om ’n ware ma te wees nie,” sê Adri bitter.

      “Hoe dit ook al sy … Emmie maak op daarvoor. Sy bederf haar in die afgrond in. Maar glo my, ek wil nie haar peetkind wees nie.”

      “Hoekom help Emmie ons? Sy en Ma sien mekaar net wanneer sy en Carine kuier. Hulle is nie boesemvriendinne nie.”

      Nelia gooi die deur ongeduldig oop toe die huurmotor stop. “Ek weet nie, maar hulle was skoolmaats. Dalk voel sy skuldig omdat sy Solly van Ma afgevry het.”

      “Ek dog Oupa het tussen hulle gekom omdat Solly-hulle nie Afrikaans was nie.” Adri klim uit die huurmotor uit. “Dink jy nie sy sal dink ons het te gou na Pa se dood gekom nie?”

      “Sy het nie vir Solly gewag om yskoud in sy graf te word voordat sy die hotel oorgeneem het nie …” Nelia se oë flits na Adri se gesig om te sien of sy al die waarheid agter die leuens agtergekom het. Sy maak ingedagte haar gordel ’n kepie stywer. Nie sy, haar ma of Emmie is van Solly Berger se invloed op hulle lewe bevry nie – al is hy ’n paar jaar gelede oorlede. Sy trek haar arm uit Adri se greep en stap na die ontvangsarea.

      Bokkie Benjamin, hoofportier, se wenkbroue rys teen sy beplooide voorkop op toe hy die Keet-susters gewaar. Na twintig jaar in sy pos ken hy moeilikheid wanneer hy dit sien. Hierdie meisiekinders is veels te mooi.

      Nelia se lang blonde hare swaai blink om haar kop en sy stap met ’n stadige, besliste tred. Toe haar ysige blou oë vir ’n oomblik op hom rus, word hy senuagtig onder haar blik: dit voel of sy deur hom kan sien.

      Hy kyk vinnig weg na Adri wat met dromerige oë om haar staar. Haar wilde bos blonde krulle hang los oor haar skouers soos ’n sluier en sy is korter en fyner gebou as haar suster. Haar vel is byna deurskynend bleek en haar donkerder wenkbroue en wimpers steek skerp daarteen af.

      Bokkie skud sy kop toe hy sien hoe die twee susters die koppe laat draai. Sulke mooi vroue het altyd ’n prysetiket. ’n Klompie jaar gelede, toe Nelia ook deur die Woltemade se voordeur gestap het, het dieselfde gedagte by hom opgekom.

      En kyk wat hét gebeur.

      Dit is bykans twee-uur op die portaalklok toe hulle by die ontvangstoonbank aanmeld. Dik matte, eikehout­meu­bels en welige groen palms versier die voorportaal. Die ont­vangsdame se gesig is uitdrukkingloos totdat Nelia sê: “Ons is gaste van mev. Berger.”

      “Natuurlik, sy verwag julle,” sê sy veel hartliker. Sy roep ’n portier nader. Hulle word deur sag verligte gange na Emmie se persoonlike suite geneem.

      “Uiteindelik!” sê Emmie Berger toe sy die deur oopmaak. Sy beweeg haar kop so heftig, haar goue sigeuneroor­belle swaai heen en weer. Haar Cleopatra-snit hare val glad om haar gesig. Sy vee met ’n gebaar haar wange teen dié van die Keet-susters en stap vooruit na haar sitkamer. “Hoe gaan dit met Hettie?”

      Die selfaangestelde koningin in haar selfgemaakte kasteel, dink Nelia bitter. Sy het jare lank gedink sy sal dié brug koel en kalm kruis wanneer sy daarby kom. Nou weet sy van beter.

      “Sy hanteer Pa Stefan se … afsterwe heel goed,” sê Adri.

      “Klink soos Hettie,” sê Emmie en leun teen die bank se agterkant. “En Carine?”

      “Ek dink nie sy besef werklik hy is nie meer by ons nie. Sy stuur duisend dankies vir al die geskenke,” sê Nelia.

      “Dit is die minste wat ek kan doen. Dit is nooit maklik om ’n familielid se dood onder tragiese omstandighede te verwerk nie.”

      “Jy behoort te weet,” sê Nelia met ’n bedekte uitdaging in haar stem.

      Emmie se oë vernou. “Ons is darem nou hopeloos te swaarmoedig. Kom ons laat die dooies die dooies begrawe,” sê sy stadig. Solly het altyd so gesê. Sy wonder of Nelia dit onthou. Wat onthou sy? “Kom, ek gaan wys julle jul kamer. Julle kan gerus voor aandete ’n bietjie gaan rus,” sê sy in ’n veel killer stemtoon.

      2

      Die