Stukkies van die hemel op aarde
Om God in die alledaagse te sien
Dirkie Smit
Lux Verbi
Stukkies van die hemel is oral op aarde te sien.
Elke braambos vlam van God se teenwoordigheid.
Maar net hulle wat kyk, sien dit raak,
en trek hulle skoene uit.
Die res sit niksvermoedend en brame eet.
Na die bekende gedig van Elizabeth Barrett Browning
Ons wag vir die wonderwerk,
en wonder waarom dit so lank neem om te kom,
terwyl ons al die tyd omring word
deur die wonder van doodgewone dinge.
Anoniem
Die kuns van die lewe is om
die buitengewone in die gewone te ontdek,
die ewige in die alledaagse.
Die geheim van menswees is om
genade in die gewone te gewaar,
verrukking in die vanselfsprekende;
om grootsheid in die kleine,
majesteit in die eenvoudige,
vreugde in die vertroude te leer vind,
ja, om God in alles, ook in ons naaste, raak te sien,
naby ons, onder ons.
Uit: “HEILIG?”-hoofstuk in hierdie bundel, bl. 15
Voorwoord
Here, hoe sou ons u heiligheid kon ervaar
in die roetine en verveling van elke dag,
u geregtigheid te midde van die onreg en die leed van die lewe?
Hoe sou ons u troos kon aanvoel
as die sorge ons keel en die vrees ons hart beklem?
Hoe sou ons tog u aanwesigheid met ons
kon gewaarword in die doodgewone van elke dag,
die stukkies van u hemel in die gebrokenheid van ons aardse verblyf –
as U nie Uself aan ons openbaar nie?
Dié gebed in hierdie wyse, wonderlike bundel verwoord iets van die toonaard van wat ’n mens hier gaan lees. Dit is ’n versameling kortkuns gevul met verwondering oor die ongelooflike kompleksiteit én eenvoud van die wêreld waarin ons leef. God se wêreld. Maar een waarin sy teenwoordigheid en genadige betrokkenheid net sigbaar word vir hulle wat kýk en raaksien op hoeveel vreemde en onverwagte maniere Hy Hom aan ons openbaar.
Die gedagtes in hierdie versameling help die leser met hierdie soort dieper kyk. Elke essay bekyk ons gewone daaglikse werklikheid vanuit so ’n totaal nuwe hoek dat lesers – onkant betrap! – die res van die dag verras en ontroerd bewus bly van ’n subtiele verskuiwing in hulle gewone sien van sake.
Uiteenlopende sake, wat ons almal ten diepste raak, word soms vrolik en tong-in-die-kies, soms dodelik ernstig, altyd prikkelend, bekyk: van gebed, drome, lyding, alleenheid, behoort en omgee, Bybellees, kerkwees, vernuwing, werksetiek tot by omhelsing, geskenke, vrygewigheid. En tussen alles deur skitter die vreugde oor God se nabyheid, sy wonderbare menslikheid, sy onbegryplike liefde en genade.
Die maand-indelings in die bundel gee bloot ’n aanduiding van die tyd van ’n jaar wanneer dit meer gepas sou kon wees om die betrokke stukkie te lees. Die chronologie volg losweg die seisoene van die kerkjaar, sodat daar byvoorbeeld tydens April en Mei onder meer van Pase en Pinkster gepraat word, in November van Advent en die komende Kersgety, in Desember van Kersfees en ’n jaareinde, ensovoorts. Dit is egter maar terloopse verwysings, en lesers sou die stukke ook heeltemal los van die kerklike jaar kon lees en geniet. Sommige van die opstelle volg op mekaar en sluit bymekaar aan, maar elkeen kan ook apart en volkome onafhanklik van die res gelees word sonder dat dit sal afbreuk doen aan die betekenis van die inhoud.
Ons hartlike dank gaan aan Dirkie vir die bywerk van die stukke vir hierdie bundel en aan Die Burger vir toestemming om dit te publiseer.
Maak hierdie bundel enige dag, week of maand van die jaar oop en ontdek ’n stukkie goud.
Lux Verbi-redaksie
Januarie
Nagedink oor nuut,
oor oud,
oor tyd
– en oor God se nabyheid.
______________________
Aan die toekoms kan ons min doen,
skryf die groot geleerde Ninian Smart,
maar wat ons wel kan verander, is die verlede.
Ons kan anders daaroor begin dink.
Ons kan dit verwerk, dit nuut leer sien, dit selfs vergeet,
agter ons laat, indien nodig.
Ons kan ons beelde van onsself en van mekaar anders begin teken;
ons rekonstruksies van wat presies gebeur het, wysig.
Ons kan alles in’n ander lig begin sien en vrede maak,
ook met onsself en ons eie lewensloop,
en só ’n nuwe toekoms ontvang.
Die strokiesprentkarakter en groot 20ste eeuse denker, Charlie Brown,
geskep deur Charles M. Schulz, sê dit selfs nog beter.
In diep gesprek met Linus sê dié:
“Ek glo dis verkeerd om jou te kwel oor die dag van môre.
Ons moet liewer net aan die hede dink.”
“Nooit,” sê Charlie Brown ontstig, “dit sal oorgawe beteken,
boedel oorgee, moed verloor, sommer gaan lê.
Nee, ek hoop nog altyd dat die verlede beter gaan word.”
In ’n neutedop
“Voorspoedige nuwe jaar!” wens ons mekaar toe. En dikwels ook: “Mag dit vir julle ’n jaar van groot dinge wees!”
Groot dinge?
In Denise Ackermann se [1]After the locusts – Letters from a landscape of faith – méér as die moeite werd om te lees – skryf sy oor haar eie lewe, ervarings en oortuigings. Innig, inspirerend, dikwels ontroerend. Sy delf terug in ’n vol lewe, in baie jare vol gróót dinge.
Die boek is in die vorm van vyf briewe. Sy skryf aan haar kleinkinders, oor die vraag wie ons as mense eintlik is, sáám met ander en tog elkeen ook so ánders en uniek. Sy skryf aan haar oorlede moeder oor vrae in verband met geloof en oor God. Sy skryf aan ’n jare lange vriendin, oor liggaamlikheid, en hoe belangrik ons liggame vir ons alledaagse menswees is, en oor soveel liggaamlike lyding in ons land. Sy skryf aan haar kinders, oor sake soos swaarkry, treur en klag. En sy skryf aan haar geestelike raadgewer van baie jare, oor die praktyke van inkeer en gebed, waaroor hulle so baie sou dink en praat, en oor ons almal se persoonlike lewensreis. Vyf diep persoonlike briewe, maar tegelyk wonderlike lees- en nadinkstof vir enigeen: oor menswees, geloof, vriendskap, leed, gebed.
Aan die einde van haar boek volg ’n naskrif vir haar kleinseun. Net enkele paragrawe, kort, maar dis asof die hart van die boek hier klop.
Sy peins oor die Middeleeuse mistikus Juliana van Norwich se woorde: Alles wat is, sit opgesluit in ’n haselneut – hoe klein en gering ook al. Waarom? Omdat God die neut gemaak het en liefhet. Daarom is dit immers dáár.
In die neut, soos in alle kleine en onopvallende, alle gewone en vanselfsprekende dinge, skryf